Скачать книгу

in.

      Ek sit my rugsak op die koffietafel neer en haal die melk en tee uit wat ek by Spar gekoop het. Dis wat ek die meeste gemis het die afgelope maande: melk. Yskoue, vars volroommelk.

      Ek konsentreer om nie na die ry rekenaars teen die muur te kyk terwyl ek yskas toe loop nie. Kyk eerder by die vensters uit, na die helder ligte van die middestad en die ander woonstelblokke hier naby die Pilditch-stadion in Pretoria-Wes. Die kafee op die hoek waarvan mens net-net die rooi Coca-Cola-teken kan uitmaak as jy in die hoek van die kombuis staan.

      “Maak solank tee,” sê ek vir Jaap. “Ek het nie koffie nie. Ek gaan stort.”

      Ek loop kamer toe, maak die deur toe en bel vir Adriana.

      “Sarah. Uiteindelik. Waar’s jy?”

      “By die huis.”

      “Wie s’n?”

      “Myne.”

      “Het jy jou ma gebel?”

      “Nee. Sy’s kwaad vir my oor ek so lank weg was. Op ’n motorfiets en sonder my foon. Sê Ranna.”

      “Het jy haar al ten minste die kans gegee om die foon in jou oor neer te sit?”

      “Ha-ha. Hoekom sit Jaap Reyneke hier voor my woonstel en wag?”

      “Hy’t jou hulp nodig.”

      “Ek kan nie glo jy’t hom hiernatoe gestuur nie. Ek dog jy hou nie van hom nie. En maak polisiemanne jou nie senuweeagtig nie?”

      Sy lag. “Ek dink sy storie het meriete, maak nie saak hoe ek oor hom voel nie.”

      “Julle wil my besig hou. Het Ranna by jou kom skinder?”

      “Nee. Jy’s paranoïes. Jaap … hierdie saak is belangrik vir hom. Ek kan dit sien.”

      “Jy’s reg, ek is paranoïes. As jy weet wat ek weet, sal jy ook wees.” Ek trek die gordyne oop, vee met ’n vinger deur die stof op die bedkassie. “Ek dink nie ek weet meer waar om ’n rekenaar aan te sit nie.”

      “Jy’s in jou woonstel?”

      “Ek sê mos.”

      “Sê dan vir my hulle’s nie aan nie, daai ry rekenaars teen die muur? Sê vir my dis nie die eerste ding wat jy gedoen het toe jy by die woonstel ingeloop het nie.”

      “Dit was nie,” stry ek.

      Ek onthou die presiese volgorde: ligte, geiser, kragproppe. Dit was die dérde ding.

      ’n Groot, growwe, droë handdoek wat my hele lyf toevou. Salig. En water uit ’n kraan. Warm water wat nie opraak ná ’n paar minute nie.

      Maar die mure is te naby. Te veel.

      Ek gaan sit op die bed en kyk na die vrou in die spieël. Bruingebrand en seningrig ná die lang maande op die pad. Jy moet sterk wees om jou motorfiets op te tel as hy val. Kan nie iets ry wat jy nie kan optel nie. Kan ook nie iets saamvat wat jy nie self kan dra nie. Ranna se reëls.

      Ek woel my vingers deur my hare wat steeks in alle rigtings staan. Vryf moeg oor my oë. Hulle lyk groener teen my sonbruin vel. Ek het my pa se oë en Adriana se diep stem geërf. En my ma se onwrikbare logika. Sê my pa.

      Hét hy altyd gesê.

      Ek moet anders lyk ná sy dood, dan nie? Maar ek lyk nog dieselfde. Kort. Rooi hare. Vyf-en-twintig. Of het daar dalk ’n paar plooie bygekom?

      Dalk is ek net moeg.

      “Tee is reg!” roep Jaap uit die kombuis.

      Ek staan op en trek vinnig aan, T-hemp en jeans. Dis tyd om te hoor watter duiwel die afgetrede speurder tot hier gejaag het.

      “Janien was my peetkind.” Jaap sit ’n foto voor my neer.

      Ek kyk na die vrou in die kort swart rok en weermagstewels. Swart-en-rooi kouse kom tot by haar knieë. Daar is rooi linte in haar skouerlengte swart hare. Haar mond is ’n diep donkerrooi. Sy lag vir die kamera, flirt soos Marilyn Monroe jare gelede, hande op haar bobene en lippe in ’n speelse soen getuit. ’n Digbeboude stad vorm die agtergrond; motors en fietse ry verby.

      “Hoe oud was sy toe sy dood is?”

      “Ses-en-twintig. Die foto is ’n paar dae voor haar moord geneem, drie jaar gelede. Sy’s op die 20ste Julie dood.”

      Ek trek die foto nader en drink van die rooibostee wat Jaap gemaak het. Wens dit was eerder ’n Coke. ’n Sigaret sou nog beter gewees het.

      “Hoe kan ek jou help, Jaap? Jy was in die polisie. Julle het seker als gedoen wat julle kon. Jy’s taamlik hardkoppig, as ek reg onthou.”

      “Hardkoppigheid help jou niks as daar geen konkrete leidrade is nie.”

      “Níks nie? Geen DNS-spore of ’n verdagte nie?”

      Hy kyk na my met bloedbelope oë. Het die man regtig hier voor in die straat geslaap? “Die laaste aktiwiteit op haar foon was ’n oproep na haar verloofde, ’n paar ure voor haar dood. Volgens hom het sy gebel om te sê hy moet lekker kuier. Daar was ’n groot braai aan daai aand. Sy selfoon wys hy was op of naby sy ouers se plaas toe Janien gebel het. Daarna was sy foon af, hy sê die battery was pap.”

      “So jy dink dit was hy?”

      Jaap keer met ’n handgebaar. “Die beste leidraad wat ons kon kry, was ’n bloedvlek aan haar rok, in ’n vou in die deel van die rok wat onder modder was. So ons het DNS, maar ons weet nie aan wie dit behoort nie. Daar was geen ooglopende verdagtes nie, so ons kon niemand se DNS neem om dit teen te toets nie.”

      Hy vee ingedagte oor die foto. “Die meeste mense op die dorp sê dit was ’n mal rondloper wat iets gesnuif het. Ons is redelik seker dit was ’n wit man – dis wat die DNS sê, al kan ons nie die inligting in die hof gebruik nie. Die wetenskap van ras en afkoms moet nog deegliker getoets word. Sê die wit jasse.”

      “So kry ’n manier om die verloofde se DNS in die hande te kry.”

      “Dis nie só maklik nie. Dit was die naweek voor die troue en daar was ’n groot braai by sy ouers se huis. Ek sê mos. Die braai beteken almal het alibi’s. Almal behalwe Leon, Janien se broer.”

      “Dan’s dit seker hy.”

      Jaap skud sy kop heftig. “Janien was sy kleinsus. Hy was mal oor haar.”

      “’n Plaasaanval dan. Of ’n rondloper-junkie, soos die mense sê.”

      “Nie soos Janien aangetrek was nie.”

      “Hoe so?”

      Jaap haal nog ’n foto uit. “Kyk hier. Sy was in haar trourok, op ’n fiets, op ’n bevrore pan, met hierdie bloedrooi sleep van maklik vyf meter agter haar uitgesprei.”

      Ek bekyk die foto. “Weird. Hoekom? Watse statement maak dit?”

      Jaap leun terug in sy stoel. “Ek weet nie. Niemand is seker nie. Ek het orals gesoek. Die forensiese sielkundige met wie ek gepraat het, raai dis ’n man van tussen twintig en veertig. Iemand wat Janien geken het. Heel waarskynlik iemand wat kwaad was oor haar komende troue. Volgens hom is dit ’n vreemde soort moord vir Suid-Afrika. Die moeite. Die fiets. Alles.” Hy sug. “Nie dat sy inligting my juis gehelp het nie. ’n Goeie veertig mans uit daardie ouderdomsgroep sou die troue bywoon.”

      “Dan klink dit asof jy als gedoen het wat jy kon. Wat moet ek doen?”

      Hy kruis sy arms en kyk stip na my. “Janien was bietjie soos jy.”

      “Ék?”

      “Sy was mal oor rekenaars.”

      “Almal is deesdae mal oor rekenaars.”

      “Nee, sy was nie heeltyd op Facebook of Twitter of wat ook al nie. Sy was ’n digitale kurator. Sy’t ’n taamlik suksesvolle webwerf gehad waar sy die nuutste kuns – werke uit Afrika wat sy as belangrik beskou

Скачать книгу