Скачать книгу

verwyt, dreig. Mans soek die wynsak. Vrouens en jong dogters, een met ’n kind in die maag en een aan die hand, die ander met ’n kind op die heup, kom uit die draers se kamp met klere wat reggemaak en gewas is. Hulle kam luise uit, kou ou brood om ’n warm pap op ’n versweerde voet te bind, maak ’n gapende soom in ’n kleresak heel en loop terug met meer wasgoed en bietjies kos. ’n Vrou uit Makedon was haar man se voete en vryf hulle met hardevet in en lê by hom onder sy mantel in die tentjie wat hy snags met vier of vyf deel. As hulle klaar is, trek sy haar klere reg en loop met die ander terug na die draers se kamp. Daarheen gaan ook die erg gewondes, iemand wat van sy verstand geraak het en een met ’n boodskap aan ’n kameraad se vrou.

      Kilikië se silwer het die regiment in ’n ruimhartige luim gebring. Xenophon hoor dat wanneer Kuros koning word daar belonings en vername poste gaan wees; as Kuros koning is, gaan dít en dát gebeur, dan kan almal die swaard neerlê. Maar terwyl hy van hulle vure af na sy tafeltjie en skryfgoed terugloop, dink hy: Jy kan nie op Kuros se beloftes staatmaak nie, want as ’n koningin op die altaar van sy ambisie neergelê moet word voor hy huurlinge betaal, wat kan ’n arme voetsoldaat van hom verwag? Die kwaad rus nie, die swaard spring vanself uit die skede terwyl vredemakers droom.

      Xenophon vind volop om aan te teken. Die kaal vlakte van Frigië tot Tiraeon, met die laaste sneeu nog wit in die klowe tussen donker dennebosse teen ’n lang, lae bergreeks aan die suidekant, is dertig stowwerige myle lank, drie dae met die koninklike hoofweg. By ’n uitspanning langs die pad is ’n fontein wat koning Midas se naam dra; hy het hier ’n satir gevang deur witwyn met die fonteinwater te meng. Xenophon loop saam met ’n paar offisiere om te proe, en die water smaak suur. ’n Wonderwerk, juig hulle. Maar hoe verduidelik jy dit, want Midas was ’n werklike mens, en satirs, verstaan jy, was mitiese wesens?

      Die jong koningin van Kilikië is nog aan Kuros se arm. Om haar te vermaak paradeer hy sy Persiese en Griekse troepe saam. Party sê sy het daarom gevra om op hulle te spioeneer. Ander sê dan moet sy maar kyk, dat sy dit vir haar ouman kan gaan vertel sodat hy hom vroegtydig bevuil. As Babilon ook hiervan kan hoor, sal dit goed wees. By die vure vertel hulle Kuros het vir haar gesê: “Hartjie, ek wil jou nie laat skrik nie, maar laat ek jou wys wat vir Kuros plesier gee.” En sy sê: “Wat ’n mag! Ek dink nie daar is ’n groter een in die wêreld nie.”

      Die soldate berei entoesiasties voor vir die eerste gesamentlike parade. Die middag lank versorg hulle toerusting, Spartane was en vleg hare, en toue soldate wag by barbierstente om die eerste keer in maande geskeer te word. Wapens word skoongemaak en gordels vetgesmeer en blinkgevryf. By die smid se slypstene trek strepe vonke en by die suur fontein skuur bediendes die offisiere se borsplate en helms met klam sand. Drilmeesters tree ’n paradegrond af en merk hoeke en lyne met rooi en swart vlaggies. In die Perse se kamp oefen generaal Arras se inlandse voetvolk hulle bewegings met gedempte tamboere. Waar die geskubde lyfwag in hulle linies en kringe ry, drom seuns uit die dorpies saam om te luister na ou mans wat van elke ding haarfyn kennis dra.

      Die groot dag van die parade begin wolkloos en is vroeg warm. Honderde mense kom uit Tiraeon om die parade te sien en handelaars sit tente en tafels met verversings en negosiegoed daarop agter die rooi en swart vlae. Opgewonde oor die vooruitsig om prins Kuros en koningin Epiaksa self te sien, wag die dorpenaars in die stowwerige hitte tussen die tente en die paradegrond. Hoogmiddag gil sonbesies kranksinnig, die skril gesanik klink asof hulle gate boor in die soldate se helms. Hittegolwe dans weg oor die veld horison toe.

      Die Perse tree regs voor aan. Die prins gee hulle die eer. Links staan die Grieke in slagorde, die twaalf regimente in vier lang rye, met Proxenos en syne op die linkerflank, Klearkos en syne op die regter en die ander tussen hulle. Generaals is voor hulle regimente, kapteins voor hulle afdelings, onderoffisiere agter die laaste gelid, en die stafkorps in ’n enkele blok agter die leër. In die hitte staan hulle sonder mantels, almal het die rooi of swart tuniek, die brons helm, die swaard links aan die heup, die skild rus teen die linkerknie en die spies teen die regterskouer. Xenophon dank die god Apollo dat hy hier kan wees.

      Kuros en die gesluierde koningin kom op sy strydkar van sy nagblou tent af aangery. Sy inlandse voetvolk verwelkom hom met ’n strydkreet en salueer met sabels en met lanse. Toe gaan hy na sy ruiters kyk; hulle open die linies en ry die ingewikkelde patrone waaraan hulle geoefen het op blink geborselde perde met linte in maanhaar en stert. Hy inspekteer daarna sy Grieke, ry op ’n stap voor die front verby en die twaalf generaals salueer hom met die swaard. Toe gaan hy na die rand van die parade, draai sy strydkar en stuur sy tolk na Klearkos om die Grieke te beveel om op te marsjeer.

      Klearkos kyk ’n slag links en regs. Hulle is omtrent vyftig tree van die vlaggies, die markkraampies en die nuuskierige volk. Hy skreeu die bevel aan die generaals, en hulle gee dit aan die kapteins. Die trompet blaas, hulle neem skilde op, spiese word van die skouer laat sak tot gereed, en hulle stap soos een vorentoe. Twintig passe word stil afgetel, en toe, met die strydkreet “Eleleu, Eleleu!” begin hulle hardloop, verander die greep en lig spiese skouerhoog. Stof slaan uit die kluite op soos hulle hardloop, en dit is asof hulle, dertienduisend soldate in skarlaken en swart geklee, deur walmende bruin rook storm, terwyl hulle “Eleleu, Eleleu!” aan die oorlogsgod skreeu.

      Die dorpenaars skrik vir die skreeuende swart horde wat met spiese oor die kop deur stofwolke op hulle afstorm, spring om en vlug tussen tente en stalletjies deur soos voor ’n veldbrand, smouse los hulle tafels en hardloop agterna. Selfs die Persiese infanterie hardloop opsy, uit die pad uit. Toe Klearkos naby genoeg aan die strydkar is waar Kuros se perde steier en sy swart-en-wit kar agteruit stoot, lig hy sy swaard en laat die leër met één bevel omdraai en retireer. Die dorpenaars vlug rasend oor die vlakte, koningin Epiaksa hang flou geskrik in die prins se arms, en die swart-en-rooi regimente draf laggend na hulle plekke terug. Hulle stof dryf windaf weg.

      Die twee leërs word verdaag om te gaan eet. Hulle het geskrik vir ons eenheid en dissipline, dink Xenophon. Ons is dertienduisend vreemdelinge uit twintig streke, maar bid tot dieselfde gode en praat een taal. Ons ís een in mag. As hier ’n god teenwoordig was, was sy boodskap: Krag in eenheid. Besef die generaals dit?

      Toe hy dit aan sy neef noem, sê Proxenos: “Smouse en kinders, dit beteken niks. ’n Beker van dié rooi? Kuros stuur dit. Drink vlak, daar is dik moer.”

      Van Tiraeon af loop die koninklike hoofweg die eerste keer bergop, teen die voetheuwels van die Taurusberg uit. In die somerhitte sweet die voetvolk onder skilde en pakke. Nêrens groei bome nie; die kaal heuwels is vaal asof hulle van as en modder gemaak is. Na sestig myl is daar genadiglik Ikonium, ’n pottebakkersdorp waaruit die inwoners gevlug het. Hier maak Klearkos die Griekse kamp leeg van bedelaars, prostitute en smouse. “Ons verlaat die prins se satrapi. Die volgende vyf dae is vyandelike grond,” sê hy. “As ons teenstand kry, moet ons veg vir ’n pad en vir kos. Ek voed geen smouse en hoere nie. Net mense wat bloedbande met ons het, gaan versorg word.”

      Die soldate kla nie; daar is nog oorgenoeg smouse en hoere tussen hulle.

      “Ek vermoed Kuros bring ons hier oor die moontlikheid van buit, om ons mense te troos. Baie bedagsaam,” sê Proxenos. Maar hulle kom agter dat dit ’n armoedige plek is. Die huise is betyds leeggedra en enige waardevolle goed klaar begrawe.

      Ver op die suidelike horison wys ligpers wolke waar die see is, en onder die wolke is pers berge met stroke bevrore sneeu; dááragter lê Kilikië. By Dana, waar die grootpad by donker dennewoude aan die voet van die berg Taurus verdeel, neem Kuros afskeid van Epiaksa. Sy vriend generaal Menon sal haar met die kortste pad na haar hoofstad lei, terwyl Kuros self met die leër en bagasietrein op die koninklike hoofweg volg.

      “Daardie vrou,” hoor Xenophon een van die soldate sê, “sy was nie die koningin nie, maar ’n gehuurde toneelspeler.” Soldate is almal konserwatief en sentimenteel, asof almal uit één skool kom, en in hulle eenvoud in die goedheid van die adel glo, dink hy.

      Kuros wag drie dae om Epiaksa tyd te gee om haar huis te haal, dan moet hulle die bergpas oor na Tarsus, die hoofstad van Kilikië. Verkenners bring nuus dat die koning van Kilikië die hoofweg blokkeer, en Kuros wag nog ’n dag langer sodat die koningin tuis kan kom. Die volgende dag kom die boodskap: Koning Sineses het gehoor dat Menon oor die grens is, en het teruggeval om sy hoofstad te verdedig.

      Die

Скачать книгу