Скачать книгу

ion>

      

      Tafelberg

      Hierdie boek is bekroon met

      ’n Silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur 2019

      Opgedra aan almal wat veg om die aarde heel

      te hou, asook elkeen wat ’n stryd in sy kop voer.

      Moenie tou opgooi nie.

      Ook aan my ma, Hannes, Lodewyk,

      Dietrich, Zandrie en Grant.

      If somebody had said before the flight, “Are you going to get carried away looking at the earth from the moon?” I would have said, “No, no way.” But yet when I first looked back at the earth, standing on the moon, I cried.

      – Alan Shepard (NASA astronaut)

      1

      Net voor die grens tussen Zimbabwe en Zambië,

      einde November

      “Is jy gesuip, Bossie? No flippen way!” Paul draai die CD-speler se volume laer.

      Geen reaksie.

      “Voel jy oukei?” Paul skud sy kop en kyk weer na Bossie. Coolness de luxe. Die man knip nie eens ’n oog nie. Hy kan dit nie flippen glo nie. Hy skakel die CD-speler heeltemal af, want hy kan nie nugter dink terwyl Coldplay ook ’n eier wil lê nie.

      “En hóé gaan jy dit doen? Jy kan nie ’n friggin’ arsenaal wapens ongesiens oor die grens smokkel nie!” Paul druk-druk met sy duime in sy nekspiere. Dis ’n kabel wat wil breek. Hy voel die hoofpyn opskuif vanaf sy agterkop na sy oë toe.

      Spanning is nie goed nie, het die dokter gesê. So asof Bossie daarvoor sou omgee.

      Casper Bosman, beter bekend as Bossie, antwoord nie. Hy streel net onverstoord oor sy bokbaardjie. Watse soort naam is Casper buitendien? Sy ouers moes hom eerder Casspir genoem het, want hy het die takt en empatie van ’n weermagtenk.

      Paul draai na Adriaan en Karlien wat halfpad aan die slaap op die agtersitplek van die Land Rover sit-lê. Adriaan is skielik nie meer moeg nie, want die slaap het hom klaarblyklik verlaat. Hy skuif sy camo-pet agtertoe, sit regop en skuif vorentoe op die sitplek, met sy neus tussen die twee voorste sitplekke gedruk.

      Karlien lyk ongestoord. Sy luister steeds musiek, haar camo-pet laag oor haar oë getrek. Bossie het funky kleure verbied. Hulle kon net kakie en camo inpak vir die trip, bedoelende plein camo, nie camo-en-pienk, of camo-en-rooi nie. Maar Karlien kan enigiets na ’n fashion statement laat lyk, selfs camo. Haar kop knik-knik saam met musiek wat net sy kan hoor.

      Paul kry lus en knip die drade van die MP3 se oorfone af. “Sê jy niks, Adriaan?” Woedend. Beskuldigend. Karlien hoor nie, wíl nie hoor nie.

      Adriaan lig net sy skouers: “Chill, bro. Kom ons praat daaroor.”

      “Bossie het die plot verloor. Totaal en al. Heeltemal bos-bef …” Paul stotter van woede, kry die woorde nie uit nie. “En jy wil daaroor praat? Chill? Rêrig? Is jy seker jý voel oukei? Dis nie ’n blerrie shrink-sessie nie!” Hy sluk-sluk, soek na die regte woorde. “Tronkstraf as ons gevang word. In Zim!”

      Paul vee die sweet van sy voorkop af. Hy klink soos ’n histeriese ou tante. Een wat in die middel van die nag ’n T-rex met ’n dodelike stert op die ouetehuis se troon ontdek. Sy stem wil-wil breek. As hulle bloot net biltong oor die grens moes gesmokkel het, enige tyd. Shanana! Maar wapens? Nie eens hý is so gek nie. Hy stel die lugverkoeler hoër, hou sy natgeswete hande voor die ventilasiegate, buig sy kop stadig af en wens sy nek wil ontspan.

      Wat Paul se moermeter heeltemal in die rooi rev, is dat Bossie nie eens die moeite doen om te reageer nie. Hy kan dit nie flippen glo nie. Die man lyk asof hy nie ’n hartklop het nie – en dit terwyl sy eie hart in sy keel vassit en hom wurg. Al wat Bossie blykbaar nié tussen die bagasie versteek het nie, is ’n Israeliese vegvliegtuig. En hy vra hulle moet ontspan wanneer hulle deur die grenspos gaan? Hulle stikdom hou en so min as moontlik sê?

      So kalm soos ’n daggawalm. En die grenspos is spoegafstand. Yeah … right! Bossie is seker gerook.

      Hoe chill jy terwyl jy hiperventileer en sweet soos ’n resiesperd wat pas die July gewen het? En nou nog ’n kilometer moet hol. As dit só aangaan, land hy nog saam met sy ma in die hospitaal. As sy net oukei is. Gelukkig is sy in goeie hande – maar dit maak alles nie makliker nie.

      Paul draai hom weer skuins in sy sitplek: “Adriaan, is jy oukei daarmee? Met medeplig … medepligtige wees?” struikel hy weer oor sy woorde. As hy nie vir Bossie binne die volgende paar kilometer uit dié storie gepraat kry nie, sal hy wragtig … Hy weet Bossie is tot amper enigiets in staat, maar hy kan nie glo …

      “Nee. Ek wil nie medepligtig aan enigiets wees nie.” Adriaan probeer nog hoflik klink.

      “Nou maar flippen hélp dan!” Paul is sommer vir Adriaan ook de hel in. Van vooraf.

      Hy draai na Bossie: “Weet my pa? Hy blaas ’n gasket as hy weet!” Sy pa kan ’n helse pyn in die gat wees, want sy hele lewe wentel om swart en wit, om reg en verkeerd, maar soms moet mens die pyn in die gat as leverage gebruik.

      “Soort van.” Bossie knip nie ’n oog nie. Nie dat Paul sy oë agter sy sonbril kan sien nie. Dit sou gehelp het ás hy Bossie se oë kon sien. Of miskien nie.

      “Wat bedoel jy ‘soort van’? Weet my pa, of weet hy nie?”

      “Paul, jou pa is ’n advokaat. Hy wíl nie weet nie.” Bossie is houtgerus. “Maar hy betaal my om te doen wat ek moet. En vir dié trip het hy my ’n vet klomp kontant gegee. Vir ‘onvoorsiene noodsaaklikhede’, het hy dit genoem. Al wíl hy nie daarvan weet nie, weet hy. See no evil, hear no evil.”

      “My pa sal nooit –”

      “Jou pa se enigste seun is in gevaar. En hy betaal mý, om jóú, die enigste seun, aan die lewe te hou. Hoe ek dit doen, is my saak. En dít hét hy gesê. Verbatim.”

      Krismis! Nes hy dink mens kan Bossie uit die bos uithaal, maar die bos nie uit Bossie nie, dan verras die man hom weer. Verbatim? Verbeel jou! Dis vreeslik beskaafde taal vir iemand wat al bobbejaan moes eet. En mense vermoor het vir geld.

      “Ja, maar wapens deur die grens smokkel, is onwettig. Ons sal tjoekie toe gaan.”

      “Paul, jy stres verniet. My werk is om jou op te pas. Ontspan. Maak net soos ek sê en als sal oukei wees.”

      “Nou maar hoekom vertel jy ons dan van die wapens as jy dink als gaan oukei wees?”

      “Net vir ingeval.”

      “Ingeval wat?”

      “Ingeval ek instruksie gee en jy verkies om dit wéér te ignoreer. Ek probeer jou van die risiko’s distansieer, maar jy luister nie juis wanneer ek jou samewerking vra nie.”

      Paul antwoord nie. Hulle het by ’n paar plekke in Harare stilgehou waar Bossie gevra het hulle moet in die Land Rover bly. Nie uitklim nie. Onsigbaar wees. By een van die huise het ’n klomp seuns in die straat sokker gespeel. Toe besluit hy om saam te speel. Adriaan ook. Hoekom nie? Dis mos wat mens met vakansie doen. Jy het pret. Of jy probeer ten minste, al het jou beste pel nou jou aartsvyand geword.

      Karlien het kopknikkend in die Landie bly sit terwyl hulle in die straat sokker gespeel het. Sy sal seker steeds sit en sulk teen die tyd wat die vyand sy kop oplig, kopknikkend en dikbek, en die rooi draak met die tien koppe en sewe horings die rug keer.

      Bossie, wat amper nooit ’n oog knip nie, het omtrent ontplof omdat hulle in die straat sokker gaan speel het. Hy het amper sy beste Sondagskoolonderbroek bedinges. Nie dat Paul dink Bossie het al ooit ’n Sondagskoolonderbroek besit nie. Alles aan Bossie is rof. En onbeskof.

      “Is dít hoekom jy jou top geflip het? Want jy’t wapens gekoop terwyl ons sokker gespeel het?” Paul vryf weer oor sy nek, druk teen die spiere agter sy ore.

      Hy het nogal gewonder waar Bossie so skielik aan die wapens kom. Nou weet hy:

Скачать книгу