Скачать книгу

“diaken” beteken “dienskneg”, en dit is wat Stefanus by uit­nemendheid was. In die kort tydjie dat hy in die Here van sy kerk se diens was, het hy sy kanse (eintlik was daar maar één kans) voluit gebruik.

      In hierdie paar verse is hy reeds fluks besig met ’n lang toe­spraak voor die Joodse Raad. Sy uitvoerige ontmaskering van die voor­vaders se geloof slaan raak en seer, en uiteindelik sou Stefanus die hoogste prys vir sy “verraad” betaal. Vat jy aan óns vaders se geloof, vat jy aan ons …

      Hier het hy dit byvoorbeeld oor die veelgeroemde Moses­ge­skie­denis, die verhaal van die befaamde uittog uit Egipte. Be­halwe, sê Stefanus, dat dit allesbehalwe roemryk was. Inteendeel. In enkele sinne vertel hy hulle wat almal reeds weet, maar wat doel­be­wus verswyg word: Die voorvaders was nukkerige afgods­die­naars. Be­hep met Egipte se vleispotte en sy vele godsdienste.

      En Stefanus speel gou-gou met die waanbeeld oor “ons voor­vaders” klaar. Hulle vir wie God maar “laat begaan (het) om die sterre te aanbid” (v. 42).

      Die glansryke nageslag, die allervromes, wou dít nie hoor nie. Beslis nie van ’n klein snuiter soos hierdie Stefanus nie. Daarom sou hulle hom met klippe begin gooi, letterlik. Dit tref helaas soms die Here se diensknegte: die klippe.

      ____________________

      Here, leer my hoe om my kanse tot u eer te gebruik. Ten spyte van die klippe.

      Saterdag 9 MAART 2019 Lees Prediker 3:1-8

      Ons tye

      Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … (v. 1).

      Wat ’n wonderlike gedig! Skerp, reguit. Elke woord – selfs in vertaling duidelik hoorbaar – is geweeg. Boonop word dit graag aangehaal. Ja-nee, die gelowige Bybelleser het hiér ’n kosbare geskenk gekry.

      As dit net nie vir die gepaardgaande bygeloof was nie … Want sien, vele lesers en gebruikers van hierdie teks wil dit só interpreteer: Omdat die tyd bepaal is, is alles afgemeet. Elke minuut in ons dag, elke dag van ons lewe. Ons, en die res van die skepping, beweeg dus in die boksie wat reg aan die begin vir ons uitgedeel is. Hamsters in ’n hok. Uiteindelik rotte in ’n val.

      Miskien maak hierdie gerieflike wanopvatting sommige mense rustig. Tevrede met hul lot. Hulle sal dalk sê: Ons kan tog niks daaraan doen nie. Ons moet eenvoudig berus, dit is al. Só leer die Woord ons mos …

      Dalk leer die Bybel ons berusting, ja – maar beslis nie hier nie. Hierdie geliefde Predikergedig het eintlik presies die teenoorge­stelde op die oog: Dit kla, dit baklei, dit vermaan, dit sug. Dit roep die hoorders hiervan op om die tyd waarin hulle hulle bevind, te gebruik. Om te dans terwyl hulle die kans het. Om te omhels terwyl die geliefde in die omtrek is. Om te vergewe terwyl die skuldenaar voor hulle staan.

      Kortweg: Gryp die dag! Ja, hierdie dag wat jy gekry het toe jy jou oë vanoggend oopgemaak het. Doen nóú wat jy moet, voordat die tyd daarvoor ook verbygaan. Voordat jy begin kla, lamlendig en vol selfbejammering: “Ek moet seker maar berus, die tyd daarvoor was nie ryp nie …”

      Jy sal weet dit is ’n leuen. En Hy, jou Tydgewer, ook.

      ____________________

      My tye is in u hand, Here, en U maak dit wyd oop. Dankie!

      Sondag 10 MAART 2019 Lees Deuteronomium 27:1-10

      Monumente

      “Nadat jy deur die Jordaan getrek het, moet jy die klippe … op Ebalberg opstapel en moet jy hulle met kalk afwit” (v. 4).

      Daar is ook ander klippe as dié waarmee die Here se kinders ge­gooi word. Dit is dié waarmee Hy vereer word. Ons sien dit soms by huise, maar veral in dorpe en voorstede, en dikwels iewers teen ’n koppie of ’n berg waar dit uitgepak is, en meestal wit geverf. Goed sigbaar.

      Verbyryers kan dit maklik lees. JESUS RED, staan dit daar. Of: GOD IS GOED. Elkeen van hierdie boodskappe het ’n storie. Iewers was daar ’n mens (en meestal ’n groep mense) wat gereken het dit is die beste manier om hul storie te onthou én aan die wye wêreld te verkondig.

      Dié openbare, sigbare herinnering kom van ver af: Wie onthou Abram wat so altare gebou het? (vgl. Gen 12:7, 8). En hier het ons dit weer: Moses gee opdrag aan sy mense om wit klippe te stapel. Ter herinnering aan die Here se beskerming en sy beloftes. En, voeg Moses by, hulle moet die wet wat hy hulle gegee het “duidelik lees­baar skryf op die klippe” (v. 8). Die klippe sal hulle dus ook ver­maan, hulle die regte pad aanwys.

      Dit is seker wat monumente uiteindelik ook is: wegwysers. Dit vertel iets van waar die klipstapelaars vandaan kom, ja, maar ook van hul vaste voorneme om op dié goeie weg te volhard.

      Dit is noodsaaklik dat hierdie hoop klippe behoorlik sigbaar sal wees, want mense kyk goeie dinge maklik mis. Dikwels aspris ook – netnou vereis die wegwyser ’n koersaanpassing.

      En om van plan of van roete te verander, kom nie maklik nie. Ons karring dan so lekker aan …

      ____________________

      Ons hou ons doof vir u stem, Here. Maar, goddank, dan roep die klippe dit uit!

      Maandag 11 MAART 2019 Lees Psalm 17

      Onskuldig!

      Luister tog, Here, na my regverdige saak … (v. 1).

      Hy is hartlik oortuig van sy onskuld. Die Here kan dit mos met sy eie oë sien (vgl. v. 2); Hy kan hom selfs in sy slaap ondersoek, as Hy wil! (vgl. v. 3). Hier is niks verkeerd gesê nie (vgl. v. 4) en nie ’n aks van die goeie afgedwaal nie (vgl. v. 5). Onskuldig. Onbesproke na woord en daad én gedagte.

      Hierdie reinheid weerhou hom nie van nogal sterk wraakge­dagtes nie. Hoor dan: “Laat hulle ontydig omkom, sny hulle lewens af …” (v. 14). En laat die ellende wat oor hulle gaan kom, genoeg wees om ook hul kinders en kleinkinders te tref (vgl. v. 14).

      Dit is sekerlik verstaanbaar, dié woede. As jy onskuldig is, is jy onskuldig. As daar uit pure kwaadwilligheid op jou jag gemaak word, dan verdedig jy jouself. Al is jou beste verdediging om die kwaaddoeners by jou Here te gaan verkla, en Hom op die koop toe ’n klompie wenke te gee oor wat Hy alles met hulle kan aanvang.

      Maar dit bly darem harde woorde van iemand wat hom op sy opregtheid roem (vgl. v. 1). Ag, en ons kan seker ook wonder oor daardie luid verklaarde onskuld …

      Ja, juis ons en mense soos ons, wat waarskynlik goed onthou hoe omgekrap ons was oor die onreg wat ons al aangedoen is, oor al die venyn wat ons getref het. En met hoeveel heftigheid óns ons toe verdedig het.

      Dit is sekerlik die beste wat ons in sulke situasies kan doen: om ons, soos hierdie onskuldige, op die Here se trou te werp (vgl. v. 7).

      Ons moet wel in gedagte hou dat Hy ons in die oë kyk, en tot in die hart. Hy weet alles.

      ____________________

      Ek hoef my nie voor U te regverdig nie, o Regverdige! U ken my, my Beskermer.

      Dinsdag 12 MAART 2019 Lees Sagaria 3:1-10

      ’n Nuwe begin

      “Trek uit dié liederlike vuil klere … Ek gaan vir jou skoon klere aantrek” (v. 4).

      Die Here wys aan die profeet Sagaria ’n reeks gesigte, maar ons, hedendaagse lesers, verstaan daar bloedweinig van. Daardie tyd en omstandighede is vir ons vreemd, die beeldspraak nogal duister – tensy jy jou eie afleidings wil maak of jou aan allerlei slimjanne en húl verklarings wil steur.

      Maar daar is heelwat waarvan ons tog iets begryp: die Here, by­voorbeeld. Hy wat die aanklaer bestraf, die opportunistiese Satan, wat kans sien om die Here se kind by Hom aan te kla en wat toe deeglik pak kry. En verder geïgnoreer word.

      Die Here is te besig om sy vernielde kind te versorg om Hom aan kansvatters te steur. Hoe anders is Hy as ons! Ons wat die Satan met soveel dodelike erns bejeën. Ons wat soveel ontsag vir daardie ou skepsel se laaste stuiptrekkings

Скачать книгу