Скачать книгу

jy weet mos wat hulle sê – die pen is magtiger as die swaard.” Ek giggel senuweeagtig, in weerwil van daardie eeue oue waarskuwing om nooit grappies by ’n sekuriteitskontrole­punt te maak nie.

      Sy blik is steeds uitdrukkingloos.

      “Nee, meneer, geen wapens nie.”

      Ek word binnegelei in ’n ontvangslokaal wat gou die indrukke versag wat deur die buite-aansig gelaat is. Ek gaan sit in ’n gemaklike sitkamer en kyk rondom my na kennisgewings oor kin­ders se regte en verantwoordelikhede, helderkleurige tekeninge wat vermoedelik die handewerk is van kinders wat hier woon, en die verpligte portrette van Helen Zille, toe premier van die Wes-Kaap, en Albert Fritz, toe minister van maatskaplike ontwikkeling (na wie die afkortings “minister” en “die departement” verwys wat sowel Marshionette as Miché voortdurend gaan gebruik namate die storie ontvou). Daar heers ’n atmosfeer van opge­wekte bedrywigheid wat ietwat teenstrydig is met die tralies voor al die omringende vensters.

      ’n Breë glimlag kondig die aankoms aan van Marshionette Jonkerman, wat my in ’n gang af na haar kantoor begelei.

      MARSHIONETTE:

      Ek is nie eintlik ’n maatskaplike werker nie. Ek is ’n opgeleide verpleegster, maar ek werk as ’n fasiliteitsbestuurder en onderdirekteur in maatskaplike ontwikkeling. My direkteur is Leanna Goosen, wat aan die hoof was van ons span vir die Zephany/Miché-saak. Die kinder- en jeugsorgsentrums wat die departement bedryf is vir sorgbehoewende kinders, maar daar is verskillende tipes vir verskillende behoeftes. Ons fasiliteite huisves kinders wat uit hul gesinne verwyder is, of kinders met gedrags­probleme wat niemand meer kan beheer nie, of kinders wat mishandel is. Ons het ook die kinder- en jeugsorgsentrum vir kinders wat met die gereg gebots het, asook sentrums vir behandeling teen middelmisbruik.

      Ek is nie eintlik oorspronklik aan Miché toegewys nie. Toe die ondersoeke na Miché begin het, het ons ’n vergadering met kolonel Barkhuizen gehad en rolle is aan my en Leanna opgedra. Omdat ek ook ’n professionele verpleegster is, was my rol om seker te maak Lavona – die verdagte – is oukei omdat sy aan hoë bloeddruk ly en hartprobleme het. Leanna se taak was om na die maatskaplike kant van die kind se behoeftes om te sien.

      Maatskaplike ontwikkeling het net betrokke geraak toe die kind self betrokke was. Tot in daardie stadium was dit ’n soektog na ’n vermiste persoon. Barkie en sy span het vir ’n baie lang tyd na Miché gesoek. Ek het gehou van daai Barkie – so professioneel, so ’n gentleman. Dit was ’n groot spanpoging, en hy het elke liewe taak uitgestippel. Hy is nou afgetree, maar Barkie bly een van die beste cops wat ek ooit geken het.

      So, op dié dag, eerste ding in die oggend, gaan ek saam met Barkie en een van my kollegas na die Solomon-huis. Toe ons daar kom, is Lavona nie daar nie, sy was by die werk. Lavona se suster was daar. Sy woon daar, aan die agterkant van die eiendom. Barkie het vir haar gesê: “Jy moet Lavona nou dadelik bel, want ons is hier vir ’n baie ernstige saak. Weet jy dat Miché nie haar kind is nie?”

      Die suster was geskok. “Nee, dis nonsens!” het sy gesê. “Miché is Lavona se kind; my suster het ons almal grootgemaak.”

      “Ons vermoed die kind is nie hare nie,” het Barkie gesê.

      “Hoe kan jy dit sê? Dis my suster se kind!” Sy was in ’n toestand van algehele skok. Toe bel sy vir Lavona en sê sy moet dadelik huis toe kom.

      Terwyl ons vir Lavona wag, vertel Barkie die suster wat hy vermoed. Skielik is dit asof daar ’n lig aangaan en sy sê: “Is dit hoekom Miché nie soos ons familie lyk nie?” Toe vertel sy ons Lavona het ’n babadogtertjie gehad toe sy 16 was, maar die baba is dood toe sy net ’n paar weke oud was. En dat Lavona daarna drie miskrame gehad het.

      Toe Lavona opdaag, was sy baie kalm. Haar suster het niks vir haar oor die foon gesê nie. Sy het geglimlag en gelag toe sy daar aankom. Sy het vir ons tee aangebied. En toe vertel Barkie haar van die kind wat verdwyn het, en wat sy vermoedens is.

      “Nee,” het sy saggies gesê. “Miché is mý kind. Hoe kan jy – ek kan jou selfs foto’s wys.” Sy was so vriendelik en kalm – en ek het soort van van haar gehou.

      “Maar dis nie jou kind nie,” sê Barkie toe. “Hoekom het jy Swartland toe gegaan om die geboortesertifikaat te kry?”

      Sy sê nee, sy het iemand daar besoek. “En ek kan vir julle foto’s wys, die albums is hier rond.” Maar totaal, totaal, heeltemal, heeltemal kalm. Toe sê sy: “Weet julle wat? Miché het ook uitgekom met ’n storie soos dié, wat iemand haar by die skool vertel het. Toe sê ek net: ‘Miché, hoekom het jy nie net vir hulle gesê jy’s my kind nie?’ Dis nonsens, ek het nie eens na haar geluister nie.”

      Barkie het ’n hele onderhoud met haar gevoer. Sy het die ganse tyd gefokus en kalm gebly. En sy het aanhou herhaal: “Nee, man, dis nie korrek nie. Miché is mý kind.” Ek het begin glo wat hierdie vrou sê.

      Gedurende die onderhoud het ek langs haar gesit en haar dopgehou. Hoewel sy oukei gelyk het, wou ek haar bloeddruk neem, maar sy het gesê: “Nee, dis nie nodig nie. Ek is oukei. Daar’s niks aan hierdie storie nie.”

      Sy het haar man gebel om huis toe te kom, maar Barkie het gesê: “Ek dink ons moet Pathcare toe gaan om jou bloed te laat trek vir toetse.”

      Lavona was doodrustig. “Natuurlik,” het sy gesê. “Ek het niks om weg te steek nie. Julle kan my vat vir bloedtoetse. Geen probleem nie.”

      Op dié tydstip het ek gedink hierdie hele saak was sinloos. Ek het haar regtig geglo.

      Toe neem hulle Lavona PathCare toe en ek het na een van ons plekke van veiligheid gegaan, waar hulle Miché net vir daardie rukkie gehou het. Dit was nie ’n plek soos die een waarin ons vandag is nie – dié een is ’n beveiligde sorgfasiliteit. Wynberg is ’n ander vlak van sorg, dit voel beter daar as hier.

      Leanna Goosen was betrokke om Miché by die skool te gaan haal terwyl ek by Lavona was. Ek het Miché vir die eerste keer in Wynberg ontmoet. Die oomblik toe ek met haar begin praat, het ek dadelik van hierdie meisie gehou. Sy was so slim en so dierbaar. Hulle het haar foto’s gewys van die Zephany-baba en sy kyk toe na my, iemand wat sy nou net ontmoet het, en vra: “Dis nie ek nie, nè?”

      Ons het begin gesels. “Glo jy hierdie mense?” het ek gevra.

      “Ek weet nie wat om nou te glo nie,” was haar reaksie.

      En toe vertel sy my die hele storie van hoe sy Cassidy ontmoet het en hoe vreemd dinge van toe af vir haar was. Toe sy hoor sy moet oornag by hierdie plek van veiligheid bly, wou sy dit nie doen nie. “Asseblief,” het sy by my gepleit, “ek hou nie van dié plek nie. Ek wil saam met jou gaan.”

      Hoewel dit ’n ongewone versoek was, was dit ’n ongewone saak – ons het nog nooit vantevore met enigiets van dié aard te doen gehad nie. En ek het regtig meegevoel met hierdie meisie gehad. Sy was net so lieftallig. “Laat ek net eers die direkteur vra,” het ek toe gesê.

      ’n Bevel is aan my uitgereik om gedurende daardie tydperk Miché se voog te wees, en sy het saam met my huis toe gegaan.

      Hoofstuk 5

      Net soos Miché se nagte het myne nou ook slapeloos geword. Ek lê wakker en dink aan hoe hierdie meisie – op die punt om die belangrikste jaar van haar skoolloopbaan aan te pak, op die drumpel van volwassenheid, met haar dringendste kwelling die ontwerp van haar rok vir haar matriekafskeid – binne enkele minute prakties gesproke ’n weeskind word.

      Ek wend my nou na ’n stil bystander-karakter, iemand wat Miché talle kere in ons gesprekke genoem het as ’n bron van onwankelbare steun vir haar gedurende hierdie onstuimige tyd. Sophie Botha was Miché se onderwyseres en vertroueling by die Hoërskool Zwaanswyk, ’n rustige gesagsfiguur wat deur haar hele beproewing na aan Miché gebly het. Sy is nie deel van die “binnekring” nie, wat juis die rede is hoekom ek graag met haar wil praat, en sy is die enigste van sodanige karakters (vriende, kêrels, portuurs of meerderes) wat Miché voel objektiwiteit kan bied. Wat Miché betref, is die meeste van die ander besmet met die stankie van skinderbek of

Скачать книгу