Скачать книгу

      “Ons kon die bôl vat en begin hardloop,” lag een. “Met ’n skool­koerant en die toneelstuk oor tik in Scottsville. Ons het nie gewag vir die polisie en hulle veldtog nie.”

      Dit het al Zulrich Isaacs se moed geverg om sy gedig oor sy oupa vir die juffrou te gaan wys. “En daar huil ons wit juffrou toe. Ek meen … Ek het óók gehuil toe ek dit geskryf het.”

      Hy begin lees: “In my gedagtes het ek gewonder: was ek ’n fout? Nee, het my hart geantwoord.” Want sy oupa se sagte hande streel soos troos­woorde teen sy arm. Dit help hom om die pad straight te hou.

      Hy sluit sy gedig af met ’n verwysing na sy juffrou. “Wie kan glo dat ’n seun by ’n vreemdeling liefde gevind het?”

      Ek is, soos almal rondom my, geraak deur die stil, klein vers. Eer­like weglêwoorde, nou almal netjies in ’n gerf gebind. Deur ’n vreem­deling. ’n Vrou wat nie wil beddings plattrap vir nabyskote op ander se intimiteite nie, maar bereid was om ’n klomp klein treetjies te gee na ’n mens se binnekant. Soos een op pad na ’n tempel.

      Dit het ’n jong man met verwondbare oë gehelp om die onsêbare te sê. Iets wat my, soos die Sondag in die St. Paulus-katedraal, op hierdie gewone middag in ’n gewone saaltjie weer ’n keer oprig – na waar hoop, ook vir hierdie land, nou weer soos ’n vlam bly rys.

      2010

      “Ek en my mense”

      Peter de Villiers

      In die jare sestig was daar ’n seuntjie in die Boland wat versot was op rugby. Jy kon nie sommer vir Peter en Hilda de Villiers se woelige middelkind oor sy rugbyhelde vasvra nie. Hy het elke Springbokspeler geken. Koerant- en tydskrifuitknipsels is sorgvuldig bewaar vir die steeds groeiende stapel plakboeke in sy kamer.

      Sy ma het tevergeefs probeer keer. “Ek wou nie hê Peter moes rugby speel nie,” vertel sy vandag. “Ek was bang sy skoolwerk ly daaronder, maar as hy sy kop op ’n ding sit, is hy onkeerbaar – hy het dit skelmpies begin doen.”

      En toe kondig die kranige klein skrumskakel geesdriftig aan: “Ma, ék wil ook eendag vir die Bokke speel!”

      Waarop ’n besorgde Hilda net kon antwoord: “My kind, dit sal nóóit kan gebeur nie. Dit is net vir blankes.”

      Hoe sou sy ooit kon raai dat haar kind eendag in ’n Springbokbaadjie as afrigter van die Springbokrugbyspan op foto’s sou pryk?

twirl.jpg

      Toe Peter de Villiers twee en ’n half jaar gelede by Jake White oorgeneem het, was daar weinig vertroue dat dié bekkige boorling van die Paarl opgewasse sou wees vir een van die moeilikste take in wêreldsport vandag. Baie mense het geen geheim daarvan gemaak dat hulle dink hy is ’n groen appel wat nou oornag moet ryp word nie.

      Maar toe verslaan die Bokke in een jaar die Britse en die Ierse Leeus, en hulle bring die Drie Nasies-kroon huis toe. ’n Groot bus met blink trofeë toer seëvierend deur die land. Op plattelandse dorpies staan kinders reg rondom ’n rugbyveld tou om die afrigter se handtekening te kry. En die jeremiades begin plek maak vir psalms.

      Die uitsprake wat onder sy snor kan uitrol, is soms so vreemd as wat dit snaaks is en het sommige mense al ongemaklik laat rond­skuif, maar rubriekskrywers het gaandeweg begin sê die welstand van die Springbokspan was nog selde aan ’n kleurvoller karak­ter toevertrou.

      Peter praat ’n vreeslose Engels. Dit het die joernalis Heindrich Wyngaard selfs beweeg om ’n boekie saam te stel met die titel Die gevleuelde woorde en wyshede van Peter de Villiers. Dit skop af met: “If you want to run with the big dogs you’ve got to lift a leg …”

      De Villiers het hom nie laat onderkry nie. In ’n onderhoud in Rapport sê hy ja, daar ís ’n wag voor sy mond – die probleem is net dat die wag sit en slaap.

      Op die veld, weg van vergaderings en perskonferensies, het hy egter sy oog op die bal gehou. In The Weekender kon Clinton van der Berg soos volg berig: “Jy kry nie ’n span so ver om alles vir jou te gee en deur baksteenmure te hardloop as jy nie hulle respek het nie. Ek het hulle dopgehou. Daar is ’n opregte toegeneentheid tussen De Villiers en die spelers.” Desmond Tutu het ook van hom laat hoor: “Die nuus uit die kamp is dié van ’n nuwe kultuur van menslikheid en wedersydse respek wat deur ’n passievolle mens ingeburger word.”

      Springbokflank Juan Smith sê in ’n onderhoud ná sy pa se dood in 2010: “Ek weet nie van nog ’n Bokspan waar ’n afrigter soveel vir sy spelers omgegee het nie. Dis Peter se goeie verhouding met elke speler wat van hom so ’n geslaagde afrigter maak.”

      Om beter te verstaan waar hierdie dinge vandaan kom, gaan sit ek op ’n Saterdagoggend in ’n sonkol op ’n restaurantstoep in die Paarl. By my is Peter se ouers en sy vrou, Theresa; almal van die Paarl. Vir Peter self moet ek nog ’n paar weke wag – jy moet jou quickstep ken om hom vas te trek. Sy tas bly gepak.

      “Die Here was goed vir ons,” begin Hilda (78) die gesprek kalm nadat ek verbaas verneem het dat die jeugdige Peter sr. al 83 is. “Ek sê elke dag dis nét genade.”

      Peter, uitgevat in die Springboktrui wat sy seun vir hom gegee het, sit waardig, stil-tevrede en glimlag. Die voormalige hoof van die blomafdeling by Federated Timbers is steeds elke dag in die tuin. Sy skou-asters bring ook pryse huis toe.

      Hulle is 56 jaar getroud, hy en sy bobaasbakster Hilda. “Ek dink ons het baie dinge te danke aan die feit dat ek die vyfde gebod van eer jou vader en jou moeder as jongmens leer nakom het,” bespiegel hy. “Ek het my ouers help versorg voor ek uitgetrou het.”

      Soos sy onderwyser- en lekepredikerpa, Joseph, voor hom, was Peter en sy vrou ook voorvatters as dit by jeug- en gemeenskapsake kom. As skriba en hoof van die jeugbrigade in die VGK-gemeente het hy sy kinders “in die kerk grootgemaak”.

      “Peter het al daar as orkesleier gewys hy kan die leisels hou – hy kon van die beuel tot die fluit speel en moes die ander afrig,” vertel sy pa. Hy grinnik: “En hy was fluks om opdragte uit te deel aan kuiermaats om hom met sy take tuis te help!”

      Hy was ook een wat kon hóú by iets as hy besluit het dit is reg, voeg sy ma by. Én een wat omgee.

      “Ek was eendag besig om die kombuisvloer te skrop toe hy op­let my een skoen is stukkend. Hy wou by my weet hoekom ek nie nuwes koop nie. Toe ek verduidelik ons kan nie nou nuwe skoene bekostig nie, het hy gesê: ‘Wanneer ek eendag groot is, gaan ek vir Mamma van die kollektebord se geld skoene koop.’”

      Sy skaterlag. “Ek hét later my skoene gekry, maar darem nie van die kerk se geld nie!”

      Theresa is vir hulle soos ’n eie dogter. Sy en Peter het in dieselfde straat grootgeword, saam skoolgegaan en hulle het hul later albei as onderwysers in liggaamsopvoeding bekwaam. Hul families kom ’n lang en ’n goeie pad saam.

      Van haar man sê Theresa: “Rugby was altyd deel van ons lewe. Peter rig al af sedert hy 19 was. Hy weet wie hy is en mense weet waar hulle met hom staan. Familiebande is vir hom belangrik en hy be­vorder dit ook by die spelers. Daar moet nog ’n lewe ná rugby kan wees.

      “Sy Christenskap is vir hom ononderhandelbaar. Hy sal byvoorbeeld ná ’n moeilike vergadering met die bestuurspan vir my kom sê hy glo net weer eens aan ’n lewende God; hy sou dit nooit in sy eie krag kon doen nie.”

      Hulle begin praat oor die poging in 2008 om Peter se naam met ’n seksvideo verdag te maak. Iets waaroor hy onlangs in die pers die volgende te sê gehad het: “Daar was nooit bewyse nie, maar dit het ’n slegte uitwerking op my gesin gehad. My dogter wat universi­teit toe moes gaan se punte het daaronder gely en my ma het byna ’n hartaanval gehad.”

      Hilda sê sy het in daardie tyd in haar stiltetyd Psalm 35 gelees. “Ek het vir Peter gebel om te kom kyk. En vir hom gesê: ‘Wees eer­lik en bly nederig. Dan sál Hy jou paaie weer gelyk maak.’ ”

      Haar man glimlag goedkeurend na haar kant toe.

Скачать книгу