Скачать книгу

oopkrap.”

      Die woorde borrel boontoe. “Meisietjie se …”

      “Wag nou.” Jaap se oë waarsku ek moet onthou wat hy vroeër gesê het.

      Ek kyk weg, vlakte toe. Miskien moes ek by die huis gebly het.

      “Fanus, ek wil net weet of jy of Stefan dalk met Janien gepraat het voor haar dood. Veral Stefan. Dit beteken nie ek dink hy’t enigiets gedoen nie. Maar Janien het hierdie SM vertrou, hom goed vertel wat ons dalk moet weet.”

      Steeds sê Jaap niks oor Snapchat of die aard van Janien en SM se verhouding nie.

      “Kyk,” probeer hy weer, “hulle het tog almal saam op Stellenbosch studeer. Stefan, Henk, Janien en Magda. En hulle was goeie vriende. Iewers weet iemand iets wat ons kan help.”

      Fanus steek ’n nuwe sigaret aan. “Stefan en Maggie, al twee my kinders, was by die braai toe Janien dood is. Henk ook.”

      “Dan kan ons mos met Stefan praat?”

      “As ek reg onthou, is jy nie meer in die polisie nie.”

      “Isak Slingers is nog. Ek kan hom bel as jy wil. Hy kan slaghuis toe gaan en daar, voor almal, met Stefan praat.”

      “Julle kon destyds niks uitrig nie. Wat laat jou dink julle gaan nou skielik antwoorde kry?”

      “Ek het ’n bietjie hulp ingeroep.”

      Fanus kyk weer na my en lag openlik. “Jy’s soos ’n ou hond wat met nuwe truuks hier opdaag. Maar jy bly ’n hond.”

      Jaap beduie ek moet kalm bly, sonder om eers na my te kyk.

      “Miskien is jy reg. Maar dan moet jy weet ek’s ’n knaende hond. En jy weet wat hulle sê oor knaende honde.”

      “Nee, wat?”

      “Hulle kry altyd wat hulle toekom.”

      Fanus kyk stip na hom. “Vir wat moet jy dinge nou weer kom oopkrap? My kinders was baie ontsteld oor Janien se dood. Die hele distrik het nie ’n oog toegemaak nie. Almal het nagte om patrollies gery en elke vreemdeling is tien maal ondervra. Hoekom hou jy aan met sukkel? Jy neuk nou weer net dinge vir Vonnie op.”

      Jaap begin ’n doolhof in sy notaboek teken, tydsaam en presies. “Waar’s Stefan?”

      Fanus lag, maar die klank is bitter. “By die slaghuis. Ek sal bel en sê hy moet huis toe kom. Jy sal ook nie los tot jy met hom gepraat het nie.”

      Hy beduie die huis in. “Maggie kan solank vir ons koffie maak.”

      JAAP

      1

      “Stefan is op pad. Anders lê dit weer die hele dorp vol dat ons iets wegsteek.”

      Fanus sit sy selfoon op die koffietafel neer en kyk oor sy skouer. “Waar’s Maggie en daai girltjie van jou met die koffie?”

      Hy skuif sy beseerde been na links en leun terug in sy stoel. “Hoekom sou Stefan met Janien gepraat het? Want ék is beslis nie hierdie SM van jou nie. Ek weet hy was ontsteld oor sy op die ou end vir Henk gekies het ná hulle op skool uitgegaan het, maar teen die tyd dat Janien dood is, was dit ou nuus. Ek sê weer: hulle was almal by die spitbraai op die Van Stadens se plaas. Óns was almal daar.”

      Ek knik geduldig. “Ek hoor jou, maar daar was seker sestig, sewentig mense by die braai. Wie sal weet as iemand vir ’n uur of twee verdwyn het? En iemand het vir Janien doodgemaak – iemand wat haar geken het.”

      Fanus kruis sy arms. “Sê wie? Dit kon ’n boemelaar gewees het. Een of ander tikkoppie wat berserk geraak het. Almal dink so.”

      “Daar was geen teken van ’n inbraak nie. En ’n wit rondloper in hierdie omgewing sou aandag getrek het.”

      “Nie deesdae nie. Wys jou wat jy weet. Buitendien, Janien het heeltyd vir wildvreemde mense kos aangedra en geld gegee. Wie sê sy’t nie die deur vir die verkeerde mens oopgemaak nie?”

      “Iemand het die rooi lap en die fiets saamgebring, Fanus. En die vliegbril. Iemand wat geweet het wat hy gaan doen. Wat iets wou sê. Wat Janien dopgehou het. Wat geweet het sy wou nie braai toe gaan nie.”

      “Stefan sukkel, Jaap. Hoor jy nie? Ons almal doen! Elke jaar kom jy terug hiernatoe en krap dinge weer van voor af oop. Kan jy dit nie net los nie?”

      “Wil jy nie weet wat gebeur het nie?”

      Fanus snork agter in sy keel. “Weet Vonnie waarmee jy besig is?”

      “Vonnie het niks hiermee uit te waai nie.”

      “So, sy doen nie.”

      “Sy weet.”

      “Maar sy voel dieselfde as ek.” Fanus haal nog ’n Camel uit die pakkie. “Ek wonder soms hoe dit sou gewees het as jy haar gelos het om self te besluit. Of sy Obie sou gekies het.”

      “En nie vir jou nie? Twak. Daar was niks om te besluit nie en jy weet dit. Los vir Vonnie hier uit.”

      Skielik voel ek weer soos die jong lat wat baklei het dat hierdie gladde man my suster moes uitlos. Hoeveel jaar is dit al? Vyf-en-twintig? Nee, meer. Sy en Obie was haaks vir lank, dis al. Hulle het gesukkel om kinders te kry en dinge was moeilik. Hulle het tyd nodig gehad, nie iemand soos Fanus wat kom twyfel saai het nie.

      Maar dalk is ek verkeerd. Dalk het dit als met Vonnie te make. Daar’s niks wat bewys S&M is nie Fanus Malan nie. Vonnie sê hy loop steeds agter al wat rok dra aan. Dit het begin lank voor sy egskeiding en het nooit opgehou nie, en ouderdom maak blykbaar niks saak nie. En wat as Fanus ’n tweede kans met die Steyn-vroue wou hê?

      Stefan parkeer sy bakkie ’n halfuur later voor die huis wat hy met sy pa deel. Hy moes gejaag het om so gou hier te wees. Dalk is hy bekommerd. Dalk is Fanus bekommerd, al sê hy wat.

      Stefan klim die trappe op, groet en gaan sit langs Fanus. Hy kyk skrams na sy pa, spanning in sy strak skouers.

      “Jaap sê jy het dalk per e-pos met Janien gepraat kort voor haar dood. Hy wil weet van ’n SM,” verduidelik Fanus, voor ek iets kan sê.

      Stefan lyk nie verbaas nie. Sy pa moes hom reeds oor die foon gewaarsku het waarna ek op soek is.

      Ek kon hierdie gesprek seker beter benader het. Dalk moes ek eers by die slaghuis gaan aanklop het, al weet ek Stefan doen niks sonder sy pa se toestemming nie.

      “Hoekom sou ek en Janien mekaar mail? Ons het mos gereeld gekuier.” Stefan se bene bons op en af, voete op die tone, nes die vorige kere wat ek met hom gepraat het. Dan stop die nommertiens. “Ons het amper elke keer as sy op die dorp was, gaan koffie drink.”

      Fanus trek aan sy sigaret en staar na my. Sien? sê sy oë.

      Het hy altyd so baie gerook of probeer hy sy ongemak wegsteek? Ek kyk na my notaboek. Maak ’n spiraal met die swart pen. Af, af, af.

      Ek kyk weer na Stefan. “En as sy terug stad toe was? Hoe het julle dan gesels?”

      “Ons het nie eintlik nie. Sy was mos nie op Facebook nie en dit maak dinge moeilik. Buitendien, ons was nie meer sulke close vriende nie. Henk was maar lekker jaloers.”

      “Maar julle het koffie gedrink elke keer as sy op Carnarvon gekom het?”

      “Ja. Maar vinnig. En sommer by die Blikkies Bar, nie by die huis nie.”

      “Hoekom nie?”

      Stefan word effe rooi in die gesig. “Janien het die dorp verkies.”

      Fanus hoes. Tik as van die sigaret af.

      Ek maak die spiraal klaar. Begin ’n nuwe een. “As ek reg onthou, was jy verlief op Janien.”

      Stefan lag, maar dis dun. “’n Klomp van ons was verlief op Janien. Sy was anders. Eksoties. As mens hier wou wegkom …”

      Hy bly stil.

Скачать книгу