Скачать книгу

      Ag, Here, en dit is my enigste uitweg: om onder u vleuels te skuil.

      Saterdag 2 FEBRUARIE 2019 Lees Johannes 1:43-51

      Sigbaar

      “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “… het Ek jou al gesien” (v. 48).

      Dit bly ’n verbysterende ontdekking dat ons so sigbaar vir die Here is. Hoe suksesvol jy ook al daarin slaag om vir vyande (en vriende!) weg te kruip; vir die Here is jy so duidelik soos, nou ja, daglig.

      Reeds die digter van Psalm 139 het sy verstomming hieroor uit­gespreek: “Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek … maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie …” (v. 11-12).

      Die ironie hiervan is dat ons Hom so graag wil sigbaar maak. Ons sê, soos Filippus vir Natanael: “Kom kyk” (v. 46). In ons oor­moedigheid reken ons dat ons Hom in elke donker hoekie raaksien, om elke hoek en draai Hom kan uithaal en wys. Vir mense kan sê: Ek weet hoe Hy lyk, ek ken Hom en sy wil.

      Ons doen ons voor as gidse van God. Ons beduie met vrymoe­dige vingers na Hom, die groot Besienswaardigheid. Dan roep ons ekstaties uit: Dáár is Hy! Só is Hy!

      Intussen weet Hy alles van ons af. Sien Hy dwarsdeur ons. Kyk Hy tot in ons hovaardige hart en sien ons egoïsme raak, ons mate­lose selfliefde.

      Maar, goddank, Hy kyk selfs dieper. Hy sien ook ons ver­laten­heid en verlange raak. Ons onsekerhede, al ons twyfel. Dan kom haal Hy ons uit ons skuilplek uit. Verwyder Hy die bravade­masker van ons gesig. Sê Hy, soos vir Natanael: Ek gaan jou nog groot dinge wys (vgl. v. 50-51).

      Sy manier van kyk is enig: Daar is nie nóg so ’n ontfermende blik nie. En dít is mos uiteindelik wat so sigbaar vir sy wegkruiper-kinders is: sy oë, en die sagtheid daarvan.

      ____________________

      Kyk asseblief goed na my, Here! Ek is swak en blind.

      Sondag 3 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 1:4-10

      Hy weet

      Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken … (v. 5).

      Ek is te jonk, Here, het Jeremia gekeer. En: “Ek kan nie goed praat nie” (v. 6).

      Maar Hy het dit geweet, hierdie God wat hom geroep het. Hy het dit alles geweet. Hy ken hom dan van voor sy geboorte af. Niks wat Jeremia vir Hom sê, sal Hom verras nie. Of onkant betrap nie. Of Hom noop om sy oorspronklike planne te wysig nie.

      Hy stel wel vir Jeremia gerus. Hy steek sy hand uit en raak aan die onwillige outjie se mond. Siedaar, sê Hy, “Ek het nou my woorde in jou mond gelê” (v. 9).

      God is geen laatkommer in ons lewe nie. Ons hoef Hom dus nie in te lig of van enigiets in kennis te stel nie – Hy weet. Hy weet alles, van die begin af. Hy ken die hele storie, Hy weet wat die volle waarheid is. Hy ken dus ons verskoninkies. En Hy weet nie net alles van gister en van nou nie, Hy weet ook alles van môre.

      Daarom moet ons maar versigtig wees om Hom teë te gaan, al lyk sy planne vir ons nie soos ons daarvan hou nie. En al is sy tyds­berekening daarvoor nie noodwendig vir wanneer ons gereed voel nie.

      Maar moenie bang wees nie: As dit vir jou lyk Hy gaan jou by die diep kant ingooi, haal diep asem … en voel dan sy uitgesteekte hande. Dit sal altyd daar wees, hierdie sterk, sagte hande.

      Hy sal jou nooit vir die wolwe gooi nie. Nee, nee. Jy is Syne. Van die begin af. Hy weet wat jy kán, en wanneer.

      ____________________

      Ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee. U krag kom dan juis in my swakheid tot volle werking.

      Maandag 4 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 56

      U sien

      … U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken (v. 9).

      Hy is bang, hierdie digter. Die opskrif verklap dit reeds: Dawid skryf dié gedig nadat die Filistyne hom in die hande gekry het. “Daar is mense wat my jaag,” hyg hy, “vyande wat my vervolg van die môre tot die aand” (v. 2).

      Hy weet hy is voortdurend in hul visier, hulle het sy spoor gevat en nou bly hulle op sy hakke. Dit is ’n nagmerrie. Wie gaan hom hieruit wakker maak? Wanneer gaan dit ophou?

      Nie sommer nie. Hy, die agtervolgde, loop eers die hele paadjie wat die Here se kinders so goed ken wanneer hulle in groot gevaar verkeer: naakte vrees; die beskuldigings en later vervloeking van die agtervolgers; ’n aanklag teen die vyand; die desperate verklaring dat God aan óns kant is; uiteindelik die uitskreeu van ou beloftes en nuwe voornemens wanneer Hy redding bring.

      En tussendeur, almaardeur, die troos van God se goedheid. Die rus in die wete dat Hy sy kind se trane sien. “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie …” (v. 9). U weet, U sien. U sal ’n plan maak.

      Dat God se genade vir sy kinders genoeg is, juis in hul donker­ste uur, was nog altyd die grondigste troos denkbaar. Dit is nie ’n kits­oplossing nie en sal ook nooit ’n opportunistiese ontvlugting wees nie. Maar dit is die een vaste punt in ’n chaotiese omgewing: Ek is nie aan myself oorgelaat nie. Ek, en al my bagasie, behoort aan Hom.

      Die ou kerkvaders het trouens gesê hierdie versekering is veel meer as die Godskinders se grootste troos; dit is niks minder nie as hul enigste troos. Hy is al wat ons het.

      ____________________

      U is genoeg vir my, Here. Daar is niks en niemand soos U nie.

      Dinsdag 5 FEBRUARIE 2019 Lees 2 Konings 5:1-14

      Dogtertjies

      Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het (v. 2).

      Teen die verwagting in maak ’n dogtertjie soms haar verskyning in Ou Israel se geskiedenis. Wie kan Mirjam vergeet, Moses se sustertjie wat hom opgepas het toe hy in die mandjie in die rivier weggesteek is (vgl. Eks 2:1-8)?

      Nou is daar hierdie een, sonder ’n naam waaraan ons haar kan onthou, maar met ’n vername werk: Sy is die leërhoof se vrou se bediende. Haar eintlike werk was om, soos Mirjam destyds, ’n weg­wyser na die Here te wees. Dit was mos deur Mirjam se toedoen dat Moses in die farao se paleis beland het.

      Nou is dit hierdie kindjie-sonder-naam wat sorg dat Naäman by Israel se koning en uiteindelik by die befaamde profeet Elisa uitkom. Dit word ’n mooi storie dié, ’n verhaal van God se sorg vir vreemdes en skeptici. Vir ’n mens wat desperaat genoeg is om op ’n kind se woord ’n onwaarskynlike reis aan te pak.

      Van dogtertjies gepraat: Daar was mos ook, só vertel die Evan­gelie­skrywer ons, die nooientjie uit Nasaret wat op ’n keer deur ’n engel besoek is … (vgl. Luk 1:26-38).

      Ja-nee, ’n mens – vriend of vreemdeling, gelowig of skepties of doodgewoon agnosties – kyk net met moeite God se hand mis in hierdie lewe se onwaarskynlikhede. Sommige sal dit wel “toeval” of “karma” noem, of dit agter omslagtighede soos “soos dit nou moes wees” of “soos die duiwel dit wou hê” verbloem. Terwyl hulle wéét, of minstens ’n sterk vermoede het.

      Terwyl daar ’n kindjie in hul omgewing is, dalk een met vlegsels of miskien ’n speelpop in die hand, wat hulle kan reghelp.

      ____________________

      Dankie, Here, vir kinders om my wat met klokhelder stemme van U praat.

      Woensdag 6 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 19:41-44

      As ons tog …

      “As jy vandag tog wou insien …” (v. 42).

      Spyt, sê die mense, is ’n goeie ding. Maar Jerusalem en sy leiers het nog nie spyt gekry nie; hulle karring maar aan. Hulle sal uiteindelik spyt kry, sê Jesus, maar dan sal dit te laat wees.

Скачать книгу