Скачать книгу

Donald Trump-gebou hurk ’n koulike hopie straatmense onder komberse by die kerk se ingang. Hulle sit kop on­derstebo, rûe gekeer na die haastige verbygangers op die sypaadjie.

      Pas in die skemerdonkerte van die kerk, breek ’n woedende bran­der dissonante klanke uit die orrelgalery oor my kop. Vir ’n oom­blik wil ek padgee, maar bly dan tog staan. Gelukkig ook. Want hoe langer ek luister, hoe meer begin ek begryp. Dié musiek weer­kaats bloot die kompleksiteit van hierdie wêreldstad met sy mil­joene uiteenlopende mense wat heeltyd teen mekaar skaaf en skuur. Trouens, dit is asof die ongewone mengelmoes klanke skielik in so ’n mate sin maak dat dit my onverwags ontroer.

      Terug by die huis gebeur iets wat my weer hieraan laat dink. Suid-Afrikaanse kunsfliekgangers stroom na teaters om na As it is in Heaven te gaan kyk. Aan die einde van ’n vertoning klap gehore spontaan hande. Weke daarna preek predikante nog oor die verhaal van ’n beroemde Sweedse dirigent wat, dodelik siek, terugkeer na die dorpie waar hy grootgeword het.

      Teensinnig neem hy die afrigting van die dorpskoortjie oor en ontsluit in die proses verborge talente. Die koorlede – gekweste mense soos die dirigent self – ontdek elkeen weer ’n eie, unieke stem en ’n gevoel van eiewaarde. Daarby begin die musiek om hulle aan mekaar vas te speld. Slykerige, visdammetjie-enkelinge raak nou dapper medestryders in ’n see van harmonieë. En die gety begin alles skoon spoel.

      Die dirigent lei hulle om elkeen ’n eie noot te vind. Iets wat daartoe lei dat, toe hulle dit saam begin doen, die individuele note in ’n wolk van klank verander wat almal verbyster.

      Die kleindorpse koor gaan neem later deel aan ’n groot kompetisie en raak die gehoor aan met hul boodskap dat elke mens ’n bydrae tot die groot akkoord van die heelal kan lewer. Dit word ’n lewende bewys van wat die trompetspeler Louis Armstrong by ge­leentheid gesê het: “’n Noot is ’n noot in enige taal. En as jy die noot kry – pragtig!”

      Aan die einde van dieselfde jaar neem ’n vriendin een Sondag­oggend haar bejaarde pa saam kerk toe. Die Tygerberg Kinderkoor sluit hul reünie-naweek af met ’n optrede deur ’n massakoor; die groot kerk is stampvol. Christa se pa, ’n suksesvolle sakeman wat deur ’n beroerte verlam is, sit in sy rolstoel en luister.

      Dit is uit die staanspoor ’n aangrypende diens. Die “Ons Va­der” word met treffende handgebare uitgevoer. Koorlede steek kerse aan vir die 17 oudkoorlede wat in die 35 jaar van die koor se be­staan oorlede is. Die laaste persoon se naam wat uitgelees word, is die vermoorde Inge Lotz s’n.

      Aan die einde van die diens sing Minette du Toit-Pierce die hart­roerende “Gabriella’s Song” uit As it is in Heaven. En, soos in die rolprent, nooi dirigent Hennie Loock die gemeente om elkeen met ’n eie noot aan te sluit, ’n katedraal met klank te bou. Die musiek swel geleidelik, voller en voller, tot in ’n reuse-Hosanna – met elk­een se eie skerfie klank, drome en sugte wat deel word van die grootse akkoord wat hemelwaarts klim. Wêrelde vloei inmekaar, koor en gehoor nou saamgesmelt in een verruklike see van klank. Almal jubel dit uit vir ’n gehoor van Een.

      En in hierdie kortstondige blik op volmaaktheid sing die man in die rolstoel wat sy spraak sedert die beroerte kwyt is, tot sy verstomde familie se verbasing ’n helder, suiwer noot. Vir ’n klein, genadige rukkie op aarde soos in die hemel: nuut, heel én déél.

      2008

      Sout in die are

      “Ons leef van die see. En ons leef op hoop,” sê ’n visserman van Lambertsbaai nou een oggend oor die radio. Sy stem is skor van jare se skree bo baie branders uit. Uit my Weskus-kinderdae weet ek sommer hoe lyk sy hande – eelterig van nettrek, die vingernaels geskeur van robslaan, kreefvang, masbankerkrap en snoekvlek.

      Die manier waarop hy sy r’e skraap, ryg skielik die herinne­ringe soos ’n rytjie bokkoms voor my in. Die skielike toeslaan van ’n misbank; die diep, veraf brul van die mishoring; berigte van skepe wat in die moeilikheid raak as die “noord” (noordewind) hulle vastrap. Vissers en skuite wat skommel tussen skeptyd se volop en droëbek omdraai, hoog- en laagwater, deinings en trôe. En die see, in Langenhoven se woorde, die een dag nog ’n groot, wye glimlag, maar oormôre ’n onherkenbaar woeste, dronke derduiwel.

      My sending is om te gesels met vissers, tegelyk konings én knegte van die kus, wat in die winterweer as ander dig maak selfs dik swaarweer om den brode bly trotseer. Omdat hulle na die see kyk vir kos.

      Ons vat die pad Weskus toe. Daar waar die visbedryf vroeër die slagaar van talle dorpe was. Met die see nog net ’n werk-see. Vakansie-see en toerisme het later gekom.

      Op Laaiplek koop ons gebakte stokvis en slaptjips by Eigevis, en eet dit waar die Bergrivier in die see uitmond. Dis ’n mooi dag en die snoek loop. Die meeste bote is reeds van die vorige nag af uit. Op die jettie is net die bekende soutreuk, pelikane, ’n streep seemeeue en enkele vissermanne. Ek staan nader in die hoop om ’n storie of twee uit te trek.

      “Ja-nee, dis séér in die winter. ’n Mens se hanne … Maar die see is soes ’n léwe; jou pa het dit gedoen, jou oupa het dit gedoen,” probeer een verduidelik tussen vlek en mootjiemaak deur.

      “Jy vat die skuit, soms drie-uur in die oggend, en jy kom die aand laat eers terug, by tye met niks. Maar môre is jy weer terug in die see; dalk byt die vis vandag opreg …”

      ’n Entjie verder bind Willem Claassen, Gert Bester en Willem Snijders die hardervangs in bossies.

      ’n Boepensdogtertjie uit Welkom in die Vrystaat kom staan by ons. “Kyk hoe mooi blink die vissies se lyfies!”

      “Ja, hulle het net nou nog geswem,” antwoord ek.

      Die ronde gesiggie versomber. Willem die Eerste neem gelukkig oor. “Kyk, jy moet verstaan. Ek en jy haal bo die water asem. Húlle,” beduie hy vlekmes in die hand, “se asem is ónder die water.”

      Sy woord dra meer gesag as myne. Sy lyk getroos.

      Dis vir hom lekker op die “skuide”, vertel hy.

      Selfs as die noordwes ruk, Willem, op ’n kwaai see waar ’n bran­der met geweld oor ’n skuit kan breek?

      Hy lag. “Ek is mos ’n Weskus-kind! Kyk, vis is kos. Pety dae gaan jy see toe en daa’sie vissie. In die winter kan jy soms glad nie innie see kommie. Ons praat van die ‘agt dae noord’. Werk kan vir mý nee sê, maar ek kan nie vir hom nee sê nie.” Hy trek sy hande in soos een wat net trek. “Daarom vat ek hom as hy kom. Ons slaap innie winter sommer hier op die jettie langsie vuur wat ons brandmaak as ons wag virrie bakkies om in te kom. Die mense in die kantore – hulle wetie van sout of water nie.”

      En hou jy aan met glo, Willem?

      “Ma Mevrou, jy kan mos nie sonner jou safety belt of Hom oppie see nie!” Sy maters knik instemmend. “Hulle sê die see is ’n vrou; sy gee maar sy vat ook baie mans se lewens,” sê een. “Die noord staan soms skerp op. Dan is daar ’n ongeluk en die see spoel jou nie terug nie. Néé, Mevrou, jy gaan nie sonnerie Jirre see toe nie.”

      Ek groet teensinnig, my bossie harders agter in die motor. Ons ry verby Die Vis Vlekhuis en die SA Visserymuseum met sy walvisskedel in die skulpiestuintjie.

      Bernhard (Saks) Thiart kom ons by sy voorhekkie tegemoet. “Almal hier het byname,” sê hy. “In die museum vertel hulle van Piet Beweboudjie en Johannes Skroefies. As kind het hulle gesê ek is so vet soos ’n sak vismeel!”

      Saks was vyf toe hy die eerste keer uit see toe is saam met sy pa, wat soos sý pa voor hom ’n skipper was. Vandag is hy ’n stuurman op Vegkop, ’n pelagiese boot. Die sardyn loop en almal is uit op die see, maar Vegkop het dringende herstelwerk nodig. Hy kriewel.

      Met vandag se bote, instrumente en weervoorspellings is dinge makliker, maar dit bly riskant. “Die wind waai soms tot 55 knope by Kaappunt. Een van jou grootste gevare bly maar dat jy kan gly en val as die skuit in ’n onstuimige see rol. My pa het egter destyds sy afvinger verbind en nog twee gooie gemaak tot die boot vol was.”

      Hy wás drie jaar by Sasol, “maar die water was te laag vir

Скачать книгу