Аннотация

Topspeurder Danny Hector is terug en warm op die spoor van ’n geweldenaar. Hansie Roodt, wat in die 1980’s as tienerseun galgdiens moes doen, neem nou wraak op die nasate van destyds se sondaars. Hy is ’n reeksmoordenaar wat volgens heeltemal nuwe reëls speel, dus moet kreatiewe maniere gevind word om hom te vang. Hoe gaan dié saak Danny se verhoudings beïnvloed – veral met haar dogtertjie, oor wie haar eksman toesig wil kry? En kan sy in sulke omstandighede ware liefde vind? Die veelsydige en veelbekroonde François Bloemhof is verantwoordelik vir die afronding van Lerina se manuskrip.

Аннотация

In die finale deel van Die Mannheim-sage woed die spanninge tussen Deborah Mannheim, Karl Mannheim en Kit Malloy steeds. Deborah se verbittering teenoor haar man, Karl, vererger, en daarby word haar liefde vir Kit galsterig met die verloop van jare. Weens sy onvermoë om sy vrou se liefde te herwin word die lewe vir Karl onuithoudbaar – soveel so dat hy dinge in sy eie hande neem. Maar ook Deborah en Kit dra letsels ná die Boereoorlog. Ten spyte van hul hunkering na mekaar, bly hul liefde onvervul. Op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog ontmoet Kurt, Deborah se seun, vir Victoria, Kit se dogter. Hulle word verlief en is bereid om die besware van hul families teen te staan. Die spanning bereik ’n breekpunt wanneer hulle in ’n skermutseling in Europa vasval en hul liefde ’n duur prys verg . . . Wat hou die toekoms vir die Mannheim- en Malloy-families in? En kan Deborah en Kit, dekades na hulle die eerste keer ontmoet het, uiteindelik versoen raak in hul liefde vir mekaar?

Аннотация

Die Johannesburgers word met nuwe uitdagings gekonfronteer ná afloop van die aanvanklike goudstormloop van die 1880’s. Oornag word die nuus versprei dat die opbrengs van oop myngragte deurspek is met piriet. Kit Malloy besef dat hy ongekende rykdom sal bekom indien sy planne om ’n kontroversiële suiweringsmetode op die been te bring, wel suksesvol is. Deborah Mannheim worstel steeds om te besluit waar sy hoort – by haar hartsverlange, Malloy, of by die Mannheims. Boonop word sy onverwags aangestel as bestuurder van die Mannheim-familie se sakeryk. Op politieke gebied begin onweerswolke saam te pak wanneer die wantroue tussen die Boere en Britte ’n breekpunt bereik. Karl Mannheim se besluit om by die Jameson-rebellie en later by die Anglo-Boereoorlog betrokke te raak, stel sy familie se belange in gevaar. Maar hy is vasbeslote om sy vrou, Deborah, se respek te herwin. En Kit Malloy, steeds lojaal aan rolspelers in beide Britse en Boere-alliansies, word gedwing om kant te kies.

Аннотация

“Die mens is ’n verbasende wese, dink hy, om tegelykertyd soveel botsende emosies te kan ervaar en verwerk. Aan die een kant het hy nou met doelgerigtheid ’n man se dood beplan. Dit bevredig hom. Verraad vir verraad.” Dis die goudstormloop van die 1880’s in Johannesburg. Hebsug, verraad en passie is aan die orde van die dag. Die sewentienjarige Deborah von Albein word gedwing om hul familieplaas in die Karoo te verlaat en na die Goudstad te verhuis. Dis hiér, terwyl sy onverwags as hul gesin se broodwinner optree, waar sy boonop moet kies tussen Kit Malloy, ’n ambisieuse dobbelsaloneienaar, en Karl Mannheim, die eksentrieke erfgenaam van die Mannheim-fortuin. Malloy se ambisie kom hom egter duur te staan wanneer sy onderhandelinge met Paul Kruger bots met die ideale van Cecil John Rhodes. En Karl Mannheim se obsessies bereik ’n breekpunt wanneer die vooruitsig van ’n volmaakte toekoms een nag aan skerwe spat. Onvermydelike konfrontasies volg. En só begin die drieluik van Die Mannheim-sage . . . Gebaseer op die gewilde radio- en TV-reeks deur die bekende aktrise en skrywer Lerina Erasmus.

Аннотация

Haat vir jou het my dag vir dag aan die lewe gehou, Harm. Vir soveel jare het ek net vir hierdie oomblik gelewe . . . vir só lank sien ek al daarna uit. Dis nou tyd, so laat ons begin. Johannesburg, 1985. Twee boesemvriende – ondersoekende joernalis Braam Brink en weermagman Adam Williams – ontmoet vir ontbyt by ’n plattelandse kafeetjie naby die Hartbeespoortdam. Adam onthul sy rol as soldaat tydens die apartheidsjare; kort daarna verdwyn hy tydens ’n ekspedisie in Angola. Braam begin ondersoek instel, maar dan word sy liggaam in sy huis gevind. Die bevinding is selfmoord. Dertig jaar later volg topspeurder Daniella Hector, Braam se dogter, die spoor van ’n berugte reeksmoordenaar. Hy slaan klokslag elke drie weke toe, en span sy web al hoe nouer. Hou die moorde verband met ’n figuur uit Daniella se verlede . . . en met die dood van haar pa dekades vantevore?