Скачать книгу

gaan dit nog jare lank oorvertel. ‘Palinus is eendag gestuur om Grieke te oortuig om hulle wapens neer te lê,’ sal hulle sê. ‘Toe hulle sy advies vra, het hy hulle so-en-so aangeraai.’ ”

      “My advies is,” sê Palinus vinnig, “moenie wapens neerlê nie as daar maar één kans uit tienduisend is dat julle dit kan oorleef wat die koning teen julle gaan bring.”

      “Tienduisend teen een. Dit was die verhouding in gister se geveg ook. Dit is dan jou advies. Nou ons antwoord: As ons vriende van die koning moet word, sal ons waardevoller vriende wees as ons die gereedskap hou waarmee ons ons brood verdien. En moet ons veg, sal ons beter veg as wanneer ons wapens in sy pakhuise lê.”

      “Dit is die antwoord wat ons sal terugneem,” sê Palinus. “Maar die koning sê ook ’n wapenstilstand is van krag solank julle bly waar julle is. As julle vorentoe of agtertoe beweeg, is dit oorlog. Julle moet my hierop ook antwoord.”

      “Sê ons stem saam.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Wapenstilstand as ons bly, oorlog as ons marsjeer.”

      “Wat moet ek sê? Oorlog of wapenstilstand?”

      “Wapenstilstand as ons bly. As ons vertrek, oorlog.”

      Die ambassadeurs ry weg. Arras se boodskapper bring laatmiddag vir Keirisofos die Spartaan, maar Menon het by Arras gebly. Arras laat weet hy sal nie as koning aanvaar word deur die Perse nie, daar is honderde van ’n hoër stand as hy. Hy begin môreoggend vroeg sy aftog huis toe. As die Grieke by hom wil aansluit, moet hulle dié nag nog kom.

      “Sê aan jou heer,” antwoord Klearkos die boodskapper, “as ons kom, sal dit gebeur soos hy sê. As ons nie kom nie, moet hy doen wat hy dink die beste is.”

      Die generaals reken Klearkos het nog nie besluit wat om te doen nie, maar na die aandparade, toe die son amper onder is, ontbied hy al die offisiere na sy groot tent. Sy bediende skink vir elkeen ’n halfbeker wyn. Hulle staan dig teen mekaar om Klearkos op sy veldstoel gedrom. “Generaals, kapteins,” sê Klearkos, “toe ek vanoggend offer, was my vraag aan Zeus of ons verder teen die koning moet veg. Die tekens was swak, die antwoord was nee. Soos ek verstaan, lê die groot rivier Tigris tussen ons en die hoofstad. Sonder bote kan ons nie oor nie. Ons kan nie hier bly nie, want hier is geen proviand nie. Ek verwag ons mense kan onder mekaar oor kos begin baklei as ons hulle nie gou hier wegneem nie. Toe ek vanaand offer met die vraag of ons met Arras moet saamgaan, was die tekens goed. Dit is dus wat ons gaan doen. Ons moet ons by Arras voeg. As julle hier uitgaan, laat julle mense eet wat daar is. As die trompet blaas, pak julle goed. Op die tweede trompet, laai die pakdiere. Op die derde, tree aan en volg die verkenners noord, met die diere langs die rivier en die hoplitai buite hulle.”

      Toe staan hy op. Klearkos is nou die bevelvoerder. Dit was nie nodig om daaroor te stem nie, hy is die mees ervare en het die regte soort verstand vir ’n veldowerste. Soos hulle verbygaan, skud hy elkeen se hand. Dit is die eerste keer dat Xenophon van hom ’n handdruk kry en ook die vuishou teen die skouer waarmee hy vriende groet.

      Nagri, met sy rug gestut teen die oop deur van sy huurkamer in Bisantion, skryf: Draai hier om. Keer jou rug op Babilon. Dit het Klearkos se gode aan hom gesê. Vir die Vaders wat sy seëvierende leër oor drie of vier dae in die hoofstad verwag het, was dit nie net ’n teleurstelling nie, maar ’n geweldige slag vir die saak van die Verlosser. In Babilon het die Jode al ’n fees gereël, die oorwinning verkondig met die ramshoring, die herdenking met ongesuurde brode, ’n ongeskonde lam en bitter sous, en ’n optog deur die strate soos in Egipte destyds, maar dié keer triomfantelik met palmtakke.

      Destyds, toe dae verbygaan en die leër nie opdaag nie, wou die Vaders van hom weet: “Hoe vertolk jy dit nou, Nagri? Waar is die beloofde strydkar en perde van Israel?” Hy het met stygende vertroue na hulle gesigte gekyk, want snags het hy diep in sy siel ’n stem sy naam hoor roep: Nagri. Nagri. “God se wil,” het hy hulle geantwoord. ’n Beter plan sal geopenbaar word. Amin.

      Klearkos loop stok in die hand in die donker by die gidse. Hulle is op die koninklike hoofweg, reguit, gelyk, weg van Babilon af. Sommige soldate, duiselig van honger en uitputting, loop honderde treë ver in hulle slaap agter hulle offisiere aan, skrik en marsjeer ’n paar passe met helder sintuie voor hulle weer aan die slaap raak; later word hulle effens verkwik wakker. Omtrent middernag kom hulle by die vorige dag se staanplek waar Arras met meer as negentigduisend inlanders lê. Klearkos halt sy kolonne voor Arras se buitewag; sommige skrik daar wakker van die skildwag se geskreeude daging en Klearkos se antwoord: “Klearkos van Sparta, in die prins se diens.”

      “Staan, Klearkos van Sparta.” Stemme roep oor en weer tot ’n offisier na die wagvuur kom en Klearkos tussen twee van sy eie lyfwagte na Arras lei.

      Arras

      Arras is maer, rusteloos, met die kort soldaat se verwaandheid, humeur en houdings. Sy blas vel span styf om hom, sy swart oë kyk onder swaar ooglede uit. Dié swart nag, by ’n vuur wat sy vonke tussen die hoë sterre inskiet en in die teenwoordigheid van honderdduisend getuies, neem Arras en sy offisiere aan die een kant, en die Griekse generaals aan die ander kant, ’n heilige eed om mekaar nooit te verraai nie. Hulle brand doringhout tot as, offer ’n bosvark en ’n wolf en giet duur wyn op die sand.

      Vir Arras is dít nog nie genoeg nie: Hy dring aan om ’n tweede eed met Klearkos te sweer, dat hy wat Arras is die Grieke, sonder verraad, huis toe sal lei. Vir dié eed word ’n wit perd geslag: Sy bloed spuit in ’n kavalleris se borsplaat. Arras doop ’n Persiese sabel daarin, Klearkos doop sy swaard, en hulle kruis dit oor die springende vlamme om die wapens met vuur te suiwer.

      Vir die Pers is dít ook nog nie genoeg nie: Hy was sy hande in die bloedbak en steek hulle na Klearkos uit. In die vuurlig lyk Klearkos se ruie gesig monsteragtig van moegheid en verwaarlosing toe hulle mekaar die hand gee en op die wange soen.

      Klearkos sê: “Wel dan, Arras, ons is almal op dieselfde weg. Ons moet see toe. Gaan ons soos ons gekom het, of ken jy ’n beter pad?”

      Arras vee die koue as van sy sabel in sy handpalm af, vee sy hand oor sy mond. “Ons gaan omkom van honger as ons trek soos ons gekom het. Eers het Abrokomas die land gestroop, toe trek Kuros daardeur, nou is daar net stof en sprinkane oor. Ek dink aan ’n roete wat heelwat langer is, maar nêrens sonder voorraad nie. Ons moet ons eerste dagmarse so lank moontlik rek om vóór die koning te bly. Ek hoor hy soek ons, en as ons twee of drie dae kan vóórbly, sal hy ons nie inhaal nie en ons kom elke keer eerste by die proviand.”

      “Goed. Ons kan ooreenkom.”

      “Maar nog een seël op al ons ede, Klearkos. Daar lê koue nagte voor waar ons gaan. Ek het ’n besonder mooi poppetjie gesien net voor ons uit die prins se laer padgegee het. Nog nie vyftien nie. Sy was so haastig om weg te hardloop dat ons haar nie kon vang nie. Nou ja, Klearkos, jy het haar en ek wil haar graag hê. Ek gee jou twee in ruil vir haar.”

      “Nee.”

      “Wat wil jy vir haar hê? Ek het perde, honde, renosterhoring.”

      “Vergeet dit.”

      “Loot?”

      “Ek is nie ’n koppelaar nie.”

      “Kom, ek kan dit nie uitveg teen jou nie. Sê wat jy vir haar wil hê. Of meer prinslik, ’n paar potte skaak? Beste uit drie. En ’n hoeveelheid goud.”

      “Nee,” sê Klearkos, met ’n kort handgebaar oor die vuur. “Lei voort, Arras. Jy het gesweer met bloed en vuur en handtasting. Die vrou kry haar vryheid. Sy was nooit buit nie. Maak haar die hof as jy haar wil hê.”

      Dagbreek vertrek hulle van die staanplek aan die Eufraat met die son aan die regterhand, om miskien voor die aand dorpies met proviand en hout te bereik. Hulle rus twee keer by strome om te drink, maar vind min om te eet. Laatmiddag hang spieëlbeelde van ruitery onderstebo in die lug bo die horison. Arras, in ’n kar agter sy leër, laat stilhou en gespe harnas aan. Van die Grieke wat nie in hulle regimente marsjeer nie, hardloop om by hulle goed te kom. Die verkenners se leiertjie kom terug: Die

Скачать книгу