Скачать книгу

pakdiere probeer vang en die koning uitlok om hulle aan te val, maar die generaals is eenparig daarteen. Die troepe is moeg, was lank sonder kos, dit is amper nag.

      Hulle marsjeer reguit op die dorpies af, en die son is al onder toe die voorhoede die gehugte haal. Dit lyk of al die hutte se oë uitgesteek is, rame en luike is uitgebreek en hulle vind geen ander vuurmaakhout nie. Die voorhoede het tyd om behoorlik kamp te maak, maar afdelings wat later opdaag, moet plek kry waar hulle kan.

      Die verkenners rapporteer dat die koning se wagvure in die rivierbedding vlak agter die laaste huise brand. Daar is geen maan nie, en in die donker maak die onderoffisiere ’n groot geraas soos hulle heen en weer skreeu en na mense roep om hulle afdelings in orde te kry. Daarna lê hulle honger en neerslagtig op sand wat vinnig sy hitte verloor.

      Hulle probleme maak hulle senuweeagtig. Daar is van die vorige nag af nog nie geoffer nie. Die koning se leër lê geen myl van hulle af nie. Hulle is sonder vriende in ’n dor streek, sonder skuiling in die stikdonker hart van die vyand se land en ’n skrikwekkende afstand van die see af. Hul ekspedisie het misluk, al die beloftes van beloning en verwagtings van buit, alle hoop op rykdom is weg. Al wat oor is, is vrees, dreigende gevegte, uitputtende marse, maande se honger en gesukkel.

      In die nag gil iemand, moontlik in sy slaap, en ’n wag skreeu ’n waarskuwing, onderoffisiere skrik en skreeu bevele om aan te tree, offisiere roep om harnas en fakkels. Mense hardloop deur die donker. Helms en swaarde en skilde kletter teen mekaar. Dit is ’n deurmekaar rondvallery wat amper op paniek uitloop.

      Klearkos beveel sy herout om te roep. “Die generaals bied ’n beloning van een talent silwer vir die naam van die dwaas wat sy muil tussen die wapenrakke losgelaat het,” skreeu hy die geharwar in. Toe hulle dit hoor, lag die soldate, en besef die alarm was ongegrond.

      Dagbreek paradeer die Grieke in die vertroude formasie waarin hulle by Kunaxa geveg het. In Arras se kamp, sien hulle, word ook parade gehou. Klearkos praat hulle moed in en wys op hulle suksesse. Hy sê dat daar die oggend nie ’n kamp of rook of ’n vreemde pakdier in die omgewing te sien is nie, en dat dit duidelik is dat die koning hulle oproer gehoor, groot geskrik en padgegee het. Daarna offer hy namens hulle aan Apollo die Verlosser. Die tekens aan die offerdiere is ongunstig, maar hulle kan nie daar bly nie, en hy vertel aan die leër die tekens lyk goed vir nog ’n dagmars vorentoe.

      Proxenos vra aan Xenophon, terwyl hulle oppak vir nog ’n dag se mars in die mismoedige stoet: “Wou Arras ons miskien gister in ’n lokval gelei het, so na aan die koning se kamp?”

      “Toe skrik sy lokval vir ons en hardloop weg? Onwaarskynlik.”

      “Arras word gebind deur ’n driedubbele eed van sy eie maaksel,” sê Proxenos.

      “Dan weet jy wat dit werd is.”

      “Ek hoor by die kapteins dat toe ons gisteraand hier by Arras aankom, het daar kort tevore ’n ding gebeur. Sy kok het ’n kalf op ’n rooster oor die kole gespan, met ’n Egiptiese slaaf om dit op te pas. Toe kom Arras se honde om die vuur ruik, die bruin jaghonde wat aan Kuros behoort het, en die slaaf skop na een, en toe die hond wegspring, draai hy om en skop weer daarna. Maar toe skrik hy, want daar sit Arras op sy groot perd vlak agter hom, en hy lyk glad nie gelukkig nie. Arras het net ’n paar woorde gepraat, toe vat sy lyfwag die slaaf en span hom op die rooster oop vir sy honde se aandkos.”

      Die ooreenkoms

      Terwyl die leër nog op parade staan, gebeur iets vreemds. Ambassadeurs van die Goue Troon meld by die buitewag aan. Gister het die koning hulle wapens geëis, vanoggend wil hy onderhandel.

      Klearkos laat antwoord: “Sê dat Klearkos sy parade inspekteer. Hy kom wanneer hy tyd het.”

      Hy doen die hele parade oor om die ambassadeurs te laat wag, eers die inspeksie en rapporte deur offisiere, dan laat hy linies sluit en rig en die leër van tienduisend man tot vlak voor hom opmarsjeer. Toe hulle met skilde teen die knieë en spiese in rus staan, wens hy hulle geluk met hulle vertoning en maak ’n paar aankondigings vir die dag oor afstand, spoed en die gebruik van rantsoene.

      Vir Xenophon lyk die leër uitstekend. In watter rigting hy ook kyk, sien hy reguit rye van brons spiespunte en gepluimde helms. Almal is vuil, luisbesmet, stink en honger, maar as ’n eenheid is hulle ’n vreesaanjaende instrument. Hy stoot sy bors effens uit en dank Apollo dat hy daar kan wees. Die hegte massa gewapendes onder swart helmkamme maak sy kommer minder. Hy kan sien ou Klearkos voel trots op sy mense, sy geel tande wys deur sy baard.

      Klearkos roep vier van sy grootste hoplitai vorentoe om langs hom te kom aantree, twee aan elke kant, soos ’n lyfwag. Toe stuur hy sy herout om die Persiese ambassadeurs nader te nooi.

      Die ambassadeurs ry op pragtige swart perde, vet en blink geroskam. Hulle dra geborduurde klere en die sagte purper mantels met goue soom van die koningshuis. Toe dié belangrike mense voor hom kom, vra Klearkos hardop voor die hele leër, veel harder as wat nodig is, wat hulle soek. Hulle praat Persies.

      “Praat Grieks,” sê Klearkos. Maar as hulle kan, wil hulle nie. Klearkos roep tussen sy regimente om ’n tolk sodat die ambassadeurs kan sien daar is niks besonders aan die koning se taal nie. Twaalf, vyftien soldate steek hande op. Hy wys met sy stok na ’n groot kaptein naby hom. “Heraklites van Sparta, vra wat hulle hier kom soek.”

      Die kaptein tolk hulle boodskap. “Hulle sê dat hulle kom om voorwaardes te bespreek. Hulle sê hulle moet die koning se wense aan die Grieke oordra, en die Grieke se wense aan die koning.”

      “Dan begin ons met ’n geveg,” sê Klearkos en lag. “Niemand skryf aan honger mense voor nie.”

      Xenophon, op sy plek by die stafkorps, hoor die gelag aan alle kante om hom. Die soldate geniet dit. Hulle is al drie dae in gevaarlike omstandighede op mars sonder behoorlike provisie, maar soldate lag graag, en die ouman beheer die situasie goed. Soos die vorige nag met die pakmuil tussen die bagasie, lag hulle veral oor hulle eie verleentheid. Hulle voel dat hulle in sulke goeie hande is as wat soldate in sulke omstandighede maar kan hoop om te wees. Ou Klearkos is die man wat hulle uit hierdie gemors sal kry.

      Die ambassadeurs praat sag met mekaar. Die tolk leun nader, maar hoor nie wat hulle sê nie. Dan praat hulle weer met Klearkos.

      “Hulle sê: ‘Ons kom weer.’ ”

      Klearkos groet nie toe hulle wegry nie, maar skreeu op die parade: “Ons vertrek nie. Hou wapens byderhand, die hele dag lank.” Dan verdaag hy hulle.

      Die ambassadeurs verskyn so gou weer dat die koning self nie ver kan wees nie. Proxenos gaan met die ander generaals om te luister.

      “Die koning beskou Klearkos se voorstel as redelik,” sê die tolk. “As julle ons voorwaardes vir ’n wapenstilstand aanvaar, stuur hy gidse om julle te wys waar om proviand te kry.”

      Hier word nou met woorde geveg, dink Xenophon. Dié stryd is beslis voor dit geveg is. Waarom gee ArtaXerxes voor om te wil onderhandel? Omdat hy weet hulle is honger en hy reeds ’n ander, beter plan met hulle het. Waarom is geen woord nog oor Arras gevra nie? Omdat hulle reeds Arras se antwoorde ken. Miskien weet die koning van elke woord wat in dié kamp gepraat word.

      “Geld julle voorwaardes vir almal, of net vir dié wat gaan kos haal?” vra Klearkos deur sy tolk.

      “Vir almal, en dit bly geldig tot die koning jou antwoord hoor.”

      “Ons wil dit bespreek.” Klearkos knik na die generaals. “Kom in die tent in.”

      Die algemene gevoel in Klearkos se tent is ten gunste van ’n verdrag, sodat hulle kos kan kry vóór die soldate opstandig word. Sy mening ook, sê Klearkos, maar eers moet hulle waens met voorraad gelaai word; ’n leër marsjeer op sy maag, hulle weet dit al. Maar hy wil ’n bietjie tyd wen; bly sit en drink ’n beker wyn. Toe hy dink die tyd is reg, lei hy hulle uit. “Ons aanvaar die voorstel,” sê hy aan die wagtende Perse. “Julle gidse kan begin lei na die voorrade toe.”

      Die koning se gidse kom eers die middag. Hulle trek suid in die rigting van die hoofstad, deur ’n moerassige delta vol rietbegroeide

Скачать книгу