Скачать книгу

voorgeval en sy kon nie kom nie, maar ons het ’n foto van ons twee saam geneem wat ek vir my pa gewys het sodat hy kon sien hoe eenders ons lyk.

      En toe die Vrydag … Ek onthou dit was ’n Vrydag, want dit was sportdag. Ná skool het ’n klomp van ons McDonald’s toe gestap, want dit is net laer af in die straat waar die skool is. Cassidy het nie geld by haar gehad nie, toe sê ek: “Kom saam met ons. Dis oukei, ek sal vir jou middagete koop. Bel jou daddy en sê hy kan jou by McDonald’s kom haal.”

      Morné het McDonald’s toe gekom met die werksbakkie wat hy gebruik het. Hy het aangestap gekom na waar ek gesit het en was besig om met iemand op sy foon te praat. Ek het dit toe nie geweet nie, maar dit was die maatskaplike werker Leanna Goosen met wie hy gepraat het.

      Terwyl hy nog op die foon was, het hy my gevra: “Haai, waar woon jy?”

      Ek het hom vertel.

      “Wanneer is jy gebore?” vra hy toe en ek dink oukei, dis snaaks, maar antwoord maar, want dalk wil hy maar net weet.

      “30 April 1997.”

      Hy was nog die heeltyd besig om oor die foon te praat. “Het jy ’n foto van jou ma en jou pa?” vra hy toe.

      Hy moes toe die een of ander meningsverskil met die maatskaplike werker gehad het – dalk het sy gedink hy was te blatant met wat hy doen of iets – want hy het skielik die foon afgesit en aangebied om vir ons iets te ete te koop.

      “Ek het nou net geëet, en Cassidy ook,” het ek gesê.

      Hy bied toe aan om vir ons iets te koop om te drink, en ek het gesê dis oukei.

      My vriende het buite gesit. “Wat gaan aan?” het hulle my ge­vra. “Is dié ou ’n bouncer of iets? Wat is sy vibe? Wat gaan aan?”

      “Ek weet nie. Hy het aangebied om vir ons kos te koop en ons het al geëet,” het ek geantwoord.

      Ek het badkamer toe gegaan en ek dink hy moes ’n gesprek met Cassidy gehad het terwyl ek daar was, want toe ek terugkom was hulle aan die praat. Hy het op ’n vreemde manier na my gekyk en die heeltyd geglimlag. Ek het gewonder of hierdie man nou met my flirt of iets.

      Hy het gevra of hy ’n foto van my ma en my pa kan sien. Ek wys hom toe ’n foto van ons op ’n staptog by Kaappunt. Hy het die foto bekyk en opgemerk: “Maar jy lyk nie soos hy nie.”

      Toe sê ek: “Ek lyk nie soos my daddy nie, maar ek lyk soos sy familie, ons lyk baie na mekaar.”

      “Jy lyk nes Cassidy se ma,” sê die man toe.

      “Ek het ’n foto van haar gesien en ek dink nie ek lyk soos sy nie.”

      Hy wys my toe ’n foto van haar. Ek skud my kop en sê nee, ek lyk nie soos sy nie.

      “Hoekom het jy sportklere aan?” vra hy toe.

      “Omdat dit vandag sportdag is en ek van fiksheid hou.”

      “Cassidy se ma hou ook van fiksheid en Zumba en sulke goed,” sê hy.

      Die goed wat hy gesê het, het geen ander indruk op my gemaak nie as dat dit ’n bietjie vreemd was. Ek het my koeldrank gedrink en toe is Cassidy en Morné daar weg. Maar Morné het my leë koppie saamgeneem nadat ek klaar gedrink het. Hy het gesê hy gaan dit in die asblik gooi, maar toe vat hy dit saam na sy bakkie. Vir my het dit gelyk of hy van plan was om dit weg te gooi, maar toe net vergeet het en dit met hom saamgevat het. Maar toe die waarheid later uitkom en ek terugdink aan alles wat gebeur het, het ek besef ek was omring deur mense wat in werklikheid besig was om my te ondersoek. En daai koppie was die eerste stukkie DNS-getuienis.

      Ná dié dag het dit gevoel asof Cassidy my by die skool begin agtervolg. Sy sou vir my staan en wag by die hek as ons ingaan, of by die snoepie tydens pouses. Dit het gevoel asof sy haar in my persoonlike ruimte inwurm. My vriende en ek sou besig wees met ’n gesprek en ons wil graag skinder maar ons kan nie, want sy sit daar, sy is net altyd daar. Dit het my vriende ongemaklik laat voel.

      Dalk was ek onbeskof en het ek nie die situasie reg benader nie, maar ek het aan haar gesê dat sy haar heeltyd aan my opdring. Sy het toe begin wegbly en ek het sleg gevoel, want ek is seker ek het haar laat voel dat ek haar nie rondom my wou hê nie. Ons sou by mekaar verbyloop en vir mekaar hallo sê, en dit was nie meer so intens nie. Vir ’n klein rukkie was sy net daardie meisie.

      Hoofstuk 4

      Voor ons verder gaan met die storie, moet ek eers die werklike karakters opsoek.

      Cassidy is die eerste lid van die Nurse-gesin wat ’n versky­ning in Miché se lewe gemaak het, en gevolglik die eerste persoon wat ek graag wil ontmoet. Miché het ’n goeie verhouding met haar en sal met graagte ’n gesprek bemiddel. Afgesien van die vanselfsprekende rol van hoofprotagonis in haar eie biografie, is Miché ook die primêre skakel met die storie se ander rolspelers en moet sy haar goedkeuring gee dat hulle enige inligting bekend kan maak. Wat Miché betref is die jagseisoen op haar oop verklaar en is sy gereed daarvoor dat alle relevante partye hul volle, eerlike weergawe gee, hoe subjektief dit ook al mag wees.

      Miché slaag egter nie daarin om Cassidy in die hande te kry nie. Sy erken dat Cassidy dit die laaste tyd nie maklik gehad het nie, dat sy baie rondbeweeg en in die moeilikheid gekom het by die skool. Kontak tussen hulle, meestal deur middel van WhatsApp, wissel skynbaar tussen eb en vloed, en vandag is dit laagwater. Ek sal dus moet wag.

      MICHÉ:

      Ek het dié oggend laat by die skool aangekom. Ek het ’n dok­ter­s­afspraak gehad en moes daardie dag ook nog vir verbrui­kerstudie kook. Ek het al my goed skool toe gebring, reguit wis­kundeklas toe gegaan en gaan sit. Ek het nog nie eers al my boeke uitgehaal nie toe die hoof, doktor De Bruyn, die klas­kamer binnekom. Hy kyk na my en sê: “Juffrou Solomon, bring asseblief jou sakke en kom saam met my.”

      Ek het gedink gits, wat het ek gedoen? Die jaar is nog jonk! Het hy my gesien stokkiesdraai by die tennisbane of iets? As jy in matriek is, moet jy ’n goeie voorbeeld vir die jonger grade stel, so dis nie ’n goeie ding om deur hom geroep te word nie.

      “Waaroor gaan dit? Wat het jy gedoen?” wou my vriende weet.

      “Nee, ek het niks gedoen nie, dis nog vroeg in die jaar!”

      Ek stap toe by die hoof se kantoor in en daar sit twee vroue. Ek word vertel dat hulle maatskaplike werkers is, en ek herken een van hulle se naam – Leanna Goosen. Op die een of ander manier het dit vir my verband gehou met die dag toe Morné by McDonald’s aangekom het, en ek het gedink miskien het dit alles iets te doen met Cassidy en hoekom sy nou wegbly en nie meer so aanhoudend is nie.

      “Hallo, hoe gaan dit?” het hulle gevra terwyl ek gaan sit. Hulle het reeds geweet wat my naam is. “Ons moet jou iets vertel. Vandag kan dalk ’n gebeurtenisvolle dag wees, die dag wat jou lewe verander.”

      “Wat bedoel julle met ‘wat my lewe verander’ of ’n ‘gebeurte­nisvolle dag’?” wou ek weet.

      “Ons neem aan jy het al gehoor van hierdie meisie, Zephany, wat gesteel is,” het een van hulle gesê. “Wel, dit is wat nou aan die gang is …” En van daar af het hulle net op my afgekom met hierdie storie: dat ’n baba in 1997 ontvoer is toe sy ’n paar dae oud was; dat hulle enige moontlikheid dat dié kind nog lewe moet kan uitsluit; dat hulle enige moontlikheid dat ék dalk dié kind kan wees moet kan uitsluit; dat hulle DNS-toetse moet doen. Eerlikwaar, as ek nou daaraan terugdink, voel ek hulle het baie sterk op my afgekom met baie min inligting. Net: Hier het jy dit, dit is wat nou aangaan.

      “Ek gaan nie ’n DNS-toets doen nie,” was my eerste reaksie. “Hoekom moet ek? Gee my meer inligting wat my regtig kan oortuig daar is ’n rede vir my om ja te sê vir ’n DNS-toets.”

      Hulle vra my toe waar en wanneer ek gebore is.

      “Retreat-hospitaal, 30 April 1997.”

      Toe sê hulle – en dit is wat my geskok het – dat daar geen rekord is van ’n Miché Solomon wat op of rondom daardie datum in die Retreat-hospitaal

Скачать книгу