Скачать книгу

nogmaals op en hervat die mars. Orals voor hulle flikker water en palmbome, die landskap bewe van lugspieëlings, van hitte en bedrog. Nege myl verder, omtrent middag, is daar ’n leë loopgraaf oor hulle pad gegrawe, vier man diep en vyf wyd met loodregte kante. Ooswaarts strek dit so ver hulle kan sien, maar hier by hulle, tussen die sloot en die rivier, is ’n poortjie van tien tree wyd oopgelaat.

      Wat is dié? Die generaals vergader daar op hulle perde om die loopgraaf te bespreek, terwyl die soldate verbymarsjeer en onrustig lag oor dié sonderlinge loopgraaf met ’n deurgang, waaraan tienduisende slawe maande lank moet gespit het. Wat bedoel die vyand nou hiermee? Die generaals kyk rond, onseker en besluiteloos. Miskien is die sloot nie belangrik nie. Dan trek hulle deur die gaping.

      Terwyl hy die agterhoede deurlei, sê Proxenos: “Ek reken Roinos, die Olimpiese kampioen, spring hieroor.”

      Maar die sloot sê iets vir Xenophon. “Wat sien jy, Proxenos?”

      “Tydmors.”

      “Die sloot sê dat ons in die koning se gedagte klaar verslaan is. Hy sien ons vlug.”

      “Ons kreupeles en siekes is hier deur.”

      “Dit is nie ’n loopgraaf nie. Kyk na die póórt. Dit nooi jou binne soos vlieëvangers met ’n bietjie heuning in. Almal kan in, maar nie een kom weer uit nie.”

      “Waarvan praat jy, in die naam van Zeus?”

      “Die poort lok ons in. Sal vlieë in die fles gaan as daar nie heuning en ’n openinkie is nie? ’n Vlugtende leër is verdoem. Die koning se ruiters dryf ons teen die loopgraaf terug; ons en die inlanders drom daar saam, almal wil soos skape gelyk deur die poort, sabels kap in die bondel, duisende spring af in die sloot om die slagting te ontkom. Die koning soek nie gevangenes nie. Die sloot is ’n oop graf.”

      “Almal sal gelyk deur die poort probeer kom,” sê Proxenos. “Ordeloos. Gevang tussen die inlanders.”

      “Ons moet hier wegkom. Al sê Kuros die landsvolk is lafaards, maak dié soort ding my skrikkerig. Help ons, Apollo van Afstande.”

      Kunaxa

      Soos vlieë in ’n fles daal die prins se leër in die koning se lokval af. Daar is tekens op die grond dat duisende perde en mense verder terug, nader aan die hoofstad, verskuif is. Dit is ’n goeie teken, die koning trek terug.

      Silanos die waarsêer het voorspel die koning sal nie binne tien dae veg nie, en Kuros se reaksie was: “Dan veg hy nooit, want tien dae bring ons in die hoofstad. Voorspel hier reg, en jy kry drieduisend darik van my.”

      Nou is die tien dae verby, en Kuros roep die waarsêer en weeg sy loon voor die hele leër uit. Die soldate kyk verwonderd toe; dit is soveel as wat hulle almal tesaam vir tien dae se marsjeer behoort te kry. Hulle vind Kuros se buitensporige beloning so onredelik soos sy uitspattige strawwe, maar die gevoel onder hulle groei dat koning ArtaXerxes nie gaan veg nie. Die pad is nou oop vir hulle Babilon toe. Die generaals lag en wens prins Kuros geluk. Hulle marsjeer sonder teenstand van middernag tot die volgende middag, kampeer soos hulle gewoond is, eet en rus.

      In hierdie jaargety begin elke dag heuninggoud onder die skitterende môrester. ’n Stofwolk op die oostelike horison styg soos onweer, maar die oggendwind waai dit weg. Van die middag af speel warrelwinde oor die hete vlakte. Kuros gaan met vertroue vorentoe. As die koning hulle vordering dophou, sal sy aanval omtrent middag kom, wanneer die invaller moeg en honger is. Vanselfsprekend, dink Xenophon, alles vanselfsprekend.

      Twee dae nadat hy Silanos betaal het, sit Kuros en sy drywer in sy vegkar met net die Griekse regimente op die pad voor hom en die verkenners ver voor waar blink lugspieëlings strepe staande water voor ’n dynserige horison trek. Dit is middag en naby die plek waar hy beplan om te laer. Sy lyfwag is agter hom, en daarna die inlanders soos skaaptroppe wat in droogtetyd water toe gelei word, die meeste loop in groepies van ses of agt versprei oor die veld, half aan die slaap van die hitte, met hul wapens en gereedskap op waens of pakdiere.

      Soos die bewende rookstrepie waar ’n veldbrand begin, sien die Grieke beweging in die hittenewel reg voor hulle, dit word digter en donkerder, dan roep iemand “Verkenner!” en ’n ruiter op ’n beswete perd kry vorm en kom uit die newel aangejaag met sy stof soos ’n trop honde op sy perd se hakke. In Grieks en Persies skree hy soos hy verbygaan: Die koning se leër kom!

      Offisiere, wadrywers en onderoffisiere roep en slaan; daar kom dadelik ’n deurmekaarspul, almal verwag die vyand gaan op hulle wees voor hulle gereed is. Kuros spring van sy kar, gooi sy borsplaat aan, klim op sy perd en neem drie werpspiese in sy hand. Sy drywer gee die helm aan, maar hy weier dit. Hy skree sy eerste bevele, dat almal hulle moet bewapen en dwars oor die pad ’n front vorm, Grieke regs, Perse links. Sy plek is in die middel, voor sy seshonderd Onsterflikes met hulle sabels, pyltas en boog en roesrooi wapenrok van ysterskubbe wat tot onder die knieë hang; hulle perde kry haastig harnas voor die kop en bors. Agter en links van die lyfwag neem negentigduisend inlanders stelling in onder Arras, Kuros se vriend en tweede in bevel, vier man diep en ver na die linkerflank uitgebrei. Griekse onderoffisiere skreeu hulle hoekmanne in hulle plekke in. Dáár steek gekleurde wimpels aan spiese op uit die stof wat al stiebeuelhoog tussen die perde en mense walm.

      Die Grieke sit by hulle wapens en rugsakke op die grond, swetend onder harnas en helm, met die skilde teen die knieë gestut. Klearkos se regiment het die regterflank teenaan die Eufraat. Langs hom is dié van Proxenos en dan die ander generaals linksaf tot by Menon, langs Arras se voetvolk. Kos word uitgedeel; die offisiere, soos die gebruik is, eet staande. Xenophon sit sy rantsoen van beskuit en droë vye in sy sak. Hy kan nie eet nie, van sy jeug af ruk sy maag voor ’n geveg asof hy gaan opgooi; later wanneer sy bloed kop toe spring, sal hy daarvan vergeet. Regimente neem beurte om watersakke in die rivier te vul. Agter hulle word die honderde provisiewaens deur ’n afdeling peltastai en draers in ’n vierkantige dubbele laer gesleep.

      In die vroeë namiddag kom ’n grys wolk soos ’n sandstorm dwarsoor die vlakte aan, ’n soort donker skyn deur die bewegende wolk soos swartroes waar graan gewan word. Soos hulle nader, word flitse van blinkgevryfde brons gesien en kan formasies van ruiters en voetgangers onderskei word. Voor, oor die volle breedte van die front, ry strydkarre met lemme aan die wiele; stof warrel agter hulle aan. Die voetvolk hou die pas met hulle, op honderd tree sal die drywers die perde begin slaan om hulle met spoed deur die Grieke te dryf. Maar Kuros was verkeerd toe hy aan die generaals gesê het om vas te staan teen die geskreeu van die vyand. In plaas van skreeuend kom hul stil en in ’n egalige pas aan, myle wyd uitgesprei met die skuiwende stofgordyn om hulle.

      Hulle kom in stamme ingedeel, in ’n digte, smal kolonne van ses man breed en eenhonderd diep. Aan die vyand se linkerflank, teenoor Klearkos se regiment, is ruiters met wit harnas. Dáár’s Tisafernes, sê hulle. Langs hom marsjeer soldate met rottangskilde, en langs hulle soldate met houtskilde wat tot by hulle voete kom. Egiptenare, sê die veterane. Nader na die middel is ’n digte massa ruiters en duisende boogskutters. Die Grieke soek die koning se goue banier tussen al die vaandels, maar sien dit nie.

      Grieke lei altyd van die regterflank, Perse altyd van die middel. Kuros ry met drie lyfwagte en sy tolk heen en weer voor die front. Hy skreeu op Klearkos en wys met ’n spies: “Lei jou Grieke teen hulle sentrum. Dit is waar die koning is. As ons dáár wen, is die hele ding klaar.”

      Klearkos kyk na die swaar formasie in die middel van die vyand se front waar die koning is en sien dit tot verby die Griekse linkerflank strek. Sy hele linie van tienduisend man sal meer as twee myl na links moet skuif, meer as twee myl weg van die rivier, wat hom aan omsingeling blootstel. Hy ry na Proxenos toe. “Wat dink jy?”

      “Skuif, solank ons tyd het. Die koning is dáár, nie hier nie.”

      “Nee. Hulle kom te breed. As óns teen die middel slaan, omsingel sy twee flanke ons. Laat Kuros skuif. Ons hou vas aan die rivier.”

      “Sy bevel is duidelik. Ons moet skuif.”

      “Ek sal sorg dat dit regkom.”

      “God Zeus,” sê Proxenos, “wat doen ek hier?”

      Klearkos

Скачать книгу