Скачать книгу

dit gaan my skade doen.”

      My daddy wou my ook kalmeer. “Nee, dis oukei, baby, dis oukei – hulle moet hulle werk doen.” Maar ek het baie kwaad gevoel. Hy het nie eens besef ek kan nie huis toe gaan nie. Hy het gevra of hy my saam met hom huis toe kan neem, en Bark­huizen het gesê: “Nee, jy kan nie, want jy of jou vrou kan dalk met haar vlug.”

      Toe herhaal my daddy weer: “Maar ek het regtig nie hierdie kind gesteel nie; ek het niks te doen met wat ook al hier aangaan nie – Miché is my dogter.” Hy was baie verward, en ek dink terselfdertyd ook hartseer, omdat hy nie regtig geweet het wat aangaan nie of dat enigiemand – wat nog te sê sy vrou – so vir hom kon lieg. Meestal kon hy net nie sin maak van enigiets nie. Ek was ook verward, maar ek het standvastig probeer bly, want niemand gaan oor my loop en sommer ondersoeke doen net soos hulle wil nie.

      Marshionette het hand bygesit. “Miché kan my kom bly terwyl hierdie hele ding aan die gang is, en dan kyk ons van daar af,” het sy gesê. “Sy lyk nie asof sy hier inpas nie en sy het op die oomblik ’n huis nodig, ten minste ’n mate van stabiliteit, om te verwerk wat aan die gang is.”

      “Jy kan nie saam met haar gaan nie,” het my pa geprotesteer. “Sy is ’n vreemdeling.”

      “Nee, dis oukei, Daddy. Ek sal by Marshionette gaan bly. Ek wil graag.” Ek het my laat lei deur my intuïtiewe gevoel dat dit die beste was om saam met haar te gaan.

      “Nee, jy kan nie wegslaap nie! En ons moet naby mekaar wees vir wat ook al hierdie ondersoek bring.”

      “Moenie bekommerd wees nie, Daddy. Hulle kan maar hulle werk doen. Die uitslag is veronderstel om môre te kom. As dit negatief is, sal ek net reguit huis toe kom. Hulle sal my in elk geval nie toelaat om nou saam met Daddy te kom nie.”

      Ek sê jou nou: As die uitslag negatief was, sou ek nie net reg­uit huis toe gegaan het en dit net daar gelaat het nie. Ek dink die manier waarop die staat die hele situasie hanteer het, was swak.

      * * *

      Ek word weer eens getref deur die verskuilde tierwyfie in Miché, hierdie volwasse, selfgeldende gedrag wat al in die vroeë ure van D-dag na vore gekom het: dat dit by haar opgekom het om ’n DNS-toets teen te staan, of om ’n konsensuele skuiwergat te bevraagteken op ’n tydstip dat haar eie hart en verstand skaars tussen op en af sou kon onderskei; dat sy ingespring het om haar pa se eer te verdedig teen wat sy beskou het as “dreigemente” deur die gerespekteerde senior speurder kolonel Mike Barkhui­zen, ondanks die feit dat sy in daardie stadium figuurlik gesproke die welpie in die leeukuil was. Ook dat sy ’n bond­genoot gesoek het in Marshionette Jonkerman en ’n blaaskans in haar huis bespeur het. Al hierdie instinktiewe selfbehoud-aksies lyk of hulle buite die ervaringsfeer van ’n geliefde, beskutte, indien nie totaal verwende sewentienjarige prinses lê. Miché het beslis murg in haar pype.

      Ek raak nuuskierig om ander verslae van D-dag te hoor, en om te verneem of daardie ander weergawes Miché s’n bekragtig en besef watter durf en moed hierdie kitsvrou toon. Ek ver­onderstel dit sou een van daardie mylpaaldae wees in die lewe van enige mens wat by hierdie storie betrokke is, ’n dag van flitsfoto-herinneringe wat sy karakters in pynigende detail sal laat onthou presies waar hulle was toe dit gebeur het en hoe dit ontvou het. Vir die Solomons was dit die dag dat hul hele wêreld op sy kop gekeer is. Vir die ondersoekspan was dit die dag dat ’n saak wat al 17 jaar oud is, opgelos is. Vir die Nurse-gesin was dit die antwoord op ’n miljoen gebede. Niemand sal dit maklik vergeet nie.

      My mees toeganklike kontak is Miché se pa, Michael. Die swyg­same Michael Solomon is tipies lakonies in sy beskrywing van D-dag. Dit is eerder die nie-verbale seine wat sy storie vertel: die gereelde skud van sy reeds geboë hoof, die fronsende wenkbroue op sy bekommerde gelaat, die effense trilling in ’n stem wat reeds dun is van kwelling. Dalk is dit die blatante onvermoë om die regte woorde te vind wat meer veelseggend is as dié wat wel oor sy behoedsame lippe kom.

      MICHAEL:

      Ek was by die werk toe ek ’n oproep kry om te sê ek moet huis toe bel.

      Ek het my vrou gebel en sy het gesê die polisie is daar; hulle ondervra haar oor ’n verlore kind, “maar dis orraait, jy hoef jou nie te bekommer nie”.

      Ek het die foon neergesit en weer gaan werk. Tien minute later bel hulle my weer en sê ek moet huis toe gaan. Die polisie wou my glo by die werk kom haal, maar omdat ek by ’n nasio­nale sleutelpunt werk, sou die sekuriteit hulle nie inlaat nie. Hulle het my nie regtig vertel wat aangaan nie, net gesê ek moet huis toe gaan. Ek het nie geweet wat om te dink nie.

      Die bestuurder het my huis toe geneem, maar daar was niemand nie – of was my vrou daar? Nee, sy was nie daar nie, maar kolonel Barkhuizen het my gebel en my gevra om hom in Wynberg te ontmoet. Ek kom toe by hierdie plek aan en sien Miché en al hierdie mense daar rondom die tafel. Maatskaplike werkers, polisie, mense wat ek nie ken nie.

      Toe vertel hulle my dis die kind na wie hulle soek in hierdie Zephany Nurse-saak. Wat?! Wat was hier aan die gang?

      Miché was bang. Sy het ook nie geweet wat aangaan nie. En toe sê hulle dat hulle haar van my af wegvat. Ek het net gevoel hoe iets in my binneste val, want sy was nog nooit weg van ons af nie, het nooit weggeslaap nie, niks. Eenkeer, gedurende die Paasvakansie, het sy saam met my skoonouers Plettenbergbaai toe gegaan. Toe het ek en my vrou selfs agter hulle aangery om die aand by haar te wees. Ons moes gaan kyk of dit goed gaan met haar.

      Selfs al sê sy sy kan vanaand by jou slaap, sal sy bel en sê “Daddy, kom haal my”. Dis hoekom ek nie goed slaap as sy nie daar is nie, want ek weet sy gaan enige oomblik bel dat ek haar moet gaan haal.

      Hulle het my gesê sy mag nie huis toe kom nie totdat hulle die uitslag gekry het van ’n toets wat hulle doen om te sien of Miché hierdie gesteelde kind is. Een van die maatskaplike wer­kers het gesê sy sal haar na haar huis toe neem, en Miché was tevrede met dié idee. Dit het my beter laat voel.

      * * *

      Dit lyk asof Michael Miché se kwesbaarheid eerder as haar volwassenheid in die situasie onthou. Sy gesigsuitdrukking en herin­nerings is meestal sprekend van die verbystering van dié dag, en sy verslag is steeds deur skok vertroebel.

      In my poging om die storie breedvoerig te dek, en met Cassidy tydelik buite bereik, wend ek my tot die beamptes. Kolonel Mike Barkhuizen, gereken as Suid-Afrika se “top-polisieman” ten tyde van sy aftrede ’n paar jaar gelede, en die man wat benewens die Zephany Nurse-saak ook suksesse met die oplos van talle ander hoëprofielsake op sy kerfstok het, is net so goed met wegkruip as met uitsnuffel. Geeneen van my opspoorpogings – kontakte wat ek probeer bel het, Facebook-bekruipery of goed geplaaste lokaas – lei my na hom toe nie.

      Miché kyk skeef op toe ek voorstel dat ek met Leanna Goosen, die hoof- maatskaplike werker, praat. Al is Miché nie teen die idee gekant nie, is sy ook nie juis ten gunste daarvan nie.

      Die beste vis om in dié bepaalde net te vang sou Marshionette Jonkerman wees, in wie Miché ’n bondgenoot raakgesien het. Ofskoon sy ’n ruk laas met Miché in aanraking was, is Marshionette te vinde vir ’n onderhoud – hangende goedkeu­ring van die minister en die departement – en nooi sy my uit na haar werkplek. Dit is ’n kinder-en-jeugsorgsentrum in Stellenbosch, die dorp waar sy woon.

      Die termometer styg ’n graad met elke kilometer wat ek nader aan die beroemde Kaapse wynlande kom. Stellenbosch is vandag snikheet, en ek hoop van harte die privaat kantoor waar ek en Marshionette gaan gesels, gaan so koel wees as wat dit stil is.

      Dié inrigting van die provinsiale regering, wat onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val, lyk meer na ’n aanhoudingsentrum vir jeugdiges. Ek wonder of dit die soort plek van veiligheid is waarheen Miché op D-dag geneem is. Indien wel, is dit geen wonder nie dat sy haar daarteen verset het om daar oor te bly. Wanneer jy die doringdraad-omheinde terrein binnegaan, is dit moeilik om nie te voel asof jy die een is wat iets verkeerds gedoen het nie. ’n Uitkyktoring waak oor rye eenvormige behuising, en by die enkele ingangspunt word ek as besoeker aan ’n metaalverklikker, skandering van my aktetas en ’n vlugtige visentering deur ’n sekuriteitswag onderwerp.

      “Enige

Скачать книгу