Скачать книгу

help ons. Apollo antwoord hom: Ek sal tot die einde by jou wees.

      Dit was van Nagri se laaste dae in die koning se diens; dit was sy werk om te skryf wat in die Goue Saal in die paleis in Babilon gesê word. Koning ArtaXerxes het van die oponthoud by Tarsus verneem en het sy satraps gevra waarom Kuros nie sy Grieke betaal nie. Hy wou ’n antwoord hê. Dit was sy gewoonte om vrae te vra wat mense in die verleentheid kan bring – jy sou langer dink oor verskuilde dreigemente as oor sy vraag se inhoud en betekenis. Die satraps, wat uitgestrek voor sy voete gelê het, het geweet dat die koning geen vrees vir sy broer se leër het nie, maar hulle was bekommerd omdat waarsêers lank gelede voorspel het Grieke sal sy koninkryk beëindig. Tisafernes, die oudste, moes praat. “Kind van Lig,” sê hy, “as hy hulle betaal, gaan hulle huis toe.”

      “Is dit gode wat vir Klearkos teen my lei? Dra hy tekens van sy oortuiging?”

      “Net letsels, Kind van Lig. Hy offer aan Zeus.”

      “Laat die Magi haal,” het ArtaXerxes beveel en met die septer beduie: Gaan.

      Die satraps het op hulle knieë gekom en gesê, “Seun van Ahura-Mazda”, hul voorkoppe teen die vloer gedruk, hulle sandale opgetel en buigend uit die Goue Saal geretireer.

      Tisafernes het die name van die drie oudste Magi laat neerskryf, tot na sononder gewag en die boodskap aan hulle gestuur: Die Heer van die Vier Rigtings ontbied julle.

      Sedert die Magi in onguns by die Groot Huis was oor hulle voorspelling van die einde van die Persiese Ryk, het Tisafernes, as daar ’n kans was dat die koning hom sou hoor, hulle graag “seniele leuenaars en opiumverslaafdes met versinde geleerdheid en waardelose ervaring” genoem. Hy het soms hardop gesê dat hy nie spyt sal wees as die koning die Magi uitwis nie, omdat hulle wantroue skep tussen die koning en sy satraps. Daarom het hy tot na sononder met die boodskap gewag, sodat die koning se humeur tot die nodige hitte styg.

      Die koning kon sien hoe die drie ou mense voor hom bewe. Miskien was dit oor die koue marmer waarop hulle lê, maar hy wou hê dat dit van niks anders as vrees sou wees nie. “Vertel my nou wat gaan gebeur. Ek laat vir julle ’n vuur maak,” het hy gesê, sonder ’n aanduiding van wat hy wou hoor, of waarvan hy praat. So het dit toe al eeue in Babilon gegaan. Almal het geweet konings se begeertes het dikwels vuur as teken.

      “U lig is vir ons genoeg, Seun van die Daeraad.”

      Swart slawe het die hout op die oop vloer in die middel van die saal gestapel en dit aangesteek.

      “Nogtans bly dit brandend,” het die koning kil gesê, “tot ek weet of julle reg gesien het. Julle voorgangers is met vuur getoets en was leuenaars.”

      Hulle het geantwoord dat hulle bly was om aan die Seun van die Daeraad (mag hy vir ewig lewe) te kan sê wat op die slagveld gaan gebeur. “Seun van die Daeraad, ons sien dat vyande tot voor u troon nader,” het die oudste van die drie gesê. “Daar is ’n geveg. U verslaan hulle en hulle leiers sterf.”

      Die Magi kan nie die toekoms sien nie. Hulle het nou alles met één sprong gewaag, soos ’n skaakspeler wat in ’n hoek gedryf is. Maar die Pers se wette word nie verander nie en daarom moet hulle in die Goue Saal bly tot die koning seker was dat hulle reg voorspel het, en tot dan moet die vuur brandend bly. Sóveel en sóveel bondels brandhout is nodig.

      Dit alles het Nagri daar met ’n goue wig in nat klei geskryf. Wanneer hy nou, in die herberg in Bisantion, in Xenophon se joernaal oor die oponthoud by Tarsus lees, lyk dit of die jong Griekse amptenaar toe al gevoel het iets groots, iets wat die hele wêreld gaan verander, is aan die gebeur. Daarteenoor het sy neef Proxenos die prins se magsgreep teen sy broer nooit anders gesien as ’n uitdaging tot ’n pot skaak nie, waarna die sterkste tot wenner verklaar sal word en met die prys wegloop. En Nagri glimlag by die gedagte aan sy weldoener. Die Griekse huurtroepe het nie by Tarsus omgedraai nie. Die spel het skaars begin en moes nog lank voortgaan, die geveg by Kunaxa het nog voorgelê en die donker nag by Zapatas, waar Israel se strydkar gewag het om hóm te kom haal. Kom, Grieke, nooi Nagri in sy gedagte. Hy roer die dik swart ink, doop sy pen en sak weer oor die tafel om te skryf, stry klaar julle argumente oor plig en soldy, marsjeer julle afstande, kom nader aan my plek en my dag. Ek is die doodsengel. Ek wag by die Zapatas-rivier.

      Klearkos verdaag die parade. Die soldate ruik hulle aandkos. Proxenos is by die afgevaardigdes wat na Kuros se kamp toe loop. In sy blou tent wat binne met goue sterre geborduur is, onthaal die prins hulle met lofsangers, skinkborde opgehoop met bruingebraaide patrysies, okkerneute, sout olywe, wyn en musiek deur gesluierde meisies met tamboeryne.

      Kuros luister kalm na Klearkos en gee ’n soort antwoord: Hy het gehoor Abrokomas, voorste onder die koning se generaals, is ses dae hiervandaan by die Siriese Poort; dit is teen hóm dat hy optrek. Alles sal duidelik word, ses dae van vandag af. As Abrokomas ontsnap, sal hulle saam besluit wat om verder te doen. Hy klap sy hande en laat vir hulle geel wyn skink, maar erken nie dat hy hulle teen sy koning lei nie, en die generaals wil dit nie vra nie, hulle weet nie wat sy reaksie gaan wees nie. Die man is onvoorspelbaar en gooi dalk sy inlandse leër teen hulle. Negentigduisend teen tienduisend.

      Klearkos vra hom die agterstallige soldy, en die prins bied die helfte meer as vroeër aan, vir elke man wat hom teen Abrokomas help. Dan word hy stil. Kuros wil ’n kans hê om sy milde vrygewigheid te wys. Sy hande lê rustig op die armleunings van sy stoel, hy maak of hy met dieper gedagtes besig is, soos ’n skaakspeler wat verskillende stappe van ’n aanval op ’n koning deurdink. Hierdie Grieke verstaan nie. Prinse vereffen nie rekenings nie, hulle beloon gunste, rojaal. Hulle eet, drink, en vertrek in stilte.

      Op die oggendparade dra Klearkos die prins se antwoord aan die soldate oor om daaroor te stem. Is daar vrae?

      “Waarom, generaal Klearkos,” vra ’n kaptein in Klearkos se eie regiment, “erken die prins nie openlik dat hy teen sy broer optrek nie?”

      “Hy mag dit nie erken nie. Die oomblik dat hy erken, is hy skuldig aan hoogverraad. Dit is soos met owerspel: Hou aan ontken, al word jy op heterdaad betrap.”

      Hulle stem om Kuros nog ses dae te volg. Hulle is nou hier en kan netsowel. Van openlikheid en vertroue praat niemand meer nie, en hulle beurse bly leeg.

      Die leër vorder soos verwag en niks merkwaardigs gebeur nie. Xenophon skryf elke dag ’n paar reëls in sy joernaal; hy skryf kodes in plaas van name, ’n tyd, ’n afstand, niks meer nie, asof daar tussen dagbreek en sononder heeltemal niks anders was nie. Die lug se blou koepel skitter dae en dae lank van horison tot horison met wit, ronde wolke en dááronder groen gelyktes met silwergroen olyfbome en plate jong rooiblom tussen gras waaraan hulle die stof en sweet van hulle voete afvee. Hy sien bloot algemeenhede: gras, fontein, rivier, opdraande, afdraande. Hy het nou deel van die leër geword; vreemdelinge herken en groet hom. Soos hy ry, praat hy in sy kop met Apollo, god van afstande: “Watter einde, heer god? Wanneer?” Die antwoord is altyd: Ek sal by jou wees tot die einde.

      Die see

      Die kusvlakte suid van Tarsus is kosbare grond waarop eeue oue olyfboorde groei, hul vaal stamme is vol groewe en skurwe uitgroeisels soos ou soldate se skene en sleutelbene wat verwronge uit verwonding genees het. Die vaalgroen blare lyk stowwerig, maar die krom takke dra vrugte aan jong lote, soos ou mans met jong bruide. Oor dié vlaktes trek die leër tot by Issos in die hoek van ’n lang baai. Dit is die laaste stad in Asië, en hier kom hulle die eerste keer by die see.

      Prins Kuros se vloot wag in Issos se baai. Die Grieke voel almal meer gerus, want die see verlig die gemoed; dalk vaar hulle nog op dié skepe huis toe. Hulle eet daagliks vis, vars brood en olywe, maar hoor bowenal die lewende see, ruik hom in die lug, proe sy sout op die hande en sien hom blou, vaal en groen met sy bietjies wit en sy swewende grys meeue. In herinnering gooi hul weer visse uit blou-en-wit skuite op die strand en dra ’n nat, vol mandjie op die skouer huis toe. Nou voel ’n man soos toe jy jonk en gelukkig was, jou ouers nog in die lewe en die dorpsmeisies so vars en mooi soos die jong somer. En jy kan op see ’n lewe maak, oorlog maak, dan huis toe vaar, maar om weg te wees van die see en hom nie elke dag te hoor dreun of sug of sing nie, dit bring onrus in die hart. Jy kreun in jou binneste, wáár het ek my pad verloor, wat maak ek op

Скачать книгу