Скачать книгу

roep ek benoud. “Kom help! My ring sit vas aan die verkeerde vinger!”

      “Hoe de duiwel het jy dít reggekry?” vra hy verontwaardig. Binne minute is my vinger so dik geswel dat ons besef ons sit met ’n groot krisis.

      “Klim, my vrou. Ons sal moet by ’n garage of ’n werkswinkel kom om hierdie ring deur te sny voor jy jou vinger verloor.”

      Karien begin huil oor my vinger wat so dik staan.

      “Toemaar, my skat, dis nie seer nie. Pappa gaan hom sommer gou afkry,” probeer ek haar troos, maar is self benoud.

      Daar is nie een werkswinkel oop nie. Ons ry straat op en straat af. Smit draai op die ingewing van die oomblik by ’n erf in waar daar ’n man staan en werk in sy garage.

      “Ek het vanoggend met dié ou gestaan en gesels op die strand. Ons het oor die Peugeot se probleem gesels. Hy ken karre se enjins en sal sekerlik die regte gereedskap hê om die ring mee deur te saag.”

      Dis met ’n groot gesukkel dat die ring uiteindelik deurgesaag is sonder om my vinger te raak. Die witgoud is so ’n harde metaal, dat dit vir my voel hulle breek my vinger af in die poging om die ring wyd genoeg oop te buig om my vinger uit te kry.

      “Nee wat, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Enige juwelier kan die las sommer maklik herstel, jy sal nie eens weet waar ons hom deurgesaag het nie,” verseker die man my. Wat ’n verligting toe die drukking om my vinger af is!

      Dít, die Saterdag se dinge. Maar beslis nog lank nie die einde nie …

      Ná die naweek ry Smit om onderdele vir die Peugeot te gaan soek. Hy bly die hele dag weg. Sy soektog neem hom tot in Durban, waar hy eindelik die regte onderdele teen ’n redelike prys kry. Die dag word te lank vir my alleen met die kinders. Om hulle alleen strand toe te neem, is vir my te veel moeite. My voete is geswel soos twee panne mosbeskuit wat gereed staan vir die oond. Ek is moeg en die kinders word lastig, klaerig.

      Die nuwe dag bring nie verligting nie. Om op te staan voel net vir my na te veel inspanning. Smit hou die kinders van my af weg sodat ek maar kan lê. Slaap wil maar nie kom nie, want reg by die kamervenster probeer hy aan die kar werk met die twee kinders ewe gewillig om saam te werk. Sy geduld raak op, want kort-kort soek hy na iets wat hulle ronddra of wegvat as hy dit nodig het.

      “Wie het nou die moertjies gevat wat ek hier in die wieldop gesit het!” hoor ek hom raas. Tussen die twee paar gewillige handjies het die moertjies voete gekry.

      “Nou gaan sit julle in die sitkamer. Kry vir julle iets om daar te doen!” Ek kan hoor hy is verontwaardig. Hy sukkel al die hele middag om die dekselse onderdeel te vervang en nou is die moertjies weg, nóú dat hy die vervlakste ding uiteindelik op sy plek het om vas te skroef! Nee wat, ek kan sien hier is moeilikheid.

      Ek voel ek moet probeer red wat te redde is. “Kom ons stap kafee toe terwyl Pappa werk. Dan gaan koop ons roomys.”

      Die dag is oop en helder. Ons stap maar stadig die straatjie af, elkeen in sy eie beknopte skaduweetjie. Ons maak ’n speletjie daarvan om op onsself te trap. Dis omtrent drie straatblokke na die naaste kafeetjie, maar die vooruitsig van ’n roomys laat die twee moedig voortstap. In die kafeetjie is dit gelukkig lekker koel. Die twee kinders eet elk ’n roomys op ’n stokkie, en ek drink ’n koue koeldrank. Dit word ’n taai spul soos wat die roomys smelt en teen Karien se arm afloop. Ek het nie iets by my om dit mee af te vee nie. Die taai armpie en die moeë lyfie maak haar ongelukkig. Sy wil opgetel wees. Ek kan haar nie heelpad dra nie.

      Ons begin maar stadig terugstap en ek vertel ’n storie om die aandag af te trek van die slegte situasie, maar dit help nie. Karien kerm. Sy wil gedra wees. Ag, tog, wat maak ek nou? As ek haar net op my rug kan kry, sal dit moontlik wees, want op my heup, met my groot boep, kan ek haar nie meer dra nie.

      Daar is ’n tuinmuur; ’n lae baksteenmuurtjie langs die pad. Ek stap tot daar, tel vir Karien op die muurtjie en help haar om op my rug te klouter. Op my hurke kan ek nie meer afsak nie. Ag, het ek tog net ’n stootkarretjie gehad, maar daar was nie plek om dit ook nog saam te bring nie. Ek stut haar deur my hande bymekaar in te haak onder haar boudjies. Die kraamrok het ek gemaak van ’n sintetiese lap. Die lap is glad en maak dat Karien aanhoudend afsak. Die hoë riffelkragie van die halslyn trek tot in my keel op. Ek sweet van inspanning. Haar lyfie word al swaarder en slapper. Ek kan voel hoe sy aan die slaap raak.

      Klein-Johan het ook al stiller begin word. Gewoonlik vind hy genoeg dinge om oor te babbel as ons so ’n entjie gaan stap. Dit lyk vir my of die vaak hom ook inhaal. Ek het nie ’n arm vry om sy handjie vas te hou nie. Hy loop behoorlik en slinger soos wat hy soms wegdommel.

      “Johan, sien jy daardie paaltjie langs die pad?” Ek wys met my ken na ’n ankerpaaltjie van ’n straatlig voor een van die huise in die straat. “As jy op hom klim, dan kan ek jou op my rug tel en Karien kan op my nek sit. Hoe lyk dit, sal ons probeer?”

      Hy is so moeg. Enige plan sal nou vir hom werk, as hy net nie meer hoef te loop nie. Ek stut met een hand vir Karien onder haar boudjies. Met die ander help ek hom op die paaltjie. Toe hy staan, lig ek haar op my skouers met albei my arms. Karien kom effens by, maar raak weer aan die slaap, sommer bo-oor my kop. Toe buk ek vooroor, sover as wat my boep kan toelaat, sodat Klein-Johan vanaf die paaltjie tot op my rug kan klouter. Ek moet hom met albei hande onder sy boudjies steun, want ook hý kry nie ’n greep op my gladde rok nie.

      “Jy moet vasklou, seun, ek kan jou nie ook vashou nie, ek moet vir Karien stut, anders val sy af.” Hy probeer hard vasklou, maar ek voel hoe sy lyfie verslap. Dis gelukkig nie meer ver nie. Ek versnel my pas, want lank gaan ek dit beslis nie hou nie. Voel hoe Karien se koppie sywaarts teen my nek begin afgly. Maar ek het albei my arms nodig om Klein-Johan bo te hou, want hy is ook nou vas aan die slaap. Al genade is om al krommer te loop en met my skouer Karientjie se lyfie te probeer stut. Met so ’n groot swanger boep, kan ’n mens nie eintlik krom loop nie! Ek beur vorentoe. Die sweet tap my af. Gelukkig sien ek al die vakansiechalets voor ons.

      Onder my natgeswete wenkbroue deur, sien ek vir Smit aangehardloop kom. Wat ’n verlossing toe hy vir Klein-Johan aftel en ek Karien kan laat afgly tot op my rug.

      Die son hang al laag toe hulle nog lê en slaap. Smit kon die motor weer regkry. Hy’t by die man wat my ring deurgesaag het, moertjies gekry wat pas en die motor loop weer perfek. Maar ek is bekommerd. Iets is nie reg nie. Ek kry aanmekaar fyn steekpyntjies deur my buik!

      “Dis beslis nie kontraksies nie, maar dit voel nie vir my normaal nie,” deel ek my kommer met Smit.

      “Moet ons nie maar na ’n hospitaal toe gaan nie?” vra hy bekommerd.

      “Waar gaan ons nou ’n hospitaal kry?”

      “Ek vermoed daar’s een op Port Shepstone.”

      “Ek weet nie, jong. Dis vér. Wat maak ons dan met die kinders? As ek hulle nou wakker maak om saam te neem, sal hulle wil eet en bad. Hier kan ons hulle tog nie alleen los nie. En jy weet hoe lank dit kan neem om reg te kom by ’n hospitaal,” spreek ek my twyfel uit.

      “Ek het vanoggend vir Stephan Strauss, wat saam met my in die klas was, by die vulstasie raakgeloop. Hulle kuier hier saam met ’n vriend wat glo sy hospitaaljaar in Port Shepstone doen. Ek dink hulle is in daai groot woonstelkompleks agter die winkeltjie. Miskien moet ek hulle gaan soek en by hom hoor wat ons moet doen.”

      Dit was seker ’n halfuur later dat Smit saam met die jong doktertjie opdaag. Hy moet my inwendig ondersoek om vas te stel of ek dalk al besig is om te ontsluit. Hy het nie ’n apparaat by hom om my bloeddruk te monitor nie. Vra uit oor my geswelde voete, my blaasfunksie. Toets my urine.

      “Dit is definitief die begin van kraam. Maar as jou datum korrek is, is hierdie baba nog prematuur. Ek kan vir jou ’n voorskrif uitskryf vir pilletjies wat die kontraksies kan stop. Julle kan dit by ’n noodapteek in Port Shepstone kry. Jy moet dit so gou as moontlik begin gebruik en dan moet jy nie opstaan nie. Jy sal maar net moet bly lê, dis uiters belangrik.”

Скачать книгу