Скачать книгу

2019 Lees Jesaja 62:1-5

      ’n Nuwe naam

      Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,” en jou land: “Die een wat aan die Here behoort” (v. 4).

      Die jonges noem dit: om jou naam met ’n plank te slaan. Die ou mense het gesê: Gooi tog net nie jou naam weg nie. Ons weet van­dag: As jy jou naam “weggooi” (of dan “met ’n plank wegslaan”), kry jy hom nie sommer weer terug nie. Dit is nou allemansbesit. Almal ken die storie, giggel daaroor, bespreek dit agter hul hand. Die rekenaarvaardiges google daardie naam – en lag jou uit.

      Wie moet die skuld daarvoor kry? Net jy self. Nie “omstandig­hede buite my beheer” nie; nie “die noodlot” of “die duiwel” nie. Dit is net maar jy, en jy alleen, wat dit veroorsaak het.

      Dit is ook nie moeilik nie, juis nie vir kerkmense nie; selfs die vroomstes kry dit reg. Met jou woorde – dikwels; met jou dade – gereeld. En die hele wêreld lag jou uit. Te laat vir trane. Die slag is gelewer. Jou naam is Krater.

      Die ou volk se ballingskap (en die skandalige redes daaragter) sou ’n swart kol in hul geheue bly. Iets waaraan hulle nie graag her­inner sou wou word nie. Behalwe as jy trooswoorde daarby voeg. Soos Jesaja s’n hier: “Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het” (v. 2).

      Dit blyk uit hierdie treurige geskiedenis dat die Here wel raad het met sy kinders se weggegooide naam. Hy stof dit nie af of vryf dit weer blink nie – dit is heeltemal te vuil. Nee, Hy gee hulle, daar­die ellendige plankslaners, ’n heel nuwe naam. Hy skaam Hom nie vir hulle nie – inteendeel. Hoor dan, sê Jesaja, Hy noem hulle nou “geliefdes”.

      ____________________

      Hoor ons lied vir U, Here: “Hy maak sondaars God se kinders. Halleluja! Amen.”

      Maandag 21 JANUARIE 2019 Lees Psalm 145

      Loflied!

      Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde (v. 8).

      Wat ’n loflied! En wat ’n geskenk is dit nie in ’n tyd soos dié nie.

      Ja, soms wil jy bloot dankie sê. Kom jy opnuut onder die indruk van jou ontelbare seëninge. Sien en hoor jy van ander se ellende, en dan gaan jou hart na hulle uit.

      En dit blom óóp in jou diepste binneste en jy wil uitroep: “Die Here is groot, alle lof kom Hom toe …” (v. 3). Nee, hierdie keer wil jy niks vra nie. Jy skaam jou vir al jou klagtes. Jy wil bloot “halle­luja!” sê.

      As jou woorde egter opraak of jou gemoed te vol is, dan help hierdie psalm baie. Ook as jy nie gewoond is aan dergelike jube­lende gebede nie.

      Hier hoor jy (of word jou vermoede bevestig) dat die Here se goedheid van lankal af kom. Van vér af. Dat die geslagte voor jou al daarvan geweet en daaroor gejubel het. Dat dit vir almal wat na Hom kyk vir hul volgende maaltyd, ’n troos is dat Hy hulle raaksien (vgl. v. 15) en dat Hy sy hand vir hulle oopmaak en oorvloedig gee (vgl. v. 16). Dat sy kinders se nood nie by Hom verbygaan nie. Dat Hy naby hulle én hul nood is (vgl. v. 18-19).

      Daarom, dankbare mens, lees hierdie psalm hardop. Doen dit weer en weer. Laat hierdie ou, ou woorde nuut word in jou gemoed. Pas die destydse besonderhede aan by jou eie gewaarwordinge. Laat die psalmdigter se “ek” gerus jou eie “ek” word.

      En laat sy digterlike vryheid ook jou emosies loslaat. Lag saam met hom. Waag dit om deur sy entoesiasme oorrompel te word. Werklike lof laat hom mos nie voorskryf nie, en dankbaarheid hoef tog nie brieke te hê nie.

      ____________________

      Here, hoor my: Halleluja! Halleluja! Halleluja!

      Dinsdag 22 JANUARIE 2019 Lees 1 Korintiërs 1:3-17

      Eensgesind

      Is Christus dan in stukke verdeel? (v. 13).

      Nou ja, verdeeldheid in die kerk is dus so oud soos die kerk. Hoe­kom verras dit niemand nie?

      Omdat ons weet: Ons, die gelowiges, is die kerk. Ons weet eerste­hands hoe verdeeldheid in die kerk lyk. In ons eie klein kring.

      Dit is maar die ding met mense, klaarblyklik van altyd af: soveel siele, soveel sinne. Boonop probeer ons lewenslank om ander na ons standpunt oor te haal; self is ons nie juis vatbaar vir oortuiging nie.

      Wanneer dit boonop by die navolging van leiers kom, is die kerk en die kerk se mense soos tipiese landsburgers behep met die klein­like politiek van hul tyd. Daarom sal die Korintiërs breëbors loop en verkondig: “Ek is ’n Paulusman!” Of: “Ons is Apollosmense.” ’n Ander sal uitroep: “Nee, Sefas is ons leier!” Daar is ook dié wat uit geestelike hoogtes op hierdie lotjie sal afkyk en beterweterig verklaar: “Ék volg Christus, nét vir Hom.”

      So teken ons punte teen mekaar aan. Hou ons telling van ons geestelike voorspoed en vergelyk dit gereeld met dié wat dieselfde Bybel as ons lees en dieselfde God as ons aanbid. En so maak ons teenstanders van hulle wat familie is. Vind ons die een of ander perverse genot daarin om mekaar te uitoorlê. Om wenners! wen­ners! wenners! te wees, ten koste van hulle wat ons in ons vroom oomblikke “broers en susters” noem.

      Op dié manier, raas ’n hartseer Paulus, kap ons Christus se lyf in stukke. Kruisig ons Hom opnuut op die wreedste moontlike manier. En dit kamma in sy Naam.

      Wat ’n prys betaal Christus se kerk nie vir sy lede se selfbehept­heid nie. Deur die eeue, tot vandag.

      ____________________

      Verlos u kerk, Here, elke dag van egoïsme. En U moet maar by my begin.

      Woensdag 23 JANUARIE 2019 Lees Lukas 5:33-39

      Gewoontes

      “En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed” (v. 39).

      Die navolging van tradisie is ’n groot seëning. Dit anker jou aan iets wat groter en ouer en sterker is as jy.

      Dit is dus ’n voorreg om jou in ’n bepaalde gewoonte of gebruik te verlustig, om mettertyd daarin tuis te kom, om uiteindelik te kan sê: Dit is óns manier dié, dit is my en my mense se eiegoed. Sulke dinge het kloukrag: Jy hou daaraan vas, en dit hou jou vas.

      Daarom is verandering nooit sonder meer ’n vreugde nie. In­teendeel: Daar word dikwels gefrons en gemompel en gemur­mureer wanneer iemand hardop iets sê oor “vernuwing”. Of uitroep: Ons leef in ánder tye! Of skimp dat jy en jou denke outyds is.

      Dis dus geen wonder dat Jesus en sy volgelinge se eet- en drink­gewoontes soveel aanstoot aan die tradisionaliste gegee het nie. Dit was vir hulle vreemd en selfs bedreigend. Hulle skroom nie om daaroor te mor nie.

      Jesus se antwoord maak hulle stil, vir eers. Hy vertel hulle ’n gelykenis (nuwe wyn; ou velsakke) waarvan die eenvoudige logika geen teenspraak duld nie.

      Toe gee Hy hul suur opmerkings boonop ’n doodskoot deur prontuit te sê hul ontevredenheid het nie ’n teologiese grondslag soos wat hulle wou voorgee nie. Nee, sê Hy, julle klou vas aan sinlose ou opvattings omdat julle verknog geraak het aan die voorspelbaar­heid daarvan. Julle is gewoond aan die “ou wyn” en daarom weier julle om daarvan af te sien. Julle maak dus van tradisie ’n wapen om verandering te beveg.

      Waarom sou mense so iets wou doen? En dit boonop kerkmense?

      ____________________

      Here, Verlosser, bevry my en my mense van ons krampagtigheid.

      Donderdag 24 JANUARIE 2019 Lees Romeine 7:1-6

      Moets en moenies

      Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God (v. 4).

      Dit is nogal iets vir gelowiges uit alle geslagte om te weet: Die ou bedeling se soort diens is verby; in die nuwe bedeling is die diens anders. In die ou bedeling, skryf Paulus, “het ons vrugte gedra

Скачать книгу