Скачать книгу

      Lavona is een van daardie vroue wat regtig swanger gelyk het. Jy weet hoe sommige vroue se gesig opswel, hul neus opswel, hul maag vinnig groter word? Dit het met Lavona ook gebeur, van vroeg af aan. Sy was so ooglopend swanger. Dis hoekom dit moeilik is vir my om enigiets anders te glo …

      Soos ek gesê het, ons het nie saamgewoon nie, so ek het haar net altyd gaan besoek. Ek sou Maandagaande na haar toe gaan, en soms ná sokkeroefening, en dan oor naweke. Ek het haar nie elke dag gesien nie, maar ons het oor die foon gesels, of as ons mekaar dalk vir ’n rukkie nie gesien het nie, sê sy: “Kom, laat ek jou nou ’n bietjie sien, ek het nou lank nie vir jou gesien nie”, en dan gaan ek na die een kant van die pad en sy na die ander kant, en ons waai vir mekaar. Dís hoe na ons aan mekaar was.

      Op ’n dag, dit was ’n Donderdag, kom ek by Lavona se huis aan ná werk, en buite sit daar ’n spul mense en wag. “O,” het hulle vir my gesê, “daar is ’n verrassing vir jou daarbinne.” Mense het my al reeds gelukgewens en my na binne begelei. Toe gaan ek by die huis in, en die baba was daar. Ek het geweet die baba sou binnekort kom, maar ek nie geweet dit sou dié dag gebeur nie, en dit was so opwindend om by die huis te kom en hierdie babadogtertjie daar aan te tref.

      Ek het Lavona gevra hoe dit was en sy het gesê: “Nee, dis orraait, dit was nie so erg nie.” Ek het my ma gaan haal, en ek sien nog daardie prentjie voor my van haar wat die baba vas­hou. My pa was toe reeds oorlede.

      Lavona het verduidelik dat sy daardie oggend hospitaal toe is en geboorte gegee het aan die baba, en dat hulle haar dieselfde aand nog huis toe gestuur het. Ek het vir haar gesê: “Jy’s mos sterk, nè! Ten minste het alles goed gegaan.”

      Jy moet onthou dat dit nog in die tyd voor selfone was. Ons het toe nog briewe aan mekaar geskryf, en vriende het rond­gehardloop en vir my briewe gebring wat Lavona gestuur het. Mens kan dit seker liefdesbriewe noem. Ek het hulle gelees en dan bel ek haar van my huis af. Dinge was anders in daai dae. So, toe ek eendag by die huis kom en uitvind dat my kind gebore is en dat alles oukei is, was ek net baie gelukkig. Ons het haar “Miché” genoem – van “Michael”. Ons het reeds ’n Michelle en ’n Michaela in die familie gehad, daarom het ons Miché gekies.

      Aan die begin het ek nie graag vir Miché vasgehou nie omdat sy te klein en broos gelyk het om te hanteer, al was sy ’n baba van normale grootte. Om die waarheid te sê, ek dink sy was nogal swaar volgens babastandaarde, maar ek was te senuweeagtig met so ’n klein dingetjie.

      Noudat die baba daar was, het ek meer gereeld na Lavona toe gegaan. Ek het elke aand ’n draai daar gemaak om haar met die baba te help en vir haar dinge te bring wat sy nodig gehad het, soos nappies en lappies. Omdat ek dikwels daar aan die slaap geraak het en in elk geval die hele nag daar deurgebring het, het ek besluit om eerder by haar in te trek en haar met Miché te help. Ek was baie besig met werk in dié stadium, ook as bestuurder wat die ouens na die werkterreine vervoer het. Ek het nogal lang ure gewerk, en Lavona het gesê sy sal na al die doku­mente en geboorteregistrasie-dinge vir die baba omsien. Sy wou nie hê ek moet tyd afvat by die werk nie, so sy het alles gedurende die dag behartig.

      Ek was baie bly om weer ’n pa te wees. Ek het daarvan ge­droom om ’n pa vir my eie kinders te wees omdat ek groot­geword het met broers en susters en hulle kinders rondom my. Ek geniet dit regtig om kinders om my te hê.

      Ons het twee jaar lank saamgewoon in Lavona se familiehuis, tot my tweede oudste broer op ’n dag vir my sê: “Mike, jy lewe in sonde! Jy kan nie meer so lewe nie. As Daddy hier was, sou hy gesê het jy moet trou.” Dié woorde het my werklik getref, en in die kamer by haar ma se plek vra ek toe uit die bloute vir Lavona om met my te trou. En haar reaksie was: “Hè?”

      Ons het getrou en toe nog ’n ruk lank daar gewoon, tot ons die plek gekry het waar ons nou bly, in Hillview. Daar het ons nuut begin, met ons nuwe baba en Lavona se susterskind Gerald. Ek het hom as haar seun en ons verantwoordelikheid aanvaar. ’n Gesin van vier. Ek het geweet ek moet nou meer verant­woor­de­likheid in die lewe op my neem. Ek kan nie onverskillig wees en net aan myself dink nie; ek moet eerste aan hulle dink. Ek moet ’n permanente werk hê en vir hulle sorg. Dit was my doelwit. Dit is nog steeds. Om vir hulle te sorg.

      Ons was gelukkig. Ons het elke dag kos gehad, ons het die dinge gehad wat nodig was. Lavona het ook gewerk, sy was altyd aan die werk. In Januariemaand het sy byvoorbeeld bestellings vir skooluniforms gekry, en dan bestellings vir sokkerklere. Soms het sy deur die nag gewerk. Lavona was altyd liefdevol en sorgsaam en het na ons omgesien. Sy was dol daaroor om dinge vir die baba te maak of te koop.

      Dit was altyd vir my lekkerder om by die baba te bly. Ons het destyds na die danse toe gegaan, maar ek het altyd vir die ander gesê: “Julle kan maar gaan, ek sal by Miché bly en na haar kyk.” My lewe het begin verander ná haar koms, en ek wou nie meer so baie uitgaan nie. Dalk is ek vervelig, maar ek het verkies om liewer by haar te bly. Ek het Miché graag naby my gehou. Ek weet nie of dit maar altyd so was en of dit net is as gevolg van wat gebeur het nie, maar ek bekommer my heeltyd oor haar.

      Ek onthou toe sy in die laerskool was, het sy geval toe sy uitklim by die bus waarin sy skool toe gery het. Sy het gehuil en was baie ontsteld daai dag, en ek was dié aand baie omgekrap toe ek daarvan hoor, want ek wou nie hê sy moet seerkry nie. Ek het vir haar ma gesê sy moet haar nou self skool toe neem en wag tot sy veilig binne is voor sy weggaan. Want dit is nou een ding: Ek wil nie hê my kind moet pyn of hartseer verduur nie. Mense het vir my gesê dis normaal, kinders val en kry skrape en wat ook al. Maar ek wou nie hê sy moet seerkry nie – dis maar net hoe ek gevoel het.

      Saans as ek van die werk af kom, het Miché altyd by die venster gewag. As die kar by die huis stop, het sy aangehardloop gekom om my te omhels, selfs nog voor sy behoorlik kon praat. Dis haar manier.

      As tiener was sy ook gelukkig by die huis. Sy het nie baie uitgegaan nie, sy het meestal by die huis gebly. Sy was ’n goeie student, haar akademiese prestasie was puik, niks fout daar nie. Sy het altyd graag skool toe gegaan. Ek kan nie onthou dat sy ná skool vir detensie moes agterbly en sulke goed nie. Nee, sy was nie ’n stout kind nie.

      Ek het nie geweet van ’n kêrel nie tot ek eendag hierdie outjie op ’n rusbank in die huis sien sit. Lavona het gesê dis ’n vriend van Miché. En ek sien Miché kyk na my, asof sy dink “Wat gaan Daddy nou sê?!” Ek het teruggekyk en na my kamer toe gegaan. My vrou het toe vir my kom sê dis net ’n skoolvriend.

      Ek het later vir Miché gesê sy kan vriende hê, maar dat sy weet sy moet eers haar skoolloopbaan voltooi. “Moenie dat seuns jou aandag aflei nie. Maak klaar met skool en weet wat jy in die lewe wil hê.”

      Daar was ’n ander outjie wat by haar kom kuier het, maar hy het buite bly staan en dan gaan ek haar roep. Sy het vir my gesê: “Daddy, gaan sê vir hom ek is nie hier nie.”

      “O, so nou moet ék vir hom die boodskap gee, maar dis jou vriend!”

      Dan het ek uitgegaan na hom toe en hom vertel dat sy nie daar is nie. Ek kon sien hy was teleurgesteld, maar sy het gesê ek moet dit vir hom sê, so ek het dit gedoen – dis dit.

      Op die ou end het die seun op die rusbank Sofia se pa geword, maar dit was eers later, ná D-dag …

      Oor die algemeen dink ek ons het ’n baie gelukkige, normale huislike lewe gehad. Ek en Lavona het albei hard gewerk om ons gesin te onderhou, en ons het almal na mekaar omgesien. Die kerk was ook ’n belangrike deel van die hele familie se lewe. Al het ek my baie oor Miché bekommer, was ons ten minste almal saam en veilig. Nie soos die Nurse-gesin nie, wie se baba ge­steel is. Ek was bewus van die Zephany Nurse-geval, en ek het so hartseer gevoel daaroor. Ek het naby hul familie grootgeword – die plek waar ek sokker gespeel het, was digby hul huis. Ek het altyd gegroet en gesels as ek daar kom. Van hul familielede het selfs saam met ons gewerk; ons was die elektrisiëns op die bouterreine en hulle was die bouers.

      Ek het nooit selfs die geringste idee gehad dat Miché nie my kind is nie. Sy het so baie na my familie gelyk. Ek onthou nog ’n keer toe ek haar saamgeneem het na ’n begrafnis. My broer se dogter was ook daar, en Miché het langs haar gestaan. Ek ont­hou hoe ek gedink het hulle lyk amper soos susters, albei lig van kleur met ligte oë.

Скачать книгу