Скачать книгу

oopmaak, gaan jy afkom op die kleiner Miché Solomon-pop binne-in; en as jy die Miché Solomon-pop oopmaak, gaan jy afkom op … wat, presies? Of wie? En sal jy dié een nog verder kan oopwoel?

      Hoe rustig Miché ook al voorkom terwyl ons in die winkel­sentrum gesels, is ek bewus daarvan dat haar identiteit nog steeds wetlik beskerm word en wil ek verhoed dat haar gewilligheid om haar storie met my te deel deur enige bedreiging van voortydige onthulling aan bande gelê word. Ek dring dus daarop aan dat ons ons sessies na ’n stiller ruimte verskuif, weg van die nuuskierigheid wat noodwendig aangewakker word by verbygangers wat kyk (en probeer om nie te staar nie) na ’n onderhoud wat in die openbaar opgeneem word.

      Ons ontmoet in Muizenberg, die plek waar Miché as kind saam met haar pa op die strand gedraf het en wat nog steeds bekende terrein is, aangesien sy nie ver daarvandaan woon nie.

      Hoewel dit deel uitmaak van Groter Kaapstad en ongeveer 36 000 inwoners het, voel Muizenberg nog steeds soos die tipe seedorpie wat jy net oor naweke of vir ’n somervakansie sou besoek. Daar is ’n welkome gevoel van anonimiteit wat ek hoop sal meehelp om Miché gemaklik met my en met haar proses van selfonthulling te laat voel.

      Ons gaan sit om rustig teen ’n agtergrond van see en sand te gesels. Dit val my op dat Miché ’n bietjie harder en duideliker praat as in die winkelsentrum. Dit kan dalk ’n funksie wees van haar toenemende selfvertroue om haar storie met ’n relatiewe vreemdeling te deel; of dit kan wees omdat ons in ’n stiller om­gewing is, met slegs die krysende meeue as kompetisie. Hoe dit ook al sy, ek word terdeë deeglik bewus van ’n interessante paradoks in haar spraak. Haar stemtoon het dikwels ’n hoë, amper kinderlike kwaliteit wat skerp met die volwassenheid van haar insigte kontrasteer.

      Van Zephany na Miché. Van meisie na vrou. Van minderjarige na meerderjarige. Die enigma boei my, en ek begin iden­titeit as ’n vloeibare kontinuum eerder as ’n vaste toestand verstaan. Ek vermoed dit is iets wat Miché lank gelede al besef het.

      MICHÉ:

      In my grootwordjare het ek my ma strenger as my pa gevind.

      Sy was altyd ’n liefdevolle mens, maar jy het geweet jy moenie met my mammie skoorsoek nie. Ek het my pa om my pinkie gedraai en my ma het die broek gedra in die gesin. Sy het altyd alles onder beheer gehad en dis meestal waar ek geleer het hoe om huishoudelike sake te hanteer, finansies en so aan. Selfs tot vandag toe sal my daddy nog steeds nie op sy eie kan regkom met finansies en om die huis te bestuur nie. My ma was altyd in beheer van die huis en die familie, het hulle altyd bymekaargebring, altyd haar susters gehelp met hul huweliks- en kinderprobleme.

      Ek weet sy het al swaar tye beleef, soos die miskraam waarvan ek vertel het. My daddy het my vertel sy het ook al voorheen miskrame gehad. Dit was altyd ’n bekommernis dat dit eendag met my kan gebeur. Ek het haar selfs uitgevra: “Mammie het moeilik kinders gekry, kan dit met my gebeur?” Ek onthou sy het my nog vertel ek sal waarskynlik sukkel om kinders te kry, want dié dinge kan geneties wees.

      My ouers het ’n goeie verhouding, maar ek dink dit het die meeste spanning verduur in die tyd toe my daddy nog gedrink het. Hy het saam met sy vriende uitgegaan en my ma het vanselfsprekend nie saamgegaan nie, want sy moes na my en my broer kyk. My pa het nooit in ons teenwoordigheid gedrink nie, hy het altyd uitgegaan en gaan drink. Ek onthou wel dat sy soms kwaad was. Maar my daddy was nie ’n partytjiemens nie. Almal sal jou vertel hy is baie skaam en stil, ’n introvert. Niemand ken sy storie nie, nie eens ek nie. Ek weet nog steeds nie regtig hoe hy voel oor alles wat gebeur het nie.

      Hy het verander toe ek siek was met meningitis en hy ’n per­soonlike gesprek met die Here gehad het. Daar was redes hoekom hy moes ophou drink en redes hoekom hy moes verander – waarskynlik om hom voor te berei vir wat nou aangaan …

      Ek weet my mammie het ’n moeilike verlede gehad. As tiener het ek haar wel uitgevra oor haar lewe, en sy het my stuk­kies en brokkies vertel. Maar hoe ek die meeste uitgevind het, was uit haar hofverklaring,1 waarop ek afgekom het toe ek in haar laaie rondkrap om kaste leeg te maak nadat sy weg is. Ek het dit ontdek in ’n koevert met my naam op.

      Ek het geweet sy was voorheen getroud, en dat sy deur haar eerste man mishandel is. Maar ek het nie geweet hoe erg dit was nie – dat hy haar verkrag het en selfs met elektriese drade geskok het in haar slaap.

      My ma het ses broers en susters gehad, en ek het in daardie verklaring gelees dat toe sy omtrent 12 jaar oud was, sy hulle moes neem en laatnag deur Manenberg loop omdat daar geen kos in die huis was nie. Haar ma – my ouma – het hulle gelos en saam met ’n ander man weggeloop.

      My ma het op 16 swanger geraak en ’n babadogtertjie gehad. Maar die baba is dood toe sy ses weke oud was. Yolanda was haar naam. Toe my ma dié dag by die huis kom, vertel die familie haar die baba is dood; sy het haar vasgehou tot die ambulans gekom het.

      Daarna het sy ’n tweede boyfriend gehad – ek onthou ons het hom eenkeer in die mall gesien, voor hierdie hele ding op die lappe gekom het. My ma het my vertel sy het ’n miskraam met sy baba gehad, maar my broer was toe reeds in haar lewe. My ma het dié man gelos omdat hy blykbaar naar was met my broer. Weet jy hoe sy dit agtergekom het? Want my broer het gebid en sy naam genoem terwyl hy aan die bid was. Hy was omtrent ses jaar oud, en in sy gebed het hy iets genoem van hoe hierdie ou sy lekkergoed wegsteek. Sy het uitgevind dat hy my broer emosioneel mishandel, en sy het hom gelos.

      En wat haar eerste man betref – wel, gelukkig het sy nie ’n kind by hom gehad nie, want dit was so ’n slegte verhouding.

      Ek het nie van al hierdie besonderhede geweet nie. Ek was net bewus van klein dingetjies, meestal uit argumente tussen my ma en haar ma wat ek toevallig gehoor het. My ouma het ’n tyd lank by ons gewoon en hulle twee het aanhoudend baklei. Selfs as hulle oor kleinighede gestry het, het issues uit die verlede ter sprake gekom en het ek my ma letterlik vir my ouma hoor skree: “Jy weet wat jy verkeerd gedoen het!” Al wat ek geweet het, is dat my ouma hulle verlaat het vir ’n ander man – en nog een en nog een.

      Ek het my ma uitgevra: “Hoekom stry Mammie altyd met haar? Sy’s jou mammie! Mammie sal nie daarvan hou as ek heeltyd met Mammie baklei nie.” En sy het geantwoord: “Daar is goed uit die verlede, dinge wat sy gedoen het …”

      Ek moes maar bly wonder. Ek het nooit regtig geweet wat die besonderhede is nie. Ek het net geweet van die eerste man en dat sy naelskraap lewend uit daardie huwelik gekom het. Hy het op die ou end in die tronk beland, vir diefstal. My tannie het my selfs vertel dat my mammie hom in die tronk gaan besoek het maar iemand in die tronk het haar gewaarsku dat haar man ’n lem tussen sy vingers versteek het met die plan om haar dood te maak. Sy het die bewaarders daarvan vertel en die tronk verlaat. Toe het sy ’n egskeiding aangevra.

      Ná hierdie verhoudings en hartseer ontmoet sy toe uiteinde­lik my pa – ’n totaal ander soort man. My ouers was ’n hele ruk lank vriende voor hulle begin uitgaan het. Hulle het voor mekaar met ander mense uitgegaan, hulle het nooit regtig gedink hulle sou op die ou end by mekaar beland nie.

      My daddy was destyds in ’n ander verhouding en hy het ’n dogter. Daar was gerugte dat dit nie sy kind is nie, maar my daddy glo sy is en hy sal haar op baie maniere bystaan, al het hulle nie ’n verhouding soos dié wat ek en hy het nie.

      Toe kom Lavona na hom toe en sê sy is swanger met my. Natuurlik vertel hy sy familie, wat vir hom gesê het hy moet doen wat reg is – jy kan nie twee buite-egtelike kinders hê nie. Hulle het getrou toe ek twee jaar oud was, want hy moes eers klaar studeer en daarna gaan werk. Toe hy eers ’n werk gekry het, kon hulle dit bekostig om te betaal vir die troue en die huis waarin ons gewoon het.

      Van toe af het dit soos ’n normale lewe gelyk, tot die waarheid uitgekom het dat dit ver van normaal was. Maar ek voel nog steeds hartseer vir my mammie oor die swaar lewe wat sy in haar verlede gehad het. Ek het gehuil nadat ek daardie hofverklaring gelees het waarop ek afgekom het. As jy met haar praat en saam met haar leef, sal jy nooit aanvoel dat sy soveel trauma wegsteek nie. Miskien sal jy optel dat sy baie verdedigend en presies kan wees – dinge moet altyd nét só wees.

      Maar een ding wat ek wel weet, is dat ons nooit iets kort­gekom het nie. Die vernaamste ding vir haar, en wat sy oor en oor aan my gesê

Скачать книгу