Скачать книгу

is ’n gepaste tyd om Michael Solomon, die skynbaar onbewuste “steelpa”, by die verhaal te betrek.

      Michael is ’n veel meer ontwykende karakter as sy dogter. Hoewel hy glo dag en nag tot Miché se beskikking is, verg dit ’n hele paar pogings voor ek daarin slaag om hom vir ’n onderhoud vas te pen. Miché tree op as tussenganger, reël en kanselleer ons gepoogde ontmoetings terwyl sy werksure en kerkverpligtinge telkens ’n stok in die wiel steek. Al hou sy vol dat Michael gretig is om met my te praat (om haar onthalwe), het Miché haar bedenkinge oor presies hoeveel Michael bereid sal wees om met my te deel weens sy befaamde introversie. Ek hou voet by stuk dat enige perspektief nuttig is as dit by die uitpluis van Miché se storie kom. In dié stadium voorsien ek nie dat ek toegang tot “steelma” Lavona sal kry nie, dus reken ek Michael is die naasbeste bron. Bowendien, as ons durf ver­gelyk wie die meeste om die bos gelei is in die Zephany Nurse-geval, sou Michael sekerlik om die eerste plek kan meeding.

      Uiteindelik kom ons ooreen op ’n Sondagmiddag-onderhoud in Muizenberg, en ek is bly dat die dag ’n sonnige “Cape special” is, warm en luilekker genoeg om die mees geslote lippe losser te maak.

      Michael lyk anders as die vorige keer dat ek hom gesien het toe hy Miché se dogter deur die winkelsentrum begelei het. Ons ontmoeting het nou wel nie langer as ’n paar sekondes geduur nie, maar dit neem nogtans ’n oomblik voor ek hom herken, en dié keer kyk ek deeglik.

      Michael het ’n vriendelike, oop gesig met ’n gulhartige glim­lag, en sy saggeaarde houding maak dat hy aangename geselskap is. Ek word egter van stryk gebring deur ’n gewaarwording van ongemak in die vertrek. By tye voel dit amper soos eerbied, asof hy weet van ’n subtiele magswanbalans waarvan ek onbewus is. Soms is dit doodgewoon behoedsaamheid, asof ons vriendelike mededingers is. Dit kwel my dat ek oorkompenseer met ’n opgewekte pellie-pellie-houding om hom aan my kant te kry. Ek wil nie hê hy moet my lees as vals, of dat ek sy guns probeer wen nie. Ek wil bloot hê hy moet gemaklik genoeg voel om openlik te praat. Maar ek besef, te laat, dat ek dieselfde fout maak as die ma wat so graag wil hê haar onwillige tienerseun moet haar in sy vertroue neem – deur gemeenskaplikheid te veins. Dit is ’n feit dat ek en Michael baie min gemeen het wat ons lewenservarings betref, ten minste op die oog af. En al was hy dalk nog altyd swygsaam van aard, het sy belewenis van die Zephany Nurse-storie – om te ontdek dat sy geliefde dogter wel geliefd mag wees, maar nie sy dogter is nie – ’n kloof tussen hom en feitlik enigiemand anders geplaas. Die mate waarin Miché 17 jaar lank gekul is, geld eweneens vir Michael.

      Om Michael oor te haal om te ontdooi teenoor my, om oop te maak in soverre dat hy dit teenoor enigiemand sal doen, moet ek reik na daardie enkele, onbetwisbare ervaring wat ons ongeag agtergrond en omstandighede deel: die veeleisende vreug­de van ouerskap.

      MICHAEL:

      Ek is in Retreat, Kaapstad, gebore en het in Steenberg grootgeword. So, ek het my hele lewe in dié gebied deurgebring. Ek kom uit ’n groot gesin – ek het agt broers en susters, en ek is die jongste. My kinderjare was gelukkig en alles was daar vir my, ek het nie swaargekry nie. Daar is ’n ouderdomsverskil van 24 jaar tussen my en my oudste broer, so die meeste van die broers en susters was reeds uit die huis uit toe ek grootgeword het.

      Ek was in Steenberg-hoërskool op skool, maar ek het nie matriek klaargemaak nie. Ek moes gaan help werk. Ek het begin as ’n leerling-elektrisiën en ek is nog steeds in dié bedryf.

      In my vrye tyd het ek daarvan gehou om strand toe te gaan en te swem – ek hou nog steeds daarvan. En sport, ek hou van sport. Destyds het ek baie sokker gespeel, maar nou dink ek ek sal dit maar aan die jonger ouens oorlaat.

      My pa was baie godsdienstig en ons het as gesin aan die Volle Evangeliekerk in Wittebome behoort. Ons het almal in dié kerk grootgeword. Ek is nie nou meer daar nie, maar my broers is nog lede.

      Vir ’n tyd lank was ek nie juis deel van die kerk nie, maar ek het gesien hoe dinge nie goed gaan in my lewe nie. Toe maak ek ’n verandering. Ek het aangesluit by JCI (Jesus Celebration International) en ek kan sien dat die kerk my regtig op baie gebiede sterker gemaak het. Dit het baie belangrik vir my geword. Voorheen was ek nie moedig of dapper genoeg om dinge te doen nie. Maar nou is dit anders. En hierdie saak met Miché … Dit was ’n moeilike situasie en ek kon tou opgegooi het, maar danksy die kerk sal ek deurdruk met wat ook al voorlê.

      Dis hoe ek my gesin grootgemaak het – dis hoe ek nog steeds probeer om my gesin groot te maak – om ’n goeie vader vir hulle te wees, ’n geestelike vader, om hulle die regte weë te leer.

      Ek het Lavona in my laat twintigs ontmoet. Sy is vier jaar ouer as ek. Ons was minstens vier jaar lank net vriende voor ons ’n paartjie geword het. In my vroeë twintigs het ek ’n meisie gehad, en ek het ’n dogter by haar gehad. Ons het lank probeer om die verhouding te laat werk. My pa wou eintlik hê ek moet trou omdat ons Christene is, en hy het my vertel as jy droogmaak moet jy dinge regmaak. So, ek was van plan om met haar te trou, maar dit het net nie gewerk nie. Ek weet nog steeds nie wat skeefgeloop het nie. Sy het wel gesê ek speel te veel sokker en kom saans laat huis toe. Nou sit ek terug en dink dit kon die rede gewees het; ek het meer aandag aan sport gegee en nie genoeg tyd saam met haar by die huis deurgebring nie.

      Ek het Lavona ontmoet ’n ruk nadat ek met dié meisie uitgemaak het, of terwyl die verhouding besig was om ten einde te loop. ’n Gemeenskaplike vriend, Phillip, het my saamgeneem na Lavona se ma se plek en ek het haar en haar susters en broers ontmoet. Ek het vanaf die eerste besoek van hulle gehou, en ek het geweet ek sal weer daar gaan kuier. Ons het sokker gespeel en ná die tyd teruggegaan na Lavona se huis, waar ons gesels en na musiek geluister het. Hulle was goeie vriende om te hê: altyd gelukkig, vrolik, spraaksaam. Veral Lavona. Ek het daar gesit en dan doen sy al die praatwerk terwyl ek al die luisterwerk doen. Ek is ’n goeie luisteraar.

      Ná ’n ruk het ek begin om alleen by Lavona se huis te gaan kuier. Miskien was dit toe ek gevoelens vir haar begin kry het. Eendag het ons net skielik gesoen en ek dog o gaats, wat het nou gebeur? Sy het altyd probeer om my te help om ’n meisie te kry. As ons almal saam uitgaan, sou sy sê: “Haai, daar is ’n gawe meisie vir jou”, en dan het ek met dié meisie gaan gesels. Almal was verbaas toe ons twee ’n paartjie word, want sy het alewig probeer om my aan ’n meisie te help.

      Sedert daardie soen was die twee van ons saam.

      Ek het destyds my dogter oor naweke opgepas, en sy het ook saam met my by Lavona se plek oorgebly. Dit was lekker, want daar was ’n goeie verhouding tussen my kind se ma en Lavona. Selfs Miché het grootgeword met my eerste dogter as iemand wat sy geken het. Ek onthou hulle het baklei in die kar as ons gery het. Hulle wou albei voor sit en dan huil Miché. My eerste dogter het altyd gesê: “Ek is die oudste, ek moet voor sit”, maar Miché wou haar nie ’n kans gee nie. Dan het ek hulle al twee agter laat sit! Maar hulle was oulik, gelukkig, en nogal baie saam.

      Toe loop iets skielik net verkeerd – ek weet nog steeds nie wat nie. Miskien was dit iets tussen die twee vroue, dat hulle ’n argument gehad het waarvan ek nie geweet het nie, maar skielik kon ek nie meer my eerste dogter sien nie. Sy was seker so 10 of 12 jaar oud, en sy het opgehou om oor naweke na ons toe te kom. Ek het nie meningsverskille met haar ma gehad nie, maar sy het die kontak stopgesit. Dis nou vyf jaar sedert ek laas direkte kontak met haar gehad het.

      Toe Lavona destyds swanger raak, was ons nog nie getroud nie en het ons nie eens saamgewoon nie. Ek het by my broer gebly en sy in die huis in Seawinds, nie ver van mekaar af nie. Sy was ’n naaldwerkster – wanneer sy nie ’n kontrak met ’n maatskappy gehad het nie, het sy haar eie klere gemaak. Sy was altyd besig om klere te maak, veral sweetpakke.

      Ek was verbaas toe Lavona my vertel sy is swanger, want sy het altyd gesê sy sukkel om swanger te raak. Ek het geweet sy het al voorheen miskrame gehad – nie by my nie, maar sy het my reg aan die begin vertel sy het miskrame gehad.

      Ons het toe reeds oor trou gepraat. Soos enige paartjie wat altyd saam is, het ons gepraat oor die moontlikheid om saam ’n huis te koop. Lavona het altyd gesê dis nie wys om ongetroud te wees en saam ’n huis te koop nie, want as iets skeefloop, gaan dit chaos afgee. Ek het ook gedink ons behoort eers te trou. Maar intussen het sy swanger geraak.

      Ons was almal opgewonde

Скачать книгу