Скачать книгу

      Hy frons, neem nog ’n sluk koffie. “Maar Afrika het ’n skrikwek­kende kant. Mense maak mekaar hárd dood. Jy voel soms vreemd waar jy nou is en hoe meer noord jy beweeg, hoe rowwer raak dit. Ek probeer die land vir myself verduidelik deur daaroor te skryf.”

      Dit neem my terug na ’n leeskringbyeenkoms in Durbanville ’n week vroeër. ’n Vervaarde Dana, laat omdat hy verdwaal het en hulle hom by die polisiekantoor moes gaan kry, is die spreker. “Ont­hou net, julle is nie hier oor Dana nie. Julle is hier omdat julle lief is vir stories,” begin hy half voel-voel.

      Maar die groep (oorwegend ouerige) vroue hang aan sy lippe, vra inderdaad later soos kleuters voor slaaptyd vir gunstelingstories. En Dana vertel. “Julle weet mos die aarde draai om die ge­bede van ouerige tannies. Mans haak uit, gaan jag, steek mes. My ma was so ’n ACVV-tannie,” breek hy opnuut by baie harte in.

      “Ek dink nie ek het al ooit weer so veilig gevoel soos tussen daai jolige ACVV-tannies in die bussie op pad na Barkley-Wes se kinderhuis toe nie,” gaan hy ongestoord voort. “Vroue met halleluja’s op hulle lippe en oorgehaal, grétig om goed te doen. Almal so vrólik. Solank hulle tog net kan dién!”

      Dis doodstil in die volgepakte saal. Dana die storieman vertel van die talle tannie-trane oor die kinderhuiskinders, die manier waarop die krimpelien-rokbrigade hul blydskap onder die kinders gaan plant het. Hy praat soos hy skryf: “Teen die tyd dat die bus uiteindelik weer vertrek, kry die eerste kind reeds ’n galaanval van die oordaad van die besoek …”

      En sy gehoor in die moderne, lugverkoelde biblioteeksaal ry mee­gesleur sáám in daardie stowwerige bus – hulle ruik, voel en kén daar­die tannies met die goeie harte.

      Jy skryf met ’n sagte hand? vra ek ’n week later. “Jaaa,” gee hy huiwe­rig toe. “Maar ’n mens is bang vir valse simpatie. Op jou klein maniertjie is jy as skrywer ook mos ’n skepper, skuif jy ook maar mense rond.”

      Dis meer as ’n uur en twee sarsies koffie later. Die beskuit is amper op. Ons is traag om te vertrek. Teen die muur is ’n foto van een van die honde alleen op ’n eindelose grondpad. Nog ’n entjie verder hang ’n treffende skildery, ook van ’n pad wat tot in die verte strek. Bokant die kaggel is ’n enkel, skuins houtkruis van dryfhout.

      Ek en my man groet, onderneem om weer te kom. Dit was goed om seelangs saam te loop. Iets in Dana laat jou glo dat selfs wanneer hy so ’n bietjie voetpad mag misloop, hy nou-nou weer oor die oopte op die regte pad aangestap sal kom.

      Deesdae is dit weer net hy en sy honde en sy woorde in die huis op Jacobsbaai. En soms, net soms, begin die woorde op ’n vreemde manier ook in die wind wieg.

      2011

      Vrede op Shalom

      Angus Buchan

      Dis ’n weeksoggend, maar dit lyk soos ’n Sondag in die doopkamer op Shalom, Angus Buchan se plaas in KwaZulu-Natal. Sy drie dogters, twee skoondogters, drie klein­dogters én vier kleinseuns is bymekaar vir ’n woelige fotosessie op versoek van die tydskrif Lig. Die glimlaggende oupa het vooraf gewaarsku die fotograaf sal moet gou speel. Drie van die jong mighty men is nog in doeke …

      Dis ’n gemoedelike, onderling gemaklike klompie daar in die somerhitte. Angus, ge-hoed en ge-denim, Bybel onder die blad, is soos altyd in die middel van als.

      Vir die foto’s staan hy breëbors met die twee jongstes, Josiah en Ruben, op die arm. Duidelik op sy gelukkigste tussen sy kleinkin­ders. En op sy plaas – daar waar almal teen dié tyd deel van die familie is – van Peggy en Moyra, hul bejaarde voorbidders, tot die jongste kind in die kinderhuis en in die skool op die plaas.

      Van sy rol as die hoof van dié uitgebreide familie sê hy: “Ek mag nie doen wat ek wil op Shalom nie: Ek moet, soos almal, kan reken­skap gee van my dade teenoor van die jongste tot die oudste. Ons bid saam, ek luister na wat almal sê en dan gaan soek ek alleen die Here se leiding. Vele bedienings het al op mislukking en skandale afge­stuur, omdat almal nie verantwoordbaar teenoor mekaar gehou is nie.”

      Terwyl nog foto’s geneem word, begin ek met die twaalfjarige Kyla gesels. “Waarvan hou jy die meeste in jou oupa?” vis ek.

      “Hy maak ons bly,” kom dit sonder om te dink. En dan: “Hy is nooit knorrig met ons nie.”

      “En julle ouma?”

      Haar sus Jaimee (9) staan nader. “Sy laat ons teken en luister graag na ons.” Die ernstige gesiggie gaan oop in ’n glimlag. “Ons drink báie koppies tee daar. Ouma is vriendelik en sag.”

      Hul kunssinnige gogo (Zoeloe vir ‘ouma’) – het besluit om haar nie aan publisiteit bloot te stel nie om haar en haar gesin te beskerm. Maar sy is ’n voorbidder – een van wie haar man sê dat sy sy krag en steunpilaar is, die warm hart van sy huis.

twirl.jpg

      Die nag voor die onderhoud kan ek nie slaap nie. Februarie in die groen, groen land van Natal is drukkend warm. Ek begin lees in Buchan se boek Faith like Potatoes wat op my bedkassie lê.

      Toe ons die volgende oggend die grondpad na Shalom Ministries dig­by Greytown vat, is ek aan die einde van die boek: “As kinders van die lewende Here volg ons met die genade van God in die voetspore van Livingstone. Ons moet die saad van die Woord tot in die verste uithoeke van die land gaan strooi. Ons vertrou sy Heilige Gees vir niks minder nie as ’n ontwaking in Afrika.”

      Die boek is ’n sobere vertelling van ’n merkwaardige verhaal, een wat ná die eerste verskyning daarvan in 1998 opgevolg is deur gebeure wat Angus Buchan se lewe net nog meer ’n rolprentagtige kwaliteit laat kry het.

      Ek loop die hartlike man aanvanklik nietemin met meer as ’n tikkie voorbehoud tegemoet. Benewens my ingebore versigtigheid vir massasaamtrekke weet ek ook ná jare in die joernalistiek dat keisers en konings helaas dikwels met kaal lywe en kleivoete rondloop. In die kantaantekeninge van my kop spook talle beelde wat die media in sy beriggewing oor hom en sy buitengewone bedie­ningsverhaal oor ons kom uitstort het. Iets waarteen ek nou my eie waarneming moet kom probeer meet.

      Ons gesels in die klein vergadersaal waar 26 mans die vorige jaar begin het om ’n Mighty Men-byeenkoms te organiseer. Iets wat uiteindelik 200 000 mans van oraloor na Shalom laat stroom het. Hopeloos te veel vir die grootste tent in die wêreld wat spesiaal vir die 2008-byeenkoms in Engeland gemaak is. Dit was toe reeds veels te klein vir die meer as 30 000 mans wat gekom het. Buchan sê in ’n fotoboek van die laaste byeenkoms: “Die Mighty Men-byeen­komste is nie ’n jaarlikse gebeurtenis nie. Nog minder was dit bloot iemand se goeie idee wat ten uitvoer gebring moes word. Dit was God se idee. Niemand by sy volle verstand sou verwag dat 200 000 mans van oraloor hier vir ’n week sal opdaag net ter wille van ’n goeie idee nie. Wat nog te sê om na ’n man te kom luister.”

      Die netjiese eenvoud van Shalom val my uit die staanspoor op. Dis soos ’n onpretensieuse kombuis waar die tafelblad skoon, die stoele sterk en die geure goed is. Orals teen die mure hang plakkate van Regardt van den Bergh se rolprentweergawe van Faith like Potatoes en foto’s wat vertel van verlede jaar toe drie boere hul plase be­skikbaar gestel het om ’n kampeerarea van 2 700 000 m2 vir ’n miernes van mans in te rig. Vanjaar soek jy ook verniet na die be­roemde aartappel- en mielielande op Shalom – vir die laaste MMC moes die gewasse vir eers weer plek maak vir onder meer paaie, sitplekke, storte en toilette. “Ek het mos my plaas, my tjekboek én my skuld aan die seuns oorgegee. Dis steeds ’n kommersiële boerdery. Maar deesdae plak ek net op die plaas,” skerts Angus. En sê dan ernstiger: “Ons het nog nie ’n waarborg dat ’n enkele man gaan opdaag nie, maar ons vertrou die Here.” Hy bly ’n oomblik stil; sê dan peinsend: “Waar duisende mans amen sê, skud die grond.” En dan vervolg hy afgemete: “Dit het absoluut níks met my te make nie – daar is nie ’n spre­ker in die wêreld wat soveel mans kan lok nie.”

      Met die aanskakel van die bandopnemertjie vir ’n skyfie van sy besige lewe, haal hy sy hoed af en vra of ons eers kan bid. Vir seën op ons gesprek, vir moed vir sy besoekers om

Скачать книгу