Скачать книгу

“My kleinkinders wéét wanneer hul kuhlu (Zoeloe vir ‘oupa’) gelukkig is, maar ook wanneer hy ongelukkig is. Ek laat nie toe dat hulle kanse vat met hul gogo nie.”

      Hoe verder ’n mens na hom luister, hoe meer besef jy dié man se vrymoedigheid is dalk soms ’n swakheid, maar terselfdertyd is dit iets wat hom so gerusstellend deursigtig maak.

      Dis nie ’n steil klim na die ware Angus toe nie. Hy praat die grond- en veldtaal van ’n boer, nie van ’n predikant nie. Soos baie van die mans wat na hom kom luister, is hy beter vertroud met die praktiese wysheid van bome, bosse, grasse, ruigtes, vleie, riviere, sade, klippe, diere en landmerke. Een van sy gunstelingsêgoed – “goeie saad kos nie duur nie; dit betaal” – het hy hoeka van ’n saad­maatskappy gesteel, vertel hy.

      Die hardwerkende boer wat prediker geword het, die jong man vir wie die kerk ’n saai plek was tot sy geloof sedert 1979 soos ’n rivier deur hom begin loop het, is gevoelig vir wat agter die konkrete werklikheid lê. Maar terselfdertyd nie méér godsdienstig as wat hy menslik is nie. Net diep, diep oortuig.

      Sy program is stampvol. Maar soggens gaan haal hy sy energie, sy léwe, tussen vier en halfnege in die Woord onder die wye koepel van stilte en uitgestrektheid op sy plaas. Dikwels tussen die mielies in sy “groen katedraal” waar die Here deur die wonder van wolke, son en reën met hom praat.

      Dis vir hom swaar om weg van sy geliefde Jill en Shalom (Hebreeus vir ‘vrede’) te wees. “Ek voel dikwels ingehok deur geboue en besige lughawens. My gees kan nie gedy soos in die oop ruimtes tuis nie.” Maar nou het hy al geleer hoe om in die middel van ’n skare ’n klein weg­kruipplekkie in sy gedagtes te vind waarheen hy hom kan terugtrek.

      In ’n stadium lui sy selfoon. Hy vra om verskoning; skakel dit af. “Hierdie ding, soms so ’n seën, kan maklik ’n derde party in ’n huwelik word,” sê hy beslis. “Ek neem dit nooit saam huis toe nie.”

      Tyd saam met hul familie is vir hom en Jill belangrik. “Ons vertel vir die kleinkinders die stories van Shalom; hoe ons ons huis in die Zoeloe-tradisie met modderstene en gooipleister gebou het; hoe ons die velde skoongemaak het om te kan plant en hoe ons eerste os ’n groot kam­pioenskapsbyeenkoms gewen het.

      “Hulle is lief om hierna te luister en leer op dié manier om op God te vertrou. Die kinders sien, nes ons plaaswerkers, dat ons sterkte in die Here lê.”

      Elke Woensdagoggend kom alles op die plaas ’n uur lank tot stilstand. “Waar mans werk, wérk hulle. Maar waar hulle saam bid, werk God.”

      Hy het al te veel gesien hoe duisende mans – van luistervinke tot loer­broers – arms gevou gaan sit, elkeen met sy eie ballasmandjie vol vrae en vrese. Sy gemoed skiet vol wanneer hy sê: “En dan kom eers die arms af, dan die hoed en dan gaan die man op sy knieë …”

      Ons land se algemene herstel moet by die herstel van gesonde gesinne begin. “Jy begin nie by die regeringshoof of sy poligamie nie – jy begin in jou eie huis en met jou eie gesin.”

      En wat sê hy vir die baie huishoudings wat lank nie meer ’n tra­disionele gesin is nie? “Dat Jesus die Vader van die huis kan wees; dat Hy, soos in die Bybelse tye, steeds die weduwees en die wese kan versorg en beskerm.”

      Angus, jy het verlede jaar die Saterdagaand van die MMC op die verhoog ineengestort. Jou familie en die mediese personeel het gedink jy is besig om te sterf …

      Hy wys my die verslag waarin die paramediese beampte, Hans Hartmann, sê hy was seker Angus is sterwend. “Angus se familie was aan sy sy. Sonder paniek of vrees. En met soveel vrede – almal oortuig daarvan dat Angus op pad is na sy hemelse bestemming.”

      Maar by die byeenkoms het duisende verslae mans saam begin bid. Die volgende oggend kon ’n gesonde Angus hulle weer toe­s­preek, met ’n kragtiger getuienis as ooit. Hiervan sê Hartmann: “Ek moet óf weer gaan studeer omdat ek ná 25 jaar geen idee het van wat ek doen nie óf aanvaar dat God wonderwerke doen. Die gebeure het my oortuig van laasgenoemde.”

      Ná Angus se optrede by die SA-gemeente in Londen verlede jaar sê dr. Ockie Raubenheimer: “Daar is by my geen twyfel aan Wie se kant Buchan en sy bediening staan nie.”

      Ek kan net met groot nederigheid daarmee saamstem: Shalom het ook vir my finaal vrede hieroor gegee.

      2010

      Drome in ’n Bosch

      Esias Bosch

      “Leandra se oupa is ’n pottebakker,” skryf Andrée Bosch in 1991 in ’n kinderboek getiteld ’n Blou kameelperdjievir Oupa.

      “Hy en Ouma bly bo-op ’n rotserige rantjie, ver buite die dorp. Daar is tarentale, bloukopkoggelmanders, likkewane en baie soorte wilde blommetjies in die veld om die huis. En daar is ook twee skoppelmaaie wat Oupa spesiaal net vir Leandra en haar nefie Sias gemaak het.

      “Dis vir my prinses en my voorman,” het hy gesê. “En dis lekker hoë skoppelmaaie sodat julle hoog kan swaai en met jul tone aan die wolke kan raak!”

      In Julie 2008 sien ek dié storie kom so reg uit daardie einste dik, wit wolke van Andrée se Laeveldse grootwordwêreld.

      Naby Witrivier neem ’n stamperige paadjie jou inderdaad na ’n plek met die naam “Die Randjie”. Daar waar Andrée se pa, meesterpottebakker Esias Bosch, op ’n granietkoppie met kiaatbo­me woon en werk. Jy sien dadelik Die Randjie is, soos die man daaragter, handgemaak. Enig in sy soort.

      En ja, dit is soos uit ’n boek. Juis omdat alles so uit die aarde is. Oor jare geduldig gebrei en gevorm deur mense wat die asem van berg, graniet, boom en gras met hulle saamdra.

      ’n Bosch-droom wat waar geword het. ’n Afgewerkte randjie.

twirl.jpg

      Op 86 is Esias elke dag nog waar hy die graagste wil wees – in sy ateljee en naby sy kinders.

      “Langs die huis is Oupa se werkplek waar hy bakke, borde, kruike, vase en groot teëls van klei maak,” skryf Andrée. Daar waar sy kleinkinders, Leandra, Sias, Melissa, Nini en Lisa, nes hul ouers vóór hulle, op hul lekkerste kan speel. Want: “Oupa raas nie as hulle liewer op die sementvloer as op papier wil verf nie. En as hulle al hul klere uittrek en op hul lywe verf, lag hy net.”

      Moontlik omdat hierdie oupa sê dis in ons masjien- en tegno­logies-gedrewe tyd vir hom ’n wonderlike seën om steeds met sy hande te kan werk. Hy maak bykans elke dag iets wat vroeg in die oggend nog nie daar was nie.

      Die heel lekkerste is om saam met hom oond uit te pak. Dan hurk hy in die afgekoelde oond se deur en leun binnetoe. En elke keer nadat hy so daarin verdwyn het, kan jy maar weet hy kom met nog ’n verrassing daar uit.

      Sulke tye sou Leandra en Sias dan sommer om die lang werktafel van pure opgewondenheid begin dans. En dan “dans Oupa saam sodat sy voorskoot vol kleikolle wapper”.

      Nou is Leandra en Sias groot, en hul oupa bejaard. Maar hy maak nog steeds met dieselfde afwagting oonde oop. Net nie meer vir sy eie werk nie.

      Deesdae laat hy die kwesbare keramiek aan sy ander twee ta­lentvolle kinders, Anton en Esra, oor.

      Esias is sedert sy tagtigste verjaardag terug by dit wat hy as uitblinkerstudent die meeste geniet het: om te skilder. Sommige dae doop hy sy houtpenne in swart ink om lieflike, lywige Laeveldse bome te teken – reuse wat uitreik na die lig en die lug daarbo son­der om deur raam of glas gestuit te word.

      En so bly elke dag vir hom steeds nuut.

twirl.jpg

      Die Randjie het baie dinge. Persblou Swazilandse berge in die verte; ’n arendsblik oor die Laeveld; inheemse plantegroei wat die lang, lae huis en ateljee met groen omsoom. En dan natuurlik potte; binne én buite, groot én klein.

      Die huis is ’n lewende kunswerk, maar in die eerste plek ’n skuil­te vir sy mense. Alles

Скачать книгу