Аннотация

Uit die Beek is nie net die oudste Bybeldagboek in Afrikaans nie, maar die skrywer van hierdie 89ste uitgawe is ook die kleinseun van die oorspronklike skrywer. Attie van Wijk is ‘n bekende teoloog in eie reg, en hy bied met hierdie boek lesers weer eens die geleentheid om hulle elke dag by die vars water van die Woord te te verfris en voor te berei vir die dag wat voorlê. Dié dagboek is geskik vir persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Ontdek só dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is.

Аннотация

'n Groeiende groep gelowiges bevind hulle vandag buite die kerk. Hulle noem hulself nog Christene, maar sukkel om met die georganiseerde godsdiens te identifiseer. Ander is steeds tuis in die kerk, maar verlang na nuwe maniere van praat oor geloof. Dié boek is vir hierdie soekendes.
Die bekende teoloog Julian Müller onderskei tussen wat hy 'n Sondag-geloof noem en «geloof anderkant Sondag». Waar 'n Sondag-geloof die veiligheid van duidelike reëls en vaste kerklike gebruike bied, laat geloof anderkant Sondag ruimte vir onsekerheid en vertwyfeling. Dit maak erns met die geloofsvrae waarmee mense worstel sonder om te oorvereenvoudig.
Müller gebruik sy eie vrae as vertrekpunt en neem treffende voorbeelde uit sy eie lewe om te wys dat daar wel anderkant Sondag geglo kan word.

Аннотация

Daar is deesdae ’n sterk beweging onder sommige Christene om weer sekere gebruike wat in die Ou Testament belangrik was na te volg. Christene het nog altyd verskil oor presies hoe ons die Ou Testament moet hanteer. Watter voorskrifte geld nog vir ons, en watter nie? Daar is meningsverskille oor die besnydenis; oor feeste en die Sabbat; oor onrein diere en eet- en drinkvoorskrifte; offerandes; die verhouding tussen gelowiges en niegelowiges; om God op sy Hebreeuse naam aan te spreek en die gebruik van die ramshoring. Sommige Joodse Christene wil selfs hul geloof in Jesus prysgee ter wille van die Ou-Testamentiese gebruike (Hebreërs). In hierdie tydige boek vra Adrio Konig: Moses of Abraham? Geld die wet (die stelsel van Ou-Testamentiese wette) nog of geld dit nie – en wat daarvan geld en wat nie? Uiteindelik wys hy daarop dat die prysgawe van hierdie dinge onontbeerlik was vir die behoud en groei van ’n Christelike geloofsgemeenskap.

Аннотация

Emosionele welsyn lê aan die kern van persoonlike sukses. Ons kan ons ware potensiaal slegs bereik wanneer ons leer om ons emosionele reaksies beter te verstaan en te beheer. Pieter van Jaarsveld wys hoe elke mens emosionele welsyn kan bereik deur sekere emosionele vaardighede aan te leer. Hiermee saam wys hy die leser hoe om ’n doeltreffende ambassadeur en beelddraer van Christus te word wat voluit lewe tot eer van God. Die hart van ’n wenner was die eerste boek oor emosionele intelligensie wat vanuit ’n Christelike perspektief geskryf is. Dit is al ses keer herdruk en 13 400 eksemplare is al verkoop. Dit is ’n praktiese gids gevul met persoonlike anekdoktes; aanhalings deur bekende wysgere sowel as wêreldbekende motiveringskrywers en -sprekers. Omvattende selfhelptoetse en antwoorde; diagramme en ’n lys van leesstof vir verdere navorsing sal die leser help om sy/haar volle potensiaal te bereik.

Аннотация

Dit het mode geword om die kerk te kritiseer. As ’n mens jou op van dié kritiek moet verlaat, het die kerk, in besonder die Afrikaanse kerke, geen geloofwaardigheid meer nie. En tog is daar steeds elke Sondag honderdduisende Afrikaanse mense in die kerk . . . Neels Jackson, bekende godsdiensskrywer en redakteur van die Kerkbode, is een van dié mense, en in Ek kies steeds die kerk beskryf hy die vyf hoofredes waarom hy steeds in die kerk bly. Die boek bevat die beste van sy rubrieke wat verskyn het in Beeld, Rapport, By en e-Hervormer, en vier só 20 jaar se in-diepte verslaggewing oor kerksake en geloof. ’n Paar hoogtepunte is sy onderhoude met bekendes soos Bobby Fischer, Yolanda Dreyer, Hashim Amla, Isak Burger, biskop Desmond Tutu en Adriaan Vlok.

Аннотация

Lucky (oftewel Carla van der Veen) het pas matriek klaargemaak. Haar missie die afgelope twee jaar was om na haar sussie om te sien terwyl haar ma haar drankprobleem probeer uitsorteer. Noudat die huis se geldsake weer klop en haar ma weer OK is, weet Lucky skielik nie wat volgende nie. ’n Antwoord kom in die vorm van ’n Whatsapp-boodskap van haar vervreemde pa wat haar na Barcelona nooi . . . In Barcelona stoei Lucky met gemengde gevoelens oor die stad en haar pa. Sy moet leer dat daar altyd twee kante aan ’n verhaal is, dat alle mense foute het, dat sy maar vir hulp mag vra en wat dit beteken om werklik te vertrou. Spanning bou op as sy besef haar pa is moontlik by die onderwêreld betrokke. Uiteindelik moet Lucky saam met die prostituut Monica vir haar lewe vlug – na berg Tibidabo waar sy ’n sendingpaar ontmoet. Hier ontdek sy dan ook wat werklike Vaderskap beteken.

Аннотация

Die alomgeliefde spreker en skrywer ds. Izak de Villiers se laaste preke is in hierdie inspirerende bundel saamgevat. Dié preke, wat nog nooit gepubliseer is nie, is uitgesoek en verwerk deur Amanda Botha, ds. Izak se letterkundige eksekuteur en self ’n bekende in boekkringe. Die preke is meestal tussen 2007 en 2009 by die NGK Aasvoëlkop gelewer.
Ds. Izak se preke is, soos lesers hom leer ken het, prakties en gerig op moderne mense se daaglikse lewe. Sy fokus is telkens op die wonderlike hoop van die evangelie, wat ons bemoedig en inspireer. Hy onderstreep die kleinheid van die mens en die grootheid van God, maar wys hoe God hom oor ons ontferm sodat ons kan weet dat ons nooit alleen is nie.

Аннотация

Ten spyte van die baie aandag wat dit op veral sosiale media kry, duur die letsels van die Grensoorlog voort. Baie wit Suid-Afrikaanse mans word steeds geaffekteer. As jy hulle vra om te vertel wat met hulle in dié oorlog gebeur het, bly hulle ontwykend. In Roelf Schoeman se boek vertel hy die ware verhale van veterane. Hulle deel hul soms hoogs onstellende ervarings en die nagevolge daarvan openhartig. Sedert die stigting van die 61 gemaganiseerde bataljon groep in 1979 is’n poging aangewend om sulke mense te help en die skryf van hul stories is deel hiervan. In Weermagstories ondersoek Schoeman die psigologiese impak van oorlogstrauma, en gee hy riglyne aan oudstryders sowel as hul gesinne oor hoe om finaal vrede te maak met die oorlog. Hy wys op die belangrikheid van veilige, ondersteunende geloofsgemeenskappe en bied verdere hulpbronne vir diegene wat beter toegerus wil wees. ’n Noodsaaklike en tydige boek.

Аннотация

Die Egiptiese vrou Saleh Samir se fanatiese Moslem-familie hou haar man, Ashraf, gevange ná hul bekering tot die Christendom. Sy is swanger met hul eerstelingseun en die familie dreig om die baba by haar af te neem, maar sy ontsnap. Saleh is nog jonk in die geloof en dit word ’n reis van vertroue in haar nuwe Verlosser. In dieselfde tyd is die Suid-Afrikaners Salomé Pretorius in ’n innerlike stryd gewikkel om vrede te maak met haar man, Petrus, se roeping om die vervolgde kerk in die Midde-Ooste en veral dan ook Egipte, te dien. Sy beroep veroorsaak dat Salomé dikwels op haar eie haar huishouding en beroep as musiekonderwyseres moet balanseer, terwyl sy haar man se roeping voortdurend moet verdedig. Gelukkig help haar vriend Dirk haar soms uit . . . Deur ’n goddelike sameloop van omstandighede kruis Saleh se pad met dié van Petrus Pretorius. Teen die spannende agtergrond van die rewolusie in Egipte van 2011 raak hul wêrelde met mekaar verweef. Dit is die verhaal van dramatiese hartsveranderinge terwyl die wêreld rondom die hoofkarakters op sy kop gekeer word.

Аннотация

Die nou al bekende Krige-gesin uit die vorige boeke in Marzanne Leroux-Van der Boon se gewilde Israel-reeks maak weer hul verskyning in hierdie sewende boek in die reeks. Hoewel Marc en Rivkah in die vorige boek verlig was dat hul jongste veilig uit ’n baie gevaarlike operasie gekom het nadat daar ’n gewas op sy brein gevind is, is hy nog lank nie buite gevaar nie. Natan moet weer vir ’n breinskandering gaan. Spanning loop uiteraard hoog in die Krige-huishouding. Veral omdat Natan die afgelope tyd weer bleek en lusteloos was. Ná ’n ongeluk op die Beit-Shemesh-pad bevind Rivkah haar in ’n ambulans saam met Aviel, die man met wie sy ’n seksuele verhouding gehad het in Tahiti . . . Sal sy haar skuldgevoelens en verlange na hom te bowe kan kom? Marc kry ’n horlosie as geskenk van sy grootmoeder Ruwth en Ofer Doron merk dat Ruwth nie heeltemal haarself is nie.