Скачать книгу

vir haar.

      Toe kom my pa huis toe ná werk, en daar was ek.

      Ons het destyds in Seawinds gewoon. Ons het daar gebly tot ek omtrent drie of vier was, en toe trek ons Hillview toe. Ons het getrek omdat my ma ’n miskraam gehad het. Sy was swanger nadat sy my gehad het. Ek onthou ek het eendag teruggekom van die crèche en sy het net daar op die bed gelê, en sy het gehuil en gehuil. Ek het my pa uitgevra toe ek ’n bietjie ouer was: “Daddy, hoekom het Mammie daai dag so vreeslik gehuil?” Hy vertel my toe dat sy die baba verloor het.

      My ma het gesê sy het ’n nuwe omgewing nodig, en toe trek ons Hillview toe.

      Ek onthou nog my eerste skooldag. Dis eintlik een van my hartseerste herinneringe. Toe dit tyd word vir my mammie om my by die deur te los, wou ek nie hê sy moet gaan nie. Ek het so hard gehuil, dinge gesê soos: “Ek ken nie daai mense nie, ek ken nie daai kinders nie – Mammie moet by my kom sit in die klas.” Ek onthou ek het die hele dag gehuil dat sy my vroeg moet kom haal.

      My daddy het destyds gedrink. Maar toe ek 13 was, was ek ernstig siek met meningitis. Ek was in die hospitaal, waar ek ’n lumbar puncture moes kry, en dit was die keerpunt vir my pa. Hy kon dit nie hanteer om my so te sien nie en hy het ’n gelofte afgelê: As God my gesond maak, sou my pa sy drinkery stop en ophou uitgaan met sy vriende. En hy het. Hy het van toe af glad nie gedrink nie – en ek is nou 21 jaar oud.

      In my grootwordjare het ons gereeld familiebyeenkomste gehad. Dit is altyd by ons huis gehou, want dis maar hoe my ma was: Sy het altyd almal bymekaargebring. Sy is die oudste, en sy het sterk daaroor gevoel dat die familie saam moet wees, moet saamstaan, mekaar gereeld sien.

      Ek het baie selfsugtig grootgeword. My tannie-hulle het altyd gesê niemand is ooit toegelaat om my te hiet en gebied of lelik met my te praat nie, want my ma het altyd vir my opgekom. Ek het grootgeword met die selfsug van ’n enigste kind, al was my broer, Gerald, daar. Gerald is eintlik my neef, maar ek noem hom my broer omdat hy in ons huis grootgeword het. Hy is my ma se susterskind, en my ma het hom grootgemaak – hy is nou 31 jaar oud. Hy was al by my ma nog voor sy en Michael mekaar ontmoet het.

      My ma het hom ingeneem toe hy een of twee jaar oud was omdat sy eie ma dit nie kon bekostig om hom groot te maak nie, en ek dink die pa wou hom laat aanneem. Toe die maatskaplike werker hulle kom sien, het my ma gesê: “Gee hom eerder hier, ek sal hom grootmaak en hom onderhou.” Toe sy my pa ontmoet, het hy maar net aangeneem dat dit Lavona se seun is. Gerald het my ma “Mammie” genoem en hy het sy eie ma op haar naam genoem.

      Hoewel my broer by ons gewoon het en altyd daar was, is hy tien jaar ouer as ek, so ons het nie regtig ’n vriendskap gehad nie. Ek weet hy het my na plekke toe geneem en hy het altyd vir mense gesê “moenie met my suster lol nie”, maar dit was nooit ’n hegte verhouding nie. Gerald het sy eie kamer gehad, hy het girlfriends gehad. Hy was baie na aan my ma.

      So, ek het altyd soos ’n enigste kind gevoel, want ek is basies soos een behandel.

      My vroegste herinnering is van hoe ons gaan kampeer het – ek het ’n foto van my en my pa wat op ’n rots by die Soetwater-kampeerterrein naby Kommetjie sit. Ons het elke jaar gegaan tot ek ’n sekere ouderdom was, ek kan nie meer onthou hoe oud nie. Dit was my gesin en my neefs en niggies, my broer se vriende – ons het almal gegaan as dit somer was. Dit was so lekker. My pa en sy vriende het potjie gemaak. Ek was mal oor swem en het ure lank in die water gebly. My ouer niggie moes saam met my swem en sy sou letterlik bibber, maar ek het altyd vir haar gesê: “Jy gaan nie uit nie, jy gaan hier by my bly tot ek moeg word.” Sy het gebewe van die koue, maar sy sou my nooit alleen laat in die water nie.

      Die koue het my nie gepla nie. Ek en my pa het dikwels St. James-strand toe gegaan en ons sou swem selfs al reën dit. Dit was soveel pret. Ek kon ure in die see deurbring. Ek het altyd gewonder wat doer ver is, agter die horison. Ek is ’n baie nuus­kierige mens. Ek het nog altyd van ’n goeie raaiselverhaal gehou … Dis nou tot ek moes uitvind dat my lewe self ’n raaisel is, vreemd en vol geheime.

      Gerald het die huis verlaat toe hy ongeveer 23 was, in dieselfde tyd dat ons na ’n ander huis getrek het, in Gladiolaweg. Ek was 13 en het toe hoërskool toe gegaan. My neefs en niggies was altyd in die omgewing – natuurlik sonder dat ek geweet het ons is nie regtig familie nie – en dis saam met hulle dat ek uitgegaan het. In die hoërskool het ek nuwe vriende begin maak wat ouer was, selfs in matriek. Ek het nie meer so baie met die neefs en niggies uitgehang nie, want alles het nou net oor vriende by die skool gegaan. Ek het kort rokke en hoëhakskoene begin dra.

      My ma is ’n naaldwerkster en sy het vir my rokke gemaak. Klere maak is waarmee sy haar inkomste verdien het; sy het by­voorbeeld sport- en skoolsweetpakke vir kinders gemaak. Sy het haar naaldwerk by die huis gedoen – ons het ’n gedeelte waar haar werksarea was – en sy het allerhande kledingstukke gemaak: pajamas, onesies vir die kleintjies, rokke. Kyk hier – ek dink ek het ’n foto van een van die rokke wat sy vir my gemaak het toe ek so 16 of 17 was.

      * * *

      Miché draai haar foon om my ’n foto te wys wat net sowel uit ’n modekatalogus kon geval het. Weliswaar gaan dit meer oor die lyf as oor die rok, hoewel die rok ook kataloguswaardig lyk. Die enigste gepaste reaksie is ’n wolwefluit, maar aangesien ek dit nooit kon bemeester nie, volstaan ek met “Yowzers!”

      Miché lag. “Dit was toe ek nog ’n lyf gehad het! Hopelik kry ek dit eendag terug.”

      * * *

      Jy kan sien die rokke was almal kort, nè? Dit het haar nie gepla om dit so te maak nie, sy wou net hê ek moet verantwoordelik wees. My daddy en my broer sou sê: “Hoekom dra jy dít?! Waarheen gaan jy? Dis koud buite, trek jeans of iets aan!”, maar my ma het my laat dra wat ek wil, sy het net altyd gesê ek moet verantwoordelik wees.

      My ma is nie die kwaai tipe nie. As ek laat was vir goed, of lui, sou sy nooit op my skree en sê “Komaan, roer jou!” nie. Maar sy het my ook nie daarmee laat wegkom nie, en sy het geweet hoe om my skuldig te laat voel. Sy sou eerder iets sê soos: “Wil jy vir altyd by die huis bly? Wil jy by Checkers gaan werk? Jy kan by Checkers gaan werk as jy jouself daar sien. Jy kan hier woon vir die res van jou lewe en ’n bus vat Checkers toe. Dis jou keuse.”

      Ek was altyd slim met hoe ek dinge gedoen het omdat dit nie vir my nodig was om dit agter my ouers se rug te doen nie. Hulle was reguit en het seker gemaak dat ek die gevolge verstaan; dan het hulle die keuses aan my oorgelaat.

      Dis nog steeds die tipe verhouding wat ek met my pa het. Hy sal sê: “Jy weet wat is reg en verkeerd, jy moet doen wat die beste is vir jou”. Nie dinge soos “jy hou aan dom foute maak”, “jy’s simpel as jy dit doen”, of “jy’s laf om nog ’n kind te hê” nie. Ek waardeer dit, want dis hoe ek geleer het om groot te word. Ek voel nie ek hoef dinge weg te steek omdat my daddy gaan skel nie. Ek voel nie gespanne uit vrees vir wat my mammie gaan doen nie.

      Ek was ’n cheeky kind, maar ek wou nooit my mammie teleurstel nie.

      Selfs op hoërskool het sy altyd vir my en my broer gesê: “Moenie dat ek ooit by die skool in die skande gesteek moet word oor julle gedrag nie.” Sy was baie reguit oor dinge, en jy was nie oneerbiedig teenoor haar nie.

      Ek was nooit so stout dat ek by die skool ’n gebrek aan re­spek vir haar veroorsaak het nie. Soos met dwelms en sulke goed. Ek het twee keer ’n bietjie dagga gerook, maar ek het nooit ’n dwelmprobleem gehad nie. Dagga was nie vir my nie – ek het bang geword vir myself, en ek het dit nooit weer gedoen nie. Ek hou nie van daai gevoel nie, om myself nie te ken nie of om my te bekommer oor my eie gedrag. Dis hoekom ek nie ’n drinker of ’n roker is nie. Ek het uitgegaan, ja, maar jy kan nie wasted raak en dan huis toe gaan na ouers vir wie jy respek het nie. En vandat ek ’n kind van my eie het, is dit natuurlik net heeltemal buite die kwessie. Ek weet as ek in die moeilikheid beland, sal my daddy daar wees vir my. Hy is nie die soort mens wat sy rug op jou draai nie en hy sal my altyd help. Maar ek sal nooit misbruik maak van sy goedheid nie, want ek ken die pyn wat hy met my mammie deurgemaak het.

      My ouers het byna nooit voor my baklei nie. Wanneer hulle nie met mekaar gepraat het nie, het ek geweet hulle het ’n argu­ment gehad. Ons sou in die kar

Скачать книгу