Скачать книгу

kap hulle palmbome langs die kanale af.

      Hier laat Klearkos hom as leier geld: Waar hulle werk, word buitewag en binnewag eers sorgvuldig gepos, dan, dydiep in modder met sy swaard in sy linkerhand en ’n stok in sy regter, jaag hy die werkende manskappe met vloeke en dreigemente aan. As hy hoor van ’n soldaat wat nie hard genoeg werk nie, klim hy uit en gaan soek die man en slaan hom. Hy is meer ongeduldig as gewoonlik, omdat hy verneem het dat die vlakte nié die tyd van die jaar natgelei word nie en die kanale nie gedurig so vol water is nie. Hy vermoed dat die koning van plan is om die vlakte te oorstroom voordat die Grieke weet wat gebeur. Daarom klim hy self in die modder af en sit skouer onder swaar stamme. Selfs offisiere gaan help toe hulle hom in die swart turf sien sukkel.

      Die gidse lei hulle na slawedorpies in die moerasse, waar koring, bier en dadelwyn te koop is by afstammelinge van Jode wat twee eeue tevore hierheen gesleep is. Dit is ’n goeie plek om uit te rus, met die water en palmbome. Hulle kry die eerste keer in weke vars groente in die vorm van die smaaklike kroon uit die top van ’n jong palm gesny. Maar die Grieke se oë bly daar waar hulle die vyand moet verwag, en dan kyk jy oor ’n rivier so breed soos die horison. Die pad waarlangs hulle gekom het, het reeds onder water verdwyn.

      Hulle bly drie dae daar, terwyl die water al hoe dieper oor die vlakte stroom. Toe kom twee nuwe ambassadeurs op kamele. Aan die diere se tuie en toebehore sien jy al dat hierdie hoogs vername here is. Weer is daar baie purper, volop goud in die ambassadeurs se kleding, en hulle ry met valke op die handskoen asof hulle op ’n plesiertog is. Bediendes slaan ’n tent vir hulle op onder ’n palmboom – alles wit met gouddraad borduur – en dra vir hulle tapyte en kussings daarheen aan.

      Die Griekse generaals stap saam uit om die besoekers te verwelkom. Die ouer man word aangekondig as Tisafernes, die koning se satrap aan die weskus van Asië, wat nou ook met Kuros se satrapi beloon is, die ander is die koning se skoonseun, Orontas. Klearkos alleen word genooi om by hulle te sit.

      Tisafernes begin. Hy praat deur sy gekartelde baard; Kuros se rebellie was sy saak, hy moet sorg dat dit opgelos en afgehandel word. Sy tolk het dieselfde hoogdrawende styl as sy baas en beduie met sy hande. “Griekse vriende, julle is hier in ’n buitengewoon ongemaklike posisie,” sê hy. “Maar dit kan vir my ’n mate van geluk beteken as ek die koning kan oorreed om my toe te laat om julle huis toe te begelei. Julle leiers en julle families sal my dankbaar wees. Soos julle weet, woon ek aan die grens van Griekeland, daarom wil ek die koning om hierdie guns vra, en ek glo hy sal my versoek oorweeg. Ek was die eerste wat hom vertel het van Kuros se verraad, en met die tyding het ek my garnisoen gebring om die hoofstad te verdedig. Ons was die enigste wat nie by Kunaxa gevlug het nie, inteendeel, ons het deur julle linies gebreek en in julle kamp by Sy Verligte Heerlikheid aangesluit. Nou moet ek weet waarom julle teen die koning geveg het. My advies is, gee ’n redelike antwoord, dan sal dit vir my makliker wees om hom die guns te vra.”

      Klearkos praat eers met sy eie tolk. Is al die satrap se woorde korrek oorgesê? Dan antwoord hy: “Ons het nie by Kuros aangesluit om die koning aan te val nie. Ons is met prinslike beloftes en leuens voortgelok. Ons was sonder proviand in die middel van die woestyn en te arm om hom te verlaat toe ons sien dat hy hom in gevaarlike sake inmeng. Kuros is dood, en ons het geen rede om teen die koning te veg nie. Ons soek nie sy bloed nie en wil nie sy land ruïneer nie, ons wil net huis toe gaan, mits niemand ons probeer keer nie. As een ons probeer belet, gaan ons hom op sy bek slaan, maar aan een wat ons ’n helpende hand gee, sal ons probeer goed doen.”

      “Ek neem jou boodskap na die koning, en bring weer sy antwoord,” sê Tisafernes, regop op sy rooi kussing. “Ek verwag om julle hier te vind. Die wapenstilstand bly van ons kant van krag.”

      Klearkos beduie na Arras se kamp, windaf van die Grieke. “Wat van hulle? Hulle kon nie Kuros se bevele weier nie.”

      Die satrap soek Klearkos se oë agter die oogsplete van sy helm. “Hulle behoort aan die koning,” sê hy. Toe draai hy weg, en hou ’n bleek hand uit om opgehelp te word. Die bediendes laat die kamele vir die ambassadeurs kniel, en hulle ry daarvandaan reguit na Arras se kamp.

      Tisafernes verskyn nie die volgende dag of die dag daarna nie, sodat die Grieke begin bekommerd voel, maar op die derde dag kom hy en die koning se skoonseun weer. Klearkos nooi hulle na die generaals se tent en bied hulle wyn aan, maar Tisafernes wys dit van die hand. Hy wil ook nie sit nie.

      “Die koning het my die werk gegee om julle te red,” sê hy. “Baie adviseer ten sterkste daarteen. Hy beloof vrygeleide deur sy land en ek bring julle tuis in Griekeland. Julle kry oral geleenthede om kos te koop, en waar nie ’n mark is nie mag julle teen behoorlike betaling kos van die lande versamel. Net die lug, die water en die pad landuit is verniet.”

      So word besluit. Die Grieke giet wyn op die grond en Tisafernes en die koning se skoonseun steek die regterhand na die Grieke uit en sweer by Zeus en by Ahura-Mazda.

      “Nou gaan ek na die koning toe,” sê Tisafernes. “Oor ’n paar dae kom ek weer, gereed om julle huis toe te begelei en na my satrapi in Wes-Asië terug te keer. So kom daar weer orde.”

      In die groen, koel dorpies ontmoet Xenophon van die Joodse slawe en vra hulle met ’n tolk se hulp uit, maar hulle is bang. Die koning se Oog is oral, is wat hulle aan die tolk sê. Die tolk verduidelik dat die mense nakomelinge van ontheemdes is, wat nie hul god in ’n vreemde land kan dien nie, nie hulle feeste kan vier nie en gedurigdeur meer van hul taal vergeet. Al wat hulle het, is stories van ’n outyd, eeue gelede.

      “Ek verstaan,” antwoord Xenophon. Atheners voel ook só, onder Sparta se koue hand.

      Terwyl hulle op die satrap wag, vra die rustelose soldate aan hul offisiere of dit sin het om hier te bly sit. “Die koning het ons gevang,” sê ’n Athener, bles maar ruig bebaard. “Sal hy ons laat leef om te vertel hoe ’n paar van ons die Groot Koning verslaan en veilig die huis gehaal het? Op dié oomblik ry sy mense die land vol om ons voor te lê, vestings te bou en slote oor ons pad te grawe.”

      “Ons het ’n heilige eed gesweer,” probeer Klearkos die ongemaklikheid verredelik. “Waarom sou hy ’n eed van ons verwag en die regterhand in vriendskap gee, net om meineed te pleeg en sy woord in die oë van die wêreld waardeloos te maak?”

      Keirisofos, een van die minder siniese Spartane, sê: “ ’n Set. Hulle sal met ’n hond ’n eed sweer om hul sin te kry. Laat ons eerste aanval, en hierdie satrap gyselaar neem. Daarna bloed vir bloed.”

      “Kyk, ek voel soos julle,” sê Klearkos, “maar wat hier voorgestel word, is ’n oorlogsverklaring. Dit doen ons wanneer die toestand desperaat word. Arras gaan ons verlaat, dan het ons nie langer vriende in dié land nie, ons gaan nie kos te koop kry nie en moet vir elke mond vol baklei. Ons het nie gidse nie, en ek weet nie hoeveel riviere ons moet oor nie, maar ons sal nie oor die Eufraat kom met een vyandelike leër agter ons en nog een wat oorkant wag nie. Ons het ook geen ruitery nie, terwyl die koning se ruiters en hulle kennis van die terrein juis sy grootste bates is. Dink daaraan, en wees geduldig.”

      Dít sê Klearkos meer as een keer op parade om hulle te kalmeer.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.

Скачать книгу