Скачать книгу

tot hul sinne geruk is, sal hulle dit besef. Dan sal hulle roep, soos kinders, bevrees in die donker. Hulle sal hul hande uitsteek, rondtas, uiteindelik gereed om gelei te word.

      ____________________

      Lei U ons, Heer, deur hierdie duisternis.

      Vrydag 15 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 13:20-27

      Waarom?

      Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?” (v. 22).

      Waarom? Waarom ék? Wat het ek dan gedoen wat so verkeerd is?

      Stokou vrae. Die heersers in Jerusalem het dit al gevra. En, soos dit maar met sulke vrae gaan, vra hulle dit toe dit te laat is. Toe die werklikheid hulle reeds getref het. Toe die nag wat hulle beloof is, reeds op hulle toegesak het. Toe dit te laat was om hul gedrag te verander.

      Buitendien, sê die Here deur sy profeet aan hulle, julle sal nie verander nie, want julle kán nie. Julle is gans te gewoond aan wat julle doen. Julle het noodlottig verslaaf geraak aan jul misdade.

      Daarom wag daar nou ’n onbeskryflike vernedering op jou, Jeru­salem! Nie net sal jou ondergeskiktes, hulle wat jy as minderes be­skou, oor jou heers nie; jy sal ook, voor almal, kaal uitgetrek word. Dat jy in al jou naaktheid voor die mense vertoon kan word. Dat hulle almal oor jou skaamte kan lag.

      En tog, en tóg …

      Reg aan die einde van hierdie hoofstuk word hulle ’n ont­snap­kans gebied. Kom die Here se kreet: “Hoe lank gaan dit nog so bly?” (v. 27). En word die deur uit hierdie donkerte op ’n skrefie oop­ge­maak. Die Here kyk verlangend na hulle.

      Sal hulle Hom sien? Sal hulle die kans aangryp? Of het hulle lankal afgeleer om Hom te hoor wanneer Hy laaste kanse aanbied? Om Hom raak te sien as Hy hulle wys hoe hulle kan uitkom uit die web wat hulle self gespin het en waarin hulle nou vasgevang sit?

      ____________________

      Here, ek is só skaam dat ek U nie in die oë kan kyk nie. As U wil, kan U my aan die hand neem en my uit hierdie moeras lei. As U wil.

      Saterdag 16 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 1

      Alles die Here se werk

      Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad … (v. 6).

      ’n Mens kan ook hier tereg vra: Wat was eerste – die hoender of die eier? Oftewel: Het die “regverdiges” nie maar regverdig geword omdat die Here hulle op hul pad lei nie?

      Dit kan seker nie anders nie, of hoe? Mense – juis ook gelowiges, Godskinders – vermy nie die kwaad omdat hulle so oulik (of so gelowig) is nie; hulle bly van die spotterskring af weg omdat die Here hulle daar verbylei. Omdat Hy hulle voorheen al daar kom haal het, hulle uit daardie giftige geselskap gered het.

      Dit is Hy wat hulle geleer het om in die Here se woord hul vreugde te vind. Om nie in mense se goedkoop geklets en bitterbek kwaadstokery te belê nie. Hul voorspoed kom dus nie vanweë hul eie inspanning, goeie keuses en onberispelike werketiek nie. Die Here is, soos altyd, die goeie Gewer daarvan.

      Daarom is dit so jammer dat daar mense is wat kies om hul rug vir Hom te draai. Hulle speel met hul lewe, hul toekoms kom in die gedrang. As hierdie wêreld se winde begin opsteek, waai hulle weg. Word hulle soos kaf verstrooi. En al die sogenaamde wyshede waarmee hulle hul aanhangers vermaak (en verlei) het, word ont­bloot as die goedkoop niksseggendhede wat dit nog altyd was.

      Die alternatief, die ander kring, is soveel beter. Dáár is soveel meer vreugde, vastigheid, werklike voorspoed. En die Here, die Gewer van dit alles, het al soveel rondsitters op die regte pad gebring dat niemand kan sê hulle is daarvan uitgesluit nie.

      Hulle moet net hul ore spits. En hul hande gereed hou vir wan­neer daardie Here-hande hulle kom vát.

      ____________________

      Hier is ek, Here, die welgeluksalige voorbeeld van u bemoeienis. Halleluja!

      Sondag 17 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 17:5-10

      Hartsake

      Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (v. 9).

      Wat ’n merkwaardige klompie Jeremiaverse. Boonop ent-ent woor­deliks dieselfde as dié in Psalm 1. Iemand het deeglik gelees en goed verstaan …

      In die “ongeneeslike hart”-uitspraak word die spyker boonop op die kop geslaan: Die mens se misdade word regstreeks met sy hart verbind. Geen “vreemde invloede”, “omstandighede buite my be­heer”, “houvas van die bose” hier nie. Die oorsaak van ongehoor­saamheid word vierkant op die mens se eie skouers gelaai. “Jý is die man!” soos Natan vir Dawid gesê het (2 Sam 12:7).

      Tereg so. Té lank kom mense – gelowiges, die Here se kinders, óns – met selfbedrog weg. Verskoon ons onsself, spreek ons onsself vry. Trek ons ons skouers op en sê: Dit is nou maar so …

      In ons vromer oomblikke sal ons wel sê: Ek is maar net ’n mens. Of ons stof dié ou gunsteling af: Is ons nie maar almal in sonde ontvang en gebore nie?

      Ag, watter groteske bedrog word daar nie in die mens se hart gehuisves nie. Soveel vrome verdraaiing. Soveel selfmisleiding.

      Die alternatief is heel eenvoudig: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is …” (v. 7). Die mens wat Fort Ek agterlaat en by die ware Beskermer gaan skuil. Wat nie terugkyk nie. Wat nie ander se raad soek nie, omdat hy weet in watter woestyne dit hom al laat beland het. Hy onthou goed hoe daardie droogtes voel, en hoeveel vals hoop in lugspieëlings lê.

      Hy skaam hom dat hy dit alles geglo het. Omdat dit gerieflik was, omdat dit hom gewild gemaak het. Omdat “vertroue in die Here” so outyds is.

      ____________________

      Ek is moeg, Here, vir die bedrog in my hart. Verlos my!

      Maandag 18 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 120

      Te lank

      Te lank moes ek woon by mense wat vrede haat (v. 6).

      In hierdie pelgrimslied hoor ons ’n hartseer sanger. Genadig genoeg begin sy lied met die uitroep dat die Here hom gehoor het, dat Hy hom verlos het. Dan word die leuenaars, die bedrieërs, met ver­nie­tig­ing gedreig. Met die wraak van die God wat jaloers na sy kinders omsien.

      Maar hoe het dit gebeur dat hy, dié sanger, in hierdie situasie beland het?

      Uit die lied blyk dit dat die vreemdelinge waar hy hom bevind het ’n vername rol in sy onvrede gespeel het. Dit is hulle, die mense van Mesek en Kedar, wat die lewe vir hom ondraaglik gemaak het. Hy kon hul veglustigheid, hul hatigheid, eenvoudig nie meer verduur nie. Toe roep hy om hulp. En sy Hulp tree beslissend op.

      Noudat hy op alles terugkyk, sug hy: Ek het te lank hier gebly. Te lank het ek met hierdie mense opgeskeep gesit. Ek moes lankal padgegee het.

      Vanuit ons moderne, leefstyl-afgerigte beterweterigheid sal ons dalk die kop skud en iets sê soos: Jy moet jou met positiewe mense omring. Jy moet die geselskap opsoek van mense wat waarde aan jou lewe toevoeg. Vermy die vreugdediewe!

      Glinsterende raad. Motiveringsprekers se brood-en-botter-én-jêm. Wat maklik deur swaarbeproefde mense gesluk word. Wat, helaas, dikwels nie uitvoerbaar is nie. Want presies hóé kom jy onder die mense van Mesek en Kedar uit? Hoe breek jy die tente daar op? Dit is dan jou leefplek, jou werkplek. Jy móét eenvoudig tussen hulle leef en oorleef.

      Het jy ’n ander uitweg as Hy vir wie jy jou liedjies sing? Hy tot wie jy jou smeekgebede rig? Hy heet tog ook Verlosser. Uitredder. Vader-wat-weet.

      ____________________

      U weet alles, Here. U ken ook my hart, my behoeftes, begeertes. My onvrede.

      Dinsdag 19 FEBRUARIE 2019 Lees 2 Korintiërs 1:12-19

      Wanneer

Скачать книгу