Аннотация

Kotie skrik toe iemand skielik uit die skemer voor haar opdoem. Agter haar en Jaco lê die park verlate. Maar dan herken sy die vrou – die een wat dikwels hier buite die park onder die tamarisk sit, altyd met ’n bottel by haar. “Hierso,” sê die vrou. “Vat die kind.” Sy sleep iets agter haar rug uit, stoot dit tot voor Kotie. “Ek wil haar nie meer hê nie, en ek sien liewer dat jy haar vat as dat die welfare haar kom haal. Dan is daar weer hell to pay.” “Moet ek jou kind vat?” Verbysterd kyk Kotie af op die klein mensie wat sonder ’n geluid net daar staan, toegeknoop in ’n groot bloes. Sy buk, tel haar op, dra haar tot onder die lamppaal. Die lig wys ’n soet gesiggie onder taai, krullerige haartjies. Jaco kom pluk aan Kotie se rok. “Wat sê die tannie? Hè, Kotie?” Dan nuuskierig: “Is dit ’n rêrige babetjie?” En dan is die vrou weg. Net die tamarisk staan nog daar in die skemer. Verslae staar Kotie na die wesentjie voor haar. Maar skielik voel sy ’n opwinding wat haar vel laat prik. “Luister,” sê sy vir Jaco. “Hierdie kind is ons twee se geheim. Jy moet vir niemand van haar sê nie. Ek moet eers dink wat om te doen . . . Ek moet eers mooi dink . . .”

Аннотация

Alba Bouwer se plaasstories is klassiek in Afrikaans. Baie lesers dink met heimweë terug aan die lees van die avonture van Alie en Lulu op Rivierplaas in die Vrystaat. Een van die ander sentrale karakters is ongetwyfeld ou-Melitie, wat altyd geduldig na Alie se stories luister en wyshede kwytraak (en nie skroom om haar tereg te wys nie!), en Sanna en klein-Melitie met wie Alie en Lulu so lekker speel.

Аннотация

Danie glip tussen die mense deur wat die foyer vol staan. Nêrens sien hy sy ma nie. Sy moenie agterkom dat hy hier is nie. Hy klim die trap, draai regs en stap met die donker gang tot by die staalleer wat na die beligtingskajuit lei. Hy klouter op. In die hokkie bo sit Mike agter die kontrolepaneel. Daar onder op die verhoog staan Karel in ’n kollig vasgevang. Agter hom is dit half donker. Saggies sê Danie die alleenspraak saam. Só kan hy dit vlot sê. Hy verbeel hom hy staan in Karel se plek. Die kollig verblind hom. Sy handpalms is klam. Sweet drup by sy gesig af. Dan gebeur dit. Hy stotter. Die woorde sit in sy keel vas . . . Moedeloos laat sak hy sy kop in sy hande. En agter in sy gemoed roer ’n herinnering wat hy probeer smoor: Neffie en die kerse, die dooie voëltjie, en bloed aan sy hande . . .

Аннотация

Die krulleboldogtertjie Katrientjie woon saam met haar ma, pa en Ouboet op Keerweder in die Boland, die plaas “wat binne-in die dorp met sy baie groot akkerbome lê”. Sy is nuuskierig en mal oor stories en die groot Oupahorlosie in die hoek voed haar verbeelding wanneer hy haar die stories uit Ouma Vrystaat se dae vertel. Tina Tierat probeer ook om al Katrientjie se baie vrae te beantwoord. Saam met Ouboet, Rachel en Klein Tys is daar baie avonture. Toe ‘n paar uitgebrande kaggelhoutjies amper hulle huis laat afbrand, red die Oupahorlosie en Katrientjie hulle net betyds.

Аннотация

In die middel van die wêreld, in die middel van ’n vlei, het ’n vrolike knapie by sy oupa gebly. Sy naam was Huppel, en sy één groot begeerte was om tog ’n maatjie te hê. Sy oupa beduie toe mooi vir hom hoe hy moet maak om ’n maatjie te kry. En toe Huppelkind doen wat sy oupa sê, kry hy meer maatjies as wat hy ooit van kon droom. Hy maak kennis met Fiefman en Diefman, met Vlak-Floors en Vlei-Floors, met Wielie en Walie, met Haak en Steek, met die Boekwurms en die Slaapkousies . . . en met die Wilde Wolman en sy stories oor die Land van Wol en Hare – wolhaarstories as daar ooit was! En dan, natuurlik, met die Stokou Storieman, vir wie mens presies op die regte manier moet vra as jy wil hê dat hy vir jou ’n storie moet vertel. Ja, jy moet die WOORDE sê: “Orie gedorie Storieman, vertel ’n storie AS JY KAN!” En ’n storie vertel, dit kón W.O. Kühne! Daarom dat sy Huppelkind-stories vandag nog onder ’n klein groepie klassieke Afrikaanse werke vir kinders gereken word. Sedert die eerste Huppel-boek in 1958 verskyn het, was hulle gunstelinge. Hierdie versamelbundel met illustrasies deur die bekroonde Alida Bothma, sal sorg dat ook vandag se kinders die tydlose bekoring van Huppelkind en sy maats kan leer ken.

Аннотация

“Ma-hulle is nog weg toe ek by die woonstel aankom. Lappies hink agter my aan. Ek gaan sit op Pa se leunstoel en staar na die akwarium. Die suurstof gons eentonig. Ek maak my oë toe. Dit voel of ek dryf. “Ek dryf in water. Dis lou. Toe ek my oë oopmaak, sit ek in die Buick. Sy’s vol water. Die paneelkissie is oop. Wier groei dig daaruit. Op die paneelbord is helder see-anemone. Hulle voelhorings wieg in die water. ’n Engelvis swem voor my gesig verby. Ek steek my hand uit. Hy woerts weg. Langs my agter die stuurwiel sit ’n figuur in groen verbande toegewikkel. Dit lyk of hy al lank onder die water is. Eendmossels klou aan die verbande. Die hande is nie toegedraai nie. Agter op die hande bult are. Dis Pa se hande . . .” Vir Paul van Zyl is sy standerdvyfjaar ’n grootwordjaar. Hy leer dat mens die verlede nie kan terugroep nie. Dat dít wat verby is, onherroeplik en vir ewig verby is. Dat dít wat gedoen is, ewe onherroeplik gedaan is. Hy leer om afskeid te neem, en om verantwoordelikheid te neem vir wat hy gedoen het. Maar bowenal leer hy aanvaarding.

Аннотация

Lans werk by ’n hotel langs die nasionale pad, naby die Hardapreservaat in Suidwes. Dis sy werk om vir Jesha, die kameel, op te pas. Eers was sy vir almal ’n aardigheid, maar nou staan sy verwaarloos, jaarin en jaaruit in die bloedige son – ingehok in ’n kampie. Niemand gee vir haar om nie, net Lans. Elke middag, wanneer sy werkies klaar is, gaan hy op die hitte van die dag stap. Ná die goeie reëns staan die gras sag soos pluis, nie groen nie maar groenwit, en rooierig en effens pers. Aan die voet van die tafelkop waar die gras al droog is, skuur die polle ’n dowwe snarespel teen die leer van sy skoene terwyl hy stadig aanstryk . . . Van die kop af kan hy vir Jesha sien. En hy droom van ’n dag wanneer hy meer verdien, vir Jesha van die Weissfelds kan koop en haar op ’n lang tog gaan neem – woestyn toe. “Daar sal vir haar skaduwee wees. Skaduwee en woestyn. ’n Kameel moet ’n woestyn hê.” Lans neem inderdaad vir Jesha op ’n lang tog – maar in ’n ander rigting en om ’n heeltemal ander rede as waarvan hy gedroom het. Dié tog bring vir Lans avontuur . . . en ’n groot hartseer, maar ook vergesigte wat byna te goed is om waar te wees. Die singende gras is in 1974 met die Scheepersprys vir Jeuglektuur en in 1976 met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon.

Аннотация

Liewe leser. Hierdie boek kom met ’n waarskuwing – sien bladsy 1. Neem dit ernstig op. NIE VIR SENSITIEWE LESERS! BreinBliksem is Fanie Viljoen se eerste roman. Hy sê oor die boek: “’n Paar jaar terug, met die Granaat Rockfees in Bloemfontein, het ek ’n laaitie van so vyftien, sestien gesien met ’n ketting om sy nek. Dit was nie ’n hangertjie nie, maar ’n ketting soos dié waarmee jy ’n hek sou toesluit. Ek het begin wonder wat in sy lewe aangaan. BreinBliksem is seker op ’n manier sy storie.”

Аннотация

“As iemand my vertel het ek gaan die meisie van my drome in ’n laundromat ontmoet, het ek seker gesê: Hoekom nie? In ’n wassery wat ruik na rook, vreemdelinge se vuil klere en ou kos? Waar seeppoeier soos skilfers op ’n ongesonde kopvel gestrooi lê? Sure! Plekke met kerse, rose en musiek, waar meisies met Julia Roberts-monde en blink hare GQ-hunks op die lyf loop, is bedoel vir vervelige movies en boeke wat niks sê nie. Dis soapie-materiaal. Ek het Justie in ’n laundromat ontmoet . . .” Hierdie verhaal deur die veelbekroonde en gewilde skrywer Barrie Hough en die ewe bekende verhoogpersoonlikheid Lizz Meiring het eers as verhoogstuk sukses behaal voordat dit in romanvorm beslag gekry het. Dit beloof om ewe gewild te wees as Barrie Hough se vorige boeke.

Аннотация

En nou is Oupa siek. Oupa wat haar kleindag leer fluit het soos geen ander mens kan fluit nie, wat haar geleer het om lief te wees vir die donker, en wat haar vertel het van die robyne en die kgatas in sy bos. Oupa wat dae lank in sy bos kon rondloop en gesê het: “God het bome gemaak as die kroon van alle natuurdinge.” Sy wil na Oupa toe gaan waar hy op Makierie in die hospitaal lê, ver weg van sy houthuisie en bome en voëls en boeke. Maar Ouma sê sy is al weer eiesinnig. Sy is net so wild en onbeskaaf soos Oupa, en as sy nie oppas nie, word sy ook ’n leeglêer. Dis hoog tyd dat sy in ’n roetine gedwing word. Maar Philla weet sy kan nie soos ander mense wees nie; sy is nou eenmaal soos Oupa, net soos Oupa soos sý ma was, en sy weer soos haar pa voor haar: elke geslag lewer sy wilde een op, sê Oupa. Sonder dat Ouma weet, en met Helet en Pa se hulp, kom Philla tog by Oupa uit. Oupa wil opsluit uit die hospitaal, waar hy voel hy word sy waardigheid ontneem. Philla, sy boomste kind, moet hom help. Die paar dae saam met Oupa in die bos gee vir Philla die antwoord op die vraag wat haar so hinder: ís ’n mens soos jy is, of wórd jy so; wat is dit wat jou anders maak as ander mense?