Скачать книгу

seker te maak dat Karlien byhou. Sy is reg agter hom, draf gemaklik en met lang treë.

      Paul krimp sy treë effens sodat sy langs hom kan inval.

      Adriaan tel spoed op, sny by Paul verby. Hy sal Adriaan volgende keer weer wys wie’s baas. Hy bly langs Karlien. Sy’s fiks. Haar asem jaag nog nie eens nie en hulle pas is flink. Paul hoor sy eie asem jaag. Nie van onfiks nie. Van adrenalien.

      Sy pa maak hom morsdood!

      Om van Bossie nie eens te praat nie.

      Dalk moet hy sy lippe zip en saggies by die huis insluip soos wat hy daar uitgesluip het. Miskien moet hy niks oor die beskuitboks sê nie en bid Hai reken hy is net nóg ’n onnosel, puisiegevreet-tiener.

      Mag sy ontydige beskuitlus hom tog nie inhaal nie. Hy wil nóóit weer ’n beskuitboks sien nie.

      Plaas dat Hai eerder vir hom gesê het die boks is leeg, toe hy vir beskuit vra, maar toe sê Hai hy sal kyk of hulle het en in plaas daarvan om vir Hai te wag, maak hy sommer die Ouma-boks reg agter hom oop. Maar hoe moes hy geweet het wat in die dekselse boks is?

      Hy gaan sy lippe zip, hoop dit waai als oor.

      Chang is ’n nice ou. As Hai sy bek hou … Sal Hai dit net los? Waarskynlik nie. Sy ma se broer, oom Schalk, werk vir die Valke en het al dikwels vertel van sake wat hulle oopgevlek het waarby die Chinese mafia betrokke was. Dié affêre is iets waarvan die Valke sal wil weet. Dan kán hy mos nie net stilbly, bloot net om sy eie bas te red nie, selfs al wil hy ook.

      To snitch, or not to snitch?

      Nope, hy gaan hom onnosel hou. Sy lippe zip. Dis die veiligste. Solank Hai sý bek hou, gaan hy ook soos die graf swyg.

      Hy rek sy treë weer. Karlien tel ook spoed op. Hulle sprint tot by die huis. Adriaan staan reeds voor die hek en wag.

      “Hallo, drag queen.” Adriaan se gesig is bloedrooi. Sy asem jaag.

      “Sê jý vir mý, Kersvader.”

      “Wil jy sê ek’s vet?” Adriaan voel oor sy six-pack en kyk af na sy gespierde bene.

      “Nope,” mor Paul. “Daarvoor doen jy te veel sport. Maar jou kleur is ’n match.”

      Karlien gaan staan. Sy kyk vraend na Paul, dan weer na Adriaan en weer na Paul: “Jitte, Paul. Het jy ’n spook gesien? Iets het jou ontstel.”

      Karlien vee nat slierte hare uit haar gesig. Daar is twee rooi kolle op haar wange.

      “Jammer, Karlien. Ek het net skielik besef waar die tyd staan, wou by die huis kom voordat Bossie na my begin soek.” ’n Flou verskoning.

      Sy vou haar arms oor haar bors. Haar wenkbroue lig.

      “Dis net ’n besetene wat so hol sonder dat iets hom jaag. Wat het in jou ingevaar?” Adriaan is steeds vies, sy aksent duideliker as gewoonlik.

      “Jy’t ons gewen, Adriaan. Dan’s jy mos eintlik die besetene.” Hy probeer halfhartig die kwessie ontlont, maar wens eintlik Adriaan wil sy ry kry. Die atmosfeer is so dik soos stroop – hy kan doen sonder die ekstra drama.

      Adriaan skud sy kop.

      Paul maak die hek oop en wag dat Karlien en Adriaan ingaan voordat hy dit toemaak. Eintlik wil hy hulle by die hek instamp en die hek met mening toeslaan.

      Toe hulle by die swembad verbystap, lui sy selfoon. Paul haal dit uit sy sak uit.

      Hidden number, lees hy.

      “Paul speaking,” antwoord hy terwyl hy na die hek terugkyk. Sy hart klop skielik vinniger.

      Die stem aan die ander kant is diep. Swaar aksent.

      “You’re dead.”

      10

      Zambië,

      einde November

      “Hoor julle?”

      Paul se bene begin darem nou minder lam voel. Hy wikkel sy voete.

      Hy kyk na Bossie.

      Dit help eintlik nie hy’s moerig vir Bossie nie. Bossie doen seker maar wat hy moet doen om hóm aan die lewe te hou – en hy gaan tog nie bos, bloot net omdat hy na sy recce-dae verlang nie. Daai twee Kung Fu’s het in elk geval g’n goeie bedoelings gehad nie. Good riddance, oortuig hy homself.

      “Hoor ons wat?” wil Adriaan weet.

      “Hier is amper geen voëlgeluide nie,” antwoord Bossie.

      Adriaan steek sy kop by die venster uit om beter te luister: “Ja, wragtig. Hoekom? Wat het van die voëls geword?” Adriaan se Afrikaans is nie aksentloos nie – en op hierdie oomblik ook nie baie vriendelik nie – maar hy is en bly nuuskierig.

      “Weet nie,” antwoord Bossie. “Afgesien van die boerbokke is hier ook nie eintlik ander diere naby die villages nie. Geen honde of katte nie. Niks.”

      “Weird. So stil.” Adriaan hou sy kop weer by die venster uit om te luister. Hy trek sy kop terug, vryf die reëndruppels in sy roesbruin hare en vee die vog aan sy bril met sy T-hemp af.

      “In Zim het ons darem ’n paar bobbejane gesien,” mompel Bossie hoofsaaklik teenoor homself. “Wat máák ons met die natuur?”

      “Om nie van nétnou se bobbejaan te praat nie.” Paul grinnik. Hy het hom in ’n ander bloedgroep in geskrik. Van O+ na A-. Hy het sy hele DNS definitief in mutasie gestoot toe daai vervlakste bobbejaan oor hom seil.

      Bossie swaai uit om ’n slaggat te mis. Met die reëndruppels op die voorruit en poele water oral, is dit nogal ’n storie om die slaggate betyds raak te sien. Dis ’n miserabele stukkie pad wat hulle ry.

      Skielik verminder Bossie spoed. “Ek hou nie hiervan nie.”

      Paul laat sak die pak CD’s. Hy sukkel om een te kry wat hulle nie reeds drieduisend keer geluister het nie. Hy kyk op.

      “Vir wat staan hulle in die middel van die bloody pad?” vra Adriaan met sy kop tussen die twee voorste sitplekke deur. Engelse rrr.

      “Weet nie, maar ek ruik onraad. Hierdie bakkie, met die Limpopo-nommerplate en dieselfde Eggogrotte-plakker, was by die grenspos net agter ons in die ry. Nou’t hulle skielik Zambiese nommerplate. Hulle het vergeet om die plakker te verwyder.”

      Bossie ry stadiger. “Is julle twee tjomme reg? Net ingeval?”

      “Yep.” Paul druk die veiligheidsknip van die Luger af.

      “Mmm,” bevestig Adriaan ook.

      Paul hou die loop na onder, die metaal koud in sy hande. Nét nadat hulle deur die grenspos is, het Bossie afgetrek en elkeen ’n pistool in die hand gedruk. Vir almal behalwe Karlien.

      Sy het nie belanggestel nie, maar dis nie asof Karlien in enigiets belangstel nie. Dis waarskynlik net ’n kernoorlog, of ’n groot vet rot wat haar ’n wenkbrou sal laat lig.

      Bossie het gereken die wapens is net vir ingeval. Paul hoop die “ingeval” is nié vandag nie. Die twee ouens van netnou was al erg genoeg, selfs al was dit selfverdediging. Hy jag gereeld. Bok skiet is een ding. ’n Mens? Miskien as hulle in gevaar is? Hy dink so, maar hy wil nie. Dis reeds erg genoeg dat hy Bossie moes help om vir Donker en Konkel die Zambezi up close and personal te wys.

      “Ons skiet net as dit regtig nodig is, ouens. En dan skiet ons om dood te skiet. Onthou.”

      “En die lyke? Ek wil nie tronk toe gaan nie, Bossie,” sê Paul sag.

      “Niemand sal tronk toe gaan nie, Paul. Ontspan.”

      Agter hom hoor hy Adriaan rondskuif. Adriaan het die Sig Sauer gekies. Gelukkig is Adriaan ook ’n jagter. ’n Paloeka wat agter jou sit met ’n gelaaide pistool is gevaarliker as ’n trigger-happy psycho met ’n pistool reg voor jou.

      Adriaan is nou wel ’n regte dipshit, maar hy skiet ten minste

Скачать книгу