Скачать книгу

en die groot swelle loop die skuit toe, maar hy loop ónder deur die branders.”

      Daar was wel ’n nag buite Saldanha toe hy die mans moes wakker maak om te sê hy kan nie meer die skuit bo water hou nie.

      “Die radio het gewaarsku daar kom ’n gróót see. Ons het ’n kans gevat. Rooi-oog hóú van wind en jy word mos betaal vir wat jy inbring.

      “Ek was later sopnat agter die stuur. Dit was soos in ’n ak­warium. Ek kon niks in die sproei sien nie en kon net op die radar staatmaak.”

      En op die Here. “’n Man is ’n snaakse ding. Vistermanne is ’n harde lot. Ek erken as ek bang is. Ander ouens hou hulle bietjie dapper. Jy sê dit nie vir mekaar nie, maar jy bid. Soos jou pa en jou oupa voor jou.”

      Hulle het deurgekom. En Saks het met nuwe oë gekyk na die geloofsbelydenis van ’n visserman, geskryf deur ds. Kotie Kritzin­ger van Laaiplek, wat hy by sy bonks in die skuit opgesit het. Ek glo in Jesus Christus; die Stuurman van my boot; Wat deur donker nagte en toemis heen my boot stuur op die baken van veiligheid; Na Wie die winde en die golwe luister en stil raak op sy bevel.

twirl.jpg

      In sy boek As die Skipper op die voorstewe staan skryf Johnnie Eigelaar, bekende in die visbedryf: “Wanneer dit stormweer is, stoot die ys-grys branders woes uit die noordweste en slaan met mag teen die strand, soos dit seker al miljoene eeue doen. Dan spoel daar allerhande vreemde goed op die wit sand uit. Skepe en skuite moet versigtig vaar om die stormwoede te oorleef. Baie het dit nie reg­gekry nie, en van hul bemanning het ook omgekom. Die Weskussee het baie stories om te vertel oor sulke skuite en hul manne.”

      Op St. Helenabaai gaan gooi ek nog ’n net uit in Jaloersstraat by Ferney Dipaola (71) wie se kleinseun Michael (21) nou die vyfde geslag Dipaola op die Weskus-waters is. Ferney se oupa het ná die Eerste Wêreldoorlog uit die vissersdorpie Barletta in Italië hierheen gekom.

      Teen die muur hang ’n foto van Duinekis, 360 ton sardiens aan boord.

      Ferney was al op 16 ’n skipper, maar sedert hy in 2000 van die see af is, kyk hy net vanuit sy huis hoe die skuite inkom en uitgaan. “Ek gaan sit selfs anderkant die huis om liewers na die berg te kyk!” grap hy.

      Hy onthóú die buite staan in slegte weer om die vis in die brandwater (fosfor) raak te sien, die nat as hulle die druipende nette intrek.

      Al wat lekker van die winter was, sê Ferney, is as jy seker was daar’s onweer op pad – “dan het jy ’n geldige rede gehad om tuis te bly. Ons was lang tye weg.”

      ’n Engel was hy beslis nie, skerm hy. “Maar jy móét glo op see; jy is net té uitgelewer. My broer Amil se boot het uitgebrand en drie maande later het die skool masbankers in die net sy nuwe boot omgekeer. Gelukkig het die ander skuite gesien sy lig raak weg.”

      Hy grinnik. “Vistermanne … Sondae as hulle moet klim, het die een ’n rug en die ander een ’n maag. Een ou het in ’n storm na die Here geroep, maar veilig aan wal het hy sy half-jack uitgepluk en gesê: ‘Die duiwel is darem self nie ’n sleg kêrel nie …’”

      By Cape Columbine wag vuurtoringwagter Japie Greeff ons in. Dis sy agste toring in 32 jaar. Die afgeslote, spokerige mistigheid is sy soort wêreld.

      “By Kaappunt loop jy soms op jou knieë werk toe in die wind, maar ek asem sonder twyfel van die skoonste lug op aarde in.”

      Laatmiddag stap ek nog langs die silwernat strand op Paternoster tot by ’n groepie mans, hulle oë vasgenael op die see.

      “Ons kyk al jare lank hier harders,” lig een my in. Sy jonger maat stamp aan hom vir ’n teug aan die sigaret wat hulle deel.

      Lang linte voëls gee vlugvertonings oor die see op pad na hulle neste. Dit is naby donker. Daar hang ’n misbank oor die see. Die jongetjie ril effens onder sy dun hempie.

      “Nee wat,” glimlag hy, sy oë deurentyd op die water. “Die winterweer pla nie regtig nie. Solank die vis net byt …”

      2011

      Simon is terug

      Katinka Heyns en Simon Barnard

      “My oudste seun Reghard het eenkeer vir my gesê: ‘Ma, die grootste geskenk wat Ma my kan gee, is om gelukkig te wees.’”

      Onder haar rooi hoedjie blink Katinka Heyns se blou oë. Geluk is soms net so ’n vervlaks veraf ding.

      Sy sit klein daar in haar stoel. Maar regop. Die swaargewigre­gisseur van trefferflieks soos Die storie van Klara Viljee en Paljas. Nou weer Die Wonderwerker. Gevierde aktrise. Skrywer Chris Barnard se vrou. En ook Simon se ma.

      Hy by wie se liggaam sy vyf jaar gelede buite haarself van angs en wanhoop moes loop buk nadat hy die veld ingeloop het om homself om die lewe te bring.

      Agterna kon hy omtrent niks onthou nie. Net dat daar ’n oom­blik gekom het toe alles te veel geword het. Toe die eerste instink was om al die pyn af te sny.

      Bipolêre gemoedsversteuring is ’n boelie. Een wat stukkend breek. En party so moeg maak dat hulle iewers die wrede wipwa-rit tussen hoog en laag verloor.

      Simon (30) was een van die gelukkiges. Hy het bly leef. En hy kon medikasie kry wat hom in so ’n mate gehelp het dat hy kon gaan doen wat hy, soos sy ouers, die beste doen: om ’n verhaal te vertel. Sodat hulle pyn die begin van hoop vir ander kan wees.

      Die outobiografiese materiaal in die dokumentêre program Living with bipolar disorder wat hy en sy ma saam gemaak het, het vir duisende kykers ’n onthutsende prentjie gebied, maar dit kon ook groter insig bring. Dit word deesdae in senuklinieke aan pasiënte vertoon. Jy kan tog nie herken wat jy nie weet nie.

      Vandag sê Simon hy wou help om die stigma te verwyder wat aan ’n geestessiekte soos bipolariteit kleef. “Ek het gevoel al kan ek net een mens daardeur help, sal dit al die moeite werd wees. Daar móés net iets goeds uit hierdie nagmerrie kom. Ek het besef as ek destyds al hierdie inligting gehad het, kon dit my en my gesin ’n klomp pyn gespaar het. Dis iets wat jy nie moet onderskat nie.”

      Hy sug, gaan haal sy asem van iewers ver af in en sê dan net: “Dit voel alleen. Verskriklik alleen. My ouer broers het eers later begin begryp. Wat op die oog af kon lyk na jeugdige weerbars­tigheid of slapgatgeit het ’n rede gehad.”

twirl.jpg

      Simon was van kleins af ’n dromer, ’n kind wat baie in sy eie verbeeldingswêreld geleef het. “Ek en sy pa het albei ’n melankoliese streep en dit was dus nie vir ons vreemd as hy ure lank teken of in die veld verdwyn nie,” sê sy ma.

      Hy is Stellenbosch toe om grafiese ontwerp te studeer, maar ie­wers langs die pad het ’n depressie begin toeslaan. “Ek was deurmekaar en vergeetagtig. ’n Mens begin sosiaal onttrek omdat jy vrees jy kan ’n verleentheid vir jouself veroorsaak of mense vervreem. Alles bedreig jou omdat jy nie in beheer van jouself voel nie.”

      Hy het angsaanvalle begin kry. “Omdat ’n mens nie inneem wat rondom jou gebeur nie, raak alles net al meer chaoties. Ek kon nie werk nie. Ek kon nie eens my kamer opruim nie. Ek was later nêrens nie. Nie in die klasse nie en ook nie by die kuierplekke nie. Ek het net in my kamer bly sit en Bybel lees en bid in die hoop dat dit my sal help.”

      Hy is dokter toe. En is soos baie voor en na hom met gewone antidepressante huis toe gestuur, iets wat ’n maniese episode by iemand wat bipolêr is, kan veroorsaak. Dis wanneer die loodswaar, moeë, grys gevoel plek maak vir euforie en ’n teruggetrokke mens verander in ’n flambojante een sonder brieke.

      “Jy voel wonderlik geïnspireerd en kreatief. Maar alles is net té. Jou inhibisies gee pad, jy praat sonder ophou, raak bombasties en beterweterig, en doen impulsiewe, ondeurdagte dinge soos om geld te verkwis. Aanvanklik kan jy mense met jou hiperaktiwiteit op sleep­tou neem, maar dan begin die grandiose toestand vreemd raak, maak dit mense bang oor wat jy volgende

Скачать книгу