Аннотация

Reeksmoordenaar, of wraak?
Toe iemand Kaapstad se ses en vyftigjarige mans begin afmaai, is dít kaptein Kassie Kasselman se dilemma. Dit wil darem baie na ’n reeksmoordenaar lyk – almal dieselfde modus operandi, almal dieselfde ouderdom − maar Kassie is net nie oortuig nie . . . Boonop word hy aangesê om ’n skouspelagtige skilderyvervalsing te ondersoek, asof hy nie genoeg regte werk het nie.
En dan’s daar die glibberige aktuaris met die voorliefde vir prostitute – en hy’s óók ses en vyftig − wat die leisels van ’n groot maatskappy gaan neem, as sy afperser nie die oorhand kry nie. Sal Kassie sy aaklige nuwe gesondheidsdieet oorleef om te kan ondersoek hoe dit alles inmekaar steek?

Аннотация

Hulle is almal in die land. Die Italianers met hulle Mafia-verbintenisse, die Chinese triades, die Nigeriërs, die Russe, Koreane, Indiërs, die hele lot, en dan natuurlik nog die plaaslike ouens ook. Niemand is hier vir die land en die Kaap se natuurskoon nie. Hulle het nie sentiment oor ’n politieke bestel of ’n reënboognasie nie. Geld is die enigste god wat aanbid word.
Toe Ellie McKenna instem om hierdie wêreld te infiltreer, het sy gedink sy weet waarvoor sy haar inlaat. Maar soos haar pa altyd gesê het, die duiwel deel nie visitekaartjies uit nie.
En nou is haar pa nie meer daar nie, en moet sy self besluit wie sy kan vertrou, en waartoe sy in staat is. Haar pa het ook gesê dis ’n job waaruit iemand dikwels nie lewend wegstap nie.
Wilna Adriaanse se Dubbelspel is die eerste opwindende deel van ’n beplande tweeluik.

Аннотация

Tobela “Tiny” Mpayipheli, oud-KGB-sluipmoordenaar, ook bekend as “Umzingeli” (Die Jagter), het gedink hy het sy vorige lewe agtergelaat. Hy het vrede gevind, maar bevind hom skielik in ’n onmoontlike situasie. Want lojaliteit is belangrik – en hy moet nou binne 72 uur in Lusaka uitkom, anders sterf ’n ou vriend, ’n medestryder wat gyselaar gehou word.Maar die losprys wat hy saam met hom moet neem, is gevaarlik – ’n hardeskyf met sensitiewe inligting. Die plaaslike intelligensiediens gaan alles in hul vermoë doen om hom te keer.En nou word die jagter die prooi. Op ’n “geleende” BMW-motorfiets vat hy die lang pad. Maar hoe verder hy vorder, hoe stywer span die net om hom.Spanning uit die boonste rakke; ’n boek wat geen leser sal kan neersit nie.

Аннотация

’n Middelklas-meubelhandelaar is in sy voorstedelike huis met ’n blaasvlam gemartel en toe met ’n M16 doodgeskiet. Een skoot; agterkant van die kop. Laksmanstyl. Oudpolisieman Zatopek van Heerden het sewe dae om dié moord op te los en ’n testament te vind. En die moord het boonop al tien maande tevore plaasgevind, die spore is vaag, die enigste leidraad ’n stukkie papier waarmee hulle te lank gelede dollars toegedraai het. Miskien báie dollars . . . En wanneer alles skielik ontvlam, is daar snaakse gediertes wat uit die vuurlig probeer skarrel: Militêre Intelligensie, die CIA, Moord en Roof, georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte. Hoe dieper hy delf, hoe meer lae hy van dié ding afkrap, hoe meer smeer hulle toe.

Аннотация

Lemmer se Eerste Wet: Moenie Betrokke Raak Nie. Hy moes daarby gehou het toe hulle in die stikdonker aan sy voordeur kom hamer het. Maar toe staan hy op, vat sy Glock 37 onder die bed raak en neuk met sy nuwe Ford Ranger die godverlate veld in. Want daar was ’n plaasaanval, en as hy help, is dit dalk een stappie nader aan aanvaarding op Loxton. Wat hy so graag wil hê. En nou? Nou het “plaasaanval” ontvoering geword. Nou jaag hy soos ’n besetene om ’n skadumag te konfronteer, om driehonderd mense se lewens te red. Met ’n sekere wete dat die bloed vryelik gaan vloei voor hierdie Karoonag verby is. Heerlike verhale uit die pen van Deon Meyer, insluitende sy baie gewilde vervolgverhaal “Stiltetyd”.

Аннотация

Gawie Calitz ontdek die afgeleë plaas waar ’n voorsaat in 1927 met ’n diamantfortuin verdwyn het – en dan verdwyn hý ook. Tromp Faber, eks-polisieman en familievriend, kan moontlik ’n martelende selfverwyt oor sy boesemvriend se dood besweer deur Gawie te vind, maar in sy weg lê ’n maalkolk van grootskaalse korrupsie en gewetenlose moord wat hom en ander na aan hom gaan insuig.

Аннотация

Die laaste ding wat kaptein Bennie Griessel van die Valke nodig het, is moeilikheid. Want hy suip dalk al weer, hy lieg vir sy kollegas en sy AA-borg, en die intrek by Alexa Barnard was ’n fout. ’n Karnallie van ’n fout.
Maar die gastehuis-bloedbad buite Franschhoek was die werk van ’n professionele laksman – drie slagoffers, drie perfekte kopskote. En dis nie net die onverklaarbare gravering van ’n spoegkobra op die koeëldoppies – en die komende mediasirkus – wat Griessel laat bloed sweet nie.
Twee van die oorledenes is lenige militêre tipes. Spesmagte. Of Spoke.
Moeilikheid.
Heel agter, in die hoofslaapkamer, is tekens van ’n gestoei, en te veel bewyse dat iemand ontvoer is. Bes moontlik ’n buitelander.
Groter moeilikheid.
Maar die paspoort is vals, die Britse konsulaat speel spioenasiespeletjies, en dieselfde huurmoordenaar slaan toe by die Kaapse Waterfront. Boonop neem die staat se duistere Sekuriteitsagentskap die ondersoek oor, en die Valke moet ’n vlugtende, baie vaardige Kaapse sakkeroller dringend opspoor om hul eer – en die demokrasie – te red. Maksimum moeilikheid.

Аннотация

Weens populere aanvraag, die heruitgawe van Deon Meyer se heel eerste spanningsroman! By ’n boekeveiling sien Ragel Bergh vir Dirk Buchner raak. Oornag verander haar bestaan, en ná ’n naweek op Houwhoek weet sy sy is nog nooit so volledig bemin nie. Dan gebeur daar iets so ingrypend dat haar en Dirk se pad móét kruis met dié van Ivan Malan, die man met die sagte stem en emosielose oë, opgelei deur die agente van die semi-militêre Firma om mense te manipuleer of te elimineer. Sy opleiding as misdadiger kom handig te pas – hy het geslaag in vakke soos toneelspel, vermomming, vervalsing, seksuele uitbuiting, omkopery, afpersing, inbraak en swendelary. As dié kennis nie help nie, bly die wapens onder sy huis langs die Weskus nog oor. Daar sal hy die “liasseerkabinet van die dood” ooptrek.

Аннотация

Lemmer se Eerste Algemene Wet: Moenie betrokke raak nie. Hy pas dit veral toe in sy werk as vryskut-lyfwag by Body Armour, waar hy laag af is op die pryslys, want hy’s die een met die kriminele rekord, die gebrekkige sosiale vaardighede en die baie kort humeur. Wanneer die mooi, ryk Emma le Roux hom huur en begin vertel van onwaarskynlike bedreigings en ’n broer wat sy vas glo ná twintig jaar soos ’n Lasarus uit die dood uit opgestaan het, stof hy ook ’n ander ou Wet af: Moenie klein vroue vertrou nie. Maar wat, welvarende mense lieg en as dit ál gevaar is wat hy moet hanteer, dan vat hy die geld, baie dankie. Daarom vlieg hy op 26 Desember saam met haar Laeveld toe – en só begin ’n koorsagtige tog deur ’n wêreld van gierigheid en korrupsie, ekologiese stryde en sameswerings . . . en moord. In ’n lokval skiet hulle boonop vir Emma. Lemmer het nog nooit as ’n lyfwag gefaal nie, en om sy vyande te identifiseer gaan lewensgevaarlik wees, want hul ontmaskering gaan internasionale implikasies hê. Maar Lemmer is siek en sat daarvoor om onsigbaar te wees. Iemand moet betaal – en hy gaan nie rus voor dié rekening nie vereffen is nie.

Аннотация

Kaptein Mat Joubert moet ’n sjarmante rower vastrek wat die een bank ná die ander teister, en terselfdertyd moet hy ook die bloedspoor vat van ’n laksman. Maar op 34 is Mat oorgewig en hy rook en drink te veel. Bart de Wit, Moord en Roof se nuwe politiek korrekte bevelvoerder, pas terug uit exile, plaas druk op hom. Daar is nog hierdie één kans om homself te bewys en weer voor te begin … Hierdie roman het in Engels verskyn as Dead before dying.