Скачать книгу

      “Hoe ken julle mekaar?”

      Ek kan hoor Vonnie is kwaad. Sy was die borde asof sy die goed wil breek. Ek het haar gewaarsku dat Sarah ’n bietjie anders is, maar dit het duidelik nie gehelp nie. Dalk moes ek gesê het sy’s bietjie soos Janien.

      Nee, nogal baie soos Janien. Selfde aweregse, opstroppelis streep, plus ’n stugheid waaraan ek steeds sukkel om gewoond te raak.

      Vonnie dink heel waarskynlik steeds dis mense soos Sarah wat Janien verander het na iemand wat sy nie meer herken het nie. Dit moet die mense wees wat Janien op Stellenbosch ontmoet het wat haar so weird gemaak het – Vonnie se woord, so asof die Engels ’n vloekwoord is. Asof dit alles verduidelik.

      Maar Janien is so gebore. Anders. Sy het altyd volspoed gelewe. G’n eerste of tweede rat nie, nee, altyd halsoorkop, met alles, deur die lewe en teen mure vas. Baie bloedneuse en gebreekte harte – meestal haar eie, oor en oor.

      Sy het probeer inpas. Probeer om haar ma en later vir Henk gelukkig te hou, maar dit was moeilik. Ek kon dit sien, maar ek kon min sê. Ma’s soos Vonnie is heilig oor hulle kinders. Niemand moet inmeng en beter weet nie.

      “Sarah is baie goed met wat sy doen, Vonnie. Dis al wat saak maak.”

      Sy vee oor haar ken, die seepskuim ’n wit bol op haar hand. “Ek wil nie weet nie, ek sê mos. Môremiddag steek ek als aan die brand. Álles. Dis al wat saak maak.”

      “Ek hoor jou.”

      “Hoor jy regtig?”

      “Ja.”

      “Hoekom lag jy dan?”

      “Want dis iets wat Janien sou gedoen het. Jou anderste kind.”

      Dis so lank stil dat ek wonder of ek te ver gegaan het. Of ek haar herinner het aan al die kere wat sy so ontsteld was omdat Janien nie meer soos haar ander kinders kon wees nie – besadig, doelgerig.

      Maar sy lag, so fyn en vinnig dat ek wonder of ek reg gehoor het.

      “Dis dalk hoekom ek dit doen.”

      SARAH

      1

      Janien Steyn se kamer voel klein, al is dit nogal ruim vir ’n slaapkamer. Ek maak die vensters oop en haal diep asem teen die benoudheid. Die koue maak nie saak nie. Ek het nog altyd van die winter gehou.

      Ek trek ’n trui aan en gaan sit by die lessenaar. Stoot die drie selfone eenkant toe. Ek sal later daarna kyk. Die geraamde foto van Janien en haar familie draai ek gesigkant na onder. Dit voel asof almal na my staar.

      Ek sit die laptop aan. Haar masjien is oud – volgens vandag se standaarde, maar nuut en gesofistikeerd vir drie jaar gelede. En duur. Dis onwaarskynlik dat sy op ses-en-twintig ’n ordentlike tablet ook nog kon bekostig. Buitendien, dis moeilik om ’n ordentlike website op ’n tablet te bou.

      Die skerm verhelder. Ek hou dadelik meer van Janien. Dis ’n Linux-gebaseerde sisteem, open-source programming, nes dié wat ek gebruik. Niks se gesukkel met Windows nie. Internet is deur Firefox en email is Gmail. Hoekom sy nie ’n wagwoord opgesit het nie, weet nugter, maar dit spaar my tyd.

      Ek begin by die email. Soek deur die 347 boodskappe. Niks besonders nie. Meestal bevestigings van aankope, versoeke vir uitstallings en uitnodigings na galerye. Ek kyk na die email se asblik. Dis leeg, nes Jaap gesê het. Ek soek vlugtig deur wat sy gedínk het sy uit haar asblik gevee het. Ook niks besonders nie.

      Ek trek die Samsung nader, die nuutste foon. Jaap het vir my die PIN gegee. Janien het WhatsApp gebruik om met haar vriende en verloofde te gesels, nes Jaap gesê het. Verder is daar min van belang op die foon.

      Terug na die rekenaar. Haar besigheid, haar digitale kunsgalery, se naam was So What! Dié het sy eie Facebook-bladsy en Twitter-rekening wat Janien self op datum gehou het.

      Ek weet nie veel van kuns af nie, maar alles lyk redelik normaal. Afrika-maskers en -beelde, landskapskilderye en die Groot Vyf, abstrakte stukke en video’s van performance art wat net-net nie vir Vonnie sal laat bloos nie. ’n Paar digitale illusies wat met jou kop smokkel, mooi portretfoto’s en drie kunstenaars wat op geboue skilder onder die brand Urban Zoo Biscuit.

      Veilig, met ander woorde.

      Ek draai om en kyk na die kamer. Daar is swart-en-wit landskapfoto’s en portrette teen die muur. Nabyskote van mense wat lyk asof hulle in die omgewing bly, dieselfde ver kyk in die oë as Janien se pa.

      Ek wonder oor die website. Die foto van Janien met die kort rokkie en rooi lippe. Haar verloofde. Haar troue. Jaap het gesê sy’s bietjie soos ek …

      Iets maak nie sin nie.

      Ek trek my skouers op. Dis nie my werk nie, dis Jaap se werk. Ek kan nie bekostig om betrokke te raak nie.

      Ek kyk wie Janien se site besoek het. Suid-Afrikaners, Dene, Swede, Franse, Duitsers, ’n paar Keniane en Australiërs. In die maand voor haar dood 3 700 hits. Nie te sleg nie. Aankope was deur PayPal, onder andere. Haar bankrekening was by FNB. Ek sal dit later op my rekenaar oopbreek.

      Dalk is dit presies wat Jaap gehoop het ek sal doen, al het hy hoe mooi belowe ek hoef niks onwettigs te doen nie. Ons sal moet sien oor daai een.

      Iemand klop aan die deur.

      “Ja?” Hoe meer mense my pla, hoe langer gaan dit vat. Dis klaar donker buite.

      Jaap kom in met tee, toebroodjies en ’n rooi lêer onder sy arm. “Hier’s jou aandete.”

      Ek sit die beker tee langs die rekenaar neer, neem die bord by hom en begin eet.

      Hy gaan sit op die bed, tik op die lêer. “Dis foto’s van die misdaadtoneel, as jy wil sien.”

      Ek skud my kop. “Jy’t my mos klaar vertel wat gebeur het.”

      Ek wil nie weer Janien se gesig sien nie. Die foto’s in die gang was meer as genoeg. En die een wat Jaap my in die woonstel gewys het.

      Hy haal ’n pak foto’s uit die lêer, sit dit eenkant en hou die lêer na my uit. “Vat dan die res. Dis Janien se bankstate, data- en foonrekeninge.”

      Hy beduie na die twee ouer fone wat eenkant op die lessenaar lê. “Ek het dit hier gelos ingeval jy wil kyk wat daarop is, maar dis meestal foto’s en teksboodskappe aan skool- en universiteitsvriende.”

      Ek sit die bord neer en neem die lêer. “Wat gebeur as ek niks kry nie? Het jy al daaraan gedink? Dat julle niks kon kry nie, want hier ís niks om te kry nie?”

      “Jy sal iets kry, ek weet dit. Die polisie kan nie mense met jou tipe vaardigheid bekostig nie. Kry net iets, al is dit hoe klein. Ek soek die detail van Janien se lewe op sosiale netwerke. Die wegsteekfoon, die geslote Facebook-bladsy. Dit wat sy uitgevee het. Enigiets wat jy nie sal kry met ’n voor die hand liggende soektog nie. Iets waaraan die polisie – ons – nie sou gedink het nie.”

      “Hoekom is jy so seker sy’t iets weggesteek? Dalk is die goed wat uitgevee is snert. Almal van ons vee dokumente en boodskappe uit.”

      Jaap vee deur sy hare. “Almal steek iets weg.”

      “Jy ook?”

      Hy antwoord nie. Staan op en maak Janien se klerekas oop. Beduie vir my om te kyk. “Sien jy hierdie?”

      Ek kyk na die blomrokke, jeans, wit hemde en T-hemde. “Ja? Wat daarvan?”

      Hy trek ’n rok uit die kas. Dis fyn en ligblou.

      “Hierdie is nie Janien nie – haar ma het dit vir haar gekoop. Vonnie het nog nooit daardie stewels gesien waarin Janien dood is nie, maar dis definitief hare, dis afgeloop soos haar ander skoene.”

      Hy wys na die sandale onder in die kas. “Janien was nie so nie, nie meer nie. Sy was anders. Op haar rug was ’n tatoe van ’n doringboom – nog iets waarvan Vonnie niks geweet het nie. Iets voel nie reg nie, maar ek weet nie wat dit is nie.”

Скачать книгу