Скачать книгу

wat ons geloop het en sien dán eers wat ons destyds nie wou sien nie, al was dit so duidelik sigbaar? Of, soos Jesus huilend aan Jerusalem gesê het: “… omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie” (v. 44).

      Jerusalem se voorspelde vernietiging was aan ’t kom. Maar die leiers – juis ook die godsdiensleiers, hulle wat veronderstel is om beter en verder te kan sien – hou hulle blind. Hulle kyk eerder wie hulle ’n vlieg kan afvang. Ywerig soek hulle die splinter in ’n ander een se oog.

      Maar by hulleself sien hulle geen fout nie. Net ’n vreeslike ver­ontwaardiging oor ander se misstappe, ’n gillende ontsteltenis oor mense wat van hulle verskil (vgl. v. 39). Hulle leef ’n lewe van voort­durende selfregverdiging, ontkenning. Sien niks … dan ís daar niks.

      Hulle sou die prys hiervoor betaal. Dalk sou hulle dán spyt kry omdat hulle nie gehoor het nie. Of dalk nie. Dalk was dit dan maar weer “húlle” skuld. Selfinsig kom nie maklik nie.

      Wat sal ons hiervan sê? Ons wat al hierdie verhale lees en wat onsself so gou daarin herken? Sal ons God in óns verhaal sien? Sal ons Hom herken? Hy wat tot ons redding verskyn en vir wie ons so maklik-maklik ignoreer?

      ____________________

      Maak my blinde oë oop, Here. Wys my hoe U lyk, en laat my luister.

      Donderdag 7 FEBRUARIE 2019 Lees Numeri 20:22-29

      Wie lei die leiers?

      “Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek” (v. 26).

      Die ou Eksodustrekkers was nooit die Here se beste volgelinge nie. Daarvoor het hulle te veel gekla. Die berigte oor hulle wemel van ontevredenheid, dwarstrekkery, woede teen die leiers, weerstand teen God.

      Midde-in al hierdie struwelings het die twee broers gestaan: Moses, die trekleier, en Aäron, sy woordvoerder en later ook die geeste­like leier. Dit is hulle wat soms noodplanne moes maak (Moses en die water uit die rots in Eksodus 17), wat verkeerde be­sluite geneem het (Aäron en die goue kalf in Eksodus 32). Wat by geleent­heid mekaar selfs aangevat het (in die aangrypende Numeri 12).

      Maar uiteindelik was dit hulle twee wat die Egiptiese farao saam gekonfronteer en uiteindelik oorwin het. Die Here het Hom aan hulle verbind toe Hy hierdie enorme sending aan hulle toevertrou het. Vir Moses sê Hy: “Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen” (Eks 4:15).

      Nou, oplaas, het die tyd vir skeiding aangebreek. En Moses, van almal, moes dit voltrek. Die Here se opdragte aan hom is spesifiek – tyd, plek, seremonie. Aäron se opvolger sal sy eie seun wees “… en Aäron is daar op die top van die berg dood” (v. 28).

      Sommer so. Geen lang afskeid nie, geen berig van trane nie. O, die volk het darem oor hom gerou (vgl. v. 29). Dertig dae lank, nogal.

      Maar, blyk dit ook hier, leiers is dienaars. Hulle het baie na­vol­gers, dikwels neulend en nukkerig, maar net een Baas. Hy beslis oor hul kom en gaan. Hulle het ten ene male hul lewe en opdrag aan Hom te danke. Net aan Hom.

      ____________________

      Here, U gaan voor, ons volg in u spoor.

      Vrydag 8 FEBRUARIE 2019 Lees Numeri 27:12-23

      Só werk dit

      “Maar hy moet altyd die priester Eleasar raadpleeg dat dié vir hom … die beslissing van die Here vra” (v. 21).

      Toe was dit Moses se beurt. Hy moes Josua seun van Nun die hande oplê en hom in sy plek as trekleier aanwys. Moses sou die beloofde land slegs sien; Josua sou sy mense daar inlei.

      Só eindig die ou orde. Nou is daar ’n nuwe priester en ’n nuwe trekleier. En deurentyd klink dié refrein op: Voordat Josua en Eleasar optree, moet daar eers na die Here se wil gevra word.

      Bekend, nè? Vra na die Here … Soek allereers die koninkryk van God …

      Hopelik sou hulle, die twee nuwelinge, in hierdie opsig beter vaar as hul veelgeroemde voorgangers. Hopelik sal hulle hulle nie teen die Here se bevele verset nie, sal hulle Hom nie voor almal teëgaan nie (vgl. v. 14).

      Want dit is mos die ou, ou probleem met leiers: Hulle ken later nie meer die einde van hul krag nie. Hulle raak so reddeloos verlief op hulleself dat hulle vergeet waar hulle vandaan kom én, belangrik, hoe hulle gekom het tot waar hulle nou is. Wie hulle tot daar gebring het. In wie se krag hulle is wie hulle is.

      Daarom sal dit leiers van alle tye en plekke baat om die Here, die Leier van die leiers, se werkwyse in dié verhaal goed te bekyk: Hy rus die nuwe leier behoorlik toe, en dan beskik Hy ’n raadgewer vir hom, iemand wat goed kan hoor wat die Here sê (vgl. v. 20-21).

      Eers dán mag die nuwelinge diens aanvaar. Eers wanneer hulle weet hoe die Here werk, mag hulle begin werk. Dit is soos dit in sy koninkryk werk.

      ____________________

      Here, u is die Hoof van u huis. Ons is u kinders. Ons luister as U praat.

      Saterdag 9 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 4:42-44

      Moenie my los nie!

      Die mense het Hom … probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie (v. 42).

      Dit is nog vroeg in Jesus van Nasaret se bediening en Hy maak groot indruk. Soms gee Hy ’n rukkie pad. Gaan rus Hy op ’n eenkantplek.

      Maar die mense spoor Hom op. Bewonderaars laat hulle nie so maklik afskud nie …

      Hulle wil nie laat los nie. Ook maar mens: As daar iets (of Iemand) is wat tot hul heil en beswil is, hou hulle wat hulle het.

      Maar hier werk dit nie so nie; nie met Jesus nie. Hy laat Hom nie sommer vashou nie; sy werk is omvangryker as wat jy mag dink. Die trop vir wie Hy sorg, is groter as wat jy ooit kan vermoed. Hý is dus die Vashouer. Die Opsoeker. Opteller. Terugdraer.

      Ook maar goed so. Want, sou ons later verneem, dié wat Hom so graag by en vir hulleself wou hou, het Hom uiteindelik gelos. Toe dinge té ingewikkeld raak en opofferings van hulle gevra is, het hulle padgegee.

      Soos dit maar met mense is, weeg eiebelang verreweg die swaar­ste wanneer jy voor keuses te staan kom. En dan draai jy om en loop weg, dalk ook “diep teleurgesteld” soos die ryk jongman (vgl. Luk 18:23). Of vloekend, soos Petrus (vgl. Mark 14:71). Was jy jou hande in kamma-onskuld en met groot gebaar, soos Pilatus (vgl. Matt 27:24).

      Maar, wegloper, jy moet weet dat jy nie baie ver gaan kom nie. Hy gaan jou agternasit, Hy sal jou opspoor en jou uit die gat haal waarin jy beland het. Hy sal afbuk en jou daar optel en terugdra na sy trop. Daar waar jy hoort.

      ____________________

      Ek het niemand behalwe U nie. Ek kan nêrens heen as U my nie lei nie. Hou my vas, Here!

      Sondag 10 FEBRUARIE 2019 Lees Jesaja 6:1-8

      Heilig is Hy!

      In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit … (v. 1).

      Sommer net so. Ek het die Here gesien, sê Jesaja. En hy het bly leef. Ten spyte daarvan dat die Here destyds aan Moses gesê het niemand wat Hom sien, sal dit oorleef nie (vgl. Eks 33:20).

      Dalk was dit nie regtig “sien” nie; dalk was dit iets soos ’n droom. Oor die God met die groot kleed op die hoë troon en die serafs met die vele vlerke wat sing: Heilig, heilig, heilig …

      Jesaja was daarvan oortuig dat sy einde aangebreek het. Veral nadat die serafs se uitroepe ’n aardbewing ontketen het. Hy is ’n sondaar, sug hy beangs, ál sy woorde is onrein. “Dit is klaar met my!” roep hy uit (v. 5).

      Toe nié. Dit was maar die begin. Want toe onderbreek een van die serafs Jesaja se lofgesang en kom raak met ’n vurige kool aan sy mond en sê: Jou mond is nou gereinig, en jou hart.

      Nou kon hy begin om na die moeilike

Скачать книгу