Скачать книгу

is seker ook dié dat die voorskrif oor vergifnis hierna volg. En dalk is dit aan die kleintjies gerig, sodat hulle die néérkykers, die struikelbloklêers, sewentig maal sewe keer sal vergewe.

      Doen dit maar, julle kleintjies. Vergewe hulle. God self sal, on­vermydelik, oor hulle oordeel.

      ____________________

      Ek is steeds u kindjie klein, Here Jesus. Maak my hartjie rein!

      Donderdag 28 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 92:1-4, 12-15

      Kerkmense

      Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God (v. 14).

      Dit is ’n tipiese lofpsalm dié. Die musiekinstrumente word uit­gehaal; die woorde kom maklik, soggens en saans. God se liefde is sigbaar.

      Dan gaan die psalmskrywer oor tot die besonderhede van God se goedheid vir hom, die dankbare sanger. En vir hulle, sy gees­ge­note. Hul krag kom van Hom af, sê hy, van altyd af en vir altyd.

      Die Godshuis is hul woning, sing hy, hul grootwordplek. En daar­om hou die jare wat verbyvlieg en die aansluipende ouderdom vir hulle geen bedreiging in nie. Inteendeel: “Selfs in hulle ouder­dom sal hulle nog toeneem in krag” (v. 15).

      Dit, hierdie heuglikheid, is die gevolg van hul teenwoordigheid in “die huis van die Here”. Mooi, nè?

      Hoeveel mense deur die eeue kan nie hier saampraat nie! Dit is hulle wat graag sê: “Ek het in die kerk grootgeword.” Hulle na wie daar met agting verwys word as “kerkmense”. Hulle het nog altyd die kerk as ’n tuiste gekoester. Veral ’n geestelike tuiste, ja, maar ook as ’n sosiale omgewing waarby hulle naatloos inskakel. ’n Plek waar hulle leer (en hulle laat leer) om leiding te neem, om voor ander te praat, om hardop te bid. Om voete én skottelgoed te was. Om mens te wees tussen ander mense. Om tot hul oudag steeds te groei in geloof. En genadebesef. En vergifnis. En vrede.

      Hoe jammer dus vir diegene wat dit alles ontbeer – buite én, he­laas, ook binne die kerk. Veral laasgenoemdes wat in die kerk oud word, maar steeds deur kinderagtigheid regeer word. Wat nog nooit gesnap het dat ’n erediens toe nooit ’n diens aan hulleself is nie.

      ____________________

      Leer my, kerkmens-deur-u-genade, om juis hier ’n tuiste vir almal te skep, Here!

Maart

      Vrydag 1 MAART 2019 Lees 1 Tessalonisense 4:13-18

      ’n Enigste troos

      Troos mekaar dan met hierdie woorde (v. 18).

      Dit is die gelowiges se enigste troos, sê die ou kerkvaders, dat ons aan Christus behoort. Of ons lewe en of ons reeds dood is, ons is sy eiendom. Hier vertel Paulus aan die gemeente in Tessalonika hoe dit werk, dié soort “behoort”. Veral nadat jy gesterf het.

      Dit was sekerlik nodig, want hulle het dit klaarblyklik nie ver­staan nie. Ons verstaan dit ook nie te goed nie, en daarom kan ons gerus maar die ore spits. Maar, lyk dit my, as ons vir ’n gedetailleerde uiteensetting van die sterfproses wag, sal ons lank wag. Want Paulus sê maar wat hy weet – en wié weet nou eintlik wát oor doodgaan?

      Paulus weet wel van Jesus. En hy weet wat hy van Hom glo: “… dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het”. Hy ken God, en hy weet wat hy van Hom glo: “… dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem” (v. 14).

      Nou gebruik hy groot woorde en duiselingwekkende begrippe om te verduidelik hoe God te werk sal gaan om dit alles te bereik. Ag, maar dit klink so … onwerklik, soos ’n fantasie. Hedendaagse mense, ook gelowiges, vat maar langtand hieraan.

      Dit maak nie regtig saak nie. Wat alles beeldspraak is en wat die helder werklikheid is – wel, dit sal ons maar moet sien, eendag. Waaroor daar gelukkig nie geredeneer hoef te word nie, is Paulus se klokhelder gevolgtrekking: “En so sal ons altyd by die Here wees” (v. 17).

      Hiérmee, sê Paulus, kan ons mekaar troos. Om by die Here te wees omdat ons aan Hom behoort, hierdie kant én anderkant die graf – dit is ons enigste troos.

      ____________________

      Ek behoort aan U, Here. Niks sal my ooit van U kan skei nie.

      Saterdag 2 MAART 2019 Lees Johannes 16:1-4

      Waarskuwing

      “Hierdie dinge sê ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie” (v. 1).

      Wat maak gelowiges afvallig? Ondankbaarheid? Gemaksug? Eie­ge­regtigheid? ’n Oortuiging van hul selfgenoegsaamheid (“ek kom goed reg, dankie”)?

      Sekerlik, ja. Daar kan ook vele ander redes bygevoeg word vir gelowiges wie se geesdrif vir Jesus verflou. Hier waarsku Jesus sy volgelinge teen die ellende wat vervolging meebring. Dat dít, die vrees oor jou eie goed en bloed, jou laat wonder of dit die moeite werd is om agter Hom aan te gaan.

      So sê Jesus. En Hy sal weet. Is Hy nie feitlik lewenslank vervolg nie? Was daar dan nie van die begin af diegene wat sy bloed ge­soek en dit toe wel gekry het nie? Is dit nie Hy wat gevra het dat die lydensbeker van Hom af weggeneem sal word nie?

      Die hele voorafgaande Johannes 15 loop uit op hierdie waar­sku­wing oor afvalligheid, wanneer Hy sy volgelinge vertel dat hulle aan Hom verbind is soos lote aan ’n wingerdstok (vgl. Joh 15:1-6). Dat Hy húlle gekies het en nie andersom nie (vgl. Joh 15:16). Dat dit beteken dat hulle met Hom geassosieer word – aan jou Vriend word jy geken! (vgl. Joh 15:18-20). So stel Hy hulle by voorbaat in kennis van die Gees wat sy intrek by hulle gaan neem (vgl. Joh 15:26).

      Daarom waarsku Hy hulle teen sogenaamde kerkmense wat hulle uit die aanbiddingsplekke sal smyt omdat hulle Hom aanbid aan wie hulle verbind is. Mense wat reken hulle bewys God ’n guns deur Jesus se uitverkore kinders te verjaag en selfs te vermoor.

      Ek weet waardeur julle gaan, sê Jesus. Moenie moed verloor nie. “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20). Ál die dae.

      ____________________

      Ek is broos, Here. En só bang! Ek het net vir U.

      Sondag 3 MAART 2019 Lees Jesaja 55:10-13

      Wonderwoord

      … dit sal doen wat Ek gedoen wil hê … (v. 11).

      Met ’n eenvoudige en tog logiese prentjie wys die Here deur sy pro­feet hoe kosbaar sy woord is: Die water kom uit die hemel en maak die aarde nat. Só kom my woord, sê Hy, na hulle vir wie Ek dit gee, en dit bereik sy doel. Soos die nattigheid ’n deurslaggewende uitwerking op die aarde het, so ook my woord. Die deurdrenkte grond bring ’n oes voort; met my woord gebeur dieselfde.

      Eenvoudig, ja. Logies, sonder twyfel. O, en ’n mooi prentjie!

      Maar soos die meeste mooi dinge is dit ook broos, dié prentjie.

      Veral die Godswoord-gedeelte van hierdie vergelyking ly onder ons verwagtingloosheid. Juis deesdae. Ons sukkel om daaroor op­gewonde te raak. Kyk, daar is mos mense – ons? – wat aan ’n oor­daad van hierdie woord blootgestel is. Van kleins af het hulle – ons? – hierdie woord (en allerlei interpretasies daarvan, sommige erg vergesog) gehoor. Nou raak dit hulle – ons? – nie meer nie. Ons hoor dit nie eintlik nie. Dit het geen invloed meer op ons lewe nie. Dit weet ons – al bêre ons hierdie wete diep in ons hart.

      Interessant, dan, dat die Here oor hierdie woord sê dit sal doen wat Hy gedoen wil hê. Ons sogenaamde oorversadiging ten spyt. Ons bygeloof en sinisme en verveling het toe nooit die laaste sê nie.

      Hy, die Spreker van dié woord, sê ons hoef ons regtig nie te be­kommer of dit ontkiem en vrug dra nie. Die Wonder­woord is Syne, en dit sal “tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het” (v. 11).

      Ons weet wel dat sy vernaamste bouwerk by ons begin. Ons, die alleswetende onwilliges, die hardhorende baiepraters, die hoogs ingeligte niksdoeners.

      ____________________

Скачать книгу