Скачать книгу

kreukel. “Vonnie sê vroumense ry nie sulke goed nie.”

      “Sarah kan daai fiets uitmekaar haal en weer aanmekaar sit.”

      Sy wenkbroue lig. “Die enjin ook?”

      “Sy verstaan masjiene. Dis asof hulle met haar praat.”

      “Klink soos jy en Janien. Jy’t haar verstaan. Partykeer het jy beter as ek of Vonnie geweet wat in daai kop van haar aangaan.”

      “Dink jy so?” Ek weet nie of ek saamstem nie. “Ek dink ons het almal meer tyd nodig gehad. Ek vermoed ons sou beter gevaar het as ons bietjie ouer en wyser was. Meer geduldig met mekaar.”

      Nes ek en Vonnie en ons polisieman-pa. Nes die meeste gesinne seker.

      Obie trek-trek aan sy pyp. “Maar toe is daar niks meer tyd nie.”

      Dis lank stil tussen ons voor ek weer praat.

      “Sê vir Vonnie ek sal Sarah so gou as moontlik hier wegkry. Sy’s net hier omdat ek gevra het. Ek is seker sy wil huis toe gaan. Sy was lank op die pad ná haar pa se dood.”

      Obie sê niks, kyk net weg pan se kant toe, sy lippe dun en wit om die pypsteel.

      2

      Miskien is Vonnie moedswillig, soos toe ons klein was en sy aspris die suiker gemors en vir Ma gesê het dit was ek.

      Sy begin by Janien se rekenaar. Dis halftwaalf en sy vat die skootrekenaar en die fone eerste. Hendrik kyk skrams na my van onder sy slap wit hoed, en loop dan stom met die stoeptrappe af. Hy’t vir Janien geleer vragmotor bestuur, haar geleer om te sien as daar reën aankom. Hy praat steeds af en toe van haar, as Obie in ’n goeie bui is en nie omgee nie. Mens vergeet ander mense mis haar ook.

      Ek spring op. Het Sarah als wat sy nodig het? Hoe lank gaan sy dan nog lê en slaap?

      Ek draf in die gang af, klop en loop by die gastekamer in. Draai in my spore om en maak die deur weer toe. Dit lyk dan asof die kind kaal slaap, met die vensters wawyd oop.

      Vrou. Wragtig. Laat ek nie dieselfde fout as Obie maak nie.

      En slaap, slaap sy vas, al is dit ’n vrieskas daar binne. Ek klop weer, harder dié keer.

      Uiteindelik hoor ek beweging. Ek maak die deur op ’n skreef oop. “Kan ek inkom?”

      “Nee.”

      “Hendrik dra die rekenaar aan vir Vonnie se braaivleisvuur. Is jy klaar?”

      Sy mompel iets. Ek hoor beddegoed ritsel. ’n Ritssluiter. ’n Vloekwoord wat ek hoop Vonnie nooit sal hoor nie.

      Die deur swaai oop. “Wat is dit?”

      Sy het ’n klein, dun hempie en jeans aan. Kry mens kleiner as die verkleinwoord? Help ook niks dat dit die middel van die winter is nie.

      Ek kyk in die gang af. “Die rekenaar …”

      “Ek het als wat ek nodig het.”

      “Is jy seker? Wat as jy iets gemis het?”

      Sy vee oor haar oë. “Ek het haar hard drive en haar foon geclone. Die Samsung.”

      “Is dit al? Is jy seker dis genoeg?”

      Ek kan sweer sy lag vir my wat so in die gang af praat.

      “Ja. Ek sê mos, ek het die binnegoed gecopy. Ál die binnegoed.”

      Ek vergeet om nie te kyk nie. “Wat as Vonnie uitvind?”

      Sarah se wenkbroue lig. “Hoe gaan sy uitvind?”

      “Seker. Het jy iets gekry?”

      Sy vou haar arms om haar lyf, asof die koue haar skielik vang. Gaap. “Ja.”

      “Nou trek aan en kom vertel my.”

      “Kan ek ontbyt kry?”

      “Ontbyt? Middagete staan al reg.”

      SARAH

      1

      Ek het al weer ’n ete gemis, maar Vonnie het gou geleer. Middagete is in die kombuis, nie in die eetkamer nie. En ons eet sommer uit kombuisborde, nie fênsie uithaal-vir-gaste-borde nie.

      Ek hou van die kombuis. Dis groot en warm, met ’n Aga-stoof in die een hoek. Een wat werk en wat die witbrood gebak het waarvan ek eet.

      Vonnie kán brood bak. En konfyt maak. Om nie te praat van netnou se souttert nie.

      “Wat is dit nou weer?” Ek beduie na die brood. Vonnie en Obie het my en Jaap alleen gelos om te gesels.

      “Nastergalkonfyt.”

      Ek sal moet google wat dit is.

      Jaap is ongeduldig. Vonnie wil haar brandstapel aansteek, maar hy bly op sy senuwees oor die data op die rekenaar. As die man my nie vertrou nie, hoekom my al die pad hiernatoe sleep?

      Ek sluk die laaste happie brood, drink my tee klaar en draai die rekenaar sodat hy kan sien. “Janien het twee websites, die een wat jy ken en ’n ander een wat sy baie goed weggesteek het. Vir hom het sy die naam Jane Stone gebruik.”

      Hy frons. “Ek onthou die naam glad nie. Dit was nie in haar internetgeskiedenis nie. Ek en die polisie kon niks snaaks kry nie. Vonnie ook nie. Net News24, IOL, ’n paar galerye in Johannesburg. Sulke goed.”

      “Vonnie?”

      “Ja.”

      “Ek het so gedink. Het sy baie in Janien se goed rondgekrap?”

      Jaap lyk onwillig om te antwoord.

      “So nou en dan,” sê hy uiteindelik. “Meestal die laaste twee jaar voor Janien se dood. Sy het al hoe minder kom kuier en Vonnie was bekommerd oor haar.”

      Hy vou sy servet in ’n netjiese driehoek. “Janien het dit ook nie maklik gemaak nie … sy kon baie moeilik wees. Vonnie wou kuier en sy wou heeltyd veld toe om foto’s te neem.”

      “Dit verduidelik hoekom Janien alles so mooi weggesteek het.”

      “Wat bedoel jy? Wat alles?”

      “Een ding op ’n slag.” Ek beduie na die skerm. “As mens die Jane Stone website se geld volg, loop al die rekeninge uiteindelik terug na Janien toe. En na ’n rekening in Londen wat ongeveer R35 000 ryker is sedert haar dood. Lyk soos ou skuld wat betaal is, want Janien het die rekening gereeld leeggetrek.”

      Ek wag dat Jaap die somme in sy kop maak. Dat Jane Stone gelyk is aan Janien Steyn. Dit het my ook ’n rukkie geneem. En sy volgende vraag was myne ook.

      “Hoekom twee webwerwe?”

      “Haar oorspronklike website, So What!, is mainstream. Veilig, gewoon, kuns waarin die gemiddelde mens sal belangstel. Toeriste, Afrika-mal Europeërs en mense wat lodges bedryf. So What Now? is anders.”

      “Is dit die naam van die ander webwerf? Jane Stone s’n?”

      “Ja.” Ek maak die website oop dat hy kan sien. “Hierdie een is hardcore. Dis alternatief en eksplisiet, baie meer seksueel en eksperimenteel van aard. Maar dêm goed.”

      Jaap brom iets. Ek kan sien hoe hy die gedagte probeer verteer. Hy moenie nou bang word nie. Ek het hom gesê om dit te los, maar hy wou nie hoor nie. Dis nie altyd goed om te wil weet nie. Soms steek mens goed weg omdat jy weet jou familie gaan seerkry as hulle uitvind.

      Ek wys na ’n videovenster op die webwerf. “Hierdie een is cool. Dis ’n tagtigjarige vrou wat strip uit protes teen ‘die kommersiële aanbidding van die jeug’.”

      “Dis mos nie kuns nie.”

      “Alles is kuns as mens sê dis kuns.” Ek beweeg na die onderkant van die bladsy. “Hierdie fotoreeks wys kaal swart en wit mans wat aan galgtoue rondswaai, alles met so ’n gelerige 1970’s hue. ‘Well Hung: A South African Historical

Скачать книгу