Скачать книгу

dan en maak die ketel vol. Sy bly by die toonbank staan, haar rug na my gedraai.

      “Spreeu?” hou ek vol.

      Sy skud haar kop, die blonde hare ’n gordyn. “Jy verstaan nie. Ek het nie vir Janien … Ek kan nie.”

      “Kan nie wat nie?”

      “Niks wat ek weet, hou verband met haar dood nie. Ek’s seker dit doen nie.” Sy sug, laat haar hande stadig sak tot hulle doodstil op die toonbank lê. “Dit was ’n leeftyd gelede.”

      “Wil jy nie weet wie Janien vermoor het nie?”

      Sy draai om. “Dink jy dit was ek?”

      Ek dink aan die fiets. Die feit dat iemand Janien én die fiets deur die modder tot op die pan moes dra. Die nommertien-stewels. Die DNS wat sê dit was ’n man.

      “Nee. Maar dalk weet jy meer as wat jy voorgee. As wat jy vermoed. Dalk weet jy iets wat Jaap kan help.”

      Sy tel die bekers op, loop wasbak toe en maak hulle leeg. “Daar’s ’n blou huis op die dorp. Jy sal dit maklik kry as jy vra. Vanaand sesuur.” Sy vermy my oë. “Ons kan nie hier praat nie.”

      “Ek is …”

      “Ek moet koffie maak. Asseblief.”

      “Okay.”

      Ek loop uit stoep toe, waar die stem van ’n beneukte Fanus die middag in rank. Stefan is reeds weg.

      Ek gaan sit langs Jaap en staar na my skoene. Vergeet skoon om te sê van die koffie.

      ’n Paar minute later kom Spreeu met die skinkbord uit. Sy sit dit op die stoepmuurtjie neer, kyk na Jaap en dan na haar pa. “Ek gaan dorp toe. Ek moet ’n pakkie vir Ma gaan pos.”

      Ek wag tot sy met die stoeptrappe af is, motorsleutels in die hand, voor ek na Jaap kyk. “Is jy klaar? Kan ons ry?”

      2

      “Ek wil saamgaan.” Jaap klink vasbeslote.

      “Sy sal nie met jou praat nie. En ek weet nie eers of daar iets ís om oor te praat nie.”

      “Hoekom sal sy nie met my gesels nie?”

      “Want jy’s oud. En jy’s Vonnie se broer.”

      “Nege-en-vyftig is nie oud nie.”

      “Vir haar is dit oud.”

      “En vir jou.”

      “Twak. My pa was ses-en-vyftig. Ek was mal oor sy geselskap.”

      “Het hy jou geleer om twak te sê?”

      “En snert, eerder as kak, veral voor oumense. Wil jy hê ek moet vloek?”

      Hy brom iets, draai links op die grondpad.

      “Hoekom het jy so vroeg afgetree?” Ek wil lankal weet hoekom hy nie in die polisie gebly het tot hy moes aftree nie. Hoekom op sewe-en-vyftig die pad vat as jy al van agtien af uniform dra?

      Hy rat af om die opdraande uit te kom. Meer spoed op die afdraande sou dit ook kon doen, maar ek sê dit nie. Hy moet maar bestuur soos hy wil. Dis asof hy die tyd agter die stuurwiel gebruik om te dink. Gelukkig het ons nie ver om te ry nie.

      “Dit was tyd,” antwoord hy. “Ek was lus.”

      Hy soek na die notaboek in sy baadjiesak, haal dit uit en sit dit op sy been neer. Ritsel ingedagte deur die papier met sy duim. “Stefan sê hy en Janien het nooit per e-pos gesels nie. Sal jy kyk of dit wel so is?”

      “Hoe moet ek dit doen? Moet ek na haar email kyk?”

      “Syne ook.”

      “So jy wil hê ek moet sy rekening hack?”

      Hy sug. “As jy wil. Net as jy wil. Ek weet ek het belowe jy hoef niks onwettigs te doen nie.”

      Ek lag. “Grys is ook altyd in die mode.”

      Hy kyk skerp na my.

      “Ja, toemaar, dit het niks met ouderdom uit te waai nie. Dis wat Adriana altyd sê. Solank jy weet jy gaan saam tronk toe as iemand vrae begin vra.”

      “Ek dog jy’s goed.”

      “Wie het S&M opgespoor?”

      “Ja, ja.” Hy waai my woorde met ’n vies hand weg. “Maar ek gee nie om wat jy oor Maggie sê nie, ek wil met haar gesels.”

      “Nee.”

      “Ek betaal jou om my te help.”

      “Dan kan jy jou geld hou. Ek vra anyway R10 000 ’n dag.”

      “Twak.” Hy kyk na my, ry só stadig dat die Corolla se enjin begin ruk-ruk. “Hoekom wil jy nou skielik betrokke raak?”

      “Die kar gaan vrek.”

      Nog stadiger.

      “Volgende keer bestuur ek.”

      Hy verander van rat, versnel. “Ek’s bly daar’s darem ’n volgende keer.”

      Toe ons op die hoogte uitkom, sien ons dit. Lui swart rook hik die lug in soos sukkelende morsekode. Jaap trek van die pad af. Ons klim uit en gaan staan onder die naaste boom.

      Dis laatmiddag en koud, die skemer goed op pad. Bo ons val die reën soos ys, hard en hoorbaar op die blare. ’n Druppel val in my nek en loop teen my rug af. Ek trek my baadjie stywer om my lyf en draai weg van die toneel oorkant die vlakte.

      Jaap sê niks, staan net en kyk. Hy vryf oor sy oë asof hy die moegheid probeer wegvee. Ek hou sy asem dop. Hoe dit stadig en wit uitbol asof hy langsaam sug.

      Eerder dáár kyk as sien wat onder die boom aangaan.

      Dan gee ek in en draai om. Onder in die vlakte waar Janien se rekenaar en bed en klere aan die brand is, staan Vonnie in ’n blomrok, kaal arms, haar hande teen mekaar soos een wat bid.

      Die reën het opgehou. Ek’s nie lus vir die huis en Vonnie en Obie nie. Ek gaan haal my rekenaar en pak dit in my rugsak. Ek’s seker daar’s ’n restaurant of kroeg op die dorp waar ek kan werk.

      Net toe ek wil ry, kom Jaap aangeloop, lysie in die hand. “Ek maak môre kos. Ek kort ertjies en kaas. Iets sterks. Dalk gorgonzola? Sal jy gaan koop?”

      Ek neem die geel papiertjie by hom. “Kook jy?”

      “Ek’s by hoofstuk dertien van Kook en Geniet.”

      “Wat van die ander hoofstukke?”

      “Meestal klaar. Ek kook waarvan ek hou.”

      “Alles? Klaar?”

      “Amper, ja.”

      “Hoekom?” Ek staar na die nota in my hand, die amper onleesbare skrif.

      Hy loop, sê oor sy skouer: “Ek maak meubels en leer kook. Sover is dit beter as polisiewerk. Niemand is nog dood nie. Behalwe die bure se kat.”

      3

      Die blou huis staan uit soos ek by ’n Sondagskoolpiekniek. Ek sal weet – ek moes twee bywoon voor my ma gesê het ek hoef nie weer te gaan nie. Ek dink dit was meer om die ander kinders se onthalwe as my eie.

      Ek parkeer die KTM op die breë sypaadjie, langs ’n stokou vaalbruin Datsun met ’n wit-en-rooi plakker wat sê I h Jesus. Iewers gooi iemand tuin nat ten spyte van die reën vroeër.

      Die blou huis se hekkie is outyds, soos mens soms nog in Pretoria-Wes sien – ’n draadheining met draadhek wat skwiek as jy dit oop- en toemaak. ’n Wit bakkie staan in die smal oprit, volgelaai met ’n vrag weggesteek onder ’n swart seil.

      Wie ook al die blou huis besit, het nie honde nie, net ’n driebeenkat wat weghardloop toe ek met die sementpaadjie afloop. Daar’s nie veel van ’n tuin nie, net potte vol kruie wat orals rondstaan. En

Скачать книгу