ТОП просматриваемых книг сайта:
Afstande. Dan Sleigh
Читать онлайн.Название Afstande
Год выпуска 0
isbn 9780624051107
Автор произведения Dan Sleigh
Издательство Ingram
Menon se manskappe glo hom, en voordat een van die ander generaals ’n antwoord aan die prins stuur, pak Menon se regiment op en trek in maanlig deur die rivier. Kuros lag toe hy hoor dat Menon se regiment oor is. Voor die ander se verleë gesigte stuur hy hom ’n draagbaar vol geskenke. Hulle kan Menon se soldate daar op die oorkantse wal om vure sien dans, sien hoe hulle met kruike in die hand in die lug spring en die prins se naam skreeu. Hulle stemme kom helder oor die slangblink water.
Arras lei die volgende oggend met eerste lig sy negentigduisend oor, met die prins se bagasietrein ná hom en dan die Grieke agterna deur hulle modder. Die dorpenaars kyk verwonderd toe, hulle kan nie onthou dat een al ooit te voet hier deur die Eufraat is nie. Sjah Darius het die koninklike hoofweg deur hulle dorp laat aanlê en ’n vlot voorsien met ’n ponthouer wat sy klein, ongereelde inkomste uit reisigers moes wurg. Satrap Abrokomas het enkele weke gelede die pont verbrand om die prins te vertraag, en nou lyk dit asof die rivier Kuros begunstig, asof hy bestem is om koning te word.
Meer as ’n jaar later, in Kotiora aan die Swart Kus, het Xenophon sy groot kaart van die ekspedisie voltooi en tye en afstande bereken. Hy sien toe Tapsakos is presies by die halfpadmerk. “Kyk,” sê hy aan Nagri, “dit is seker nie toevallig nie. Kuros kon ewe goed terugdraai as vorentoe gaan. Maar waarom was al die geheimsinnigheid en bedrog nodig?”
“Oor die ingebore boosheid in sy bloed en in sy murg, en in die hart en verstand van sy broer en hulle hele vervloekte gespuis.”
By Kotiora was Nagri amper waansinnig van wanhoop.
Met die vaal, breë Eufraat aan hul regterkant, trek die optog deur die hete Arabiese Woestyn, ’n skuiwende skaduwee op die sonwyser wat die einde van die koning se dag sal wys. Smiddags skuil hulle teen die hitte. Die reuk van baksteenoond styg na sononder uit die stofgebakte grond. Die landskap is meestal geel, maar soggens verander dit van oranje na vaal, en soos die son skuif, verander geel na wit, en oranje na bruin, sononder verdonker rooi na pers na diep diepblou. Die aarde is gelyk, met enkele duine soos verstilde golwe van fyn rooi sand en die uitgestrekte oppervlak geriffel soos ’n windgestrykte see. Miskien was daar vroeër ’n see, want Xenophon sien versteende skulpe op die grond en een maal die perfekte afdruk van ’n vis in ’n klip. Bome is daar nie, net lae struike en harde plante soos bitterals, en voëls soos groot gompoue wat kort entjies vlieg, maar gou moeg word. Die soldate braai vleis op kole van ysterharde doringhout wat die volgende dag nog gloei en wat hulle met sand moet blus. Vreemde sterre kom snags laag in die suidooste op, en hulle hoor jakkalse en onbekende nagvoëls.
Langs die hoofweg, in ’n kromming van die rivier, is ’n rusplek met die naam Korsote, in die skadu langs die ingetuimelde mure van ’n verlate stad. Daar is tekens van ’n groot brand lank gelede, maar niemand weet meer wanneer dit gebeur het nie en niemand kom hierdie swartverbrande boustene weghaal nie, asof hulle vervloek is. Die stadsfontein borrel nog sterk, soet en koel.
Hulle bly drie dae binne die swart mure, in die geloof dat hulle daar onsigbaar is vir verkenners, terwyl hulle kos uit die omgewing versamel. Xenophon, onrustig gemaak deur gebrek aan inligting, krap tussen ruïnes, maar kry geen bene of erdewerk of ystergoed of iets wat lyk na oorblyfsels van ’n tempel of ’n altaar nie. Teen watter vergete god sou hierdie mense, jonk en oud, gesondig het, en waarom is daar nie ’n laaste boodskap op ’n muur geskryf nie? Verbyganger, gaan vertel wat hier gebeur het. Miskien was daar geen tyd nie.
Die swaar goue sterre snags en die blinkwit son bedags begelei hulle, dra hulle. Voet vir voet, tree vir tree meet die leër die hoofweg tussen Sardis en Babilon af. Hulle ervaar elke kluit en droë spoor in die sand, elke stofstorm, elke rusplek in skadu onder die yl musiek van bronstige sonbesies, hulle ervaar dit soos soldate, in kla en lag en sweet en slaap. Môre en oormôre is nie die soldaat se saak nie, maar sy offisier s’n. Jy kla, en gaan maar aan.
Daar kom heuwels in hulle pad, dan rotskoppe en lae, kaal berge. Na dertien dae kom hulle by Die Poort, waar die rivier en die pad in ’n pas tussen swartgebrande granietkranse deurgaan. Die troepe kry soutvleis gemaak van pakesels wat op dié dor en klipperige trek dood is, maar daar is nie meer groente, lensies of brood nie. Op die aandmark in die Persiese kamp koop jy ’n hoed vol gars vir vier sigli, genoeg vir drie brode, maar dit is te duur vir die gewone man. Nou maak Kuros party marse langer en dryf mense en diere genadeloos om by voer en ander proviand uit te kom. Hy word humeurig en gevaarlik, hy dreig hulle met ’n dorsmars na Sharmande.
Die pad tussen die rivier en die rotsmure word te smal vir waens, en die touleiers neem die osse die modderwater in. ’n Afdeling inlandse voetvolk probeer om ’n wa wat in die diep modder vassit en die pad versper uit die taai, suigende klei te lig, maar hulle kan nie vorder sonder om eers die vrag af te laai nie. Kuros stop die eerste rytuig waarin van sy edelste familielede is en beduie hulle om te gaan help. Die mense peul uit die koets, gooi hulle purper af net waar hulle staan, hardloop in hulle geborduurde jurke en lang broeke teen ’n wal af, sommige nog met armbande en goue kettings om die nek, en spring met al hulle sierade aan in die modder. Die sweep klap en daar word gevloek, en hulle dra self die wa tot op droë grond.
Proxenos lag daaroor. “Ek wonder wat hy hulle beloof het. Wat dink jy, Neef, goud of die gesel?”
Perse laag en hoog verstaan dit: Vrees maak sterk. Hulle glo dit van moedersknie af as ’n lewenswaarheid.
Op die rand van die Arabiese Woestyn kom hulle op die hitte van die dag aan by die wilgergroen en palmryke Sharmande, soos ’n groen sieraad op die Eufraat se oewer. Die soldate word die namiddag vry gegee. Die meeste Grieke eet hulle rantsoen van growwebrood en verwaterde dadelwyn en slaap in die koelte onder die bome. Een afdeling van honderd Kretaanse peltastai staan tou voor ’n gratis bordeel waarmee prins Kuros hulle vir die wegruim van ’n rotsstorting beloon het, maar die taptoe blaas met sononder en ’n onderoffisier kom haal die oorblywendes kamp toe. Net na middernag vertrek die optog weer by fakkellig.
By die volgende staanplek is daar ’n bakleiery tussen ’n soldaat van Menon en een van Klearkos. Klearkos oordeel dat Menon se soldaat dit veroorsaak het en laat hom ’n pak gee. Toe die man dit gaan vertel, is sy makkers woedend vir Klearkos, en toe die generaal en ’n paar lyfwagte later mark toe ry, sien Menon se houthalers hom en een slinger sy byl agter hom aan. Die byl val mis, maar toe gooi iemand ’n klip, en meer klippe volg. Klearkos jaag terug na sy regiment en laat die trompet blaas vir aantree. Regop, swaar, aan die spits van sy Trasiese ruiters, ry hy op Menon se tente af. Sy hoplitai bewaak sy kamp, die spiese rus gereed teen die skouers en skilde leun gereed teen knieë.
Menon storm by sy tent uit toe hy die trompet hoor en skreeu om te bewapen. “Los julle harnas, bewapen en tree aan. Vorm front na regs. Kapteins, hou rigting op die regterflank. Gereed? Looppas mars.”
Proxenos kom met die agterhoede in die kamp aangery en skrik vir die twee Griekse regimente wat met vaandels en strydkrete teen mekaar optrek. “Hou jou posisie daar, Klearkos, in die naam van al die gode. Moenie jou makkers se bloed verspil nie.” Hy stuur sy hoplitai tussen die twee partye in, ry self vorentoe en pleit van ver af: “Hou daar, hou daar, Klearkos. Moenie naderkom nie.”
“Jy belet my na ek amper doodgestenig is? Ken jy my? Staan weg of ek kom haal jou uit die pad uit.”
Kuros hoor die trompette en kom met sy Onsterflikes, hy ry sy bont perd langs Proxenos in, spring tussen hulle af en roep al drie generaals na hom toe. “Klearkos, Menon, Proxenos,” gil hy toe hulle voor hom staan, “as julle onder mekaar doodmaak, gaan ek nie my doel bereik nie, en julle sterf eerloos, ver van julle huise af. Die inlanders agter my gaan groter vyande van julle soldate word as wat my broer se leër ooit kan wees. Sit weg julle wapens.”
Klearkos kom stadig tot sy sinne, hy blaas soos ’n bees en proes ’n sproei van slym en fyn waterdruppels by sy neusgate uit, gooi sy skild agter sy skouer, sy swaardpunt sukkel om die skede se lip te vind. Hy hyg en weier om hand te skud, gespe sy helm los, maar bedink hom en trek dit weer vas. Kapteins lei die drie siedende regimente weg na hulle kampe om wapens te stapel, maar hulle hou mekaar onderlangs dop, trommel die swaardpunt teen die skild se rand en skreeu dreigemente oor die skouer.
“Onsekerheid maak hulle gespanne,” sê Proxenos toe hy