Скачать книгу

’n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Juda­woestyn.”

      Só lui die opskrif van hierdie psalm. Daarmee kry ons ook die verklaring vir die beeldspraak hierin. Vir die sterk werkwoorde waarmee dit begin: “… ek dors na U; ek smag na U …” (v. 2).

      Dit is nie seker of Dawid steeds in dié woestyn skuil wanneer hy hier skryf en of hy dit terugskouend doen nie. Dit maak in elk geval nie saak nie – die vaste waarheid hierin spring soos ’n helder fontein uit die dorre klippe: “Ek bly altyd naby U …” (v. 9).

      Ja, of hy deur die genade weer terug is in die tempel en of hy steeds in die wildernis wegkruip, hy weet sy Here is by hom. Daar­om kom dit vir hom natuurlik om sy hande op te hef om Hom te prys (vgl. v. 5). Om sy mond oop te maak om Hom te loof (vgl. v. 6).

      Hy kry dit reg om snags op sy bed, te midde van ander bekom­mernisse wat hom waaksaam en straks ook uit die slaap hou, aan sy Here te dink. Om sy goedheid voor oë te hou, juis ook in daardie mees weerlose tyd, dié tussen sononder en dagbreek.

      Dit bly gelowiges se groot troos: hul Here is nie ver nie. Israel se Bewaarder sluimer of slaap nie. Hy is die God van die kerk én die woestyn. Hy hoor luidkeelse jubeling (vgl. v. 6) en diepe nadenke (vgl. v. 7) ewe goed.

      Én, spesiaal vir woestyndwalers en Godsoekers deur die eeue wat dit nou nog nie weet nie: Hy laat Hom vind. Maklik, maklik. Hy is tog ook die oop-en-bloot-God.

      ____________________

      Here, ek is die wegkruiper, die verdwaler. U het my gevind. Ek prys u Naam!

      Vrydag 22 MAART 2019 Lees Openbaring 3:1-6

      Voordat ’n gemeente sterf …

      Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het … (v. 2).

      Johannes skryf sewe briewe in opdrag van die stem wat met hom gepraat het (vgl. Op 1:10-11). Een aan elk van ’n klompie ge­meen­tes in Klein-Asië. Hierdie een is die vyfde, dié aan die gemeente in Sardis.

      Soos aan al die ander, bevat ook hierdie brief ’n mengsel van bemoediging en verwyt, van waarskuwings en opdragte. En ook hier staan die werklike Afsender se kennis van die gemeente se spesifieke omstandighede soos ’n paal bo water: “Ek weet alles wat julle doen” (v. 1).

      Klaarblyklik hang Sardis se bestaan as gemeente aan ’n draadjie. Daar is sprake daarvan dat die laaste goeie dinge hier aan ’t dood­loop is, al is hul reputasie nog ongeskonde. En dit is nie vir die Here van die gemeente aanvaarbaar nie. Daarom waarsku Hy hulle: Word wakker!

      Ja-nee, ’n gemeente kan die naam hê dat hy lewe, maar die Een wie se Naam eintlik op die spel is, weet haarfyn wat daar aangaan. Hy word nie – soos mense en hul kommissies – deur reputasie en bravade om die bos gelei nie. Hy kyk verby lidmaatgetalle en begrotings en sien die waarheid. Hy bereken lewe en nielewe vol­gens die maatstawwe wat Hy vir sy gemeente aangelê het.

      Dít moet niemand verbaas nie. Sy Naam is in die gedrang, én sy Naamdraers, hulle wat “Christene” genoem word.

      Elke Christelike gemeente in elke eeu se voortbestaan in sy Naam is sonder meer aan sy standaarde gekoppel. En dit is nie hemelhoog nie. Dit hang wel ten nouste saam met die ontvangs van en die luister na die evangelie (vgl. v. 3). Sodat die gemeente kan hoor wat die Gees sê. ’n Gemeente sonder die evangelie is ’n klub.

      ____________________

      Maak ons sensitief vir u stem, Here. Maak ons doof vir slimmighede.

      Saterdag 23 MAART 2019 Lees Lukas 6:43-45

      Vrugte

      “Elke boom word aan sy eie vrugte geken” (v. 44).

      Jesus se gelykenisse, die langes én die kortes, vra dikwels grondige dinkwerk om uit te pluis. Daar word lank daaroor geredeneer en boeke en boekdele daaroor geskryf.

      Maar soms is die betekenis daarvan so voor die hand liggend dat selfs jy in jou stiksienigheid nie anders kan nie as om dit feitlik onmiddellik te snap. Soos hierdie een oor die boom en die vrugte, oor die mond wat oorloop waarvan die hart vol is. Dit is trouens oorbekend – en daarom glip ons getroue Bybellees-oog gemaklik daaroor. Ons dink lankal nie meer oor dié een nie; daar staan mos wat daar staan, en dit is eenvoudig en waar en ’n vingerwysing. En ’n ernstige vermaning vir al daardie mense met ’n hart vol verrotting en ’n lorrievrag goor gedagtes.

      Dit waarsku ook vir my, vroom gelowige. Ek met die rein hart en die silwerskoon gewete. Ek wat nooit meer oplet na die soort vrugte wat ek dra nie. Wat nooit meer in die spieël kyk en sien hoe oorgroei die boom geraak het nie. Hoeveel nuttelose takke, hoeveel geil blare die wêreld vol hang. En hoe armoedig, hoe niksbedui­dend, die vruggies is.

      Nee, ek lees hierdie klein gelykenis en sy knallende slot met ’n meewarige glimlag en maak ’n nota in my gedagtes om ’n ander een se vuil praatjies aan ’n hart vol morsigheid toe te skryf. Ek vergeet skoon van die soort vrugte wat ek, Godskind, behoort te dra.

      En ek wonder nie meer hoe op aarde dit gebeur het dat ’n ge­koesterde vyeboom soveel skerp dorings voortbring nie …

      ____________________

      Ek skaam my, Here, dat ander mense hulle misreken met my vrugte. Dat hulle nie weet hoe hulle dit met my het nie. Maak my anders, Here!

      Sondag 24 MAART 2019 Lees Jesaja 55:1-9

      Wanneer kinders kenners word …

      My gedagtes is nie julle gedagtes nie … (v. 8).

      Dit is ook maar goed so, nie waar nie? Dié dat God se denke en dade van ’n ander orde en aard as ons s’n is. Want dit weerhou ons van ’n oormoedige paradering met ons gewaande Godkennis, ’n breedsprakige uitstalling van alles wat ons kamma by Hom gehoor het. Wanneer Hy wát vir ons sou gesê het.

      Of hoe?

      Dit is tog vanselfsprekend dat ons ons grootoog oor sy roeke­lose vrygewigheid sal verwonder. Oor die onbegryplikheid van sy wydoop hande (vgl. v. 1). Sy naby­heid aan mense soos ons wat na Hom roep, wat Hom soek (vgl. v. 6). Sy herhaalde vergifnis (vgl. v. 7).

      Dit alles is ’n ongekende houding, ’n verbluffende werkwyse, by enige god, in alle tye. En dit dwing ons, die ontvangers van hierdie “genade, onbeskryflik groot”, tot uitbundige dank en/of ’n eerbie­dige swye wanneer ons met soveel goedheid gekonfronteer word.

      Of hoe?

      Nou: Hoe gebeur dit dan dat gelowiges so tuis geword het in God se teenwoordigheid dat hulle die geselskap begin oorneem het? Dat hulle, soos stout kinders, die aandag opeis wat God toe­kom? Dat hulle so volledig ingelig is oor God se saak, sy wil, sy doen en late? Dat hulle tot elke prys as Godkenners gesien en gehoor en bewonder wil word? Dat hulle so onafgebroke oor Hom praat dat hulle lankal opgehou het om mét Hom te praat? Dat hul­le, kinders van die grote God, hulle aanmatig om die vernaamste verdedigers van sy saak te word, die beskermers van sy Naam?

      Asof Hy nie is wat Hy is nie. En dit altyd sal wees nie, ten spyte van ons.

      ____________________

      Ag, Here, help my dat ek my plek sal ken wanneer ek voor U kniel.

      Maandag 25 MAART 2019 Lees Jeremia 11:1-17

      Duur genade

      En jy … moenie vir hierdie volk bid nie … Ek (sal) nie luister nie (v. 14).

      Sjoe! Hoe gebeur dit dat die Here sy profeet verbied om vir sy mense te bid? Dat Hy by voorbaat sy ore toedruk? Hoe bitter ver moes hulle nie afgedwaal het om Hom tot sulke harde woorde, sulke drastiese optrede te dryf nie?

      So blyk dit dan ook uit hierdie Jesajaverse: Hulle het die pad volledig byster geraak. Hulle het teruggekeer na hul voorvaders se “eerste sondes” (v. 9) deurdat hulle nie na hul Here se woorde geluister het nie, deurdat hulle agter ander gode aanloop. Daar is trouens soveel afgode in hul lewe soos wat daar stede in Juda

Скачать книгу