Скачать книгу

wat “om nors te wees, om te versteek/weg te kruip, om te verberg” beteken.

      Zephany. Miché. Sy wat wegkruip. Sy wat verborge is.

      Die verborgene.

      Hierdie storie wemel van dubbelsinnighede. Daar is minstens twee van alles, of dit nou nuanse of rol betref: ma’s, pa’s, families, protagonis-identiteite. Dit is uiters verwarrend. Sewentien jaar lank is die hartverskeurende geval rondom drie hoofrolle uitgebeeld: die radelose ma Celeste Nurse, die verpletterde pa Morné Nurse, die ontvoerde baba Zephany Nurse. Newekarakters het van tyd tot tyd op die toneel verskyn – speurders, vals leidrade, skimagtige verpleegsterfigure. Toe kom die waarheid uit, en die storie het gou ’n warboel van wortels en takke bygekry. Dit was nie meer moontlik om die een kant van die familie bloot as “biologies” te klassifiseer nie, want hoe moet ’n mens dan na die ander kant verwys? Aanneemfamilie? Kuns­matig? Pseudo?

      Wat alles nog meer raaiselagtig gemaak het, was dat “baba” Zephany, ofskoon nie meer ’n baba nie, nog nie wetlik meerder­jarig (18) was nie en dus op geen ander wyse geïdentifiseer kon word nie as met die naam waaronder sy nog altyd bekend was: Zephany Nurse. En as Zephany nie geïdentifiseer kon word nie, het dieselfde gegeld vir haar ontvoerder, by wie sy nog heeltyd gewoon en wie se van sy gedeel het. Om Lavona en Michael Solomon te identifiseer sou die naald direk laat wys na Miché Solomon, hul enigste dogter en die kind wat onwetend die mid­delpunt van ’n ontvoeringsdrama was.

      Die media het hul eie strategie ontwikkel om te help voor­kom dat reëls oortree word. Hulle het ’n netjiese skeidsmuur in die middel van die storie gebou en die karakters in twee kampe gegroepeer: regte en steel-. Regte ma Celeste Nurse en regte pa Morné Nurse steelma Lavona Solomon (die ontvoerder) en steel­pa Michael Solomon (die ontvoerder se man), al moes wie presies die stelery gedoen en wie anders daarvan geweet het nog in die verloop van ’n strafsaak bepaal word. Die hoofkarakter het deurgaans net een naam gehad: Zephany.

      In my reis deur die kronkelpaadjies van hierdie storie het ek swaar op die regte/steel- kategorisering gesteun. Maar dit was asof ek dit net nie kon laat werk nie. In elke onderhoud of gesprek oor die storie het ek gevind dat die rolspelers in ’n dolle tweepasdans vasgevang is, dat hulle in my kop en op die bladsy heen en weer oor die skeidslyn beweeg. Ek het gewonder of dit die terminologie is wat my verwar, en ek het probeer om regte te ver­vang met “biologiese” en steel- met “wat haar grootgemaak het”: Celeste, die biologiese ma, teenoor Lavona, die grootmaak­ma. Al wat dit gedoen het, was om my op ’n syspoor te bring ten opsigte van die definisie van “ma” en die vraag rondom wat ’n ma definieer. Word moeders gebore of gemaak? Is hulle die wegspring- of die eindstreep? ’n Verstekposisie, of een wat verdien word? Is hulle die punt van herkoms, die reis, of die bestemming?

      Ek het aanhoudend na die protagonis van die storie teruggekeer, met die veronderstelling dat hoe deurmekaar dit ook al vir my was, dit oneindig meer so moet wees vir Zephany. Maar namate ek my weg deur die storie se vele afdraaipaaie gebaan het, het ek mettertyd begryp my wie-is-wie-verwarring is nie ’n spieëlbeeld van Zephany se eie verwarring nie. Dit is ’n teenstelling. Vir Zephany Nurse, nee, vir Miché Solomon is haar steelma haar regte ma. Vanweë die gehegtheid wat sy jeens haar voel, kan die ma wat haar grootgemaak het net sowel die ma wees wat aan haar geboorte geskenk het. Boonop het Miché Solomon geen probleem daarmee om Miché Solomon te wees nie – hoe kon sy dus gevind word as sy nooit verlore was nie?

      Vir byna twee dekades is die storie van Zephany Nurse aan ons voorgehou vanuit elke perspektief behalwe dié van Zephany Nurse self. Maar Zephany is ’n hersenskim – ’n gedaante met die vorm van ’n pasgebore baba wat deur trauma in die geheue ingebrand is. Miché Solomon – dáár is die bloed en binnegoed; dáár is die kloppende hart van die storie.

      Maar daardie storie het ons nog nie gehoor nie. Is dit nie hoog tyd dat dit gebeur nie?

      Hoofstuk 1

      ’n Kind se huilkrete klink op in die feitlik leë gange van die Blue Route-winkelsentrum in Tokai, Kaapstad. Dit is die middel van die week. “Mammie! Mammie!” skree Miché Solomon se tweejarige dogter, Sofia, terwyl haar ma van haar wegstap na die Mugg & Bean, waar ek en Miché afgespreek het om mekaar te ontmoet vir ons eerste onderhoud.

      Miché gooi haar kop agteroor en hou aan stap na die ingang van die restaurant. “Dis oukei,” sê sy, meer vir haarself as teen­oor my. “Sy is by my daddy. Sy sal oukei wees.”

      “Wil jy haar eers gaan kalmeer?” vra ek.

      “Nee, as sy by my daddy is, is dit oukei. Solank dit hy is. Sy sal gou gelukkig wees.”

      Ek het nie veel tyd gehad om haar pa te groet nie – net ’n vinnige handdruk toe Miché hom as “my daddy, Michael” voor­gestel het. Hy het sag teenoor my geglimlag en sy kop liggies ge­knik voor hy die stuur van Sofia se stootwaentjie oorgeneem en met haar weggestap het sodat ek en Miché alleen in die rela­tie­we privaatheid van die restaurant se enigste rusbank kon gesels.

      Miché sak stadig terug op ’n leerkussing wat pap is van ouder­dom. Dit duik dieper in as wat sy verwag het, en sy giggel terwyl sy probeer keer dat sy wegsak. Ek het pas uitgevind sy is weer swanger, en taamlik ver, daarom is haar beweeglikheid nie juis wat ’n mens van ’n 21-jarige sou verwag nie.

      Nie dat ek weet wat om te verwag nie. Dis maar die tweede keer dat ek Miché ontmoet; die eerste keer was ’n amptelike bekendstelling aan mekaar deur ons uitgewer, wat meer daaroor gegaan het of Miché my goedkeur as haar biograaf eerder as dat ek haar opsom as my onderwerp. Hierdie terrein is net so nuut vir my soos vir die meeste mense, aangesien ek slegs van haar geweet het as Zephany Nurse, die ontvoerde baba wat onverwags opgespoor is en wat net ’n hanetreetjie van haar bio­logiese familie af woon. Maar jy kan nie ’n onderhoud met ’n hersenskim voer nie. Ek is vandag hier om ’n onderhoud met Miché Solomon te voer.

      Miché bestel warmsjokolade wat met ’n dik bolaag van ge­klopte room voorgesit word. Sy eet die punt van die wit spirale met ’n lang lepel en roer die res in. Sy maak verskoning dat sy nie soos gewoonlik gegrimeer is nie – “swangerskap en ma-wees is nie goed vir my gewig of my voorkoms nie” – maar dit is maklik om te sien hoe sy met ’n professionele droogblaas van haar heu­ningkleurige haardos, ’n blink robynkleur op haar delikate lippe en ’n paar stylvolle stiletto’s om vir die boepie te kompenseer, die J.Lo-vergelykings wat sy laggend toelaat, sal verdien.

      Om die waarheid te sê, ek verkies om ’n Miché sonder ’n fasade te sien. Ons gaan uiteindelik die ander kant van die Zephany Nurse-storie hoor. Wat ons wil hê is onopgesmuk eerder as ge­spuitkwas; in-die-vlees eerder as in-die-nuus.

      MICHÉ:

      Ek lyk soos my pa se familie, soos Michael se familie. Hulle is almal lank en party is nogal lig van kleur, so ek het grootgeword met die idee dat ek na sy kant van die familie lyk.

      As klein dogtertjie het ek ’n baie sterk band met my daddy gehad. Ek het nog steeds. Ek was meer avontuurlik saam met hom; ons het strand toe gegaan, of gaan draf, of entjies gaan ry, want my ma was by die huis in die kombuis of met huishoudelike goed doenig. Ek kon eerlik met hom praat, en meer met hom as enigiemand anders oor sekere dinge.

      Ek sien hom nou met my dogter, en dis net soos dit vir my was. Hy neem haar strand toe, of as ek besig is met iets, vat hy haar vir ’n roomys of om ’n entjie te gaan ry. As ek met haar raas en vir haar sê “Moenie dit doen nie, nou’s jy ’n stoute meisie”, is hy die een wat haar troos – die heeltyd, asof dit sy eie baba is. Sy sal hom seker eendag Daddy noem.

      Ek was regtig ’n daddy’s girl. Ek is nog steeds. Dit maak my bang om te dink aan wanneer my pa dalk doodgaan of hy homself nie meer kan help nie – op wie gaan ek staatmaak? Ek is dankbaar dat ek hom as ’n pa het, eerlikwaar.

      My pa is ’n elektrisiën, en hy het gewerk daardie dag toe Levona gesê het sy het aan my geboorte gegee in die Retreat-hospitaal. Omdat dit ’n normale geboorte was, het sy gesê, was dit nie nodig dat sy lank in die hospitaal bly nie. Ek het my ma eenkeer gevra hoekom daar geen hospitaalfoto’s van my in my baba-album is nie. Sy het gesê niemand was daar om foto’s te neem nie. Ek weet

Скачать книгу