Аннотация

Hy en Xolisa Ndlela sou vriende kon wees, besef geheime agent Koos Jooste hier teen die nadraai van die 1994-verkiesing. Want hulle ontdek aspekte van mekaar wat nie een sou vermoed het nie: soos Ndlela se ervaringe in Quatro, die ANC se berugte strafkamp in Angola, en hoe elkeen oor die toekoms voel. Sedert die Soweto-oproer in 1976 kruis die paaie van dié twee Suid-Afrikaners telkens tydens sleuteloomblikke in die land se geskiedenis. Jooste verdedig die bestaande bestel, Ndlela beywer hom vir die nuwe, en Dubbelspiraal plaas die fokus op hoe die magsewewig tussen hulle gedurig verander. Die leser word gevoer van Grahamstad na Soweto, Amsterdam na Parys, Mtubatuba na Bettysbaai. Jooste, agent in die vreemde, moet persoonlike tragedie verwerk, in ’n wankelende wêreld vastigheid soek, en sukkel met die begrippe patriotisme en lojaliteit. En wat kan één mens doen om die euwels van die nuwe heersers se korrupsie te bestry? “. . . ’n merkwaardige leeservaring.” – Kerneels Breytenbach

Аннотация

Daar ver onder in die Kaapse nag steel iemand skilderye waarop vroue in blou geklee is. En kaptein Bennie Griessel droom van verloofringe, en sy kollega Vaughn Cupido bekommer hom oor commitment. En die private eye Billy de Palma, “narcissist, psycho, real arsehole”, is besig met sy gewone onheilighede. Maar hier bo in Sir Lowryspas lê ’n vrou wat dit alles gaan verander. Sy is heeltemal kaal, uitgestrek by die groot uitkykpunt, haar kop na die noorde, haar voete na die suide. Iemand het haar liggaam mooi gerangskik en met bleikmiddel gewas om al die forensiese spore uit te vee.

Аннотация

"Ek bevestig en beaam: Dis ek. Ek is die sondebok. Ek het dit gedoen. Ek was verantwoordelik vir die dood van Hartman Swiegers." Die vooraanstaande celebrity-sjef Hartman Swiegers word vermoor tydens die openingsaand van Tydloos, sy nuwe fynproewerrestaurant in Pretoria. Sy bevrore liggaam word in ’n vrieskas gevind, met twee opgerolde harings as die enigste leidrade. Ná die polisie vuilspel vermoed stel Greta Burger – ’n selfaangestelde speurder wat haar laat lei deur haar intuïsie, oftewel “gevoelentes” – ook ondersoek in. Is die moordenaar Darius Swiegers, die kos-ghoeroe se broer, of is dit een van die uitgelese gaste? Is die moordenaar een van Tydloos se kombuispersoneel, of eerder iemand wat jare lank in die skadu van al Hartman se suksesse staan? ’n Dolle soektog met verskeie kinkels en ompaaie lei uiteindelik tot ’n ontknoping met ’n angel. ’n Boeiende, humoristiese speurverhaal deur ’n meester-storieverteller. Schalk Schoombie is joernalis, akteur en bekroonde dramaturg. Sy debuutroman, Boomkastele, was in 2016 genomineer vir die ATKV-Prosaprys en die Jan Rabie-Rapportprys.

Аннотация

Dis die laat tagtigs in Johannesburg. Adriana van der Hoon is agtien jaar oud. Haar aktivis-pa het jare lank oorsee geld vir die Education Trust ingesamel maar op ’n dag verander alles, en nou staan die veiligheidspolisie op haar drumpel met ’n ultimatum. As sy hulle nie help om die ANC se geldspoor van Duitsland na Suid-Afrika te volg nie, sit sy en haar chronies siek ma sonder heenkome. En sy sonder haar studiebeurs. Dis hoe Adriana in Berlyn beland. Dis hier waar sy haar talent om messe te gooi vervolmaak, en waar sy Yasen Todorov ontmoet. Ver weg van alles wat bekend en veilig is, leer Adriana waartoe sy in staat is. Bowenal leer sy dat niemand, ook nie sý nie, ooit heeltemal onskuldig is nie.

Аннотация

Haat vir jou het my dag vir dag aan die lewe gehou, Harm. Vir soveel jare het ek net vir hierdie oomblik gelewe . . . vir só lank sien ek al daarna uit. Dis nou tyd, so laat ons begin. Johannesburg, 1985. Twee boesemvriende – ondersoekende joernalis Braam Brink en weermagman Adam Williams – ontmoet vir ontbyt by ’n plattelandse kafeetjie naby die Hartbeespoortdam. Adam onthul sy rol as soldaat tydens die apartheidsjare; kort daarna verdwyn hy tydens ’n ekspedisie in Angola. Braam begin ondersoek instel, maar dan word sy liggaam in sy huis gevind. Die bevinding is selfmoord. Dertig jaar later volg topspeurder Daniella Hector, Braam se dogter, die spoor van ’n berugte reeksmoordenaar. Hy slaan klokslag elke drie weke toe, en span sy web al hoe nouer. Hou die moorde verband met ’n figuur uit Daniella se verlede . . . en met die dood van haar pa dekades vantevore?

Аннотация

Ella Neser, befaamde speurder uit die Abel-trilogie en meer onlangs, Die verdwyning van Billy Katz, is weer op die spoor van ’n raaiselagtige moord. In ’n voorstad van Johannesburg word Clara Heyns, voorbeeldige moeder van twee en weldoener van die gemeenskap, dood gevind met engelvlerke aan. Haar man is die hoofverdagte maar dan forseer die polisiehoof haar om elders oplossings te vind. Hoekom? Te midde van kantoorpolitiek vind Ella boonop uit daar is ’n rooikop wat by haar geliefde Lou uithang. Haar ou vrese borrel na bo: wie kan sy vertrou en wie nie? En hoekom op aarde word Fred Lange skielik as ’n beter speurder as sy beskou? Die dood van ’n goeie vrou het ’n storielyn wat die slimste leser sal fnuik. Chris Karsten op sy beste.

Аннотация

Agent Rex Reynecke moet ’n span lei in ’n forensiese ondersoek vir die Valke. Sy verhouding met die beeldskone Alicia blom, ten spyte van daardie een doring in die vlees: haar broer, die wilde loot Niel Campher. Nes Rex dink hy begin die nuwe uitdagings van sy beroep baasraak, verdwyn Campher – pas nadat die man geïdentifiseer is as die hoofverdagte in ’n dubbele moordsaak. Spoedig blyk dit dat Campher se verdwyning verband hou met die sogenaamde Kruger-miljoene van die Anglo-Boereoorlog, en Rex moet hom red uit die kloue van ’n duistere organisasie genaamd die Ysterhout-laer. In dié intrige-belaaide roman bou die spanning op tot ’n hoogtepunt in Skukuza – ’n wilde jaagtog op donker stofpaaie wat geskik is vir die vrye beweging van swerwende wild, nie vir kat-en-muisspeletjies met kragtige voertuie nie . . .

Аннотация

Die Koors het byna almal gevat. Maar nie dertien jaar oue Nico Storm en sy pa, Willem, nie. Deur ’n Suid-Afrikaanse landskap feitlik sonder mense, met al hoe minder blikkieskos in die verlate winkels, Koeberg-bestraling in die Wes-Kaap en al hoe meer moorddadige hondebendes – én mensebendes – swerf Nico en sy pa, op soek na ’n plek om die samelewing weer te vestig. Wanneer hulle dit eindelik sover het by die ou Vanderkloof – nou Amanzi – met ’n groepie swerflinge wat saam van voor af wil begin, steek al die ou sondes van die mensdom kop uit. Gou is Amanzi op geloofs- en politieke lyne verdeel, en verdediging teen die swaar gewapende motorfietsbendes wat dwarsoor Suid-Afrika plunder en moor raak al hoe moeiliker. En wat van die geheimsinnige, yskoue Domingo, wat by Amanzi aangery kom op ’n motorfiets van sy eie en spoedig as paramilitêre leier ontpop – kan hý ooit vertrou word? Dis nie lank nie, of moord kom inderdaad ook na Amanzi … In Koors vertel die volwasse Nico Storm die verhaal van die moord op sy pa. Dit is ’n aksiebelaaide nuwe rigting vir Deon Meyer, met al die aspekte wat lesers van sy spanningsfiksie verwag en nog vele nuwe lekkertes daarby.

Аннотация

KASSIE SE VYANDE IS TOT DIE TANDE GEWAPEN … Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met twee ander sake − ’n ontvoering én ’n moord − op sy lessenaar? Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselige visdam en die glans-en-skanswêreld van diplomasie moet Kassie sy pad voel-voel vind – of Rooi Els se vrou is visvoer.

Аннотация

Ek sal elke dag ʼn poliesman skiet, tot julle die moordenaar van Hanneke Sloet aankla, lees die dreigbrief aan die SAPD. En dan begin hy. Bennie Griessel is die een wat die dossier moet heropen. Die saak is 40 dae oud, die spoor is koud. Daar’s geen motief nie, geen leidrade, net ʼn reeks naakfoto’s, ʼn uiters ingewikkelde saketransaksie, en onmenslike druk van topbestuur, die media en die meedoënlose, onpeilbare sluipskutter. En deur dit alles moet Griessel sy nuwe vriendin, die sangeres Alexa Barnard, weghou van die bottel voor haar groot terugkeerkonsert, sy seun keer om nie skandes te maak nie, sy kollegas daarvan weerhou om die ondersoek te kelder, en sy eie, verterende lus vir die helende kragte van drank in toom probeer hou. Sewe dae van hel.