Скачать книгу

van ’n grenspos staan op ’n gelykte teen die linkerhandse berghang. Die kloof vernou; die paadjie slinger vir myle aaneen heen en weer, hoër en hoër tussen lykgrys rotse waaraan swart, verwaaide dennestruike om hulle lewe klou. Naby die mistige kruin kom hulle by die beroemde Kilikiese Poort, ’n gaping in die bleek kranse omtrent twaalf man breed, met ’n vierkantige rotsblok soos ’n waghuis aan die regterkant. Hulle het onafhanklike Kilikië se grens oorgesteek, en al Kuros se voorsorg moet duidelik wys dat hul bedoeling vreedsaam is. Daarvandaan daal die leër deur steil klowe waar wilderose in bome rank en hulle die skommelende, stampende waens met rieme moet teëhou, dan in sonlig oor wye vlaktes waar wit marmerriwwe regop soos grafstene uit die grond steek, daarna in seelug oor waterryke gelyktes vol wingerd, geel graanlande en boorde met jong vrugte. Die soldate noem koning Sineses die Gelukkige, die Bevoorregte en die Geseënde, en trek vier dae lank agter pers seewolke aan deur sy ryk land tot by die hoofstad.

      Maar Tarsus lê geplunder en deels afgebrand voor hulle. Die rivier Sidnus vloei sewentig tree breed, glad en donker deur die verlate stad. Die strate is leeg, en die verkenners bring ’n amptenaar wat in ’n huis weggekruip het na Kuros in die kamp. Die man vertel Menon het vyf dae gelede met die koningin hier aangekom. Hy het twee afdelings van sy regiment in die berg verloor. Een was sy agterhoede wat in die berg deur Kilikiese troepe omsingel en uitgeroei is, die ander is op ’n plundertog op die vlakte uitmekaar gekap. Toe laat hy uit wraak sy troepe op die stad los. Party sê dit was omdat Epiaksa sy toenaderings verwerp het. Kuros ontbied die generaals en spreek Menon daaroor aan.

      “Ek het ’n akkoord met die koningin gemaak, dat haar land nie aangeval sal word nie. Jy moet die buit teruggee en skade vergoed.”

      “Ek het destyds geslaap toe jy en sy die fyn punte uitwerk,” sê Menon, “maar daar is net een koningin en my soldate is soos ’n swerm bye. Wat kry hulle? Wat my betref, ek doen my sake liewer met ’n man as ’n vrou.”

      “Kom na my tent toe ná die vergadering,” sê die prins. “Dit is beter dat ons persoonlik hieroor praat.”

      Menon sê niks, maar gaan na die prins se tent en bly tot die volgende oggend daar.

      Kuros verbied sy mense om hulle trekvee in die landerye te jaag. Hy stuur mooi uitnodigings aan Sineses, en die koning antwoord uit sy skuiling dat hy hom nooit in die hande sal gee van een wat sterker as hy is nie. Die koningin nooi ook haar man, maar hy weier om te kom, tot sy die prins se geskrewe vrygeleide aan hom gaan gee. By die ontmoeting in die paleis gee Sineses weer ’n groot bedrag aan die prins en hyself kry eregifte soos ’n wit perd met goue stang, ’n goue sabel, ’n goue halsring en ’n fyn Persiese kleed van geblomde sy. Só betaal ou Sineses vier maal vir sy land: een keer in kontant aan die prins, een keer sy vrou vir drie weke, die derde keer sy stad geplunder, die vierde maal met nog ’n groot bedrag.

      Bedrog

      In Tarsus hoor die Grieke die eerste keer dat ’n oorlogsvloot hulle kuslangs volg. Tot in dié stadium het niemand aan skepe gedink, of waarom Kuros reken hy het ’n vloot nodig nie. Nou besef hulle dat Kuros hulle lei teen sy broer, koning ArtaXerxes, en dít is waaragtig nie waarvoor hulle aangesluit het nie. Die gevoel onder die soldate is eenparig: Hulle wil omdraai en huis toe gaan. Hul klere is vrot gesweet en verskeur in die hete klimaat, hulle skoene is deurgeloop, hulle moet behoorlike kos en olyfolie kry, want elke dagmars is twaalf, vyftien myl lank. Hulle weier om verder te gaan. Die generaals sê: Wag, die prins skuld ons aansienlike bedrae en persoonlik kan ons nie daarsonder bestaan nie. Ons kan nie bekostig om hier om te draai nie.

      So word die inval twintig dae in Tarsus vertraag. Kuros bly nog by die koning en koningin in die paleis, maar sê eendag aan Klearkos: “Ek hoor van muitery onder julle. Roep vanaand elke tiende man vorentoe en steek ’n lans in sy agterste op. Plant hulle in ’n kring om jou kamp. Ons marsjeer oor drie dae.”

      Klearkos antwoord: “Edelheid, dit is dieselfde mense wat ’n horde van jou inlanders op die vlug laat slaan het deur net hulle tande te wys. Hulle is vrye Grieke. Beloftes wat ek aan jou maak, beteken vir hulle niks. Maar ek sal probeer.”

      Klearkos laat sy regiment met die trompet bymekaarmaak en hou formeel en sorgvuldig parade, sodat ’n Spartaan presies sal verstaan wat van hom verwag word. ’n Parade kalmeer die onrustige gemoed, en jy kan omtrent enigiets met hulle regkry. “Soldate, makkers,” sê hy. “Ek is nie verbaas dat julle ongelukkig is oor die manier waarop dinge hier gaan nie. Ek het aan julle voordeel gedink toe ek julle hierheen gebring het. Landgenote, ek gaan waar julle gaan.”

      Sy regiment juig, skreeu sy naam, gooi spiese in die lug. Die nuus versprei: Klearkos en sy Spartane gaan omdraai. Meer as tweeduisend man uit generaals Xenias en Pasion se regimente wat daarvan hoor, kom hulle tente by Klearkos opslaan. As hy omdraai, gaan hulle saam. Hulle het nooit onderneem om teen die koning oorlog te maak nie en sien geen heil daarin nie. Sonder Klearkos stort alles in elk geval ineen.

      Kuros ontbied hom, en Klearkos weier om te gaan. Hy staan voor sy tent en stuur die boodskapper met vloeke weg. Op die aandparade praat hy namens die generaals met die hele leër. Hy het ’n stem soos ’n bul en hy weet hoe om dit te gebruik, om te intimideer, te bemoedig en om te paai. Hy laat die soldate sit. “Soldate, julle ken die man met wie ons te doen het. Julle ken sy geaardheid, julle sien sy mag in voetvolk en ruitery. Na my mening lê ons nie ver genoeg van hom af gekampeer nie. Daar is nou sprake van skepe. My siening is ons moet dink wat ons gaan doen en sorg vir ons veiligheid. Sê wat julle dink ons behoort te doen.”

      Verskeie soldate steek hande op om iets voor te stel, en hy wys met sy stok die een aan wat moet praat.

      “Timasion van Dardanië, generaal Klearkos,” sê ’n lang, blonde kaptein. “Ek wil so gou as moontlik tuis kom. As julle ons nie terug wil lei nie, moet ons ander generaals kies, bagasie pak en voorraad vir die pad versamel.”

      “Basios van Arkadië. Ek stel voor dat jy Kuros om skepe vra dat ons kan huis toe gaan, en as hy nie skepe wil gee nie, moet jy hom om gidse vra. As hy nie gidse wil gee nie, moet ons ’n voorhoede stuur om die bergpas te beset vóór die Kilikiërs of die prins ons daar afsny.”

      “Kalamakos van Parasië. Generaal Klearkos, ons hoef net te volg waar Kuros lei. Ons hoef nie te veg voor hy nie betaal nie.”

      Klearkos antwoord bloot: “Ek lei niemand op ’n aftog soos hier voorgestel is nie. Ek sien hope probleme in die voorstel. Maar die een wat julle in my plek kies, kry my steun. Ek verstaan die nodigheid vir eenheid so goed soos julle. Wie nog?”

      Met elke spreekbeurt groei die ongeloof in Xenophon totdat hy dit nie meer kan bedwing nie en hy lig sy hand om ’n beurt. Dit is die eerste keer dat hy voor die leër praat. Hy staan op, haal sy helm af en vat sy mantel voor sy bors toe. “Xenophon van Athene. Ek wil wys op die belaglikheid van voorstelle om voorraad te koop en Kuros om skepe te vra. Ten eerste staan die mark in sy kamp, hy sal ons nie toelaat nie. Tweedens, hy is nie op pad huis toe nie, die skepe kom nie om ons op te laai nie. Derdens, om gidse te vra van iemand wie se onderneming ons wil ondermyn, is ’n grap. As ons sy gidse vertrou, kan ons hom netsowel vra om die bergpas vir ons te beset. Ek sal nie sy gids volg nie, omdat hy ons in ’n hinderlaag kan lei. Ek sal nie op sy skepe klim nie, want hy kan hulle, met ons daarop, in die oop see sink. As ons teen Kuros se wens vertrek, moet dit sonder sy wete wees, en dit is onmoontlik. Ek stel voor dat ons die regte mense stuur en hom vra waarvoor hy ons wil gebruik. As sy plan soos ander is waarvoor hy tevore Grieke gehuur het, behoort ons hom te volg en ons so dapper te gedra as ons kan. As dit duidelik word sy planne is van groter omvang, behoort ons hom te vra om ons in sy vertroue te neem of in vrede huis toe te laat gaan. Net twee dinge: openlikheid en totale veiligheid. Ons volgende stap behoort op sy antwoorde te volg.”

      Die soldate roep hulle instemming. “Ja, ja! Stuur mense!”

      “Daar,” sê Klearkos en wys met sy stok. “Dit is wat ek wil hoor. Weer jou naam, jong man?”

      “Xenophon van Athene.”

      “Dan moet ons die mense kies. Kom, stel name voor.”

      Met die aandster as getuie roep hulle voorstelle en stem vir afgesante: een offisier uit elke regiment, met Klearkos as

Скачать книгу