Аннотация

Danie glip tussen die mense deur wat die foyer vol staan. Nêrens sien hy sy ma nie. Sy moenie agterkom dat hy hier is nie. Hy klim die trap, draai regs en stap met die donker gang tot by die staalleer wat na die beligtingskajuit lei. Hy klouter op. In die hokkie bo sit Mike agter die kontrolepaneel. Daar onder op die verhoog staan Karel in ’n kollig vasgevang. Agter hom is dit half donker. Saggies sê Danie die alleenspraak saam. Só kan hy dit vlot sê. Hy verbeel hom hy staan in Karel se plek. Die kollig verblind hom. Sy handpalms is klam. Sweet drup by sy gesig af. Dan gebeur dit. Hy stotter. Die woorde sit in sy keel vas . . . Moedeloos laat sak hy sy kop in sy hande. En agter in sy gemoed roer ’n herinnering wat hy probeer smoor: Neffie en die kerse, die dooie voëltjie, en bloed aan sy hande . . .

Аннотация

“Ma-hulle is nog weg toe ek by die woonstel aankom. Lappies hink agter my aan. Ek gaan sit op Pa se leunstoel en staar na die akwarium. Die suurstof gons eentonig. Ek maak my oë toe. Dit voel of ek dryf. “Ek dryf in water. Dis lou. Toe ek my oë oopmaak, sit ek in die Buick. Sy’s vol water. Die paneelkissie is oop. Wier groei dig daaruit. Op die paneelbord is helder see-anemone. Hulle voelhorings wieg in die water. ’n Engelvis swem voor my gesig verby. Ek steek my hand uit. Hy woerts weg. Langs my agter die stuurwiel sit ’n figuur in groen verbande toegewikkel. Dit lyk of hy al lank onder die water is. Eendmossels klou aan die verbande. Die hande is nie toegedraai nie. Agter op die hande bult are. Dis Pa se hande . . .” Vir Paul van Zyl is sy standerdvyfjaar ’n grootwordjaar. Hy leer dat mens die verlede nie kan terugroep nie. Dat dít wat verby is, onherroeplik en vir ewig verby is. Dat dít wat gedoen is, ewe onherroeplik gedaan is. Hy leer om afskeid te neem, en om verantwoordelikheid te neem vir wat hy gedoen het. Maar bowenal leer hy aanvaarding.

Аннотация

“As iemand my vertel het ek gaan die meisie van my drome in ’n laundromat ontmoet, het ek seker gesê: Hoekom nie? In ’n wassery wat ruik na rook, vreemdelinge se vuil klere en ou kos? Waar seeppoeier soos skilfers op ’n ongesonde kopvel gestrooi lê? Sure! Plekke met kerse, rose en musiek, waar meisies met Julia Roberts-monde en blink hare GQ-hunks op die lyf loop, is bedoel vir vervelige movies en boeke wat niks sê nie. Dis soapie-materiaal. Ek het Justie in ’n laundromat ontmoet . . .” Hierdie verhaal deur die veelbekroonde en gewilde skrywer Barrie Hough en die ewe bekende verhoogpersoonlikheid Lizz Meiring het eers as verhoogstuk sukses behaal voordat dit in romanvorm beslag gekry het. Dit beloof om ewe gewild te wees as Barrie Hough se vorige boeke.

Аннотация

Toe Anna gekies word om die rol van Juliet te speel in die skoolopvoering van Romeo and Juliet, is dit vir haar soos ’n droom wat waar geword het. Maar dit word ook vir haar ’n tyd waarin sy leer dat mense, soos sy self, soveel ánder mense binne-in hulleself versteek, soos die Russiese baboesjkas of “skilpoppe”. Hierdie boek is bekroon met die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (1998) en die M.E.R.-Prys.