Скачать книгу

Wat ’n vreugde is hierdie huidige bedeling tog!

      En, nee, dit is nie juis nuus nie; dit is ou nuus. Die ou-ou tyding, die boodskap van God se heil: Toe Jesus gekom het, het alles ver­ander. Radikaal. Die nuwe bedeling wat só aangebreek het, het niks minder gedoen nie as om die gelowiges van die ou bedeling te bevry. Jesus heet immers ook “Verlosser”.

      Deur die eeue het dankbare gelowiges hierdie verlossing ge­reeld gevier. Christus se kerk maak ruim voorsiening vir dié soort viering – deur te sing en te bid, deur te eet en te drink. Deur mens te wees voor God se aangesig, volledig, verlos. En ons weet mos baie goed – prys Hom daarvoor! – waarvan ons verlos is.

      Paulus help ons nou ook om te leer waartoe ons verlos is. Hoe die nuwe bedeling in verlostes se lewe moet lyk. Ja, “moet” (v. 4).

      Dit is, aldus dié apostel-van-genade, ’n móét dat ons lewe vrug­baar verloop, in God se diens. Ons moenie toelaat dat ons vreug­defeeste ons tot ’n passiewe laat-maar-loop-houding verlei nie. Daar is wérk.

      Werklike godsdiens is tog ’n diens. ’n Dankbaarheidsdiens, ja, maar uit beginsel een wat met opgerolde moue moet plaasvind. Met ’n dankbare hart wat voortdurend moet vra: “Wat wil U hê moet ek doen, Here?”

      ____________________

      Hier is ek, Here, u verloste kind. Stuur my, wys my, gee my u opdragte.

      Vrydag 25 JANUARIE 2019 Lees Nehemia 2:1-10

      Aangename kennis!

      My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan (v. 8).

      Nehemia, die Persiese koning se kroegman, se hart brand om na sy eie land terug te gaan. Hy het gehoor dat sy mense daar in die verre Juda bitter swaar kry, dat die geliefde Jerusalem se mure omgegooi lê en die stadspoorte verbrand is (vgl. Neh 1:3). Met ’n swaar hart doen hy sy werk vir die koning.

      Die koning, klaarblyklik ’n oplettende en sensitiewe mens, vra hierdie amptenaar uit oor sy terneergedruktheid. En Nehemia roer die saak versigtig aan. “Ek was baie bang …” (v. 2) vertel hy oor sy poging om die koning in te lig. “Ek het ’n skietgebed opgestuur na die God van die hemel …” (v. 4).

      Toe het hy alles aan die belangrike vors vertel.

      Bybellesers ken die verhaal verder. Oor hoe die koning sy hand vir sy werknemer wyd oopgemaak het. Dit word ’n opbouende storie soos min! Boonop is die hoofkarakter self aan die woord, en die leser kry dus in die Nehemiaverhaal se dertien hoofstukke ’n intieme kykie in dié man se hart.

      Verskillende waarnemers sien verskillende dinge wanneer iemand sy hart so ontbloot soos hier. Ek, byvoorbeeld, leer ken ’n mens wat nie skroom om te sê hoe afhanklik hy van God is nie. “My God” noem hy Hom, die Een wat “sy goeie hand” oor hom hou (v. 8).

      Nehemia praat ’n taal wat ek goed verstaan. Ek ontmoet hom hier as een van my mense. Nee, ek weet nie veel van hom nie en van sy tyd en omstandighede nóg minder, maar oor die feit dat ons familie van mekaar is, het ek weinig twyfel.

      Hallo, broer!

      ____________________

      Here, in u groot gesin is daar vir my ook plek. Ek sit dankbaar by die gesinstafel aan.

      Saterdag 26 JANUARIE 2019 Lees Nehemia 5:1-13

      “Ons is jammer …”

      “Maar laat ons tog die uitbuiting staak. Gee vandag nog … terug …” (v. 10-11).

      Nehemia vind toe baie gou uit dat alles wat die familie betref nie heeltemal pluis is nie. Bewerings word gemaak oor magsmisbruik, oor korrupsie en uitbuiting. Die gewone mense beskuldig die voor­aanstaandes en bring onweerlegbare bewyse om dit te staaf.

      Dit alles ontstel hom mateloos. Hy het immers sy loopbaan op­geoffer om sy mense te kom help, en nou blyk dit dat baie van hulle eintlik net daarin belangstel om hulleself te help. Dat hulle trap op enigeen wat in hul pad staan om dit te bereik.

      Daar is darem ook niks nuuts onder die son nie …

      Dit moet vir Nehemia ’n ontnugtering gewees het. Maar des te meer vir die arme slagoffers. Hulle trek reeds aan die kortste ent ná ’n misoes of twee, en nou word hulle in hul weerloosheid boon­op skandelik uitgebuit. Nehemia konfronteer die oortreders; hulle beken skuld en onderneem om reg te maak waar hulle verbrou het – met rente. Eind goed, alles goed …

      Of hoe? Sal alles nie eers goed eindig as hierdie (effens weg­ge­steekte!) insident aan die groot klok gehang word nie, ook deesdae? Wanneer die klinkende boodskap hierin juis vandag wyd en syd ver­kondig word? As mense soos ons diep bloos oor sulke mis­stap­pe? En indien ons regstellende stappe doen om dit te beredder?

      “Ons is jammer, Here!” is ’n uitspraak wat ons goed ken. Maar wat van: “Wys ons hoe om ons opregte spyt daadwerklik te betoon”? En om dan ons skuldbelydenis in dade te omskep. Om op dié ma­nier geloofwaardig te wees as ons aan ’n misbruikte medemens sê: “Ons is jammer.”

      ____________________

      Leer my, Here, hoe ek u vergifnis werd kan wees.

      Sondag 27 JANUARIE 2019 Lees Lukas 4:14-21

      Reisende prediker

      Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat (v. 15).

      Rondreisende predikers se naam loop hulle vooruit. Oral waar hulle aandoen en preek, word daar groot verwagtings gekoester. Die toe­hoorders hang aan hul lippe, drink die bruisende woorde in. En ná hul vertrek word daar met lof oor die afgelope geseënde tyd gepraat.

      Destyds het ’n Nasaretseun in Galilea rondgegaan en gepreek. Almal was opgewonde, en verwonderd, toe hy in die plaaslike sina­goge aan die woord kom. Hulle het mekaar gevra: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” (Luk 4:22).

      Hy is, Hy is. Hy is egter ook meer. Het hulle dit dan nie gehoor nie? Hy sê dit self nadat hy uit die Jesajaboek voorgelees het, die boek toemaak en begin preek en sê: “Vandag is hierdie Skrif­woord … vervul” (v. 21).

      Ag, dalk het hulle dit gehoor. En dalk was dit die vernaamste rede waarom hulle baie gou van hom ontslae wou raak (vgl. Luk 4:28-30). Hy het mos sy mandaat as besoekende prediker oorskry: Moe­nie aanvegbare stellings maak nie. Moenie uitdaag nie. Moet veral nie kritiseer nie. Praat nét “aangename woorde” (Luk 4:22).

      Dit sou helaas nooit gebeur nie, nie waar dié prediker sou optree nie. Toe sy volgelinge boonop begin om na hom in hoofletters te verwys, soos na ’n god, was die kerkmense éérs kwaad.

      Jammer vir julle, kan ons vandag sê. Die Gees van die Here is op Hom. Hy is die Gesalfde wat na die armes, die gevangenes, die blindes en die onderdruktes gestuur is. Niemand sal Hom keer nie. Hy is die Aanbringer van die genadejaar. Hy is hier om te bly.

      ____________________

      U genade is ook vir my genoeg, my hoofletter-Here!

      Maandag 28 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 36:1-10

      As hulle miskien hoor …

      As Juda hoor … sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer (v. 3).

      Jeremia word geroep om die Here se woorde neer te skryf, en dit is nie goeie woorde nie. Inteendeel. Hier word met “rampe” (meer­voud! – v. 3) gedreig, vertel van die Here se “gloeiende toorn” (v. 7), wat alles die gevolge is van die volk se “verkeerde dade” (v. 3), sy “verkeerde pad” (v. 7).

      Ewenwel. Jeremia kommandeer ene Baruk op om sekretaris te speel. Meer: “Jy moet dit vir hulle lees” (v. 6), sê Jeremia aan Baruk, want sy persoonlike omstandighede laat hom nie toe om dit self te gaan doen nie. En só word die toneel opgestel wat uiteindelik daar­op uitloop dat Baruk op ’n vasdag wat spesiaal hiervoor uitgeroep is, uit hierdie boek sou voorlees. Die hele volk sou hom aanhoor en die boodskap aan die koning oordra.

      Wat

Скачать книгу