Скачать книгу

’n eiland van kalmte, geloof en onvoorwaardelike steun gebied in ’n tyd toe Miché se eie ma uit haar omhelsing geruk is.

      Ek ontmoet Sophie in ’n stil restaurant anderkant Melkbos­strand. Ek kry gou die gevoel dat sy net bereid is om met my te praat omdat dit Miché se idee was. Haar nie-amptelike rol as vertroueling vir ontelbare leerlinge beteken dat haar vertroue swaar verdiend is, en sy neem nie daardie plig ligtelik op nie. Al sou dit al wees, verseker haar persoonlike erekode dat alle inligting beskermd is, en haar bereidheid om dit bekend te maak is teësinnig.

      SOPHIE BOTHA:

      Dit verbaas my nie dat jy teësinnigheid van my kant af opgetel het nie, want ek is nie gewoond aan goed soos dié nie – om oor ander mense se lewens te praat. Ek help kinders. Ek laat myself vergeet wat ek en wat hulle in ons gesprekke gesê het, want ek wil hul vertroue behou. So op die een of ander manier is ek geneig om aan te beweeg en te “vergeet”.

      Ek dink baie min mense weet dat ek by Miché betrokke was. As sy na my toe gekom het, was dit altyd by die skool. Sy sou deur sydeure inkom en sy wou dit privaat hou, want ek dink sy het genoeg gehad van die onsin en publisiteit en mense wat al daardie sensasie gesoek het. Ek wou hê sy moes veilig en geborge voel, om te kan deel en net haarself te wees, want in daardie stadium was Miché so verward – sy het nie geweet wat sy veronderstel was om te voel en aan wie se kant sy veronderstel was om te wees nie.

      Ek was 18 jaar lank ’n onderwyseres by Zwaanswyk. Ek het Afrikaans gegee, maar ek was altyd die “mammie” by die skool. Ek was betrokke by die Christenstudentevereniging, so al die afvlerk-voëltjies het na my toe gekom vir drukkies en wanneer hulle ’n behoefte aan liefde en steun en praat gehad het. Ek het wel ook ’n kursus in terapie gedoen net om my te rugsteun en te help. Die kinders het altyd geweet as jy ’n probleem het, gaan jy na juffrou Botha toe. Dis maar hoe ek is. Ek dink die kinders het aangevoel dat ek werklik omgee.

      Ek het Miché ontmoet toe sy in graad 9 was. Ek het haar vir Afrikaans gehad in graad 9 en toe ook in graad 10. Ek het haar dus leer ken voor al hierdie dinge aan die lig gekom het. Miché was baie geesdriftig oor haar godsdiens – sy is sterk in haar geloof, dis die soort huis waarin sy grootgeword het – en dit is wat aanvanklik ’n band tussen ons geskep het. In die klas het ek nie net Afrikaans onderrig nie, maar ook lewenslesse gegee. Nadat ek eendag een van my klein lewenspraatjies in die klas gegee het, het Miché my kom bedank en gesê sy wil nader aan die Here kom en dat dit vir haar nodig was om dié woorde te hoor. Van toe af was dit asof sy vry gevoel het om enige tyd na my toe te kom, net vir ’n drukkie of om hallo te sê of wat ook al. Selfs toe sy nie meer in my klas was nie, was ons nog na aan mekaar. Ons het ook vriende geword op Facebook, waar ek haar goed kon sien en sy myne. En toe het WhatsApp dit natuurlik nog makliker gemaak om te gesels.

      Miché was ’n lieflike kind, ’n normale tiener. Wat is normaal? Jy het jou voor- en teëspoed, dae wanneer jy wonderlik voel, ander dae wanneer jy die lewe haat. Miché was ’n normale tiener in daardie opsig, maar baie ordentlik en respekvol, met goeie maniere – niks verkeerd daar nie.

      Haar bynaam was Poppie. Dit het haar gepas en ek dink sy het daarvan gehou – Miché het soos ’n poppie gevoel, sy het spesiaal gevoel. As sy ’n brief of ’n boodskap aan my geskryf het, het sy altyd afgesluit met: Ek is lief vir Juffrou. Liefde, Poppie.

      Miché het baie vriende gehad en ek dink sy was nogal gewild by die seuns ook, want sy is ’n baie mooi kind met ’n aangename persoonlikheid. Ja, eenvoudig ’n lieflike mens. En dit het gelyk asof sy uit ’n baie goeie gesin kom. Ek het hulle nie dikwels ontmoet nie – miskien by ’n oueraand of iets – maar jy kon sien sy is baie goed grootgemaak.

      Haar kêrel, Sofia se pa, was ook in my klas. Hy was ook ’n lieflike kind, maar hulle twee saam – nee hulle twee saam? Nee. Jy kry dit in die lewe – twee mense, of selfs ’n hele klas, wat lieflik is as individue, maar sit hulle bymekaar en dit werk nie. Ek dink nie dit was ’n gesonde verhouding nie. Dit het my nie in die begin opgeval nie, maar namate hul verhouding gevorder het, dink ek nie sy was heeltemal gelukkig nie. Ek was op ’n tydstip baie na aan hom, toe hy in my registerklas was, en hy het dikwels met my kom praat. Maar hulle twee saam – nee.

      Ek het Miché van my bedenkinge oor hulle as ’n paartjie vertel. Ek was altyd eerlik met haar en ek dink dis wat sy waardeer het. Ek het nooit probeer om iets met ’n suikerlagie te versier nie. Ek sou vir haar sê: “Ek wil hê jy moet dink oor wat ek sê, dinge self oorweeg, en dan jou besluit neem.”

      Miché was nie in my klas in haar matriekjaar nie, daarom was ek aanvanklik nie daarvan bewus dat sy na die hoof se kantoor ontbied is om die nuus te hoor nie. Dit moes ’n dag of twee daarna gewees het dat al die personeellede ingeroep is. Hulle het ons vertel Miché is betrokke by ’n ondersoek na ’n kind wat jare gelede vermis geraak het, en dat hulle die uitslag van die DNS-toetse ontvang het. Ons is aangesê om versigtig te wees, om nie met die koerante te praat of kommentaar aan enig­iemand te gee nie. Ons moes op ons hoede wees om nie hierdie kind se identiteit in gevaar te stel nie.

      Die personeel was geskok. Dit was een van daardie verbluf­fende oomblikke waar jy net dink: Wat?! Ek droom seker! Al die onderwysers was verbysterd: Hoe op aarde is dit moontlik? Die kind was al vyf jaar lank by Zwaanswyk. Nou begin haar biologiese suster, wat sy nog nooit tevore gesien het nie, skielik in graad 8, maar hulle woon nie eens in dieselfde area nie – wat is die kanse? Ek meen, dis so ongelooflik dat so iets kon gebeur. Kan jy jou dit verbeel?

      My eerste gedagte was: As ek so voel, dink net wat Miché moet voel. Toe kontak ek haar ’n paar dae later en sê bloot: “Ek is lief vir jou, ek is hier vir jou.” Ek het haar glad nie uitgevra nie en dit net daarby laat bly, en sy het my gekontak wanneer dit vir haar nodig was.

      Daar was niemand met wie ek die saak kon bespreek nie. Ek verkies dit so. Ek praat nie oor iemand anders se besigheid nie, want as dié persoon met my wil praat, sal hulle met my kom praat. En dis wat Miché gedoen het.

      MICHÉ:

      Ek is daai dag weg by die skool met net my skoolsak, wat ek by die plek van veiligheid vir my daddy gegee het. Marshionette het vir my toiletries gekry en wat ook al anders ek nodig gehad het om by haar oor te bly, en ons het Stellenbosch toe gery.

      Marshionette woon in ’n baie lekker huis, en hulle was almal so verwelkomend en vriendelik, haar man ook. Ons het ons tuisgemaak en ek het gaan stort. Marshionette het my foon gehad. Toe ek uitkom, sê ek vir haar ek wil nou gaan slaap en het gevra of ek my foon kan kry. Maar sy wou dit nie vir my gee nie. So gaaf soos hulle almal daar was, het ek gevoel ek wil net my foon vat en my boyfriend of ’n vriendin of enigiemand bel en sê: “Kom haal my! Asseblief! Ek wil nie in hierdie drama wees nie.” Op daai stadium het ek gevoel jissie, ek wil net teruggaan na my lewe toe. Dis nonsens hierdie. Hierdie mense sleep my by hul situasies en hul ongelukkige lewens in. Ek het nie tyd hiervoor nie.

      Marshionette het gesê: “Jy kan nie jou foon kry nie, want daar is ’n ondersoek aan die gang en daar is moontlikhede. So dis hoekom ons dit nie vir jou gee nie.”

      Marshionette kon my altyd dinge laat verstaan. Ek onthou sy het op haar bed gesit en ek het gevra: “Kan jy ten minste dan asseblief net iemand vra om my klere, my grimering, my haar­droër en my haaryster vir my te bring – en my hoëhakskoene!” En sy het wel iemand gevra om daai goed te gaan haal.

      In dié tyd het ek reeds ’n gevoel gehad soos meisie, jy gaan nooit weer dieselfde wees nie. Maar hoe gaan jy dit hanteer? Dit was my ding. Hoe gaan jy deur dit kom? Ek het na myself in die spieël gekyk en vir myself gesê ek lyk soos my pa se mense, ek lyk nie soos hierdie ander nie.

      Daar in haar kamer het ek vir Marshionette gevra: “Dink jy ek lyk regtig soos dié mense?”

      “Jy lyk wel soos hierdie mense. Ek is maar net eerlik. Jy wou ’n antwoord hê – ek dink jy lyk inderdaad soos hulle.”

      Maar vir my is sien glo – en ek het dit nie gesien nie, of wou dit nie sien nie. Daai nag het ek in die bed gelê en huil. Ek het die hele nag gehuil. Ek was soos: “Ek wil my foon hê, ek wil huis toe gaan, ek wil my ouers hê, my vriende wonder seker waar ek is en wat aangaan, die onderwysers is seker so verward. Ek is so verward!”

      Die

Скачать книгу