Скачать книгу

daarvan.”

      “Wil jy regtig weet?”

      “Wat bedoel jy?”

      “As Janien iets met soveel sorg vir julle almal weggesteek het, wil jy regtig weet wat dit is?”

      “Ja.” Sy oë pleit by my.

      Ek draai terug na die rekenaar. “Ek sal kyk wat ek kan kry. Maar daar’s nie baie tyd nie.”

      “Sestien ure.”

      Asof ek dit nie weet nie. “Kan ek ’n Coke kry?”

      “Vonnie haat Coke, maar ek het vir jou gekoop.”

      Sy antwoord laat my omdraai. “Wat het Vonnie nog als gehaat?”

      Hy glimlag asof ek uiteindelik verstaan. “Baie dinge. Sy wou haar kinders teen alles beskerm.”

      Klink soos my ma. En kyk wat het ék gedoen sonder dat sy weet. Toe sy weer sien, sit ek op agtien in die tronk oor kuberdiefstal. Sonder dat sy ooit iets vermoed het.

      Miskien is Jaap reg. Miskien het Janien Steyn iets gehad om weg te steek.

      Die huis is stil terwyl ek werk. Net die sinkdak kraak soos die nag nesskop. Ek ril van die koue, maar weier om die vensters toe te maak.

      Ek stroop die duvet van die bed, draai dit om my en maak die volgende Coke en email oop – een van die min wat Janien uitgevee het wat ek sover kon vind. Dis gestuur aan [email protected], op die dag voor haar dood. Ek kon nie die oorspronklike boodskappe kry nie, net fragmente van Janien se antwoorde.

      My ma sal my doodmaak as sy uitvind. Nee, sy sal my pa stuur om dit te doen en dan nooit weer met my praat nie. Ha-ha. Dalk sal dit alles oplos y Maar seriously, ek is lief vir hulle. Ek weet nie altyd hoekom nie, maar dis hoe dit is en seker altyd sal wees.

      Die volgende email is ook die dag voor haar dood geskryf, maar later die oggend.

      Kan nie glo ek verkoop deesdae so baie foto’s en maskers van die Ivoorkus nie? Ek het twee maande laas een van my eie foto’s verkoop. En hierdie freakin mense is so outyds. Kan nie glo Henk kom uit so huis nie? So verkramp. Wie dink nog so? Sy pa maak my mal!!! Ek kan nie meer nie.

      Wat is dit wat haar ma nooit moet uitvind nie? En wat kan sy nie meer uitstaan nie? Die verlowing? Wie is Cheny?

      Die persoonlike boodskappe wat sy oop en bloot in haar gmail-boks gelos het, is tussen haar en haar ouers, Leon en haar ander broer, Klein Obie. Niks vreemds of snaaks nie. Troureëlings. Wie loop eerste by die kerk in. Wie sing, wie doen die blomme, wie maak musiek. Hier kan ek al twee kante van die gesprek sien.

      Een email wys ’n foto van haar saam met vriende. Dis die enigste een wat ek tot dusver kon kry. Drie vroue en een man glimlag asof hulle dit bedoel. Janien en die vrou langs haar is wit, die ander vrou is bruin – ’n eksotiese skoonheid met ’n mooi glimlag, en die man swart. Blink, sê dit in die een hoek.

      Ek print die foto uit op Janien se drukker; gelukkig het dit nog ink in. Dalk kan ek die mense in hierdie foto opspoor. Dalk is een van hulle [email protected].

      Iewers in die huis snork iemand hard, stop skielik, en begin weer.

      Ek staan op, die duvet steeds om my gedraai, en luister vir ’n oomblik. Daar is iets gerusstellends aan die geluid. Iets bekends, soos in my kindertyd. My pa het ook so gesnork. My ma het altyd met hom geraas om op sy sy te draai, maar dit het ook maar net vyf minute gehou. Ons kinders het naderhand geleer om deur die geraas te slaap.

      Snaaks wat mens mis. Soos RSG. My pa het altyd radio geluister in die garage as ons aan die motors gewerk het. RSG het van die oggend tot die aand geblêr, van raad oor honde wat te veel blaf tot laatnag-biegsessies met vragmotorbestuurders.

      Ek loop venster toe. Buite is die maan helder, die nag yskoud. Ek wikkel die duvet stywer om my skouers, vis die Stuyvesants uit my jeans se sak en sit een in my mond. Ek wens ek kon die dêm ding aansteek, maar ek het my pa belowe ek sal ophou rook voor ek ook emfiseem kry.

      Dit was erg om te sien. Die stadige, paniekerige versmoring. Die reusevuis wat die asem uit hom wurg.

      Snaaks hoe ek my belofte oor rook die meeste van die tyd kan hou, maar nie die een oor rekenaars nie. My belofte aan my ma dat ek sal ophou hack. Ophou soek. Ophou code.

      Die sug is uit voor ek dit kan keer.

      Ek draai om, bêre die sigaret en staar na die kamer. Die swart muur. Die leë bed. Die vrolike blomrokke.

      Wat het Janien vir haar ma-hulle weggesteek? Wat het haar so mal gemaak? En hoekom het dit so baie saak gemaak?

      Ek gaan sit weer by die lessenaar en draai die familiefoto om. Kyk na Janien se krulhare, nes haar ma s’n. Die bruin oë. Die kuiltjie in haar ken. Dan na die foto wat ek uitgedruk het, die een waar sy laggend tussen vriende staan. Was sy ’n student toe dit geneem is? Sy’s twee jaar voor haar dood weg by Stellenbosch.

      Ek vee met my vinger oor die lewendige, aantreklike gesig. “Wat het met jou gebeur?”

      Ek wonder skielik presies hoe sy dood is. Wat wys daardie foto’s wat ek nie by Jaap wou neem nie?

      Nee. Ek druk die familie weer plat, bêre die ander foto in my rugsak. Ek wil nog steeds nie weet nie.

      ’n Uur later vind ek die eerste groot domino. Janien het geweet hoe om dokumente en boodskappe op haar rekenaar uit te vee, maar sy het dit vir die mense naaste aan haar weggesteek, nie vir iemand soos ek nie.

      Ek dink ek weet nou hoekom sy nie ’n wagwoord gebruik het nie. Want dan sou daai selfde mense gewonder het wat sy wegsteek. Vonnie het twee keer voor haar dood haar rekenaar gebruik, en ek is seker sy het bietjie rondgekyk ook. Toe ek op skool was, wou my ma ook gereeld sien wat ek op die rekenaar aanvang.

      Die encrypted inligting wat Janien op haar hard drive en in die cloud gescatter het, kon ek redelik maklik vind, maar dit gaan tyd neem om te ontsyfer. Die inligting verklap wel twee dinge. Sy het iets weggesteek én iets opgepas. Iets wat baie waardevol lyk. Wat presies dit is, gaan bietjie meer tyd en moeite kos.

      Ek kan sien hoe die polisie haar geheime misgekyk het. Jy moet deeglik soek om dit te kry. En jy moet ’n sprong in jou kop maak. Jy moet aan Janien dink as ’n volwasse vrou, en nie net ’n slagoffer nie. Jy moenie na haar lewe kyk en dink dis iemand wat dalk bietjie anders, maar steeds jonk en onskuldig was nie. As dieselfde dogtertjie wat jy destyds op jou skoot getel en op die voorkop nag gesoen het.

      Jy moet wíl weet.

      JAAP

      1

      “Slaap sy nog?” Obie trek aan sy pyp dat die wit rook lui opkrul tot teen die stoep se dak.

      “Ja. Sy’t tot laat gewerk.”

      Ek kyk onderlangs na my swaer. Dis elfuur en gewoonlik sou hy al weg gewees het met die bakkie, veld toe, maar vandag is hy by die huis. Hy pas seker vir Vonnie op. Dié is skuur se kant toe, saam met Hendrik, haar regterhand, wat netnou die inhoud van Janien se kamer gaan begin uitdra.

      “Hoe ken jy die meisiekind?” Obie vermy my blik, tuur die verte in.

      “Ek het haar tante laas jaar ontmoet. Haar vriendin, Ranna, ken ek al jare lank. Sarah is darem bietjie ouer as wat sy lyk.”

      “Wat doen sy presies?”

      “Die tante? Of die vriendin?”

      “Nee, die meisiekind.”

      “Sy werk met rekenaars.”

      Obie hoes soos ’n ou man, droog en lank. “Vonnie dink sy’s die ongeskikste mens wat sy al ooit ontmoet het.”

      Sou Vonnie hom gestuur het om met my te praat? Sy wil Sarah seker so gou as moontlik hier weg hê.

      “Sy’s baie goed met wat sy doen, maar mense is nie haar sterk punt nie. Dit het haar laas jaar drie dae geneem om twee woorde vir my te sê.”

      “Was seker nie goeie môre

Скачать книгу