Скачать книгу

wonder of spanning dié tyd in die mars noodwendig sleg is. “Laat hulle vir mekaar grom en tande wys,” sê hy aan Proxenos. “Hoe nader hulle aan die vyand kom, hoe gevaarliker word hierdie hoplitai.”

      ’n Ent verder wag verkenners by spore en perdemis weerskante van die hoofweg. Die generaal ondersoek die tekens: Omtrent tien dae gelede het tweeduisend ruiters hier gekampeer. Dit moet satrap Abrokomas wees. Kan hy ingehaal word? Hy trek sonder waens, is te ver voor en kom altyd eerste by voer en verversings. Met gedwonge marse kan die ruitery hom probeer inhaal, maar hulle moet liewer die moeite gespaar word.

      Toe die trompet die Grieke later die dag parade toe roep, staan ’n bebloede kop met ’n silwer hoofring op ’n spies voor die verhogie wat die prins vir hom op die rand van die paradegrond laat regsit het. Die prins skreeu in sy eie taal oor verraad en waai ’n bruin kopdoek in die lug. Dit is moeilik om te verstaan wat hy sê, maar sy dreigemente is heeltemal duidelik. Die soldate probeer die dooie gesig herken, maar die bloedgekoekte baard en masker van kruipende brommers en vlieë maak dit onmoontlik.

      Klearkos ken die hele storie; hy is die vorige nag laat uit sy kooi ontbied vir ’n verhoor. Hy vertel dit by lamplig in die offisierstent, met ’n gespanne, geheimsinnige houding, woeste trekke van sy gesig en gulsige slukke uit sy geduikte silwer drinkbeker. Hy laat hulle sy status en sy kennis sien. “Die verraaier,” sê hy gewigtig, “jy sal dit nooit sê nie, was ’n buite-egtelike seun van koning Darius, ’n soort oom van die koning en prins Kuros. Sy naam was Oraster, ’n aansienlike man en ’n goeie soldaat.”

      Kuros het duisend ruiters aan Oraster toevertrou, vertel hy, om Abrokomas in te haal en uit te wis. Kuros kom in besit van ’n brief waarin Oraster sy trou aan koning ArtaXerxes bevestig en vra dat Abrokomas hom en sy duisend ruiters as vriende ontvang.

      Ná sy relaas swyg Klearkos en gryns. Hy laat die offisiere wag en hou hulle gesigte dop. Hy maak sy beker vol, drink dit leeg, maak dit weer vol. Hulle hou hom dop en wag. Wat Klearkos hulle eindelik meedeel, is dat Kuros vir Oraster laat arresteer het en sy ses belangrikste familielede ontbied het, maar die Grieke weet nie wat gebeur het nie, tot Klearkos om middernag genooi is om aan ’n verhoor deel te neem. Die Perse beskou hóm as hoof van al die Grieke.

      Nou gaan Klearkos, beker in die hand, eers in die emmer in die hoek urineer, dat hulle oor sy woorde nadink: Die Perse beskou hóm as hoof van al die Grieke. Hulle luister in stilte na die geplas in die emmer. Hy kom terug, neem die fles van die tafel en skink die generaals se bekers vol. Hulle sien dat albei sy skoene nat is. Ouderdom begin teen die leier tel. Wat faal hierna? Geheue, uithouvermoë, sy drang om te wen, sy drif om te moor? Alles wat nodig is vir ’n leier. Klearkos gaan raad nodig hê, en nie van jong manne nie.

      Klearkos vertel grimmig verder: In die nagdonker laat Kuros al die inlandse regimente tot hulle kamp inperk en vra hom om ’n afdeling hoplitai te voorsien vir ’n kordon rondom die blou tent en om self in die tent aan ’n verhoor deel te neem. Honderde goue sterre hang daar binne teen die dak geborduur; dit is soos ’n woestynnag, jy verwag om krieke en jakkalse te hoor. Die tent was swak verlig, donker figure het langs die prins op kussings gesit en daar was ’n swaar reuk van bokvet en rose. Agter hom het ’n groot geblinddoekte arend op ’n dwarshout aanhoudend skerp gegil. Wat hóm betref, vertel Klearkos, hy wou net so gou moontlik uit daardie dodelike plek kom, terwyl die ondervraging aangaan.

      “Daar lê die brief. Daar staan die man, so duidelik skuldig soos ene wat jy by jou vrou in jou bed vang. Maar Kuros wil weet hoe verspreid die verraad is.” Oraster se regters is almal aan hom verwant soos hulle wet verlang. Hulle luister na die aanklag, die getuienis, die bekentenis.

      Oraster het die afgelope maand in sy gewete oortuig geword van prins Kuros se sonde. “Ek het lank hieroor gedink, my prins,” sê hy. “Ek ken jou en ek ken die koning, en tussen julle is daar nie veel te kies nie. Daarom moet ek aan myself getrou bly.”

      “Is jy alleen, Oraster, of is daar nog ander?”

      “Ek is alleen, prins Kuros. By jou is honderdduisend. Maar ek doen reg.”

      Die arend gil en Kuros sug. “Wat is reg?” Toe vra hy eerste vir Klearkos om sy oordeel.

      “My advies is, maak hom van kant,” sê Klearkos.

      Kuros vra die ander, en almal stem met Klearkos saam. Toe staan die sewe mense op, van die oudste tot die jongste, en loop vorentoe om die gespe van Oraster se gordel aan te raak, dit is ’n slang om ’n skedel gehaak. Doodstraf. Die wagte het hom weggeneem, en almal wat tevore voor hom moes buig, buig toe hy verbygaan.

      In Babilon

      Waar die Eufraat- en die Tigris-rivier die naaste aan mekaar kom, trek hulle die antieke koninkryk van Babilon binne en marsjeer drie dae stroomaf langs die Eufraat, reg op die hoofstad af.

      Om middernag op die derde dag, toe die leër opstaan om vroeëkos te maak, bring die afgeloste buitewag drosters uit die koning se leer binne, wat vertel dat die koning die volgende dag voor die middag gaan verskyn. Kuros ondervra hulle, hy soek inligting oor die koning se mag. Hoeveel, waar, watter soort troepe? Is sy huishouding by hom, die kinders, harem, die kabinet van satraps? Hulle sê hy het ’n persoonlike lyfwag van sesduisend ruiters, vierhonderd-en-vyftig-duisend voetvolk en tweehonderd strydkarre met lemme aan die wiele, dit is wat die drosters uit die koning se leër vertel. Abrokomas, Tisafernes, Arbakes en Gorias is die koning se generaals, sy kavallerie is onder Artagerges. Wie beskerm die hoofstad? Die koninklike stadsgarnisoen.

      Kuros roep sy Griekse generaals en hulle kapteins om te sê hoe hy die slag gaan lewer. “Griekse offisiere, bewys julle waardig aan julle beroemde naam en die vryheid van Persiese verdrukking wat julle vaders by Marathon en Salamis gewen het. Ek het julle hulp gevra omdat julle doeltreffender is as hordes van my inlanders. Julle gaan lag as julle agterkom watter soort mans hierdie land het, dit moet ek met skaamte erken. Hulle getalle is groot en hulle val met ’n helse klomp lawaai aan, maar staan julle dan vas. Onthou, die Westerling soek die oop geveg, die Oosterling vermy dit as hy kan.”

      Hy kyk hulle kalm aan. “Kyk om julle, generaals en kapteins. Alles is my voorvaders se ryk, noord tot waar koue en suid tot waar hitte dit onmoontlik maak om te woon. Oor elke klip en kluit hiervan regeer my broer se satraps. Wen ons, kom my vriende in daardie poste. Ek is meer bekommerd dat ek nie genoeg vriende gaan hê nie as dat ek nie genoeg belonings vir hulle sal hê nie. Elke generaal kry vannag ’n goue hoofband van my.”

      Klearkos sê: “Ons dink dit sal beter wees as jy met jou lyfwag ’n goeie posisie in die agterhoede neem, Kuros. Kommandeer van daar af.”

      “Hoe kan ek? Ek kom my broer doodmaak.”

      “Dink jy die koning gaan self op die slagveld wees?”

      “Sekerlik. As hy die seun van Darius en Parisatis is. Veg julle soos julle gewoond is.”

      Die gesprek verval weer tot vae beloftes oor wins en roem en mag. Die goue hoofringe word op ’n skinkbord ingedra, elkeen is rondom ingelê met twaalf ovaal ametiste, diep-pers en koninklik ryk. Toe die generaals die oggend met hul sierade aantree, versprei die entoesiasme. Goud het die mag om dit te laat gebeur, dit het ook die mag om die verstand in iets soos perdemis te verander.

      Verkenners kom aan; hulle was ver uit, maar die vyand se stof is nog nie te sien nie. Die drosters het leuens vertel.

      “Bring hulle hier,” sê Kuros. “Ons sal sien. As hulle oë hulle bedrieg, behoort hulle nie met oë vertrou te word nie. Beter af daarsonder.”

      In sy jeug het Xenophon hom ’n Tempel van Boosheid voorgestel, met altare waarop die Persiese koning gevangenes offer. Nou kyk hy na ’n landskap waarin niks beweeg nie, na lae, sonverbrande klipbanke en ’n roerlose lug, amper wit van hitte. Die Grieke is nou ’n paar dae van die stad waar al honderd jaar lank die gedagtes gebore, planne gesmee, leërs versamel en bevele gegee word om hulle vaderland te verwoes, maar waar in hierdie barre godverlate woesteny skuil die duiwelse vyand? Alles lyk leeg, leweloos, maar hy weet dat kwaad ’n abstraksie is wat maklik, maklik in niks bestaan. Hy dwing homself om op werklikhede te konsentreer; hy het nie gekom om simbole soos tempels en altare te help omgooi nie, maar om

Скачать книгу