Аннотация

Wanneer Reina Sauer se ouma sterf, hoor sy dat sy haar huis op McGregor erf. Maar 'n ontwikkelaar, die ontnugterde en siniese Derek Retief, wil graag die huis deel van 'n sekuriteitskompleks maak. Al wat Derek kort is Reina se handtekening. Maar dinge is nie heeltemal so eenvoudig nie. Wat op aarde maak Reina met haar ouma se vriende wat afhanklik was van haar ouma? En wanneer Reina die huis begin opruim, kom sy op 'n boks vol briewe in die solder af. Met verstomming lees sy hoe haar ouma dit reggekry het om 'n onmoontlike besluit te neem wat uiteindelik haar kleindogter se lewe moontlik gemaak het. Iewers langs die pad het sy wat Reina is ophou bid, ophou glo, maar terwyl sy deur haar ouma se lewe blaai, ontdek sy weer haar behoefte aan die Here.

Аннотация

Ouers staan vandag, met die werklikheid van sosiale media en die internet, voor groter uitdagings as ooit. Die vertroude ouerskapkenner Hettie Brittz verduidelik hoe ons, terwyl ons ons kinders beskerm teen die dinge waarvoor hulle nog nie gereed is nie, hulle ook weerbaar kan maak teen seerkry en gevare. Met liefde en begrip kan ons ons kinders se selfbeeld, emosionele intelligensie en goeie karakter help bou. Kweek kinders met heel harte is 'n praktiese en inspirerende gids vir dié groot taak.

Аннотация

Die jaar is 1897 en oorlog is aan die kom. Tyd vir versoening raak by die dag korter, ook vir die mense van Mispa. Daniël kies die goeie weg teen sy hardnekkige begeerte vir die vrou van sy drome in. Maar sal Willem en Jan Adriaan betyds vrede maak of moet hulle deur siekte en dood gedwing word? Is Eli se lewensleuse van onvoorwaardelike liefde en diensbaarheid genoeg vir die kinders onder sy sorg en sal Anna se koms na Elim 'n blywende verskil maak? In die pynlike ure van afskeid weet geliefdes wat mekaar moet groet: God sal sy vleuels oor hulle hou, oor hulle wat naby Hom bly.

Аннотация

Ou vriende keer terug Israel toe: Henok kry 'n aangename verrassing wanneer sy vrou Sarah laat weet dat sy wil kom kuier. Waar Marc hom weer in die Hadassah-hospitaal vind, gee hy opnuut sy seuntjie in God se hande. Maar hy voel verskeurd tussen sy familie in Israel en sy bekommernis oor sy ma in Suid-Afrika. Tog beleef hy God se nabyheid op wonderlike maniere en vind hy troos in die wete dat Adonai se weë ver bo ons verstand verhewe is. Hierdie boek is die tiende titel in Marzanne Leroux-Van der Boon se topverkoper- Israel-reeks. Marzanne toer steeds een keer per jaar, in samewerking met die tydskrif Lééf, na Israel. Met haar in-diepte kennis skryf sy die Joodse wêreld vir haar lesers oop.

Аннотация

Die geliefde omroeper Esté Geldenhuys skryf vir vandag se vroue oor Bybelse vroue, vroue wie se name dikwels nie eens aan ons bekend is nie, maar uit wie se lewe ons weer en weer kan leer dat elke vrou 'n verskil kan maak, ook ek en jy! Helene de Kock op Litnet sê van haar: «Geldenhuys skryf met die moed van haar oortuiging, eerlik en sonder skroom om evangeliese waarhede oor te dra. Hierdie waarhede is op haar geloof geskoei en ook op haar kennis van die Bybel en haar beleë insig en integriteit.»

Аннотация

Die bord pap vlieg oor die tafel en die melk spat op alles. Jou oudste klap jou jongste teen die kop. En julle is al weer laat vir skool. Welkom by die klub van ouers wat soms nie meer weet hoe nie! Dr. Pieter van Jaarsveld, 'n internasionele spreker en kenner op die terrein van positiewe denke, verduidelik in hierdie omvattende ouerskapgids hoe kinders se koppe werk en hoe jý 'n gelukkige en gebalanseerde kind kan grootmaak. Dié boek wys dat dit wel moontlik is om duidelike grense te stel, terwyl jy jou kinders met liefde, respek en koestering grootmaak.

Аннотация

Uit die Beek, die geliefde Afrikaanse Bybeldagboek, kom vanjaar uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Die tekskeuses vir elke dag is grootliks op die Revised Common Lectionary (oftewel die RCL-leesrooster) gebaseer. Dit maak hierdie tydlose Bybelse dagboek weer opnuut geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en Bybelstudiegroepe. Mag hierdie jaar vir jou 'n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.

Аннотация

Shéri Brynard was born with Down Syndrome. Although doctors gave her mother little hope, today Shéri is a lively young woman with many adventures behind her. She has met Oprah, shaken the hand of the president, and often speaks at international conferences. She also acted in a local soap. Shéri talks frankly about the sorrows and joys of her remarkable life, while her mother, Susette, shares her side of the story with great honesty. This book tells the tale of an extraordinary young woman, someone who lives life to the full and takes hold of every opportunity. Hers is a story of courage, perseverance, healing and hope.

Аннотация

Shéri Brynard is gebore met Downsindroom. Dokters het haar ma maar min moed gegee, maar vandag, 35 jaar later, is Shéri 'n lewendige jong vrou met 'n menigte avonture op haar kerfstok. Sy het vir Oprah ontmoet, hand geskud met die president en by internasionale konferensies opgetree. Shéri was ook te sien in Binnelanders. Hier vertel sy openhartig van die harsteer en die vreugdes van haar merkwaardige lewe. Haar ma, Susette, deel ook háár kant van die storie as ouer. Hierdie boek vertel die verhaal van 'n buitengewone vrou wat danksy harde werk, wilskrag, deursettingsvermoë – en 'n diepe afhanklikheid van God – haar lewe voluit leef.

Аннотация

Agab staan verskeurd. Moet hy getrou bly aan die ou Israelitiese waardes, of kan hy sy heidense vrou, die skone en geslepe prinses Isebel, volg die afvallige tydsgees in? Teenoor die lis van Isebel staan die skraal, profetiese figuur van Elia. Elia wat die droogte oor Israel voorspel, die profete van Baäl in 'n tweestryd op Karmelberg verneder, en uiteindelik die finale doemwoord oor Agab en sy huis uitspreek. Hierdie boek vertel ook die verhaal van Nabot, godvresend, maar nie bereid om te erken dat God die God van alle mense is nie. En van die liefde van Nabot se seun Johanan vir Ada, die dogter van hul dienskneg. Dan is daar Johanan en God se plan om Israel te verlos van Agab se slegte regering… Die geliefde skrywer F.A. Venter herskep die wêreld van Agab, Nabot en Johanan, die vroue in hul lewens, en die politieke strome wat hul omring het, met die gesag van iemand wat diep nagevors en gedink het. Hy laat dié aangrypende stuk Bybelse geskiedenis opnuut leef in fyn besonderhede, en die Bybelse waarhede wat só deurskemer is verstommend relevant vir vandag.