Скачать книгу

joune.” Hy neem my leë beker by my. Ek weet nie wat om nou met my leë hande te maak nie.

      Ek het hom nie gesien nie.

      Die gedagte kom nie eens by my op dat ek hom nog wil sien voordat hy begrawe word nie. Dis net te seer om verder te dink of te beplan. Ek wil net slaap. Ek is só ontsettend moeg. Dis of my siel in homself teruggetrek is, afgesluit van alles wat na voel en dink en redeneer klink.

      “Piet vra vir iets om vir hom aan te trek vir die kissie. Kan jy môre vir my iets regkry?”

      Ek het nog nie eens aan hom gedink in ’n doodskissie nie. Nooit eers die gedagte gekoester dat mens ’n lyk nie kaal in ’n doodskis toemaak nie.

      “Ek sal kyk. Hoe laat gaan jy môre na hom toe?” probeer ek wegdink van die gedagte aan doodskiste en grafte en lyke.

      “Ag, seker nie vroeg nie. Piet moet eers ’n kapelaansperiode gaan waarneem voordat hy hospitaal toe kan gaan.”

      Natuurlik! Sy liggaampie is nog by die hospitaal. Waar anders. Maar wáár in die hospitaal? Nee, ek wil liewer nie daaraan dink nie. “Dan sal ek môre iets regkry. Moet eers dink wat geskik sal wees.”

      Hy buk om my te soen. “Jy was so dapper vandag, lief. Ek bewonder jou innerlike krag.” As hy maar weet! Innerlik is ek swak en klein en broos en gekwes – niks wat ek as dapper of kragtig kan beskryf nie. “Slaap jy nou rustig. Ek gaan stort.”

      Ek lê en luister na die geluide in die badkamer. Hy snuit sy neus in die stort. Huil hy? Ek het hom hartseer gesien vandag, maar nie dat hy huil nie.

      Die slaap wil nie kom nie. Al veg ek daarteen, sien ek die gebeure van vroeg vanoggend oor en oor in my kop afspeel. Soos ’n video wat oor en oor draai. Sy slap nekkie wat agteroor hang in die stellasie. Sy armpies wat woes keer. Wat swakker en swakker word. Stil hang. Die bondeltjie lap. Johan Botha se snikke. Die liggaampie toegetrek onder ’n laken in die voorportaal …

      Die witgeverfde bedjie met sy poeierblou muskietnet is stil en leeg. Wat is daar in die laai onder die bedjie waarin Ignatius begrawe kan word? Al sy kleertjies is skoon uitgewas en mooi reggepak. Ek sukkel om te onthou wat daarin gepak is. Dink daar is ’n wit katoenpakkie met ’n matrooskragie. Wou dit vir sy doopdag hou. Ek besluit om dit vir Smit uit te haal vir die kissie. Dit, en kousies en skoentjies vir sy voete. En ’n kombersie om hom in toe te draai.

      Toe Smit eindelik kom lê, nadat hy eers ’n lang ruk stil was in die studeerkamer, kruip hy saggies langs my in. Hy sien ek is nog wakker. Met sy arm om my, trek hy my styf teen hom aan. Hy soen my hare, my skouer, my nek. Sonder woorde troos hy my, terwyl hy self troos nodig het. “Ek is so jammer …” begin hy snik. “Ek moes jou nie alleen gelaat het nie!”

      Ek probeer hom oortuig dat dit niks sou verander het aan Ignatius se dood nie. Nou probeer ek sy trane keer, terwyl my eie nóú eers, ná soveel ure van inhou, ongekeerd kom. Om te kan huil sonder om weg te steek, word verlossend. Ek huil oor hy so seer het. Hy huil vir ons. Hy huil totdat vrede en berusting alleen oorbly.

      “Slaap nou rustig, my lief.” Feitlik onmiddellik begin sy asemhaling reëlmatig word. Hy slaap. Maar ek is steeds wakker. Die slaap wil nie kom nie.

      Ek draai op my rug. My hande vou oor my leë buik. Leeg. LEEG.

      En ’n leë bedjie.

      Het hy ’n gees gehad wat hemel toe is? wonder ek. Natuurlik moes hy, hy was dan ’n volkome mens. Ek weet nie wanneer kry ’n mens ’n gees nie. Die Woord self sê in Spreuke, of is dit nou Prediker, dat niemand weet wanneer liggaam en gees bymekaar kom in die moeder se buik nie. Maar ons kon hom nie eens aan God toewy nie. Hy is dan nie eens gedoop nie.

      Die trane begin weer warm langs my slape afloop. Ek treur geluidloos. Laat Smit slaap, hy het dit nodig. Hy is die verlengstuk van my krag. As ek nie meer kan nie, moet hy nog kan aangaan. As ek nie meer lus het om die mense in die oë te kyk nie, moet hy dit namens ons nog kan doen. As ek môreoggend nie kans sien om op te staan nie, moet hy asseblief tog vir my instaan.

      Draai ek op my regtersy, sien ek elke minuut verbyflits op die radio­wekker. Gloeiend rooi. Draai ek op my linkersy, sien ek dofweg die leë bedjie. Ek draai op my maag. So kan my trane in my kussing inloop. Maar my borste is hard en seer, ten spyte van Dawid se pilletjies. Draai weer op my sy.

      Die slaap kom nie. Oor en oor en oor speel alles in my kop af. Later staan ek op. Gaan staan in die flou maanligstreep wat tussen Klein-Johan en Karien se beddens inval. Ek verkyk my aan hulle. Probeer die beeld van die bondeltjie dooie baba in my kop vervang met twee lyfies wat rustig, salig, soet slaap. As die snikke wil begin opstoot uit my brose binnekant, gaan sit ek op die agterste trap in die lig van ’n groeiende maan. My voorkop weerloos op my knieë. Selfs die uitgerekte tjieeeeer van die krieke is dan vannag ’n klaaglied.

      Die honde is besorgd ontsteld om my. Nimrod wig sy ou breë kop tussen my knieë in en kyk my treurig aan. Hartseer wel weer op. Laat my teer keel weer van voor af brand.

      Ag Here, hoekom! Hoekom! HOEKOMMMM!

      Ek gee my oor aan die vertroosting van die twee honde totdat hulle rustiger raak en styf teen my opgetrekte bene kom sit. In die stil nag intuur. Die gety in my gemoed trek weldra terug. Plat mettertyd af. Ek voel weer net die tamheid in my lyf. Maar my kop kom nie tot ruste nie. Ek dink aan die bondel wasgoed in die waskamer. Laas doeke gewas toe ons die naweek by my skoonouers in Meyerspark was – met die hand. As ek gelukkig is, is daar seker nog twee skones oor. Môreoggend sal ek baie vroeg ’n bondel doeke moet was. Hulle lê darem al en week in die Steri Nappi-emmer.

      Later loop lê ek weer. Trek die kussing oor my kop om nie die tyd te sien glim in die donker nie. Wag dat die slaap my ontnugterde lyf moet inhaal.

      HOOFSTUK 4

      ST. MICHAEL’S ON SEA

      At first, the tired body takes over completely. As on shipboard, one descends into a deck chair apathy. One is forced against one’s mind, against all tidy resolutions, back into the primeval rhythms of the seashore. Rollers on the beach, wind in the pines, the slow flapping of herons across sand dunes, drown out the hectic rhythms of city and suburb, timetables and schedules. One falls under their spell, relaxes, stretches out prone. One becomes, in fact, like the elements on which one lies, flattened by the sea; bare, open, empty as the beach, erased by today’s tides of all yesterday’s scribblings.

      – ANNE MORROW LINDBERGH

      Uit: Gift from the Sea.

      Begin Februarie, 1982: Ons is ’n jaar in die sending. Tyd vir ’n welkome vakansie. Smit bespreek vir ons ’n chalet by St. M­ichael’s on Sea. Ek is sewe maande swanger met Ignatius. Ek mag nog die flossie gebruik tot voor my agtste maand. Ons behoort veilig terug te wees voor die bevalling wat so teen die laaste week van Maart verwag word.

      Smit se Peugeot staan by die skoonfamilie in Meyerspark. Ons sal die flossie vat Republiek toe. Skoonpa kan ons op Waterkloof-lughawe kry. Ons sal so ’n paar dae daar oorbly, sodat Smit die motor kan laat versien. Dan Natal toe met die Peugeot vir ’n heerlike twee weke by die see – die eerste seevakansie wat die kinders sal beleef. Op pad terug kan ons vir Ma-Chrissie-hulle gaan kuier in Orkney, voordat ons moet terug, betyds vir die bevalling.

      Alles verloop goed volgens plan.

      Die tog af St. Michael’s toe is ’n verlossing ná die paar dae in Meyerspark. Ek rus nooit by Skoonma nie. Sy laat my altyd voel asof daar belangriker dinge te doen is as bloot net sit en kuier. Soggens is ons nog in die kooi, dan kom stof sy die meubels in die kamer af – wie kan dan nog bly lê? Karien is nog in doeke, skaars twintig maande oud. Elke dag moet ek doeke was. Met die hand. Haar wasmasjien word net Maandae gebruik. Boonop mag die kinders net in die posseëlgrootte agtertuintjie speel – die voortuin met sy lekker grasperk is taboe. Hulle mag nie op die klavier speel nie, nie op die sitkamermeubels klouter nie en moet by ons in die kamer op die vloer slaap. Die spaarkamer moet skoon gehou word vir gaste (dis beslis nie óns nie). Snags word ek hoeveel keer wakker van Karien se

Скачать книгу