Скачать книгу

Koning: by ’n ontdekking van hul eie onreinheid voordat hulle dit kan waag om ander aan te praat. Hulle leer: Erken eers jou eie onheiligheid sodat jy besef hoeveel dit die Opdraggewer sal kos om jou hierdie roeping waardig te maak. Sodat jy deernis kan hê met hulle na wie jy gestuur word. Begrip. Sodat jy jou preke só kan begin: “Ek was ook hier, ek ken onheiligheid. Maar toe het God …”

      Heilig, heilig, heilig is Hy!

      ____________________

      U ken my hart se wonde, U ken die leed oor al my sonde. Maar U kom en reinig my.

      Maandag 11 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 115

      Verbeel jou: afgode!

      Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word (v. 8).

      Die Bybelse psalms verras ons dikwels. Ook vir ons wat reken dat ons hierdie geliefde leesgoed ken. Hoor dan nou hier: ’n uitgebreide gespot met afgode.

      Dit herinner ons nogal aan Elia se woorde aan die desperate Baälaanbidders wat geen reaksie van hul god gekry het nie: “Roep harder! Hy is mos ’n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” (1 Kon 18:27).

      In hierdie psalm word daar, soos dit feitlik deurgaans die ge­bruik in hierdie liedere is, oor die Here se goedheid gesing. Aan sy Naam kom alle eer toe. Sy liefde en trou is vir sy kinders tot onein­dige seën.

      Aan die ander kant van die godespektrum is daar die afgode. Dié met al die uiterlike trekke van bruikbaarheid, maar wat in hul stomme nutteloosheid eintlik ’n enorme verleentheid vir hul aan­hangers is. ’n Oog wat nie sien en ’n oor wat nie hoor en ’n neus wat nie kan ruik nie. Dom handjies, lam voetjies. Net bek, g’n binnegoed.

      Ja, ’n spotprenttekenaar se droom, ’n eindelose bron van satire.

      As die hele spul net nie so tragies was nie. Want, so sê die psalm­digter en dit weet ook ons maar te goed, afgode is mensgemaak. Selfvervaardig. Hulle is produkte van die verbeelding.

      Hoe verdorwe is sulke mense nie, hoe verrot hul gees! Gelukkig is daar geen Godskinders wat so laf is om voor selfgeprakseerde gode te buig nie. Of hoe?

      Nee, geen gelowige aanbid sy eie handewerk nie. Of die op­droomsel van sy persoonlike begeertes nie. Of sy geliefde spieël­beeld nie. Of hoe?

      ____________________

      Here, Here, red my van myself. Verlos my van my selfliefde!

      Dinsdag 12 FEBRUARIE 2019 Lees 1 Samuel 9:15–10:1

      Wie is ék dan …?

      “Ek is maar net ’n Benjaminiet … die swakste stam … Boonop is my familie die kleinste …” (v. 21).

      Die mooi ou verhaal van Saul en die weggeraakte donkies is ook die verhaal van Saul se ontmoeting met die priester Samuel. En uiteindelik (nee, eintlik uit die staanspoor) die groot storie van Saul en die Here.

      Saul het van laasgenoemde motief in sy verhaal niks geweet nie; Samuel het ook maar later daarvan verneem.

      Maar die Here weet alles, van altyd af. Hy ken ook vir Saul, Hy het lankal sy oog op hom. As Israel dan ’n koning moet kry, laat dit dan hierdie seun uit die stam Benjamin wees …

      Hoe dan nou? roep Saul uit. Ons is die kleinste familie in hierdie stam. Buitendien is die Benjaminiete maar ’n swak spulle­tjie. Nee, as jy mooi dinge wil sê, siener Samuel, sê dit oor die Judastam, of oor een van die ander vernames. Dié met die naam, die status.

      Maar Samuel het lankal by sy Here geleer dat Hy anders kyk as wat mense kyk. Die mooi ritueel wat volg, die ete en toe die salwing, bevestig dit.

      Ja-nee, die Here se gedagtes is gelukkig nie ons gedagtes nie. Ons dink verspot klein oor die lewe, ons visie is so bitter beperk. Ons hele menswees is ingestel op ons eie behoeftes en begeertes, ons persoonlike plannetjies, ons plaaslikheid.

      Daarom betrap die Here se idees, ook dié vir ons lewe, ons altyd onkant. Daarom moet Hy altyd eers ’n klomp oortuigingswerk doen voordat ons gereed is vir sy eintlike opdrag. Só mors ons tyd. Ver­speel ons gulde geleenthede.

      Hoe sukkel ons tog om onsself te sien soos die Here ons sien!

      ____________________

      Praat met my, Here. Oortuig my van my waarde voor u aangesig.

      Woensdag 13 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 5:27-32

      Goddelike voorkeure

      Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My” (v. 27).

      Dié keuse van Jesus sou Hom aanhoudend teister, dié ten gunste van ’n tollenaar. Hierdie gehate belastinggaarders is minagtend deur die destydse kerkmense aangekyk. Soos ook hier in vers 30: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

      Dan is daar die beroemde Lukas 15, die hoofstuk met die drie “verlore”-gelykenisse. Maar wie kan onthou wat aanleiding gegee het tot Jesus se stories oor die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun? Niks anders nie as dié veelseggende berig: “Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: ‘Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle’ ” (Luk 15:1-2).

      Nou, sommer aan die begin van die Jesusverhaal, kom ons agter die kap van die byl: Jesus kies ’n tollenaar vir sy dissipelkring. En dié man los alles en hou ’n groot feesmaal ter ere van Jesus.

      Daar is darem niks so sielsverheffend soos die uitbundigheid van ’n mens wat uit ’n doodloopstraat verlos word nie!

      Ook is daar niks so terneerdrukkend soos die hardnekkigheid van hulle wat verbete aan hul vooroordele vasklou nie. Mense wat so seker is van hul status in kerk en samelewing dat hulle nooit oplet dat die Goddelike maatstawwe anders lyk as hulle en hul triom­fan­telike geesgenote s’n nie.

      Hulle ken nie iets soos ’n partytjie wat tot Jesus se eer gehou word nie. Hulle het nog nooit gehoor wanneer Hy roep “volg My!” nie. Hulle is heeltemal té tevrede met hul eie koers om hulle tog oor Goddelike roetes moeg te maak.

      ____________________

      Here, mag ek ook u feesmaal bywoon? Dalk by u tafel aansit?

      Donderdag 14 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 13:12-19

      Nag!

      Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring, Hy sal dit stikdonker laat word (v. 16).

      Die ou volk sou nooit kon sê hulle is nie gewaarsku nie.

      In hierdie klompie Jeremiaverse word daar in die hardste moont­like stem (Stem!) met hulle gepraat. Word hulle vermaan, nóg ’n kans gegee. Sal dit die laaste een wees?

      Sal hulle dié keer hoor? Is “Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei” (v. 14) luid genoeg? Selfs vir die horende dowes? Die ore-toedrukkers? Hoor die troonsitters dat hulle van hul krone ontneem gaan word? (vgl. v. 18). Weet die priesters en profete van die skande wat op hulle wag? (vgl. v. 13). En die pa’s en hul seuns van die komende tragedie? (vgl. v. 14).

      Is hierdie waarskuwings ernstig genoeg? Wat is dan nóg nodig voordat die Here se kinders besin?

      Hulle hoor nie. En wie nie hoor nie, sal ook nie sien nie. Die donker sal hulle verswelg. Elke dag word ’n nagmerrie. Uit dié duis­ter­nis is daar geen ontsnapkans nie. Niemand sal kan sê nie: Dit sal ook verbygaan. Dit sal nie.

      Al wat oorbly, is trane. Maar dan nie hulle s’n nie – hoogmoed huil nie oor homself nie. Nee, die trane wat hier gestort word, is dié van ’n heilige hartseer. Dit is die Herder wat ween oor sy kudde. Wat sien hoe hulle deur hul eie toedoen oorval word, gesteel word, weggevoer word.

      Sal daar ooit weer vir hulle lig kom? Wie

Скачать книгу