Скачать книгу

tonele. Plasse hemel lê opgedam tussen die skouers van laagwaterdriwwe. Uitgepofte wattewolkies dam al digter en digter teen mekaar op tot doer teen die einders.

      Die rit maak ek vir die kinders interessant met doen-goedjies om hulle mee besig te hou en met lekker padkos waarvoor ons op ’n afgeleë plaaspaadjie aftrek om dit te geniet. Klein-Johan gaan staan saam met Pappa agter ’n boom en water afslaan – probeer net so ver soos Pappa piepie. Ek sit vir Karien ’n droë doek aan en hurk self langs die pad agter ’n bos of ’n boom. Uitgelate hardloop die kinders dan af in die plaaspaadjie. Tel klippies op, of ’n verlore tarentaalveertjie.

      ’n Paar keer is dit of die ou Peugeotjie sluk teen die opdraandes, veral nadat ons ’n slag afgetrek en stilgehou het.

      Ons speel die pad korter. “Ek sien iets,” sal ek sê.

      “Hoe blink dit?” moet hulle dan antwoord. Dis dieselfde speletjie wat Pa-Leo altyd met ons as kinders gespeel het as ons op pad was met die groen Opeltjie.

      “Dit blink hoog, en pyperig. Dit draai in die rondte en staan op ’n heuwel.”

      “Dis daai toring daarbo!” roep Klein-Johan vinnig uit en wys na die windpomp op ’n hoogtetjie.

      “Mooi so. Mens noem dit ’n windpomp. Nou is dit jou beurt.”

      “Ek sien iets wat blink soos ’n groen trekker.”

      Ek maak of ek nie die John Deere op die landerye sien nie.

      “Gloen tlekkel,” is Karien se bydrae.

      “Jaaa, jy’s reg. Slim kind!”

      En so verwyl ons die kilometers as hulle wakker is. As hulle slaap, kry ek en Smit kans om te kuier.

      “Die karretjie gaan te klein wees as daar nog ’n kind is, besef jy dit?” sê ek vir Smit.

      “Ja, miskien moet ons maar daaraan dink om te belê in ’n kombi, met die oog op die toekoms. Dit sal dalk wys wees om van die Peugeot ontslae te raak terwyl ek nog iets vir hom kan kry.”

      Die pad deur die Vrystaat is dieselfde een as wat ek en Smit laas op ons wittebrood gery het. Toe was die kosmos ’n erewag weerskante van die pad. Vir ons was dit so betekenisvol omdat ons ’n groot bos in die kerk gehad het vir ons troue. Die blomme was so mooi daardie jaar. Ons het gevoel die Vader het dit spesiaal vir ons huwelik so voorberei. Nou staan dit weer dig langs die pad. Maar dis nog omtrent ’n maand voordat dit voluit sal blom.

      As ek nie self insluimer nie, verkyk ek my aan die veld. Die grasse staan geil langs die pad. Dis asof hulle jubel. In sy volle lengte staan die grys-groen tamboekie lofprysend orent. Die vingergras hef hulle hande hemelwaarts op, met die palms oop om meer seën te ontvang. Dekgras, reeds swaar in saad, buig laag neer in aanbidding voor die Koning wat lewe en groei bewerkstellig. Fonteingras langs waterpoele wuif hul wit pluime heen en weer voor die Seun van Dawid wat kom. Pylgras staan kiertsregop; ’n erewag op die soom van die pad. Salueer die Skepper. Kolle wit en koraalkleurige kapokgras kaats gloeiend die glans en glorie van God terug – Hy wat die gras en die veld só versier en versorg.

      Deur die denneplantasies van Natal verander die weer. Dit word triestig. Plek-plek hang die mistigheid misterieus tussen die swart stamme van die denne. Soos ons verbyjaag, val die sonstrale strobo­skopies daardeur.

      Dit is al ná vier toe ons uiteindelik stilhou voor ons bespreekte chalet. Die kinders hardloop so uitgelate soos twee spelerige klein hondjies rond.

      “Kom help gou vir Pappa die koffers afdra, dan kyk ons in watter bedjie elkeen van julle gaan slaap.”

      “My bedjie is die een hier by die venster,” sê Klein-Johan.

      “My bedjie hiel,” vul Karien aan.

      Hulle klouter op die skoon dekens, sit die bedliggies aan, maak bedkassies oop om alles wat nuut is te verken.

      Ek begin dadelik dink aan aandete. Ons het nie plek vir baie voorraad gehad nie en moet nou gou speel voor toemaaktyd om iets by ’n winkel te gaan kry. Terwyl ek koffers uitpak, gaan koop Smit vir ons iets vars vir aandete – vis, brood, melk en iets vir ’n slaai.

      Toe hy terugkom, vat ons die kinders af strand toe sodat hulle die see en sand kan beleef voor dit donker is. Hoe betowerend is los, skoon seesand nie onder ’n mens se kaal voete nie! Impulsief wil ’n mens begin speel, in die sand neerplons en een word met die strand.

      Elk aan ’n handjie lei Smit die kinders na die nat sand waar die golfies skuimrandjies agterlaat. Aanvanklik gaan dit versigtig, maar later plas hulle baldadig met klere en al in die vlak seewater. Die nat strand word koper in die laatmiddaglig.

      Hulle geniet dit so dat ons lank ná die normale tyd eers by die bad­ritueel kom. Smit hanteer dit terwyl ek vinnig vir ons ’n vissie bak, broodrolletjies smeer en ’n slaai uitpak. Dis vir hulle lekker as hy dit doen, want hy bou soveel pret daarin. Ek is nie meer so mobiel nie en sukkel om hulle uit die bad te tel en af te droog. Dis baie makliker om die kosmaak te behartig as die badsessies. Maar ek sal vroeg moet gaan lê, want my voete lyk nie goed nie. Dik geswel van die dag se lang rit.

      Toe albei die kinders vas aan die slaap is, sit ek en Smit op die donker stoepie en tee drink met ons voete op die muurtjie. Die dreuning van die see, die rustige aandgeluide, die sterrehemel bokant die lyn tussen hemel en see oopgesprei, vorm die volmaakte tafereel waarin ons ontdaan word van opgekropte moegheid en spanning. Ons gedagtes plat af. Word soos gladgespoelde strande waarop geen versteuring van voetspore meer sigbaar is nie. Die reis hierheen was voorspoedig, die kinders slaap rustig en ons begin die helende effek van die see in die gemoed ervaar.

      Ons albei slaap nog vas die volgende oggend toe die kinders al op ons is. Hulle is opgewonde oor die konstante dreuning van die see en wil weer strand toe. Dis ’n lieflike oggend. Wolkloos. Windloos.

      Ek kry myself nie uit die bed uit nie. Dis of my lyf protesteer teen opstaan. Smit lok die kinders kombuis toe waar hy koffie en tee gaan brou, sodat ek nog ’n rukkie kan lê. Die paar minute waarin hulle my alleen laat, is genoeg om my weer diep te laat insluimer.

      Is ek dan regtig só moeg, of ontspan ek net toetentaal? wonder ek toe hulle vrolik met ’n gepakte skinkbord terugkeer kamer toe.

      ’n Uur later lê ons spore afgedruk in die klam sand al met die soom van die see langs. My en Smit se spore strek agter ons uit in lang egalige rye. Die kleiner spoortjies lê kruis en dwars oor ons spore soos wat hulle agter elke slakkie wat uitspoel aanhardloop en na elke nuwe skulpie wat hulle opmerk, hardloop. Hulle verwondering oor die grote see en dit wat met elke golfie uit die see gestoot word, werk aansteeklik. Naderhand bult albei my sakke met alles wat Karien optel en vir my aangee om vir haar te hou. Opgewonde buk hulle oor ’n bobbel van ’n jellievis waaraan slakkies knabbel. Smit wys vir hulle die groot olietenkers op die see se horison, en saam jaag hulle agter strand­lopertjies aan. Klein-Johan probeer tevergeefs ’n seemeeu inhardloop.

      Die geklots van die golwe, die vars seelug, die son op ons kaal bene en arms, die kinders se speelsheid en genot, stel ook ons plesier vry. Ons vergeet van roetine en skedules. Drentel baie verder langs die strand as wat ons van plan was en word oorval deur hongerpyne wat ons terugdryf na ons chalet vir ’n oordadig groot ontbyt.

      “Ek sal in ’n stadium Port Shepstone toe moet ry om ’n nuwe petrolfilter vir die kar te gaan soek, miskien is daar vuiligheid in die carburettor. Die kar het gisteraand weer gesluk op pad winkel toe en een slag sommer heeltemal uitgesny. Ons kan nie die pad terug só aandurf nie.”

      Saterdagmiddag, ’n paar dae nadat ons daar aangekom het, staan ek en doeke was by die badkamerwasbak. Smit het die oggend vir my sy trouring gegee om aan my regterhand te dra sodat hy hom nie verloor in die see nie. Ek het sý ring, en my twee ringe – verloofring en trouring – afgehaal en aan die hakie bokant die wasbak gehang. Toe ek klaar gewas en uitgespoel het, ruil ek per ongeluk ons twee trouringe om. Hulle lyk presies dieselfde – ’n gepoleerde band in witgoud. Syne is net wyer. Die oomblik toe ek mý touring, in plaas van syne, aan my regterhand sit, besef ek my fout. Daar sit hy – ek

Скачать книгу